Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 6/22 bl. 20-24
  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek hou my belofte
  • My beproewings begin
  • Van kamp tot kamp
  • Vryheid, en ’n gesin
  • Terug na die Oekraïne
  • ’n Verhoor, strafkamp en ballingskap
  • Die vreugde van godsdiensvryheid
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • Ons verduur beproewinge in die krag van God
    Ontwaak!—2000
  • Twee keer tot 25 jaar slawearbeid gevonnis
    Ontwaak!—2005
  • Standvastig in die geloof onder totalitêre onderdrukking
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 6/22 bl. 20-24

’n Belofte wat ek beslis gaan hou

SOOS VERTEL DEUR MARIAN TSIBOULSKI

IN Februarie 1945 was ek ’n 20-jarige soldaat in die Sowjetweermag, wat die Duitsers honderde kilometers na hulle eie land teruggedryf het. Ek het daagliks die verskrikkinge van oorlog gesien, met kamerade wat oral om my gesterf het. Ons het Breslau, Duitsland, genader, wat nou Wrocław, Pole, is. Daar het ek een aand, moeg vir die bloedvergieting en die lyding, vir God belowe dat ek my lewe daaraan sal wy om sy wil te doen as hy my veilig sal laat terugkeer huis toe.

Drie maande later is Duitsland verslaan. Nadat ek uit die weermag ontslaan is, het ek in Desember 1945 my pa se tuisdorp, Rogizno, ’n dorpie naby Lvov (nou Lviv), in die Oekraïne, binnegestrompel. Die volgende oggend het ek een van Jehovah se Getuies ontmoet, en hy het deeglik vir my getuig van God se Koninkryk. Hoewel ek alreeds iets van die Bybel geweet het en selfs al van die Getuies se lektuur gelees het, het dit nou eers my hart geraak. Ek het besef dat hierdie ontmoeting iets met my belofte te doen gehad het.

Ek hou my belofte

Ek het gou werk gekry as onderwyser by die laerskool. Maar minder as twee jaar later, toe die streekhoof van die onderwysdepartement besluit het dat kinders ’n ateïstiese opvoeding moes ontvang, is ek afgedank. Omstreeks dieselfde tyd, Mei 1947, het ek aan die openbare predikingswerk saam met Jehovah se Getuies begin deelneem. Die Getuies het my aangemoedig om meer suid na die dorp Borislav te trek, waar ek gou werk gekry het as ’n elektrisiën.

In Borislav het ek mense ontmoet wat in die dertigerjare Getuies geword het. Hulle het baie Bybelpublikasies gehad, wat ek noukeurig gelees het, waaronder dele van Studies in the Scriptures en die meeste van die boeke wat deur Joseph F. Rutherford, ’n voormalige president van die Wagtoringgenootskap, geskryf is. Ek het ook ou eksemplare van Die Wagtoring en The Golden Age (nou die Ontwaak!) gelees wat sommige Getuies gehad het. Maar ’n versameling briewe wat deur terdoodveroordeelde Duitse Getuies onder die Hitler-regime geskryf is, het die grootste indruk op my gemaak. Hierdie briewe is in Pools vertaal, met die mimeograaf gekopieer en toe in die vorm van ’n boekie gebind. Toe ek later aan die onkreukbaarheid van daardie Duitse broers gedink het, het dit my krag gegee om beproewings te verduur.

Ek is uiteindelik in 1949 in een van die mere van Borislav gedoop en het daardeur die belofte wat ek op die gevegsfront gemaak het om God te dien formeel nagekom. Maar nou was dit ’n belofte wat op juiste kennis gegrond is.

My beproewings begin

Kort voor lank is ek afgedank. In Februarie 1950 het ek dus na die nabygeleë stad Stryi getrek waar ek weer as ’n elektrisiën werk gekry het. Ek is hartlik deur my Christenbroers verwelkom en is selfs genooi om die jaarlikse Gedenkmaal te lei wat ’n paar weke later ter herdenking van Jesus Christus se dood gehou is.

Op hierdie tydstip het opstokery en dreigemente teen die Getuies verskerp. Ons is deur lede van die KGB, die Staatsveiligheidkomitee, agtervolg. Ons was dus versigtig terwyl ons vir moontlike inhegtenisname en ondervraging voorberei het. Die sing van Koninkryksliedere by die vergaderinge het ons gehelp om geestelik sterk te bly.

