’n Robot verken Mars
EK EN my gesin het opgewonde gekyk hoe die vuurpyl met die Mars Pathfinder-ruimtetuig van sy lanseerplatform by Kaap Canaveral, Florida, gelanseer word. Ons het gewonder: ‘Sal hy met welslae op Mars kan land? Watter nuwe ontdekkings wag op ons?’
Twyfel oor die sukses van Pathfinder was gedeeltelik die gevolg van die vorige twee ruimtevlugte na Mars, deur Mars Observer en Mars 96, wat albei misluk het. Daarbenewens moes Pathfinder ’n buitengewoon moeilike landing probeer uitvoer.
Die ruimtetuig het die atmosfeer van Mars teen byna 27 000 kilometer per uur begin binnedring. Nadat ’n valskerm oopgegaan het om sy spoed te verminder en hy toe tot ’n hoogte van ongeveer 98 meter gedaal het, is vuurpyle afgevuur om hom nog stadiger te laat beweeg. Intussen is ’n beskermende kussing van groot, gasgevulde lugsakke vir die ruimtetuig voorsien. Op 4 Julie 1997, teen ’n spoed van 65 kilometer per uur, het Mars Pathfinder op Mars geland.
Met die eerste slag het die ruimtetuig ongeveer 15 meter hoog gehop. Nadat hy nog sowat 15 keer soos ’n groot strandbal gehop het, het hy tot stilstand gekom. Die lugsakke het toe afgeblaas en teruggetrek. Hoewel Pathfinder ontwerp is om, indien nodig, vanself weer regop te kom, het hy toevallig regop geland. Uiteindelik het hy sy panele soos blomblare oopgemaak en kon wetenskaplike instrumente, radio-antennas, sonpanele en ’n voertuigie met die naam Sojourner gesien word.
Mars word ondersoek
Pathfinder se kamera het kort voor lank die omliggende landskap ondersoek. Pathfinder het in ’n breë vlakte gestaan met die naam Chryse Planitia, wat “vlaktes van goud” beteken, naby ’n gebied wat Ares Vallis, oftewel “Marsvallei”, genoem word, en hy het beelde gestuur van ’n rotsagtige, golwende oppervlak en verafgeleë heuwels—ideaal vir verkenning deur Sojourner. Hierdie knap klein robot, wat 65 sentimeter lank is, moes die gebied visueel met sy kamera ondersoek en met ’n spektrometer meet hoeveel chemiese elemente daar in die rotse en grondsoorte is.
Die wetenskaplikes en ingenieurs van die projek het Sojourner met sy verkenning laat begin. Aangesien radioseine ’n hele paar minute neem om tussen die aarde en Mars te beweeg, kon die operateurs Sojourner nie direk bestuur nie. Sojourner het dus grootliks op sy eie vermoë staatgemaak om gevare op die Marsterrein te vermy. Hy kon dit doen deur laserstrale te gebruik om die grootte en ligging van rotse in sy pad te bepaal. Sy rekenaar het hom dan oor die rotse laat ry as dit klein genoeg was of hom ’n ompad laat ry as dit te groot was.
Avontuur en ontdekking
Miljoene mense kon Pathfinder se foto’s van die Marsoppervlak in koerantberigte en tydskrifte sien. Namate nuwe tonele van Mars af gekom het, is mense op die aarde vermaak deur die manewales van die voertuigie, gefassineer deur kleurryke panoramas van die rotsagtige en heuwelagtige landskap en betower deur beelde van wolke en sonsondergange in die Marshemel. Gedurende die eerste maand van die projek het meer as 500 miljoen mense wat in die ruimtetuig se bedrywighede belanggestel het Pathfinder se webblad op die Internet besoek.
Pathfinder het so ’n oorvloed van data ingesamel dat dit selfs die verwagtinge van die wetenskaplikes van die projek oortref het. En dit ten spyte van die feit dat hy in temperature moes werk wat gewissel het van ongeveer vriespunt tot ’n ysige -80 grade Celsius. Wat het hierdie projek aan die lig gebring?
Kameras en instrumente het rotse, grondsoorte en luggedrae stof van verskillende chemiese samestellings, kleure en teksture ontdek, wat daarop dui dat ingewikkelde geologiese prosesse op Mars aan die werk was. Klein duine in die omliggende landskap getuig van die ophoping van los sand wat deur noordoostelike winde daarheen gewaai is. Daar was voordagwolke in die lug wat uit klein deeltjies ys bestaan het. Namate die wolke weggetrek en die dag gebreek het, het die lug ’n rooierige skynsel gekry weens fyn stof in die atmosfeer. Nou en dan het dwarrelwinde en stofdwarrels oor die ruimtetuig gewaai.
Mars Pathfinder het ons letterlik ’n buiteaardse ondervinding laat beleef. Die Verenigde State en Japan beplan om gedurende die volgende dekade nog ruimtetuie na Mars te stuur. ’n Wenteltuig, Mars Global Surveyor, het intussen by Mars aangekom om ander wetenskaplike navorsing te doen. Ons sal Mars inderdaad al hoe beter leer ken namate ons die rooi planeet deur die oë van robotruimtetuie verken.—Bygedra.
[Prente op bladsy 26]
Lansering
Landing
Op Mars
[Erkenning]
Alle foto’s: NASA/JPL