’n Moskouse onderwyseres is deur die Ontwaak! gehelp
’n Onderwyseres het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rusland geskryf om te sê dat sy van plan is om artikels in die Ontwaak! in haar skoollesse te gebruik. Sy het verduidelik:
“Dit is asof die Ontwaak! my help om nuwe lewenskrag te vind, my weer in ’n goeie stemming bring en my van neerdrukkende gedagtes bevry. Ek is dankbaar vir die wonderlike artikels oor die mens se stryd teen mikrobes [die nommer van 22 Februarie 1996]. Ek is seker daarvan dat julle tydskrifte nuttig is vir elke huis wat dit het.” Sy het bygevoeg: “Ek wil baie graag die Ontwaak! ontvang . . . Julle tydskrif kan my ongetwyfeld help.”
’n Soortgelyke brief, uit Stawropol, ’n stad met ’n bevolking van meer as ’n kwartmiljoen en wat meer as 1100 kilometer suidoos van Moskou geleë is, lui: “Ek wil graag die Ontwaak! bestel. Ek het onlangs twee eksemplare van hierdie tydskrif ontvang. Die artikels het begrip getoon vir die probleme waarvoor mense te staan kom. Party artikels het feite bespreek wat vir my nuut was. Dit is die eerste keer dat ek so ’n realistiese beskrywing van dinge teëkom.”
As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy nog ’n eksemplaar van die Ontwaak! kan ontvang of as jy wil hê dat iemand jou tuis moet besoek om die Bybel met jou te bespreek, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die gepaste adres op bladsy 5.