Op 3 Julie 1950 is ek gevra om die Stockholm-beroep te onderteken, wat teen kernwapens gerig was en na bewering deur meer as 273 000 000 mense, hoofsaaklik burgers van Kommunistiese lande, onderteken is. Toe ek geweier het om dit te doen en verduidelik het dat ek polities neutraal is, is ek weer eens afgedank. Ná hierdie voorval is ek in hegtenis geneem, verhoor en tot 25 jaar in ’n strafkamp gevonnis.

Van kamp tot kamp

In Desember 1950 is baie van ons in ’n veetrok gelaai en ongeveer 3000 kilometer daarvandaan na ’n gebied naby die noordelike Oeralgebergte gestuur, wat Asiatiese Rusland gedeeltelik van Europese Rusland skei. Daar is ek in die een kamp na die ander gevange gehou. Dit was oral dieselfde—harde werk en karige etes. Twee of drie maande was genoeg om jong en gesonde mans in lewende lyke te verander. Baie het gesterf. Ons het nie van oorlewing durf droom nie, veral nie dié van ons wat ’n lang vonnis gehad het nie.

Die jaar wat ek geen Bybellektuur en geen kontak met ander Getuies gehad het nie, was baie moeilik vir my. Die afsondering was absolute pyniging. Maar ek is geestelik versterk wanneer sommige gevangenes geluister het terwyl ek met hulle oor God se Koninkryk gepraat het. My innige gebede is uiteindelik verhoor, en ek is sowat 2000 kilometer suidoos na ’n groot kampkompleks verskuif by die nuutgestigte stad Angarsk, in oostelike Siberië. Daar was ’n groot chemiese aanleg in aanbou, en die meeste werk is deur gevangenes gedoen.

Ek is na Kamp 13 naby die bouterrein gestuur. Daar het ek onmiddellik ander Getuies ontmoet, wat my die nuutste eksemplare gegee het van Die Wagtoring en die Voorligter, soos Ons Koninkryksbediening toe genoem is. Wat ’n geestelike feesmaal was dit tog! Maar waarvandaan het dit alles gekom?

In April 1951 is duisende Getuies in die Oekraïne na Siberië verban, baie na gebiede naby Angarsk. Hierdie broers het eksemplare van Die Wagtoring en ander publikasies in die hande gekry, dit in die geheim gekopieer, en hulle het dit dan in die kampe ingesmokkel. Ons het ook ’n Bybel in die hande gekry. Ons het dit in dele verdeel en toe onder ons versprei. Sodoende sou net ’n deel van die Bybel verlore gaan indien ons deursoek sou word. Ons het selfs ’n Wagtoring-studie en ’n Teokratiese Bedieningskool in die kampe gehou!

Laat in 1952 is ek na Kamp 8 verskuif. Die daaropvolgende Maart het ons die Gedenkmaal in ’n klein kamertjie gevier waar die gevangenes hulle persoonlike besittings gehou het. Daar was net 12 teenwoordig—3 Getuies en 9 belangstellendes. Die owerheid het op die een of ander manier van ons vergadering te hore gekom, en ek is na Strafkamp 12 verban omdat ek volgens hulle “’n kwaadwillige opstoker” was. Vyf ander Getuies, wat ook weens hulle predikingswerk gestraf is, was alreeds in hierdie kamp. Terwyl ons daar was, is ons gedwing om ’n groot fondasie te grawe met net pikke en grawe.

Baie gevangenes in Kamp 12 was van die ergste soort misdadigers. Die amptenare het klaarblyklik gedink dat dit ons sou ontmoedig as ons by hulle geplaas word. Maar ons het met hulle oor God se Koninkryk gepraat, en in die barak het ons Koninkryksliedere gesing. Eenkeer, toe ons klaar gesing het, is die belhamel in die kamp beweeg om na ’n Getuie te gaan en te sê: “Laat iemand net aan julle raak, en ek sal sy nek omdraai!” Sommige van die misdadigers het selfs ons Koninkryksliedere geleer en saamgesing!

