Waarom het sy nie aan God geglo nie?
OLESIA, ’n jong vrou in Roestawi, Georgië, ’n voormalige republiek van die Sowjetunie, het ’n foto van haar ouers vir twee besoekers gewys en uitgeroep: “As daar ’n God was, sou hy nie toegelaat het dat my ouers so jonk sterf nie!” Nadat Olesia se man,Tamazi, tuisgekom het, het die besoekers die brosjures Jy kan vir ewig op die aarde lewe! en “Kyk, Ek maak alles nuut” by hulle gelaat.
Toe ’n herbesoek by die egpaar gedoen is, het Olesia reeds die “Kyk”-brosjure gelees en wou sy ’n Bybelstudie hê. Sy het gehou waarvan sy gelees het. Gedurende die daaropvolgende bespreking het sy die brosjure gretig oopgemaak en die dele gelees wat sy gemerk het. Die gegronde argumente het haar beïndruk.
Die brosjure sê byvoorbeeld: “Die heerlike wonders om ons—die blomme, die voëls, die diere, die wonderbaarlike skepping wat die mens genoem word, die wondere van lewe en geboorte—getuig almal van die onsigbare Meesterintelligensie wat hulle voortgebring het (Romeine 1:20). Waar daar intelligensie is, is daar verstand. Waar daar verstand is, is daar ’n persoon. Die opperste intelligensie is dié van die Opperste Persoon, die Skepper van alle lewende dinge, die Fontein van die lewe (Psalm 36:10). Die Skepper is inderdaad alle lof en bewondering waardig.—Psalm 104:24; Openbaring 4:11.”
Olesia het later erken dat God se belofte om afgestorwe dierbares op te wek haar beweeg het om ’n studie van die Bybel te wil maak. Ons glo dat jy ook by die geloofversterkende inligting in hierdie brosjures baat kan vind. As jy meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar van Jy kan vir ewig op die aarde lewe! en “Kyk, Ek maak alles nuut” kan bekom, of as jy wil hê dat iemand na jou huis moet kom om ’n gratis tuisbybelstudie te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die gepaste adres op bladsy 5.