Vigs—Hoe om dit te bestry
DAAR is tans geen geneesmiddel vir vigs nie, en dit lyk nie of die mediese wetenskap binnekort een gaan vind nie. Hoewel nuwe behandelings die verspreiding van die siekte vertraag, is dit baie beter om besmetting in die eerste plek te vermy. Maar voordat ons voorkoming bespreek, gaan ons kyk hoe die vigs-virus (HIV) van een persoon na ’n ander oorgedra word en hoe dit nie oorgedra word nie.
’n Persoon kan die siekte op vier hoofmaniere opdoen: (1) deur ’n besmette naald of spuit te gebruik, (2) deur geslagsomgang (vaginaal, anaal of oraal) met ’n besmette persoon, (3) deur bloedoortappings en bloedprodukte, hoewel hierdie gevaar in meer ontwikkelde lande verminder is waar bloed nou vir HIV-teenliggaampies getoets word, en (4) deur sy of haar HIV-besmette moeder, wat die baba voor of tydens geboorte of gedurende borsvoeding kan besmet.
Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) toon huidige wetenskaplike getuienis dat (1) jy nie vigs kan kry soos jy ’n verkoue of die griep kry nie, (2) jy dit nie kan kry deur langs iemand te sit wat vigs het of aan iemand wat besmet is te raak of hom te omhels nie, (3) jy dit nie kan kry deur voedsel te eet wat deur ’n besmette persoon hanteer, voorberei of bedien is nie en (4) jy dit nie kan kry deur toilette, telefone, klere of eet- en drinkgerei te deel nie. Daarbenewens sê die CDC dat die virus nie deur muskiete of enige ander insek oorgedra word nie.
Hoe om dit te voorkom
Die vigs-virus kom in die bloed van besmette mense voor. As ’n besmette persoon ’n inspuiting kry, kan ’n bietjie bloed sowel as die virus op die naald of in die spuit agterbly. As iemand anders met ’n naald ingespuit word wat op dié wyse besmet is, kan die virus oorgedra word. Moet nooit bang wees om ’n dokter of ’n verpleegster daaroor te vra wanneer jy twyfel oor ’n naald of ’n spuit nie. Jy het die reg om te weet; jou lewe is op die spel.
Die vigs-virus is ook teenwoordig in die semen en vaginale afskeidings van besmette mense. Wat voorkoming betref, beveel die CDC dus aan: “Onthouding is die enigste gewisse beskerming. As jy wel geslagsomgang het, moet jy wag totdat jy met ’n onbesmette maat in ’n langtermyn verhouding, soos ’n huwelik, is waarin julle aan mekaar getrou is.”
Let daarop dat jy ’n verhouding moet hê “waarin julle aan mekaar getrou is” as jy jouself wil beskerm. As jy getrou is maar jou maat ontrou, word jy nie beskerm nie. Dit maak sake dikwels baie moeilik vir vroue wat in gemeenskappe lewe waar hulle seksueel en ekonomies deur mans oorheers word. In party lande word vroue nie eers toegelaat om met hulle man oor geslagsomgang te praat nie, wat nog te sê om oor veiliger seksgewoontes ooreen te kom.
Maar nie al hierdie vroue is magteloos nie. ’n Studie in een land in Wes-Afrika het getoon dat party vroue wat finansieel onafhanklik is daartoe in staat was om geslagsomgang van hulle besmette man te weerhou, sonder gewelddadige gevolge. In New Jersey, VSA, het party vroue geweier om geslagsomgang te hê as die man nie ’n kondoom wou gebruik nie. Hoewel latekskondome beskerming teen HIV en ander seksueel oordraagbare siektes kan bied, moet dit natuurlik reg en deurgaans gebruik word.
Wanneer om te toets
Karen, wat in die vorige artikel gemeld is, kon nie veel doen om haarself teen besmetting te beskerm nie. Haar man is etlike jare voor hulle huwelik besmet, en hulle is getroud toe die epidemie en HIV-toetse in hulle beginstadium was. Maar nou het HIV-toetse in party lande ’n algemene prosedure geword. As iemand dus dink dat hy of sy moontlik HIV het, is dit verstandig om getoets te word voordat hy of sy iemand die hof begin maak. Karen se raad is: “Kies jou huweliksmaat wyslik. ’n Verkeerde keuse kan jou duur te staan kom; dit kan selfs jou lewe kos.”
In gevalle van egbreuk kan toetse ’n onskuldige maat help beskerm. Aangesien HIV tot ses maande ná die besmetting moontlik nie in ’n toets bespeur sal word nie, sal etlike toetse moontlik nodig wees. As geslagsomgang hervat word (wat dus impliseer dat die egbreker vergewe is), kan die gebruik van ’n kondoom help om die onskuldige maat teen besmetting te beskerm.
Hoe kan opvoeding help?
Hoewel die Bybel lank voor die verskyning van vigs geskryf is, is dit opmerkenswaardig dat ’n mens teen die siekte beskerm word as jy volgens die beginsels daarin lewe. Byvoorbeeld, die Bybel veroordeel geslagsomgang buite die huwelik, vereis getrouheid in die huwelik en sê dat Christene net met diegene moet trou wat ook Bybelbeginsels toepas (1 Korintiërs 7:39; Hebreërs 13:4). Dit verbied ook alle vorms van dwelm- en alkoholmisbruik en die inname van bloed, wat die liggaam verontreinig.—Handelinge 15:20; 2 Korintiërs 7:1.
Dit is verstandig om jouself in te lig oor die risiko’s en gevare wat kontak met HIV-positiewe mense kan inhou. As mense oor vigs ingelig word, stel dit hulle in staat om hulleself daarteen te beskerm.
Die Vigs-aksiebond sê: “Vigs is in die meeste gevalle voorkombaar. Totdat ’n geneesmiddel gevind word, is opvoeding die beste en voorlopig die [gemeenskap se] enigste beskerming teen vigs.” (Ons kursiveer.) Dit is goed as ouers openhartig met mekaar en met hulle kinders oor vigs praat.
Watter soort behandelings is daar?
Simptome van die siekte verskyn gewoonlik eers ses tot tien jaar nadat ’n persoon met HIV besmet is. Gedurende daardie jare word ’n stryd in die liggaam gevoer. Individuele virusse vermenigvuldig en maak die selle van die immuunstelsel dood. Die selle van die immuunstelsel bied weerstand hierteen. Aangesien miljarde nuwe virusse elke dag voortgebring word, word die immuunstelsel uiteindelik oorweldig.
Verskeie middels is al ontwikkel om die immuunstelsel te probeer help; middels met ingewikkelde name wat deur letters geïdentifiseer word—AZT, DDI en DDC. Hoewel party gemeen het dat hierdie middels merkwaardige voordele sou inhou en selfs ’n moontlike geneesmiddel sou wees, is hierdie verwagtinge gou verpletter. Hierdie middels word nie net mettertyd ondoeltreffend nie, maar veroorsaak ook gevaarlike newe-effekte in party mense—vermindering van bloedselle, bloedstollingsdefekte en skade aan die senustelsel in die hande en voete.
Nou is daar ’n nuwe soort medisyne: protease-inhibeermiddels. Dokters skryf dit voor in kombinasies van drie saam met ander viruswerende middels. Toetse het getoon dat hierdie drievoudige terapie nie die virus doodmaak nie, maar wel keer, of byna keer, dat dit in die liggaam vermenigvuldig.
Drievoudige terapie het ’n dramatiese verbetering in die gesondheid van diegene wat siek is tot gevolg gehad. Maar deskundiges meen dat die medikasie die beste werk wanneer dit vroeg vir mense gegee word wat met HIV besmet is, voordat simptome verskyn. Wanneer dit gedoen word, is dit moontlik om, dalk vir ’n onbepaalde tyd, te voorkom dat die besmetting ten volle ontwikkelde vigs word. Aangesien die behandeling nog nuut is, moet daar nog gesien word hoe lank die terapie die besmetting sal onderdruk.
Drievoudige terapie is duur. Die gemiddelde koste van drie viruswerende middels plus laboratoriumtoetse beloop R72 000 per jaar. Buiten die finansiële las moet ’n pasiënt wat drievoudige terapie kry gereeld yskas toe gaan, waar die medisyne gehou moet word. Gewoonlik moet ’n mens party pille twee keer per dag drink en ander drie keer per dag. Party moet op ’n nugter maag en ander op ’n vol maag gedrink word. Die terapie raak baie ingewikkelder wanneer bykomende medikasie geneem moet word om baie ander infeksies teë te werk waarvoor die vigs-pasiënt vatbaar is.
Iets waaroor dokters baie bekommerd is, is die moontlike gevolge as iemand ophou met die drievoudige terapie. Virusse sal van nuuts af begin vermenigvuldig, en hierdie virusse wat die behandeling oorleef het, kan bestand wees teen die medikasie wat die persoon voorheen geneem het om dit te bestry. Dit sal moeiliker wees om HIV-soorte te behandel wat teen geneesmiddels bestand is. Daarbenewens kan hierdie supervirusse aan ander mense oorgedra word.
Is entstowwe die oplossing?
Party vigs-navorsers meen dat die sleutel om die wêreldwye vigs-epidemie stop te sit ’n veilige, doeltreffende entstof is. Suksesvolle entstowwe teen geelkoors, masels, pampoentjies en Duitse masels word van verswakte virusse gemaak. Wanneer die liggaam aan ’n verswakte vorm van ’n virus blootgestel word, spring die immuunstelsel gewoonlik nie net aan die werk om dit te vernietig nie, maar dit bou ook weerstand op sodat dit enige aanval deur die werklike virus suksesvol sal afweer.
Volgens twee onlangse eksperimente wat met ape gedoen is, is die probleem met HIV dat selfs die verswakte virus dodelik kan word. Met ander woorde, die entstof kan die siekte veroorsaak waarteen dit die liggaam moet beskerm.
Die soeke na ’n entstof was tot dusver teleurstellend en frustrerend. Tientalle eksperimentele middels wat beslis die einde van swakker virusse sou beteken het, het geen uitwerking op HIV gehad nie. Daarbenewens muteer HIV, wat dit ’n ontwykende teiken maak. (Tans is daar ten minste tien soorte HIV regoor die wêreld.) Wat verder tot die probleem bydra, is die feit dat die virus juis die selle van die immuunstelsel aanval wat veronderstel is om deur ’n entstof geaktiveer te word om die liggaam te verdedig.
Geld speel ook ’n rol in navorsing. Daar is “min betrokkenheid deur privaat ondernemings”, het die Internasionale Vigs-entstofinisiatief, wat in Washington gevestig is, gesê. Dit is toegeskryf aan vrese dat ’n entstof nie wins sou maak nie, aangesien die meeste daarvan in minder ontwikkelde lande bemark sou word.
Ten spyte van die probleme ondersoek navorsers nog steeds verskeie benaderings in die soeke na ’n suksesvolle entstof. Op die oomblik lyk dit egter onwaarskynlik dat ’n entstof binnekort gemaak sal word. Wanneer ’n belowende entstof wel uit die laboratorium kom, volg die moeisame, duur en moontlik gevaarlike taak om dit op mense te toets.
[Venster op bladsy 5]
Wie word met HIV besmet?
Regoor die wêreld word ongeveer 16 000 mense daagliks besmet. Daar word beweer dat meer as 90 persent in ontwikkelende lande woon. Ongeveer 1 uit 10 is ’n kind onder 15 jaar. Die res is volwassenes van wie meer as 40 persent vroue is en meer as die helfte tussen die ouderdomme van 15 en 24 is.—Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies se Gesamentlike HIV/VIGS-program.
[Venster op bladsy 7]
Hoe weet ’n mens wie besmet is?
Jy kan nie weet of iemand besmet is deur net na hom of haar te kyk nie. Hoewel draers van HIV wat nie simptome het nie dalk gesond lyk, kan hulle die virus aan ander oordra. Kan jy iemand glo wat jou die versekering gee dat hy nie besmet is nie? Nie noodwendig nie. Baie van dié wat met HIV besmet is, is self nie daarvan bewus nie. Diegene wat wel weet, hou dit dalk geheim, of hulle is miskien nie eerlik daaroor nie. ’n Opname in die Verenigde State het getoon dat 4 uit 10 HIV-besmette mense nie hulle seksmaats van hulle toestand vertel het nie.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Die verband tussen HIV en vigs
HIV staan vir “menslike immuniteitsgebrekvirus”, die virus wat stadig dele van die liggaam se siektebestrydende immuunstelsel vernietig. VIGS staan vir “verworwe immuniteitsgebreksindroom”. Dit is die laaste, lewensgevaarlike stadium van HIV-besmetting. Die naam beskryf hoe HIV die immuunstelsel ernstig beskadig het, wat die pasiënt vatbaar maak vir infeksies wat die immuunstelsel andersins sou bestry het.
[Erkenning]
CDC, Atlanta, Ga.
[Prent op bladsy 7]
Dit is verstandig om HIV-toetse te laat doen voordat ’n huwelik oorweeg word