Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiensvryheid in Griekeland heroorweeg
  • Latyn lewe
  • “Gekloonde” standbeelde
  • Ondervoeding veroorsaak kindersterftes
  • Water op die maan?
  • Waarskuwing oor pynstillers
  • Ontvoeringsklasse
  • Nie meer ’n “uitgestorwene” nie
  • Die “ideale veilige dwelm”?
  • Sjokolade—Van die boon tot by jou
    Ontwaak!—2005
  • Kinders in ’n krisis
    Ontwaak!—1992
  • Diepgewortelde oorsake, verreikende gevolge
    Ontwaak!—2003
  • ’n Reusetragedie
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Godsdiensvryheid in Griekeland heroorweeg

“Dit lyk of die [Griekse] regering in die laaste tyd besorg is oor geskille wat te doen het met die reg op godsdiensvryheid, ook met inagneming van die feit dat die wysiging van die grondwet nog hangende is”, berig die Ateense koerant To Vima. “’n Nie-amptelike komitee is in die Departement van Buitelandse Sake gestig om weer die wetlike raamwerk te ondersoek wat die geskille van godsdiensvryheid raak, asook die diktator Metaxas se wette waarvolgens proselitisme ’n misdaad is en die voorwaardes waaronder nie-Ortodokse godsdiensminderhede toegelaat word om kerke en vergaderingplekke op te rig.” Die verslag sê verder dat hierdie stap hoofsaaklik ingestel is weens die groot aantal regsake wat deur Jehovah se Getuies in Griekeland voor die Europese Hof van Menseregte gebring word.

Latyn lewe

Latyn is nog steeds die amptelike taal van die Vatikaanstad, selfs al word die taal sedert die sestigerjare nie meer in die Rooms-Katolieke liturgie gebruik nie. Vakkundiges vertaal pouslike dokumente in Latyn, maar dit word nou selde in die Vatikaan self gebruik. In November 1997 het die Pous egter die feit betreur dat Latyn al hoe minder gepraat word en het hy mense aangespoor om dit te laat herleef. Intussen het ’n groep Vatikaanse geleerdes ’n agt jaar lange projek voltooi wat ’n moderne Latynse woordeboek opgelewer het. Moderne terme soos “aërosolspuitmiddel”, “lughawe”, “afdelingswinkel”, “taxi” en “verkeersknoop” het nou Latynse vertalings. Selfs die alomteenwoordige selfoon word ’n telephonium cellulare. Vir liefhebbers van Latyn is daar selfs beter nuus. ’n Priester in Rome het nou ’n Latynse webruimte op die Internet begin, berig The Times van Londen.

“Gekloonde” standbeelde

Teen die jaar 2000 sal die standbeelde in Rome se openbare parke dalk almal namaaksels wees. Waarom? “As ons die monumente wil bewaar, is namaaksels die enigste uitweg”, verduidelik Carla Benocci van een van Rome se geskiedkundige verenigings. Sy het bygevoeg dat party van hulle in ’n “verskriklike swak toestand is, beskadig deur die verloop van tyd, motors, vandale en omdat mense gesteelde goedere koop”. Eksperimente word gedoen om vas te stel watter materiale dieselfde estetiese trefkrag as die oorspronklikes sal hê en terselfdertyd die aanslae van rookmis en vandale sal kan weerstaan. Sommige “klone” is van kunshars gemaak; ander bestaan uit sement met ’n laag marmerstof bo-oor. Hulle is “so getrou aan die oorspronklike”, sê Benocci, “dat diewe een se kop afgekap het om dit te steel en ’n ander in een stuk probeer wegdra het omdat hulle gedink het dat dit die ware Jakob is”. En wat van die oorspronklikes? Hulle sal in museums gehou word, waar hulle in veiligheid bewonder kan word.

Ondervoeding veroorsaak kindersterftes

“Ondervoeding het meer kindersterftes tot gevolg as enige ander epidemie, natuurramp of oorlog”, berig die Franse dagblad Le Monde. Daar word geskat dat byna sewemiljoen kinders jaarliks as gevolg van ondervoeding sterf. Die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) se verslag vir 1997 toon dat ondervoeding die doodsoorsaak is van 55 persent van die 12 miljoen kinders jonger as vyf wat elke jaar sterf. Behalwe dat kinders as gevolg daarvan sterf, is ondervoeding ook verantwoordelik vir tallose fisiese en verstandelike gebreke sowel as verswakte immuunstelsels. In Suid-Asië ly 1 uit elke 2 kinders aan ondervoeding, en in Afrika is dit 1 uit 3. Maar hierdie probleem raak nywerheidslande ook. UNICEF berig byvoorbeeld dat 1 uit 4 kinders jonger as 12 in die Verenigde State nie die voedingskrag kry wat hy of sy nodig het nie.

Water op die maan?

Die ruimtetuig Lunar Prospector het iets wat na ys lyk in die poolgebiede van die maan ontdek, berig The New York Times. Instrumente op die ruimtetuig toon dat waterstof teenwoordig is, en volgens mening sal waterstof heel waarskynlik as ’n element van water op die maan voorkom. Die water is vermoedelik in die vorm van yskristalletjies wat met los grond gemeng is. Dit lyk of dit 1 persent of minder van die klipperige grond uitmaak. Party wetenskaplikes voorspel alreeds dat die water gebruik sal kan word om mense te onderhou en om waterstof en suurstof te voorsien as brandstof vir ruimtetuie wat van die maan af gelanseer word. Selfs al is water beskikbaar, is ander besorg oor die feit dat dit nie ekonomies herwin sal kan word nie. Dr. Bruce Murray, van die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie, het gesê dat dit goedkoper sal wees om water van die aarde af saam te neem as om op die maan daarvoor te boor.

Waarskuwing oor pynstillers

“Betreklike klein oordosisse van asetaminofeen—’n aktiewe bestanddeel van Tylenol, Excedrin en ’n magdom ander voorskrifvrye medisyne—kan tot ernstige lewerskade lei, veral wanneer dit saam met alkohol geneem word”, waarsku die tydskrif Health, en dit kan die dood tot gevolg hê. “Die meeste mense dink dat hulle twee of drie keer die aanbevole dosis kan neem en niks daarvan sal oorkom nie”, sê William Lee, ’n spesialis op die gebied van interne geneeskunde by die Universiteit van Texas se Suidwestelike Mediese Sentrum. “Dít is glad nie die geval met hierdie middel nie.” Wanneer die liggaam asetaminofeen afbreek, vervaardig dit ’n neweproduk wat giftig vir die lewer is. Die lewer beskerm homself deur middel van ’n ontgiftigingsmiddel wat glutatioon genoem word. Maar ’n oordosis van asetaminofeen kan die lewer se verdedigingsmeganismes nutteloos maak. Alkohol put die voorraad van glutatioon uit, daarom is dit veral gevaarlik om die middel ná ’n paar drankies te neem. En aangesien asetaminofeen in meer as 300 produkte voorkom, is dit maklik om ’n oordosis daarvan in te neem sonder dat jy eens daarvan bewus is.

Ontvoeringsklasse

Kinders in Taiwannese skole het nou ’n nuwe vak—ontvoeringsklasse. “Die moontlikheid dat kinders in Taiwan ontvoer sal word, is groter as in enige ander plek buiten die Filippyne, met ’n gemiddelde van een ontvoering elke twee en ’n half dae”, sê Asiaweek. Ouers, wat bekommerd is dat hulle kinders dalk volgende ontvoer sal word namate misdaad toeneem, het die program aangevra. Die ontvoeringskursus leer kinders om versigtig te wees wanneer hulle alleen loop, wanneer hulle in ’n hyser wil klim en wanneer hulle openbare vervoer gebruik. Hulle leer om op hulle hoede te wees vir verdagte persone en hoe om te reageer as hulle wel ontvoer word. Ten spyte van die negatiewe inhoud van die kursus, word ’n poging aangewend om kinders te help om ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe te hê.

Nie meer ’n “uitgestorwene” nie

Blewitt se bosuiltjie wat volgens mening uitgesterf het omdat hy 113 jaar lank nie gesien is nie, is in ’n bosagtige gebied naby Shahada, Indië, noordoos van Mumbaai, raakgesien en afgeneem. Hierdie bruin voël wat 20 sentimeter lank is, het groot oë en spog met ’n buitengewone groot snawel, pote en kloue. “Dit word as een van die raaiselagtige voëls van Indië beskou”, het Pamela Rasmussen van die Nasionale Natuurhistoriese Museum in Washington gesê, wat die foto’s saam met twee kollegas geneem het. “Dit is ’n unieke gebeurtenis.” Die twee spesies in Indië wat nog steeds raaisels bly, sonder opgetekende getuienis dat hulle nog bestaan, is die pienkkopeend, wat in die dertigerjare laas gesien is, en die Himalaja-bergkwartel, wat ongeveer 100 jaar lank nie gesien is nie.

Die “ideale veilige dwelm”?

Daar word al honderde jare geroem op sjokolade se prikkelende, gemoedsverligtende en geslagsopwekkende eienskappe. Maar onlangse navorsing kan daarop dui dat sjokolade inderdaad “angsvlakke, gemoedsrus en seksuele gedrag” beïnvloed, berig die Franse koerant Le Monde. Wetenskaplikes het ’n bestanddeel in sjokolade ontdek wat sekere ooreenkomste met amfetamiene toon, asook ’n ander bestanddeel met “duidelike gemoedsverligtende eienskappe”. Nuwe navorsing dui ook op die teenwoordigheid van anandamied, ’n senuoordragstof wat dieselfde uitwerking van “verskerpte sensasies en euforie” as dagga het. Dít, tesame met die feit dat sjokolade nie maklik vergiftiging veroorsaak nie, het die koerant tot dié gevolgtrekking laat kom: “Deur fisiese en intellektuele bedrywighede aan te wakker, energie te verskaf en ’n gevoel van euforie en behaaglikheid te laat ontstaan met feitlik geen newe-effekte nie, en net ’n lae vlak van verslaafdheid, maak sjokolade ’n byna ideale veilige dwelm.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel