Van ons lesers
Beter punte Ek is nog op skool, en ek wil graag vir julle baie dankie sê vir die artikel “Jongmense vra . . . Kan ek beter vaar op skool?” (22 Maart 1998). Alhoewel my punte nog altyd bo die gemiddelde was, het ek nooit gedink dat dit regtig nodig is om enigsins beter te doen nie. Maar hierdie interessante en motiverende artikel het dit by my tuisgebring dat ek meer kan bereik deur redelike doelwitte te stel.
B. R., Verenigde State
Ek is 14 jaar oud, en ek het nooit regtig geweet hoe om te leer nie. Ek het besluit dat party dinge in die toekoms vir my van geen nut sal wees nie en het gedink dat dit sinloos is om dit te leer. Toe ek hierdie artikel gelees het, het ek van mening verander. Ek wil ook dankie sê dat julle op ’n baie praktiese manier verduidelik het hoe om te leer!
K. F., Japan
Tandeknersery Die artikel “Kners jy op jou tande?” (22 Maart 1998) was net wat ek nodig gehad het. Omdat ek met hierdie probleem sukkel, het ek dit baie insiggewend en bemoedigend gevind. Ek het nooit gedink dat julle iets oor hierdie onderwerp sou publiseer nie. Met so ’n verskeidenheid van inligting help julle elke individuele leser.
A. M. N. C., Brasilië
Vroue Toe ek die reeks “Vroue—Wat hou die toekoms vir hulle in?” in die Ontwaak! van 8 April 1998 begin lees, het die trane oor my wange gerol. Ek was nog nooit só diep ontroer nie. Baie, baie dankie vir julle aanmoediging om uit te sien na die toekoms wanneer onderdrukkende behandeling sal ophou.
C. J., Verenigde State
Ek is diep getref deur die moeilike lewens wat baie vroue regoor die wêreld lei. Ek het trane in my oë gekry toe ek lees van al die dinge wat hierdie vroue moet doen—en dat hulle die las dikwels alleen dra. Ek is ’n ma met twee kinders, en ek huil dikwels oor al die probleme waarvoor ek te staan kom. Hierdie artikel het my help besef dat my lot in die lewe beter is as dié van baie ander.
K. S., Verenigde State
Weduweeskap Ek wil julle graag opreg bedank vir Barbara Schweizer se verhaal “Ek vind vertroosting in ‘’n dal van doodskaduwee’” (8 April 1998). Ek het nie ’n man verloor nie, maar ek het binne drie jaar albei my ouers en ’n broer verloor. Barbara Schweizer het gesê dat haar “hartseer . . . kom en gaan”. Ek was dankbaar om te lees dat daar iemand is wat net soos ek voel.
H. T., Hawaii
Ek is ’n 17-jarige voltydse evangeliedienaar, en al het ek nie enige groot probleme nie, het hierdie verhaal my aangemoedig om ’n vreugdevolle en vasberade gesindheid te hê. Dit het my laat verstaan dat Jehovah my onderskraag en dat hy my nooit sal verlaat nie.
T. C., Italië
Ortodonsie Dankie vir die artikel in die nommer van 8 April 1998 “Ortodonsie—Wat behels dit?” Ek is 12 jaar oud en het onlangs draadjies aan my tande begin dra. Ek hou nie baie van die idee nie. Maar julle artikel het verduidelik hoe dit my sal help en dat baie mense draadjies dra en ek dus nie skaam hoef te wees nie.
J. L., Kanada
Ek was so bly oor die artikel oor ortodonsie! Van kleins af wou ek nog altyd mooi tande hê. Een van my voortande het onlangs gebreek, en ek moes ’n kroon laat maak, wat baie duur is. Hier in Joego-Slawië het tandartse dikwels nie die materiaal wat hulle nodig het vir hulle werk nie. En vir dié van ons wat arm is, is dit te duur om na privaat tandartse te gaan. Ek kan skaars wag vir die tyd in die toekoms wanneer ons almal volmaakte tande sal hê!
B. E., Joego-Slawië