Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 3-5
  • Ontrouheid—die tragiese gevolge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontrouheid—die tragiese gevolge
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Mag der menigte gevoelens
  • Woede en kommer
  • Skuldgevoelens en depressie
  • Dubbele verraad
  • Is versoening moontlik?
    Ontwaak!—1999
  • Die opsie om te skei
    Ontwaak!—1999
  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die huwelik—Waarom talle dit die rug toekeer
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 3-5

Ontrouheid—die tragiese gevolge

“Ek het my goed gevat en geloop”, het die stem oor die telefoon gesê—waarskynlik die verpletterendste woorde wat Pata se man ooit vir haar gesê het. “Ek kon die verraad net nie glo nie”, sê sy. “My grootste vrees—dat my man my vir iemand anders sal verlaat—het ’n aaklige werklikheid geword.”

PAT, ’n 33-jarige vrou, wou baie graag die huwelik laat werk; haar man het haar verseker dat hy haar nooit sal verlaat nie. “Ons het belowe om mekaar by te staan, ongeag wat gebeur”, sê Pat. “Ek was oortuig dat hy dit bedoel het. Toe . . . gaan doen hy dít. Nou het ek niks—nie ’n kat nie, nie ’n goudvis nie—niks!”

Hirosji sal die dag toe hulle van sy moeder se buite-egtelike verhouding uitgevind het altyd onthou. “Ek was net 11 jaar oud”, sê hy. “My ma het deur die huis gestorm. My pa was kort op haar hakke en het gesê: ‘Moenie oorhaastig wees nie. Kom ons praat hieroor.’ Ek kon aanvoel dat iets vreesliks gebeur het. My pa was verpletter. Hy het nooit heeltemal herstel nie. Boonop het hy niemand gehad wat hy in sy vertroue kon neem nie. Gevolglik het hy sy hart teenoor my uitgestort. Stel jou dit voor: ’n man in sy veertigerjare wat na sy 11-jarige seun gaan vir vertroosting en empatie!”

Hetsy dit die verhoudings is wat skande oor koninklikes, politici, rolprentsterre en godsdiensleiers gebring het of die verraad en trane in ons eie gesinne, huweliksontrou het steeds tragiese gevolge. The New Encyclopædia Britannica sê: “Dit lyk of egbreuk net so universeel en, in sommige gevalle, net so algemeen soos die huwelik is.” Sommige navorsers skat dat tussen 50 en 75 persent van getroudes die een of ander tyd ontrou was. Die huweliksnavorser Zelda West-Meads sê dat “al die getuienis daarop dui dat buite-egtelike verhoudings aan die toeneem is”, al kom baie gevalle van ontrouheid nooit aan die lig nie.

’n Mag der menigte gevoelens

Hoewel die statistiek oor ontrouheid en egskeiding skokkend is, openbaar dit nie die volle impak wat dit op mense se daaglikse lewe het nie. Behalwe die enorme finansiële implikasies, dink aan die mag der menigte gevoelens wat in daardie statistiek opgesluit is—die emmers vol trane wat gestort word en die onmeetbare verwarring, hartseer, kommer en intense pyn wat gesinslede verduur, sowel as al die slapelose nagte wat hulle in smart deurbring. Die slagoffers oorleef dalk die beproewing, maar hulle sal heel waarskynlik die letsels lank met hulle saamdra. Die pyn en skade wat veroorsaak is, word nie maklik ongedaan gemaak nie.

“Die ontbinding van ’n huwelik veroorsaak gewoonlik ’n ontsaglike uitbarsting van emosies”, verduidelik die boek How to Survive Divorce, “’n uitbarsting wat jou soms kan verblind. Wat moet jy doen? Hoe moet jy reageer? Hoe styg jy bo dit alles uit? Jy wissel dalk tussen sekerheid en twyfel, tussen woede en skuldgevoelens of tussen vertroue en wantroue.”

Dit was hoe Pedro gevoel het nadat hy van sy vrou se ontrouheid uitgevind het. “Wanneer daar ontrouheid is”, erken hy, “oorweldig ’n mag der menigte verwarrende emosies jou.” Dit is vir slagoffers moeilik genoeg om die gevoel van oorweldiging te verstaan—wat nog te sê vir buitestanders, wat geen begrip van die situasie het nie. “Niemand”, sê Pat, “verstaan regtig hoe ek voel nie. Wanneer ek dink dat my man by háár is, voel ek ’n werklike, fisiese pyn, ’n pyn wat ek aan niemand kan beskryf nie.” Sy voeg by: “Daar is tye wanneer ek dink dat ek besig is om mal te word. Een dag voel ek so in beheer; die volgende dag weer nie. Een dag mis ek hom; die volgende dag onthou ek al die gekonkel en leuens en die vernedering.”

