Hoe gevaarlik is televisie?
Op 18 Desember 1997 het koerante berig dat ’n tekenfilm op televisie baie in Tokio, Japan, laat siek word het. Honderde is na hospitale geneem. “Sommige kinders het bloed opgebring, en ander het stuipe gekry of hulle bewussyn verloor”, het The New York Times berig. “Dokters en sielkundiges waarsku dat hierdie voorval ’n treffende herinnering is aan hoe kwesbaar kinders vir sekere hedendaagse televisieprogramme kan wees.”
Die Daily News van New York het gesê: “Paniek het gister in Japan losgebreek nadat ’n TV-monster in ’n tekenfilm sy rooi oë vonke laat skiet het en honderde kinders regoor die land stuipe gekry het.
“Byna 600 kinders en ’n paar volwassenes is Dinsdagaand inderhaas na die ongevalleafdelings gebring nadat hulle na . . . ’n tekenfilm op TV gekyk het.” Sommige is met asemhalingsprobleme in waakeenhede opgeneem.
Joekiko Iwasaki, die moeder van ’n agtjarige, het verduidelik: “Ek was geskok toe ek sien dat my dogter haar bewussyn verloor. Sy het eers begin asemhaal toe ek haar op haar rug geslaan het.”
Vervaardigers van televisieprogramme vir kinders kon nie verduidelik hoe ’n tekenfilmtegniek, wat volgens hulle al “honderde kere” gebruik is, so ’n gevaarlike, verskriklike reaksie kon veroorsaak nie.
Sommige ouers kontroleer televisiekykery sorgvuldig of het selfs die TV uit hulle huis verwyder omdat hulle bewus is van die gevaarlike uitwerking wat TV-kykery kan hê. ’n Ouer in Allen, Texas, VSA, het gesê dat sy kinders “kort konsentrasieperiodes, geïrriteerdheid, swak samewerking en chroniese verveeldheid” geopenbaar het voordat hulle van die TV in die huis ontslae geraak het. Hy het verder verduidelik: “Byna elkeen van ons vyf kinders—wat tussen die ouderdomme van 6 en 17 is—is vandag topstudente. Sonder TV het hulle vinnig in ’n verskeidenheid ander dinge begin belangstel, soos sport, lees, kuns, rekenaars, ens.
“Ongeveer twee jaar gelede het daar veral iets onvergeetliks gebeur. My seun, wat toe 9 was, het van ’n vriend af gebel, waar hulle ’n partytjie gehad het en die nag sou oorslaap, want hy . . . wou huis toe kom. Toe ek hom oplaai en vra wat die probleem was, het hy gesê: ‘Dit is so vervelig. Hulle wil net die hele tyd sit en TV kyk!’”