Word die planeet Aarde bedreig?
AARDVERWARMING is al beskryf as die grootste bedreiging wat die mensdom in die gesig staar. Wat navorsers bekommer, sê die tydskrif Science, “is die moontlikheid dat ons ’n stadige maar onafwendbare vloedgolf van verandering aan die gang gesit het”. Skeptici bevraagteken hierdie stelling. Baie stem wel saam dat die aarde warmer word, maar hulle is onseker oor die oorsake asook die gevolge. Mensebedrywighede kan ’n faktor wees, sê hulle, maar nie noodwendig die hooffaktor nie. Waarom dan hierdie meningsverskil?
Om maar een ding te noem, die fisiese prosesse wat die grondslag van die aarde se klimaatsisteme vorm, is ingewikkeld en word nie ten volle verstaan nie. Daarbenewens interpreteer belangegroepe gewoonlik die wetenskaplike data, soos die data wat gebruik word om te toon waarom temperature styg, op so ’n manier dat dit hulle saak bevorder.
Stygende temperature—Is dit ’n werklikheid?
Volgens ’n onlangse verslag deur die VN-gesteunde Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) is aardverwarming “onbetwisbaar”, of ’n feit; en die mensdom is “heel waarskynlik” in groot mate daarvoor te blameer. Sommige wat nie met hierdie gevolgtrekking saamstem nie, veral wat mensebedrywighede betref, gee toe dat stede moontlik warmer word omdat hulle groter word. Boonop absorbeer beton en staal geredelik die son se hitte en koel dit snags stadig af. Maar temperatuurlesings wat in stede geneem is, sê skeptici, weerspieël nie wat in plattelandse gebiede gebeur nie en gevolglik kan wêreldstatistiek ’n valse beeld skep.
Aan die ander kant sê Clifford, een van die hoofmanne van ’n dorpie op ’n eiland langs die kus van Alaska, dat hy al met sy eie oë veranderinge gesien het. Die mense van sy dorpie reis oor seeys na die vasteland om kariboes en elke te gaan jag. Maar stygende temperature maak die tradisionele lewenswyse onmoontlik. “Die seestrome het verander, ystoestande het verander en die tyd wanneer die Tsjoektsji-see toeys . . . , het verander”, sê Clifford. Die see het gewoonlik teen die einde van Oktober toegeys, verduidelik hy, maar nou ys dit eers laat in Desember toe.
In 2007 kon verwarming ook gesien word in die Noordwestelike Deurvaart, wat vir die eerste keer in die opgetekende geskiedenis heeltemal bevaarbaar was. “Wat ons vanjaar gesien het, pas by die profiel van smeltseisoene wat langer word”, het ’n senior wetenskaplike by die Nasionale Datasentrum vir Sneeu en Ys in die Verenigde State gesê.
Die kweekhuiseffek—noodsaaklik vir lewe
Een van die redes wat vir hierdie veranderinge aangevoer word, is dat die kweekhuiseffek, ’n natuurverskynsel wat noodsaaklik is vir lewe op die aarde, toeneem. Wanneer energie van die son die aarde bereik, word omtrent 70 persent daarvan geabsorbeer, wat die lug, die land en die see verhit. As dit nie gebeur het nie, sou die gemiddelde oppervlaktemperatuur omtrent -18 grade Celsius gewees het. Die hitte wat geabsorbeer word, word uiteindelik as infrarooistraling in die ruimte vrygestel, wat verhoed dat die aarde oorverhit. Maar wanneer besoedelstowwe die samestelling van die atmosfeer verander, ontsnap daar minder hitte. Dit kan veroorsaak dat aardtemperature styg.
Gasse wat tot die kweekhuiseffek bydra, sluit koolstofdioksied, distikstofmonoksied en metaan in, sowel as waterdamp. Die hoeveelheid kweekhuisgasse in die atmosfeer het oor die afgelope 250 jaar merkbaar vermeerder, sedert die industriële revolusie en sedert meer fosielbrandstowwe, soos steenkool en olie, gebruik word. Nog iets wat blykbaar tot die kweekhuiseffek bydra, is die toenemende hoeveelheid plaasdiere, waarvan die spysverteringsprosesse metaan en distikstofmonoksied afgee. Sommige navorsers wys op ander oorsake van verwarming wat volgens hulle ontstaan het voordat mense die klimaat kon beïnvloed het.
Net nog ’n temperatuurwisseling?
Diegene wat skepties is oor die bewering dat verwarming deur mensebedrywighede veroorsaak word, wys daarop dat daar al in die verlede wesenlike wisselings in die aarde se temperatuur was. Hulle meld die sogenaamde ystydperke, toe die aarde glo baie kouer was as wat dit nou is; en ter ondersteuning van natuurlike verwarming voer hulle bewyse aan dat koue gebiede, soos Groenland, eens op ’n tyd plantegroei onderhou het wat warm gebiede verkies. Wetenskaplikes gee natuurlik toe dat hoe verder ’n mens in die geskiedenis teruggaan, hoe minder sekerheid daar oor klimaatstoestande bestaan.
Wat kon groot temperatuurwisselings veroorsaak het voordat die menslike invloed ’n faktor was? Moontlike oorsake sluit sonvlekke en sonvlamme in, wat ooreenstemmende wisselings veroorsaak in die hoeveelheid energie wat die son produseer. Daarbenewens gaan die aarde se wentelbaan deur siklusse wat etlike duisende jare kan duur en wat ons planeet se afstand van die son beïnvloed. Daar is ook die invloed van vulkaniese stof en veranderinge in die seestrome.
Klimaatmodelle
Hoe sal dit ons en die omgewing raak as die aarde se temperatuur styg—ongeag die oorsaak of oorsake daarvan? Dit is moeilik om presies te voorspel. Maar wetenskaplikes het deesdae toegang tot kragtige rekenaars, wat hulle gebruik om digitale simulasies van die klimaatsisteem te skep. Die wette van die fisika, data oor die klimaat en natuurverskynsels wat die klimaat beïnvloed, word in hulle modelle ingewerk.
Simulasies stel wetenskaplikes in staat om met die klimaat te eksperimenteer op maniere wat andersins onmoontlik sou gewees het. Hulle kan byvoorbeeld die energie wat die son vrystel, “verander” om te sien hoe dit poolys, lug- en seetemperature, verdampingstempo’s, atmosferiese druk, wolkvorming, wind en reënval raak. Hulle kan vulkaniese uitbarstings “skep” en die uitwerking van vulkaniese stof op die weer bestudeer. En hulle kan die uitwerking van bevolkingsgroei, ontbossing, grondbenutting, veranderinge in die vrystelling van kweekhuisgasse en so meer bestudeer. Wetenskaplikes hoop dat hulle modelle geleidelik akkurater en betroubaarder sal word.
Hoe akkuraat is huidige modelle? Baie hang natuurlik af van die akkuraatheid en die hoeveelheid data wat in die masjiene ingevoer word. Gevolglik wissel klimaatprojeksies van matig tot rampspoedig. Nogtans sê Science dat “die [natuurlike] klimaatsisteem ons kan verras”. En dit het al gebeur, soos die buitengewoon vinnige tempo waarteen Noordpoolys smelt, wat baie klimatoloë verbaas het. As beleidmakers nietemin net ’n idee gehad het van die gevolge van wat nou gedoen of nie gedoen word nie, sou hulle vandag besluite kon maak wat môre probleme kan verminder.
Met hierdie moontlikheid in gedagte het die IPCC ses verskillende rekenaarsimulasies bestudeer—wat wissel van die onbeperkte vrystelling van kweekhuisgasse tot die beperkings wat nou toegepas word tot baie streng beperkings—wat elkeen ’n ander uitwerking op die klimaat en die omgewing sou hê. Na aanleiding van die voorspellings het die ontleders ’n verskeidenheid maatreëls aanbeveel. Dit sluit in dat verpligte beperkings op fossielbrandstofemissies geplaas word, dat oortreders gestraf word, dat meer kernkrag opgewek word en dat meer omgewingsvriendelike tegnologie gebruik word.
Is die modelle betroubaar?
Metodes wat nou gebruik word om voorspellings te maak, “oorvereenvoudig klimaatsprosesse, wat ons nie goed verstaan nie” en “ignoreer eenvoudig ander”, sê kritici. Hulle wys ook op die teenstrydighede van die rekenaarvoorspellings. Een wetenskaplike wat aan die IPCC-besprekings deelgeneem het, het gesê: “Wanneer ons die buitengewoon komplekse klimaatsisteem probeer meet en verstaan, laat dit sommige van ons so nederig voel dat ons skepties is oor ons eie vermoë om te weet wat gebeur en waarom dit gebeur.”a
Sommige sal natuurlik redeneer dat ’n mens met die toekoms dobbel as jy ’n mate van twyfel gebruik as regverdiging om niks te doen nie. “Hoe sal ons dit aan ons kinders verduidelik?” vra hulle. Hetsy die klimaatmodelle akkuraat is of nie, ons kan daarvan seker wees dat die aarde in ernstige moeilikheid is. Die omgewing waardeur lewe onderhou word, word bedreig deur besoedeling, ontbossing, verstedeliking en die uitsterwing van spesies, om maar net ’n paar onbetwisbare faktore te noem.
Kan ons, in die lig van wat ons weet, verwag dat die mensdom as ’n geheel hulle lewenswyse heeltemal sal verander om ons pragtige tuiste—en onsself—te red? Verder moet ons in ag neem dat ons moontlik net jare het, nie eeue nie, om die nodige veranderinge aan te bring indien menslike bedrywighede wel vir aardverwarming verantwoordelik is. Sulke veranderinge sal op die minste vereis dat iets spoedig gedoen word aan die grondoorsake van die aarde se probleme—menslike hebsug, eiebelang, onkunde, onbevoegde regering en onverskilligheid. Is hierdie vooruitsig ’n waarskynlikheid of is dit net wensdenkery? Indien laasgenoemde, is ons sonder hoop? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a John R. Christy, die direkteur van die Earth System-wetenskapsentrum by die Universiteit van Alabama, Huntsville, VSA, soos berig in The Wall Street Journal, 1 November 2007.
