Mense praat oor die weer
WAAR jy ook al woon en wie jy ook al is, die weer beïnvloed jou lewe. As dit na ’n warm, sonnige dag lyk, trek jy dun klere aan. As dit koud is, dra jy ’n jas en ’n hoed. Reën? Jy gryp jou sambreel.
Soms geniet ons die weer en soms stel dit ons teleur. Nou en dan word dit ’n doder in die vorm van orkane, tornado’s, droogtes, sneeustorms of moesons. Hetsy jy daarvan hou of dit haat, dit jou irriteer of jy dit ignoreer, die weer is altyd daar, en van ons geboortedag af tot ons sterfdag beïnvloed dit ons lewe.
Iemand het eenkeer in ’n grap gesê: “Almal praat oor die weer, maar niemand doen enigiets daaromtrent nie.” Dit het inderdaad nog altyd gelyk of ons die weer glad nie kan verander nie. Maar al hoe meer wetenskaplikes dink nie meer so nie. Hulle sê dat die vrystelling van koolstofdioksied en ander gasse in ons atmosfeer ’n verandering in ons langtermynweerpatrone—in ons klimaat—tot gevolg het.
Wat is volgens die deskundiges die aard van hierdie komende verandering? Die gesaghebbendste antwoord kom waarskynlik van die Intergoewermentele Paneel oor Klimaatverandering (IPCC), wat gebruik gemaak het van die vakkennis van meer as 2500 klimatoloë, ekonome en deskundiges op die gebied van risiko-ontleding uit 80 lande. In hulle verslag van 1995 het die IPCC die gevolgtrekking gemaak dat die aarde se klimaat warmer word. As die situasie voortduur, is dit moontlik dat die temperatuur gedurende die volgende eeu met tot 3,5 grade Celsius kan styg.
Hoewel ’n paar grade meer dalk nie klink na veel om oor bekommerd te wees nie, kan ’n klein temperatuurverandering in die wêreld se klimaat rampspoedig wees. Hier volg wat talle in die komende eeu verwag.
Streekweeruiterstes. In party gebiede kan droogtes langer duur, terwyl ander gebiede swaarder reënval kan kry. Storms en vloede kan hewiger word; orkane verwoestender. Hoewel miljoene reeds weens vloede en hongersnood sterf, kan aardverwarming die dodetal baie laat styg.
Groter gesondheidsgevaar. Hitteverwante siektes en sterftes kan vinnig toeneem. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan aardverwarming ook die gebiede laat uitbrei waarin insekte voorkom wat tropiese siektes soos malaria en denguekoors dra. Boonop kan verminderde varswatervoorrade weens veranderinge in die streekreënval en -sneeuval party watergedrae en voedselgedrae siektes en parasiete laat toeneem.
Bedreiging van natuurlike habitats. Woude en vleilande, wat ons lug en water filtreer, kan deur hoër temperature en veranderinge in die reënval in gevaar gestel word. Bosbrande kan meer dikwels voorkom en hewiger wees.
Stygende seevlakke. Dié wat in laagliggende kusgebiede woon, sal moet trek tensy duur skemas aangepak word om die see te stuit. Party eilande sal heeltemal onder die water verdwyn.
Is hierdie vrese gegrond? Word die aarde se klimaat warmer? Indien wel, dra mense dan die skuld? Aangesien soveel op die spel is, is dit nie verbasend dat deskundiges hewig debatteer oor hierdie vrae nie. Die volgende twee artikels ondersoek party van die betrokke geskille en gee aandag aan die vraag of ons oor die toekoms van ons planeet bekommerd moet wees.