My liefde vir die aarde sal vir ewig bevredig word
Soos vertel deur Dorothy Connelly
Toe ek ’n dogtertjie was, is daar vir my gesê dat ek hel toe sou gaan omdat ek ’n Aborigine is. Jare later, in 1936, het ek ’n opname van ’n Bybeltoespraak gehoor wat die brandslang op die hel gerig en ’n vlam in my hart aangesteek het. Daardie vlam is nou helderder as ooit tevore. Voordat ek verduidelik waarom, laat ek jou iets oor myself vertel.
EK IS omstreeks die jaar 1911 gebore. Ek sê “omstreeks” omdat die Aborigines hulle destyds nie juis gesteur het aan datums en geboortesertifikate nie. My ouers was hardwerkende, godvresende mense. Ons het in die dorpie Springsure, naby die ruwe, pragtige Carnarvonbergreeks in die sentrale deel van Queensland, Australië, gewoon.
My pa is deur ’n blanke gesin in die Rooms-Katolieke geloof grootgemaak. Maar my Aborigine-ouers het hulle stamgebruike en ingebore liefde vir die aarde by my ingeskerp. Ons het kangeroes, emoes, skilpaaie en slange gejag en vis sowel as groot eetbare larwes gevang. Maar ek het nooit emoe geëet nie. In ons gesin was dit net vir my verbode omdat dit my persoonlike totem was. Volgens die Aborigines se tradisie, oftewel “Droomtyd”, het elke lid van die stam sy of haar eie totem gehad, en die verbod op daardie dier is deur die familie en die stam toegepas.
Hoewel totemisme uit bygelowigheid spruit, het die toepassing van hierdie verbod ’n mens aan die heiligheid van lewe herinner. Aborigines het nie vir die pret doodgemaak nie. Ek onthou hoe ek as ’n dogtertjie onder my pa se woede deurgeloop het toe hy my betrap het waar ek lewendige sprinkane se pote afbreek. “Dis verskriklik!” het hy uitgeroep. “Weet jy nie dat God wreedheid haat nie? Hoe sou jy gevoel het as iemand dit aan jou gedoen het?”
Ons het baie bygelowe gehad. Byvoorbeeld, as ’n kwikstertjie in ons kamp gespeel het, het dit slegte nuus beteken; of as ’n uil gedurende die dag op ’n stomp daar naby gesit het, het ons geglo dit beteken dat iemand gaan sterf. Sekere drome is ook as voorbodes beskou. Troebel water in ’n droom het byvoorbeeld beteken dat iemand in die familie siek was. Maar as die water vol modder was, het iemand kwansuis gesterf. Ons was weliswaar Katoliek, maar dit het nie al ons stambygelowe verdryf nie.
Ons gesin het ook ons Aborigine-taal behou. Maar nou is dit een van die baie tale wat besig is om uit te sterf. Ek kan dit nietemin nog af en toe gebruik wanneer ek met ander oor die Bybel praat. Ek gebruik egter meestal Engels of die plaaslike Pidgin-Engels.
Waardevolle vroeë opleiding
Toe ek ongeveer tien jaar oud was, het ons gesin op ’n beesplaas omtrent 30 kilometer buite Springsure gewoon. Ek het elke dag ’n paar kilometer na die plaashuis geloop om my werk as huishulp te doen. ’n Klein emmertjie melk en ’n brood was my loon vir ’n dag se werk. Ons gesin het in hutte gewoon wat van bas gemaak is, tradisionele Aborigine-huisies. Wanneer dit gereën het, het ons in nabygeleë grotte oornag. Het ek hierdie eenvoudige lewenswyse as swaarkry beskou? Nee. Dit was al eeue lank die Aborigines se lewenswyse, en ons het dit so aanvaar.
Ek is eintlik bly dat die lewe nie as ’t ware op ’n silwer skinkbord vir my aangebied is nie en dat ek liefdevolle ouers gehad het wat my gedissiplineer het, my hard laat werk het en my geleer het hoe om in die veld aan die lewe te bly. In 1934, kort nadat ons na ’n reservaat naby Woorabinda, Queensland, getrek het, het ek die huis vir die eerste keer verlaat en in die weste as ’n huis- en algemene hulp op bees- en skaapplase gewerk. Ek het uiteindelik na die ooste getrek om net buite die kusstad Rockhampton te gaan werk. Daar het ek my oorlede man Martin Connelly ontmoet, die seun van ’n Ier. Ons is in 1939 getroud.
Ek leer Bybelwaarheid
Ek het altyd groot respek vir die Bybel gehad. Toe ek jonk was, het die vrou van die beesplaas ons kinders—Aborigine- sowel as blanke kinders—bymekaar laat kom en vir ons verhale van Jesus vertel. Sy het eenkeer die betekenis van hierdie woorde van Jesus verduidelik: ‘Verhinder die kindertjies nie om na My te kom nie’ (Matteus 19:14). Vir die eerste keer sedert daar vir my gesê is dat ek tot die hel verdoem is, het ek ’n sprankie hoop gevoel.
Later het ek die opname van die toespraak gehoor, wat ek aan die begin genoem het, oor die hel wat nie warm is nie. Hoewel dit my laat nadink het, het ek tot in 1949 geen verdere kontak met Jehovah se Getuies gehad nie. Ons het toe in Emerald gewoon, ongeveer 250 kilometer wes van Rockhampton. R. Bennett Brickella het by ons besoek afgelê en met ons oor die Bybel gepraat. Daarna het Ben by ons tuisgegaan wanneer hy ook al in ons omgewing was. Ons almal, ook Martin en ons vier kinders, het groot respek vir hom gehad. Martin het nie in die Bybel se boodskap belanggestel nie, al was hy altyd vriendelik en gasvry teenoor die Getuies en veral teenoor Ben.
Ben het baie Bybelstudiehulpe vir my gegee, maar daar was ’n groot probleem—ek kon nie lees nie. Ben het dus geduldig die Bybel en Bybellektuur vir my en die kinders gelees en dit wat hy gelees het aan ons verduidelik. Hy was so verfrissend anders as die geestelikes wat, nadat godsdiensformaliteite eers afgehandel is, nooit eens vyf minute afgestaan het om ons te leer lees nie! Ben het ons uit die Bybel geleer dat Satan en sy demone agter die baie bygelowe sit wat die mensdom, my eie mense inkluis, gevange hou. Ek het al hoe meer waardering vir Jesus se woorde gekry: “Die waarheid sal julle vrymaak”!—Johannes 8:32.
Ek was so bly om te leer van God se voorneme van ’n aardse paradys vir diegene wat hom gehoorsaam. Bowenal het ek begin hunker na die opstanding van die dooies; my ma is in 1939 oorlede en my pa in 1951. Ek sien dikwels uit na die dag wanneer ek hulle kan omhels en kan terugverwelkom op die aarde wat vir hulle so kosbaar was. En wat ’n vreugde sal dit tog nie wees om hulle van Jehovah God en sy Koninkryk te leer nie!
’n Ongeletterde verkondiger
Namate my Bybelkennis toegeneem het, wou ek ander daarvan vertel. Ek het met familielede en vriende gepraat, maar daarna wou ek my bediening uitbrei. Toe Ben dus weer na Emerald gekom het, het ek die kinders bymekaargekry, en ons almal het saam met hom aan die predikingswerk deelgeneem. Hy het eenvoudige aanbiedings aan my gedemonstreer en my geleer om deur gebed op Jehovah te vertrou. Ek moet erken dat my aanbieding nie baie goed afgerond was nie, maar dit het uit my hart gekom.
Ek het eerstens vir die huisbewoners gesê dat ek nie kan lees nie; en tweedens het ek hulle gevra om die Bybelgedeeltes te lees wat ek vir hulle aangedui het. Ek het hierdie gedeeltes uit my kop geleer. Party mense in hierdie hoofsaaklik blanke buurt het my verbaas aangekyk, maar hulle was selde onbeskof. Ek het mettertyd geleer lees. Dit het werklik my vertroue en geestelikheid ’n hupstoot gegee!
My eerste streekbyeenkoms
In Maart 1951, nadat ek my lewe aan Jehovah toegewy het, het ek die volgende twee mylpale in my lewe bereik: waterdoop en my eerste streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Maar dit het beteken dat ek na die groot stad Sydney moes reis—’n vreesaanjaende vooruitsig vir ’n plaasmeisie. Buitendien het ek nie geld gehad vir die treinkaartjie nie. Wat kon ek dus doen?
Ek het besluit om te dobbel om geld vir die kaartjie te kry. ‘Ek doen dit vir Jehovah’, het ek geredeneer, ‘daarom sal hy my beslis help om te wen.’ Nadat ek ’n paar rondtes kaart gespeel het, het ek gedink dat hy my gehelp het, want ek het genoeg geld gehad om vir ’n retoerkaartjie te betaal.
Ben het geweet van my planne om Sydney toe te gaan, en toe hy ons weer besoek het, het hy my derhalwe gevra of ek genoeg geld het. “Ja, ek het!” het ek geantwoord. “Ek het geld vir die kaartjie gekry deur daarvoor te dobbel.” Wel, hy het bloedrooi in die gesig geword, en ek het onmiddellik geweet dat ek iets verkeerds gesê het. Om myself te verdedig, het ek dus vinnig bygevoeg: “Wat is verkeerd met jou? Ek het dit nie gesteel nie!”
Toe Ben tot bedaring gekom het, het hy vriendelik verduidelik waarom Christene nie dobbel nie en gerusstellend bygevoeg: “Maar dis nie jou skuld nie. Ek het jou nie vertel nie.”
Ek word hartlik ontvang
Daardie vier dae lange streekbyeenkoms, 22-25 Maart 1951, was die eerste keer dat ek met soveel Getuies in aanraking gekom het. Ek was onseker oor hoe ek ontvang sou word, aangesien ek net vir Ben en ’n paar ander geken het. Jy kan jou dus voorstel hoe opgewonde ek was om hartlik verwelkom te word deur my toekomstige geestelike broers en susters, wat geen teken van vooroordeel getoon het nie. Ek het waarlik tuis en op my gemak gevoel.
Ek kan daardie streekbyeenkoms nog goed onthou, veral omdat ek onder die 160 was wat in Botany-baai gedoop is. Ek was blykbaar een van die eerste Australiese Aborigines wat ’n Getuie van Jehovah geword het. ’n Foto van my het in die Sondagkoerant verskyn en ook in ’n nuusfilm wat in rolprentteaters vertoon is.
Die enigste Getuie in die dorp
’n Maand nadat ek van Sydney af teruggekeer het, het ons gesin na Mount Isa getrek, ’n myndorp in die noordweste van Queensland. Ons het ses jaar lank in ’n hut gewoon as opsigters van ’n groot stuk grond net buite die dorp. Ons het ons hut se mure gebou van die hout wat ons in ’n nabygeleë bos afgekap het. Ons het die dak van ou asfaltkonkas gemaak wat ons oopgesny en plat geslaan het. Martin het werk by die spoorweë gekry, maar sy drinkery het uiteindelik sy gesondheid kwaai geknou. Ek het toe die enigste broodwinner van ons gesin geword. Hy is in 1971 oorlede.
Aan die begin was ek die enigste Getuie in Mount Isa. Ben het ons sowat elke ses maande besoek, aangesien Mount Isa deel uitgemaak het van sy uitgestrekte velddiensgebied. As hy in die omgewing was gedurende die tyd van die herdenking van Jesus Christus se dood—’n baie spesiale geleentheid vir Ben, aangesien hy die hoop op hemelse lewe gehad het—het hy dit saam met ons gesin gevier, soms buite onder ’n boom.
Ben het gewoonlik nie lank gebly nie, daarom het ek en die kinders die meeste van ons getuieniswerk op ons eie gedoen. Ons was weliswaar alleen; maar Jehovah se gees het ons krag gegee, en so ook sy liefdevolle organisasie. Getroue reisende opsieners en hulle vrouens het verstikkende hitte, vlieë, stof en uiters ruwe paaie trotseer om na Mount Isa te kom en ons aan te moedig, selfs al was ons groep jare lank baie klein. Getuies van die pas gestigte naburige gemeente in Darwin, meer as 1200 kilometer daarvandaan, het ons ook af en toe kom besoek.
’n Gemeente word gestig
In Desember 1953 is ’n gemeente in Mount Isa gestig. Ben is as die opsiener aangestel, en ek en my dogter Ann was die enigste ander wat destyds aan die bediening deelgeneem het. Maar kort daarna het ander Getuies na die dorp getrek. Ons gebied het ook ’n oes van dissipels begin oplewer, wat mettertyd ’n aantal Aborigines ingesluit het.
Die gemeente het aangehou groei, en kort voor lank was dit duidelik dat ons ’n Koninkryksaal nodig gehad het waar ons ons vergaderinge kon hou. In Mei 1960, ná baie harde werk, het ons ons nuwe saal klaar gebou. Gedurende die volgende 15 jaar is dit twee keer vergroot. Maar teen die middel van die sewentigerjare was daar sowat 120 wat aan die openbare bediening deelgeneem het, en die saal was weer eens te klein. ’n Pragtige Koninkryksaal met 250 sitplekke is dus gebou, en dit is in 1981 toegewy. Weens die feit dat die gebou ’n selfs groter gehoor kan akkommodeer, is dit ook al gebruik vir groter vergaderinge wat kringbyeenkomste genoem word.
Groei onder die Aborigines
Ek was baie opgewonde toe ’n Aborigine-en-Eilander-groep wat aan die Mount Isa-gemeente verbonde is in 1996 gevorm is. Eilanders is Aborigines wat van die eilande naby die Australiese vasteland af kom. Die belangrikste doel van hierdie groep is om ’n beter getuienis vir die Aborigines te gee omdat sommige van hulle nie heeltemal op hulle gemak voel met blankes nie.
Daar is ongeveer nog 20 van hierdie Aborigine-groepe regoor Australië. Daarbenewens is gemeentes van Aborigines in Adelaide, Cairns, Ipswich, Perth en Townsville gestig. Ongeveer 500 mense—waaronder ’n paar van my eie familie—assosieer met hierdie groepe of gemeentes. Byna 10 persent van die Aborigine-verkondigers is pioniers, oftewel voltydse bedienaars!
Ek het in 1975 suikersiekte gekry, en oor die jare het hierdie siekte, waaraan soveel Aborigines ly, sy tol geëis. Dit raak vir my al hoe moeiliker om te lees. Maar Jehovah hou aan om my te onderskraag en my vreugde te verskaf.
Ek is dankbaar vir die moedige bedienaars wat my en my gesin bedien het. Hulle onbedwingbare ywer, hulle liefde en die geestelike skatte wat hulle op fietse vervoer het terwyl hulle die stowwerige, verlate paaie van Queensland se Agterveld deurkruis het, het dit vir ons moontlik gemaak om Bybelwaarheid te leer. Nou wag ek vol vertroue op die tyd wanneer my liefde vir die aarde vir ewig bevredig sal word.
[Voetnoot]
a Ben Brickell se merkwaardige lewensverhaal het in The Watchtower van 1 September 1972, bladsye 533-6, verskyn.
[Kaart/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Perth
Darwin
Cairns
Townsville
Mount Isa
Rockhampton
Emerald
Springsure
Woorabinda
Ipswich
Sydney
Adelaide
Dorothy vandag
[Prent op bladsy 13]
Oefensessie met Ben in die middel-vyftigerjare