Woede en kommer

“Soms”, erken ’n slagoffer van ontrouheid, “is die emosie wat jy ervaar blinde woede.” Dit is nie net verontwaardiging oor die onreg wat jy aangedoen is en die pyn wat jy deurgemaak het nie. Dit is eerder, soos een joernalis verduidelik het, “woede oor dit wat kon gewees het, en nou bederf is”.

Dit is ook algemeen om ’n swak selfbeeld te hê en minderwaardig te voel. Pedro erken: “Jy voel só: ‘Is ek nie aantreklik genoeg nie? Skiet ek dalk op ’n ander manier te kort?’ Jy begin jouself uitmekaartrek om die fout te vind.” Zelda West-Meads, van die Britse Nasionale Raad vir Huweliksberading, bevestig dit in haar boek To Love, Honour and Betray: “Een van die moeilikste dinge om te verduur . . . , is die vernietiging van jou selfrespek.”

Skuldgevoelens en depressie

Vlae van skuldgevoelens volg gewoonlik kort op die hakke van hierdie emosies. ’n Moedelose vrou sê: “Ek dink vroue ly baie as gevolg van skuldgevoelens. Jy blameer jouself en wonder: ‘Wat het ek verkeerd gedoen?’”

’n Man wie se vrou ontrou was, praat van ’n ander aspek wat hy beskryf as emosies wat wipplank ry. Hy verduidelik: “Depressie word ’n nuwe deel van jou lewe wat soos onweer oor jou hang.” Een vrou onthou dat sy elke liewe dag gehuil het nadat haar man haar verlaat het. “Ek kan die eerste traanvrye dag ’n paar weke nadat hy my verlaat het nog goed onthou”, vertel sy. “Dit het ’n paar maande geduur voordat daar ’n week verbygegaan het waarin ek nie gehuil het nie. Daardie dae en weke waarin ek nie gehuil het nie, het mylpale geword waaraan ek my vordering gemeet het.”

Dubbele verraad

Baie mense besef nie dat die egbreker dikwels sy huweliksmaat ’n bittere, dubbele slag toedien nie. In watter sin? Pat gee ons ’n leidraad: “Dit was moeilik vir my. Hy was nie net my man nie, maar hy was ook jare lank my vriend—my beste vriend.” Ja, in die meeste gevalle wend ’n vrou haar tot haar man vir ondersteuning wanneer probleme opduik. Nou het hy nie net die oorsaak van uiters traumatiese probleme geword nie, maar hy het ook opgehou om ’n noodsaaklike bron van hulp te wees. Met een wrede slag het hy intense pyn veroorsaak en hy het sy vrou haar intieme vertroueling ontneem.

Gevolglik is een van die oorweldigendste gevoelens wat onskuldige huweliksmaats ervaar die verskriklike besef dat hulle verraai is en dat hulle vertroue geskok is. ’n Huweliksberader verduidelik waarom ontrouheid in die huwelik emosioneel so ontwrigtend is: “Ons stort soveel van onsself, ons verwagtinge en drome in die huwelik . . . , op soek na iemand wat ons werklik kan vertrou, iemand op wie ons altyd kan staatmaak. As daardie vertroue skielik weggeneem word, kan dit wees soos ’n kaartehuis wat ineenstort.”

Soos die boek How to Survive Divorce sê, is dit baie duidelik dat slagoffers “hulp nodig het om die emosionele ontwrigting te verwerk . . . Hulle moet moontlik gehelp word om te besluit watter keuses om te maak en hoe om dit te doen.” Maar wat is daardie keuses?

‘Is versoening die antwoord vir ons?’ wonder jy dalk. ‘Of moet ek ’n egskeiding kry?’ Veral as die huwelik gespanne was, kan dit baie maklik wees om oorhaastig tot die gevolgtrekking te kom dat ’n egskeiding die oplossing vir jou probleme is. Jy redeneer dalk: ‘Die Bybel laat per slot van rekening egskeiding toe op grond van ontrouheid in die huwelik’ (Matteus 19:9). Aan die ander kant redeneer jy dalk dat die Bybel nie op ’n egskeiding aandring nie. Jy kan dus voel dat dit beter sal wees om versoen te raak en die huwelik te herbou en te versterk.

Dit is ’n persoonlike besluit om van ’n ontroue maat te skei of nie. Maar hoe kan jy weet wat om te doen? Ondersoek gerus eers van die faktore wat jou kan help om te bepaal of versoening moontlik is.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel