Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 11/8 bl. 3
  • Vigs—Die epidemie duur voort

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vigs—Die epidemie duur voort
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Vigs—Watter hoop vir die toekoms?
    Ontwaak!—1998
  • Hulp aan diegene met vigs
    Ontwaak!—1994
  • “Die verwoestendste pandemie in die mensegeskiedenis”
    Ontwaak!—2002
  • Vigs—Hoe om dit te bestry
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 11/8 bl. 3

Vigs—Die epidemie duur voort

KAREN het in die westelike deel van die Verenigde State grootgeword.a As een van Jehovah se Getuies het sy altyd as ’n jong meisie hoë sedelike standaarde gehandhaaf. In 1984, toe sy 23 jaar oud was, is sy met Bill getroud, wat net twee jaar ’n Getuie was. Hulle is geseën met twee kinders, ’n seun en ’n dogter.

Teen 1991 het hulle liefde verinnig en was hulle tevrede en gelukkig. Teen die einde van daardie jaar het Bill ’n wit kolletjie op sy tong gekry wat nie wou weggaan nie. Hy het ’n dokter gaan spreek.

Kort daarna was Karen en die kinders buite besig om blare op te hark. Bill het op die stoeptrap gesit en Karen geroep om by hom te kom sit. Hy het sy arms om haar gesit en met trane in sy oë gesê dat hy haar liefhet en vir ewig saam met haar wil lewe. Waarom dan die trane? Die dokter het vermoed dat Bill besmet is met HIV, die virus wat tot vigs lei.

Die gesin is getoets. Bill en Karen se resultate was positief. Bill is besmet voordat hy een van Jehovah se Getuies geword het; hy het die besmetting weer aan Karen oorgedra. Die kinders se resultate was negatief. Bill het binne drie jaar gesterf. Karen sê: “Ek kan nie sê hoe dit voel om te sien hoe die eens aantreklike man wat jy liefhet en saam met wie jy vir ewig wil lewe stadig wegkwyn en net vel en bene word nie. Ek het baie nagte gehuil. Hy het drie maande voor ons tiende huweliksherdenking gesterf. Hy was ’n goeie vader en ’n goeie eggenoot.”

Hoewel ’n dokter vir Karen gesê het dat sy ook binnekort sou sterf, lewe sy nog. Die besmetting het al tot die vroeë stadium van vigs gevorder.

Karen is net een van ongeveer 30 miljoen mense wat nou HIV/vigs het, wat meer is as die gesamentlike bevolkings van Australië, Ierland en Paraguay. Daar word geraam dat daar 21 miljoen van hierdie slagoffers in Afrika is. Volgens die Verenigde Nasies se statistiek kan hierdie syfer teen die einde van die eeu tot 40 miljoen mense styg. Een VN-verslag sê dat die siekte byna die grootste epidemies van die geskiedenis oortref. Van die wêreld se seksueel aktiewe volwassenes tussen 15 en 49 jaar, is 1 uit 100 reeds met HIV besmet. Van hulle besef net 1 uit 10 dat hy of sy besmet is. In party dele van Afrika is 25 persent van die volwassenes besmet.

Sedert die begin van die epidemie in 1981 het daar na raming 11,7 miljoen mense aan vigs gesterf. Daar word geraam dat daar in 1997 alleen ongeveer 2,3 miljoen mense dood is. Daar is nietemin nuwe redes vir optimisme in die stryd teen vigs. Gedurende die afgelope paar jaar was daar ’n afname in die aantal nuwe vigs-gevalle in welgestelde lande. Daarbenewens is daar veelbelowende geneesmiddels wat die hoop bied op beter gesondheid en ’n verlengde lewe.

Hoe kan jy jouself teen vigs beskerm? Wat is die nuutste ontwikkelings in behandeling en inentings? Sal die siekte ooit oorwin word? Hierdie vrae word in die volgende artikels beantwoord.

[Voetnoot]

a Die name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel