’n Ysramp
“DIE ergste natuurramp in die land se geskiedenis.” Dit is wat The Toronto Star die ysstorm genoem het wat verlede Januarie die Kanadese provinsies Ontario, Quebec en New Brunswick geteister het. In die Verenigde State het president Bill Clinton die state Maine en New Hampshire sowel as dele van Vermont en die gebied noord van New York as rampgebiede verklaar.
Sowat 35 mense is dood in die storm, wat tot vyf dae van ysreën behels het. Sulke reën duur gewoonlik net ’n paar uur, maar hierdie keer het ’n warm, hoër luglaag oor ’n koue lugmassa bly hang. Wanneer die reën dus ’n oppervlak getref het, het dit oombliklik gevries. Dit het lae ys van tot agt sentimeter dik laat opbou. Onder die gewig van die ys het baie bome, kragdrade, kragpale en hoëspanningsmaste omgeval, dikwels met skrikwekkende gevolge.
In Quebec het honderde reusagtige staalhoëspanningsmaste omgeval asof hulle van tinfoelie gemaak is. Een beangste pendelaar het vertel: “Ek het ’n [mas] voor my sien buig asof dit plastiek was. Dit het gebuig, toe soos ’n bal geword en in klein stukkies gebreek. Die drade het die hele hoofweg vol gelê. Nadat die eerste een geval het, het drie ander ook omgeval.”
Kragdrade van meer as 120 000 kilometer, genoeg om drie keer om die aarde te gaan, het as gevolg van opgehoopte ys inmekaargestort! In Kanada was drie- tot viermiljoen mense sonder elektrisiteit en hitte, party drie weke en langer.
In Maine, waar goewerneur Angus King ’n noodtoestand afgekondig het, was meer as 200 000 mense sonder elektrisiteit. “Dit is die grootste ramp van sy soort wat hierdie staat al ooit getref het”, het die goewerneur gesê. New York se goewerneur George Pataki het gesê: “Daar is hele stede sonder enige elektrisiteit.”
Langs die suidelike oewer van die St. Laurensrivier is ongeveer 30 000 houtkragpale gedurende die storm vernietig. Ná 17 uur van ysreën het Jim Kelly, wat in noordelike New York naby daardie rivier woon, geskryf: “Ons kan nie meer deur die vensters sien nie. Dit is nie net ryp of wasem nie, maar soliede ys. Geluide kom van elke kant van die huis.”
Kelly het verduidelik: “In die verte kan jy klanke hoor wat soos skote klink. Doef! Stilte. Doef! Stilte. Doef, doef!” Later het hy uitgevind dat die klanke gekom het van bome en telefoonpale wat breek.
Dit is ironies dat die landskap ’n besondere skoonheid aangeneem het, selfs terwyl verwoesting daaraan aangerig is. Daar is gevrees dat Ontario moontlik 20 miljoen esdoringbome verloor het, wat ’n negatiewe uitwerking op die esdoringstroopbedryf kon hê. Een kweker het gesê: “Die bome is net stokke wat bo die grond uitsteek.”
“’n Pragtige oorlogsgebied”
Hierdie woorde was ’n opskrif in die Toronto Star wat Montreal, Kanada se tweede grootste stad, beskryf het. “Die strate hier lyk of bomme hulle getref het!” het een inwoner uitgeroep. Volgens ’n vroeë skatting het die skade in net die Montreal-gebied meer as R1785 miljoen beloop.
’n Inwoner van Belleville, Ontario, het gesê: “Dit lyk of ’n kernoorlog hier plaasgevind het. Daar is ’n laag wit stof op alles; dis onheilspellend.” Hy het dit “’n onheilspellende skoonheid” genoem.
Die week ná die storm, toe honderdduisende nog sonder elektrisiteit was en dit nog baie koud was, het die polisie mense na tydelike verblyfplekke begin neem. “Vra ons hulle of beveel ons hulle?” het ’n beampte gevra.
“Hulle moet wegkom”, het die een in bevel geantwoord. “Maar wees diplomaties.” Hy het bygevoeg: “’n Mens sou dink dis oorlogstyd.”
Amper ’n paar rampe
Omdat die grootste deel van Montreal nie elektrisiteit gehad het nie, was die verkeersligte sowel as die moltreinstelsel buite werking. Teen die laaste dag van die storm het vier van die vyf kragstasies wat die stad bedien nie meer gewerk nie of inmekaargestort. Met watter moontlike gevolge?
“Dit was al middag en ons het die vooruitsig op ’n algehele kragonderbreking in Montreal gehad—sonder water”, het die premier van Quebec Lucien Bouchard verduidelik. “Daar was nog net genoeg water vir twee uur omdat die twee filtreringsaanlegte buite werking was.” Met mense wat kerse gebruik het en die kans dat daar glad nie meer water sou wees nie, was die moontlikheid van ’n ramp groot.
’n Ander ramp is ongeveer twee weke later afgeweer toe ’n skare van 1889 op 24 Januarie vir ’n kringbyeenkoms by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Montreal bymekaargekom het. Gedurende die nag het meer as 20 sentimeter nat sneeu oor Montreal geval, en gedurende die oggendsessie van die byeenkoms is daar gemerk dat die mure en plafonne beskadig is. Die middagsessie is gekanselleer, en die gehoor is gevra om huis toe te gaan, ander klere aan te trek en na die Byeenkomssaal terug te kom om te werk.
Binne ’n uur het 300 vrywilligers sneeu met grawe, pikke en ander toerusting van die enorme dak van 7100 vierkante meter begin verwyder. Nadat die boonste sneeu verwyder is, is daar ontdek dat die ys op party plekke meer as 60 sentimeter dik is! Kettingsae is gebruik om die ys in vierkantige stukke te saag, en dit is na die kant van die dak gesleep en afgegooi. Nagenoeg 1600 ton sneeu en ys is verwyder! Later het ’n ondersoek getoon dat die plafonne gevolglik na hulle oorspronklike plek terugbeweeg het en dat die krake in die mure weer toegegaan het. Die program is Sondagoggend in veiligheid hervat.
Hulle het mekaar gehelp
Dit is wel so dat party mense in die gebied uit ander se ellende probeer munt slaan het gedurende hierdie koue en reënerige tyd, maar baie het soos in die eerste eeu “buitengewone mensliewendheid” betoon (Handelinge 28:2). Die Daily Sentinel van Rome, New York, het vertel van Jehovah se Getuies wat mense gaan help het: “Die mans het in die Koninkryksaal in Watertown bymekaargekom en is van daar na verskeie lede se huise toe aangewys. Maar hulle het op die ou end ook hulle bure in die omgewing gehelp.”
Die artikel het gesê dat hierdie noodlenigingspogings georganiseer is vir mense “regoor die streek in Adams, Potsdam, Malone, Ogdensburg, Plattsburgh, Massena, Gouverneur en Ellenburg”. Party vrywilligers het kragopwekkers voorsien sodat verwarmers huise ’n paar uur lank kon verhit. Ongelukkig het temperature in baie gebiede ná die storm tot ver onder vriespunt gedaal.
By een geleentheid het die polisie gesien hoe Getuies huise besoek en hulle vir diewe aangesien. Toe die Getuies verduidelik het wat hulle doen, het een van die polisiemanne gesê dat sy vader, wat in Montreal woon, ná die storm deur Jehovah se Getuies gehelp is, hoewel sy vader nie ’n Getuie is nie. Die seun het sy waardering uitgespreek vir die hulp wat verleen is.
Sowat 100 dorpe suid van Montreal in ’n gebied wat die “driehoek van duisternis” genoem is, is veral swaar getref deur die storm. Tien dae ná die storm het hierdie dorpe nog steeds nie elektrisiteit gehad nie. Trouens, baie mense het meer as ’n maand lank geen elektrisiteit gehad nie! Die takkantoor van Jehovah se Getuies naby Toronto het reëlings getref vir spesiale besoeke om hulp aan diegene in hierdie gebied te verleen. Voorrade wat lampolie, batterye en flitse ingesluit het, is na ’n spesifieke verspreidingsentrum geneem, en van daar is dit uitgedeel aan dié wat dit nodig gehad het.
Reëlings is ook getref vir Christen- ouer manne om die behoeftes te bepaal van diegene wat in daardie gebiede woon. Een groep ouer manne het 11 gemeentes binne ’n week besoek en talle bemoedigende vergaderinge gehou. Ná hierdie vergaderinge, waar geestelike bemoediging gegee is, wou niemand huis toe gaan nie. Mense wou net langer en langer bly, gesels en mekaar van hulle ervaringe vertel, asook die omgang geniet. Trouens, die gereelde vergaderingbywoning het gedurende die weke ná die storm ’n nuwe hoogtepunt bereik.
Baie wat ’n bron van verwarming gehad het, soos ’n koolstoof of ’n kragopwekker om elektrisiteit te voorsien, het diegene wat geen vorm van verwarming gehad het nie in hulle huise verwelkom. Party Getuies het tot 20 mense gehad wat by hulle gebly het. Baie wat buite die gebied sonder elektrisiteit gewoon het, het ook verblyf voorsien. Getuies in Sept-Îles, ’n stad wat ongeveer 800 kilometer van die “driehoek van duisternis” af geleë is, het byvoorbeeld aangebied om 85 gesinne te huisves.
Getuies in afgeleë plattelandse gebiede, soos Rimouski, het vuurmaakhout gekap en gestuur. Party het die tyd geneem om tekste op die stompe te skryf wat hulle gestuur het. Een Getuie het sy geskenk van hout met ’n buurman gedeel wat nie ’n Getuie is nie en wat ’n stomp gekry het met Psalm 55:16 daarop uitgekerf: ‘Jehovah sal my verlos.’ Met die stomp in sy hand het hy opgekyk en gesê: “Dankie Jehovah.”
Watter lesse kan hieruit geleer word?
Baie was geskok oor hoe elektrisiteit die mens in die steek kan laat en hoe afhanklik hulle daarvan is. “Ek sê vir jou, wanneer ons ’n nuwe huis bou”, het een man gesê, “gaan daar ’n koolstoof wees, en daar gaan ’n kragopwekker wees . . . , asook ’n gasstoof.”
Bykans ses weke ná die storm het ’n kommentator gesê: “Daar was baie ys, dae lange duisternis, baie tyd om te dink, wat baie makliker is om te doen wanneer die televisie af is.” Toe het hy gesê: “Ons is verstom oor hoe kwesbaar ons is vir die elemente.”
Bybelstudente dink na oor die Skepper se belofte om die aarde tot ’n wêreldwye paradys te herstel nadat hy hierdie stelsel van dinge uit die weg geruim het, soos hy ook vantevore ’n soortgelyke wêreld uit die weg geruim het (Matteus 24:37-39; 2 Petrus 2:5). God toon sy potensiële arsenaal en vra: “Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael [wat ysreën insluit] gesien, wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?”—Job 38:22, 23.
[Prent op bladsy 17]
Hoëspanningsmaste het soos tinfoelie inmekaargevou
[Prent op bladsy 18]
’n Moontlike ramp is afgeweer toe vrywilligers sneeu en ys van die dak van die Byeenkomssaal verwyder het
[Prent op bladsy 18]
Vuurmaakhout vir slagoffers van die storm