[Venster/Prent op bladsy 5]
HOE MEET ’N MENS DIE AARDE SE TEMPERATUUR?
Om toe te lig hoe moeilik dit is: Hoe sou jy die temperatuur van ’n enkele, groot vertrek meet? Waar sou jy byvoorbeeld die termometer plaas? Aangesien hitte styg, sal die lug naby die plafon waarskynlik warmer wees as die lug naby die vloer. Die lesing sal ook beïnvloed word as die termometer naby ’n venster, in direkte sonlig of in die skadu is. Kleur kan ook verskillende lesings tot gevolg hê, aangesien donker oppervlakke meer hitte absorbeer.
Een lesing sou dus waarskynlik onvoldoende wees. Jy sou lesings op verskillende plekke moes neem en dan ’n gemiddeld uitwerk. En lesings kan van dag tot dag en van seisoen tot seisoen verander. Om dus ’n ware gemiddeld te verkry, sou jy baie lesings oor ’n lang tydperk moes neem. Stel jou dan voor hoe ingewikkeld dit is om die gemiddelde temperatuur van die aarde se oppervlak, atmosfeer en oseane te meet! Nogtans is hierdie syfers noodsaaklik om klimaatsveranderinge akkuraat te evalueer.
[Erkenning]
NASA photo
[Venster op bladsy 6]
IS KERNKRAG ’N OPLOSSING?
Wêreldwye energieverbruik skiet die hoogte in. Aangesien die verbranding van olie en steenkool kweekhuisgasse vrystel, oorweeg sommige regerings kernkrag as ’n skoner alternatief. Maar dit bied ook uitdagings.
Die International Herald Tribune berig dat Frankryk, een van die lande in die wêreld wat die meeste op kernkrag staatmaak, jaarliks tot 19 miljard kubieke meter water moet gebruik om reaktors te verkoel. Tydens die hittegolf van 2003 het die warm water wat normaalweg van Frankryk se reaktors af kom, die temperatuur van riviere byna tot vlakke laat styg wat skadelik is vir die omgewing. Sommige kragstasies moes dus tydelik toegemaak word. Daar word verwag dat hierdie situasie sal vererger as wêreldtemperature verder styg.
“As ons kernenergie wil gebruik, sal ons die probleem van klimaatsverandering moet oplos”, het die kerningenieur David Lochbaum van die Unie van Besorgde Wetenskaplikes gesê.
[Venster/Kaart op bladsy 7]
WEERVERWANTE NATUURRAMPE IN 2007
In die jaar 2007 was daar ’n rekordaantal weerverwante natuurrampe waarvoor die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinasie van Humanitêre Aangeleenthede 14 versoeke om dringende hulp gedoen het—4 meer as die vorige rekord, wat in 2005 opgestel is. Hier volg ’n lys van net ’n paar van die natuurrampe wat in 2007 plaasgevind het. Hou in gedagte dat individuele gebeurtenisse natuurlik nie noodwendig ’n aanduiding is van ’n langtermyntendens nie.
◼ Brittanje: Meer as 350 000 mense is geraak deur die ergste vloede in meer as 60 jaar. Engeland en Wallis het die natste Mei tot Julie ervaar sedert daar in 1766 rekord begin hou is.
◼ Wes-Afrika: Vloede het 800 000 mense in 14 lande geraak.
◼ Lesotho: Hoë temperature en droogte het gesaaides vernietig. Nagenoeg 553 000 mense sal moontlik voedselbystand benodig.
◼ Soedan: Stortreën het 150 000 dakloos gelaat. Ten minste 500 000 het noodvoorraad ontvang.
◼ Madagaskar: Siklone en swaar reëns het die eiland geteister, wat 33 000 mense ontwortel het en die gesaaides van 260 000 vernietig het.
◼ Noord-Korea: ’n Geskatte 960 000 mense is erg geraak deur wydverspreide vloede, grondverskuiwings en modderstortings.
◼ Bangladesj: Vloede het 8,5 miljoen mense geraak en die dood van meer as 3 000 mense en 1,25 miljoen plaasdiere veroorsaak. Byna 1,5 miljoen huise is beskadig of vernietig.
◼ Indië: Vloede het 30 miljoen mense geraak.
◼ Pakistan: Sikloniese reën het 377 000 mense ontwortel en honderde lewens geëis.
◼ Bolivia: Meer as 350 000 mense is geraak deur vloede, en 25 000 is ontwortel.
◼ Mexiko: Vloede in sommige streke het ten minste 500 000 mense dakloos gelaat en meer as ’n miljoen geraak.
◼ Dominikaanse Republiek: Swaar, langdurige reëns het vloede en grondverskuiwings veroorsaak en 65 000 mense ontwortel.
◼ Verenigde State: Brande wat in die dorre Suid-Kalifornië gewoed het, het 500- 000 inwoners gedwing om uit hulle huise te vlug.
[Erkenning]
Based on NASA/Visible Earth imagery