’n Sheriff vra om verskoning
Tom Will Lane was die “sheriff” van wie Edward Michalec vertel het in die “Ontwaak!” van 22 Desember 1996 in die artikel “Versterk vir beproewinge wat voorgelê het”. In die verhaal het Michalec vertel:
“Die ‘sheriff’ van Wharton, Texas, VSA, was woedend. Terwyl hy my vir die vierde keer tronk toe geneem het, het hy geskreeu: ‘Waarom luister jy nie na bevele nie?’
“‘Ek het die volste reg om dit te doen’, het ek impulsief geantwoord. Dit het die sheriff nog woedender gemaak, en hy het my met ’n leerknuppel begin slaan. Ander beamptes het ook ingespring en my met hulle pistoolkolwe geslaan.”
Mary Perez, ’n vrou wat in die vroeë sestigerjare vir sheriff Lane gewerk het, het onlangs geskryf: “Hy het geweet dat ek een van Jehovah se Getuies is. Hy het my vertel hoe hy Ed Michalec vervolg het. Hy het my gevra om vir ander Getuies te vertel dat hy jammer was oor sy optrede. Hy het gesê dat hy nie geweet het die Getuies is goeie, wetsgehoorsame mense nie. Hy was opreg jammer.”
Mary het bygevoeg: “Hoewel die sheriff ’n paar jaar gelede oorlede is, hoop ek dat hierdie brief sy verskoning sal oordra.”
Daarna het sy beskryf hoe sy ’n Getuie geword het: “Broer Michalec is in die vroeë veertigerjare vervolg. As gevolg daarvan was ek vasbeslote om na die Getuies te luister toe hulle na my deur toe gekom het. Ons het kort daarna die Bybel begin bestudeer. Ek en my man is in 1949 gedoop.”
Dit is net nog ’n voorbeeld om te toon watter verreikende gevolge iemand se standpunt vir Christelike beginsels op ander se lewe kan hê. Hoeveel is byvoorbeeld nie diep geraak deur die moedige standpunt wat Petrus en die ander apostels in die eerste eeu ingeneem het nie?—Handelinge 5:17-29.
[Prente op bladsy 31]
Ed Michalec en Mary Perez in die veertigerjare