In die middel van 1953 is baie Getuies van ander kampe af na Kamp 1 verskuif. Aan die begin was daar 48 Getuies in Kamp 1, maar in minder as drie jaar het die getal tot 64 gestyg. Ja, in daardie tyd het 16 hulle standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem, en hulle is toe gedoop! Hoewel kampamptenare altyd op die uitkyk was vir bewyse van godsdiensbedrywigheid, kon ons ons vergaderinge en doopplegtighede in die kamp se badhuis hou omdat ’n Getuie in beheer daarvan was.

Vryheid, en ’n gesin

In 1956 is die meeste Getuies in die kampe vrygelaat, en sodoende is boodskappers van die goeie nuus na alle uithoeke van die uitgestrekte Sowjetgebied verstrooi. My vonnis van 25 jaar is tot 10 jaar verminder en uiteindelik tot 6 jaar en 6 maande. In Februarie 1957 is ek dus ook vrygelaat.

Ek het eers na Biryusinsk gegaan, ’n dorp in Siberië wat ongeveer 600 kilometer noordwes van Angarsk geleë is. Baie Oekraïense Getuies is na daardie gebied gedeporteer, en ek het dit geniet om vir hulle ondervindings te vertel en oor mede-Getuies uit te vra wat ons gemeenskaplike vriende was. Van daar af het ek teruggetrek na Borislav, in die Oekraïne, waar ’n Oekraïense Getuie met die naam Eugenia Batsjinskaja gewoon het. Sy is ’n jaar voor my uit die tronk vrygelaat.

Eugenia was ’n getroue Getuie wat in 1950 ter dood veroordeel is weens haar predikingswerk. Maar ná 18 dae in die dodesel is haar vonnis tot 25 jaar in ’n spesiale kamp verminder. Teen die einde van 1957, toe ek na die Oekraïne teruggekeer het, is ons getroud. Ons wou ons ná ons troue in Borislav vestig, waar ek nege jaar tevore gedoop is. In plaas daarvan is ek 48 uur gegee om die Oekraïne te verlaat!

Ek het na Kaukasië, in suidelike Rusland, getrek, waar Eugenia later by my aangesluit het. Maar nadat ons daar ongeveer ses maande in ’n skuurtjie gebly het, het ons na Biryusinsk vertrek om by ons verbanne Christenbroers en -susters aan te sluit. Daar was sowat 500 van hulle asook vyf gemeentes in Biryusinsk, en ek is aangestel as die presiderende opsiener van een van die gemeentes. In 1959 is ons dogter Oksana gebore, en Marianna het in 1960 gevolg. Hulle was van kleins af altyd by die vergaderinge en het in die geestelike roetine van gemeentelike bedrywighede in Siberië grootgeword.

Die Siberiese owerheid was betreklik verdraagsaam teenoor ons gemeentelike bedrywighede, ten minste in vergelyking met die streng beperkings wat in die Oekraïne op ons werk gestel is. Tog was dit nie maklik vir ons hele gemeente om bymekaar te kom nie. Begrafnisse het ons die geleentheid gebied om in groot groepe bymekaar te kom. By hierdie geleenthede het ’n hele paar broers leersame Bybeltoesprake gehou. Maar toe die owerheid agterkom wat gebeur, het hulle opgetree. By een geleentheid is ’n lykstoet byvoorbeeld voorgekeer, en die kis is met geweld na die begraafplaas geneem en begrawe.

Terug na die Oekraïne

In 1965 het ons na die Oekraïne teruggekeer en ons in Kremenchug gevestig. Daar was net 12 Getuies in hierdie stad, wat byna 800 kilometer oos van Borislav geleë is. Ons het ongeveer vyf jaar daar gewoon; gedurende die grootste deel van daardie tyd het ek gemeentes as ’n reisende opsiener bedien. In 1969, toe ons dogters nege en tien jaar oud was, is ons gevra om na die suide te trek om die broers in die dorpie Molochansk te help.

In Molochansk is ek deur die KGB ontbied na ’n bespreking wat ’n hele paar uur geduur het. Trouens, ek is ses maal ontbied! Tydens elke bespreking is ek ’n rooskleurige toekoms belowe as ek my bande met die “Jehoviste” sou verbreek. Die KGB se geduld het uiteindelik opgeraak, en ek en ’n ander Getuie is tot ’n jaar gevangenisstraf gevonnis.

Nadat ek my vonnis uitgedien het, het ek in 1973 met my gesin na ’n dorpie naby Kremenchug getrek. Ons het in die geheim Christelike vergaderinge in ons huis gehou, waaronder ’n viering in 1974 om Christus se dood te herdenk. Die volgende oggend is ons huis deursoek, en ek is in hegtenis geneem.

’n Verhoor, strafkamp en ballingskap

My verhoor was nie oop vir die publiek nie, en mense kon dit net op uitnodiging bywoon. Diegene wat dit bygewoon het, was hooggeplaaste amptenare en gemeenskapsleiers, die room van die gemeenskap. Ek het verkies om nie ’n prokureur te hê nie en is 45 minute gegun om myself te verdedig. Die dag voor die verhoor het Eugenia en ons dogters gebid en gevra, nie dat ek ’n ligter vonnis moet kry of kwytgeskeld word nie, maar net dat ’n goeie getuienis gegee word van die Koninkryk en van Jehovah se heilige naam.

Die verhoor het begin met die regter wat ’n hele paar gedeeltes uit Die Wagtoring en die Ontwaak! voorgelees het. Die gehoor het anders gereageer as wat die regter verwag het. Toe die mense hoor dat hierdie bose wêreld by Armageddon vernietig gaan word en dat God se Koninkryk oor die aarde gaan heers, was hulle verward—nie seker wat om te glo nie. Die regter het gou besef dat hy ’n fout gemaak het, en tydens my slotpleidooi het hy my voortdurend in die rede geval om sy aansien te probeer red. Maar deur direk uit ons publikasies te lees, het die regter gehelp dat ’n goeie getuienis gegee word, en my hart het oorgeloop van dankbaarheid. Ek is nietemin tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis, wat deur vyf jaar in ballingskap gevolg sou word.

Ek het die volgende vyf jaar tussen geharde misdadigers deurgebring in die Jodwa-strafkamp in die verre noorde van die Komi- Onafhanklike Sosialistiese Sowjetrepubliek. Gedurende daardie tyd het ek baie geleenthede gehad om van die Koninkryk te getuig vir ongeveer 1200 gevangenes sowel as die kampadministrasie. Ná my vrylating in 1979 is ek as banneling na Vorkuta gestuur, wat anderkant die Noordpoolsirkel is. Kort nadat ek werk en ’n woonplek in Vorkuta gekry het, het my gesin by my aangesluit.

Vorkuta is daarvoor bekend dat dit op die gebeentes van sy gevangenes gebou is, waaronder dié van baie Getuies wat in vroeër dekades gevangenes was. Vandag is dit ’n gewone stad, en daar is geen strafkampe meer nie. Maar in die ysgrond in en om die stad is die liggame van tallose martelaars wat hulle lewe tot eer van Jehovah opgeoffer het.

Die vreugde van godsdiensvryheid

In 1989 het ons van Vorkuta af na Pole gereis om twee internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies by te woon. Terwyl ons gekyk het hoe tienduisende Christenbroers en -susters in Warskou en Katowice vreugdevolle assosiasie geniet sonder om bang te wees dat hulle in hegtenis geneem sou word, was ons glad nie skaam oor die trane van vreugde wat oor ons wange geloop het nie. ’n Droom is bewaarheid. Ons het na Vorkuta teruggekeer met hernieude vasbeslotenheid om Koninkryksbelange te bevorder.

Maar die klimaat anderkant die Noordpoolsirkel is straf, en Eugenia se gesondheid het daaronder gely. Ons het dus later daardie jaar teruggetrek na Kremenchug waar ons ons in ons diens aan Jehovah verheug met die groter vryheid wat ons nou geniet. Albei ons skoonseuns is ouer manne in die gemeente hier in die Oekraïne. En ons dogters is pioniers, soos voltydse bedienaars genoem word, al maak hulle vier kinders groot.

Ek onthou nog af en toe die gevegsfront van 1945 en die belofte wat ek meer as ’n halfeeu gelede gemaak het. Sodat ek dit kon hou, het Jehovah my van juiste kennis voorsien, dieselfde soort kennis wat miljoene ander in staat gestel het om ’n soortgelyke belofte te maak—om Jehovah vir ewig te dien.

[Kaart/Prent op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

RUSLAND

Vorkuta

Lviv

Borislav

OEKRAÏNE

Kremenchug

Molochansk

Kaukasië

Biryusinsk

Angarsk

Saam met ons twee dogters, hulle mans en hulle vier kinders

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel