Wat hou die toekoms vir vroue in?
“DIE mensegeskiedenis is ’n geskiedenis van herhaalde onregte en aanmatigende dade wat mans teenoor vroue gepleeg het.” Só lui die Seneca Falls, New York, Meningsverklaring, wat 150 jaar gelede in Amerika neergepen is uit protes teen onregverdigheid teenoor vroue.
Daar was ongetwyfeld vordering sedertdien, maar soos The World’s Women 1995, ’n publikasie van die Verenigde Nasies sê, is dit nog lank nie genoeg nie. “Te dikwels leef mans en vroue in verskillende wêrelde”, berig dit, “wêrelde wat verskil ten opsigte van toegang tot opvoeding en werksgeleenthede, asook wat gesondheid, persoonlike veiligheid en vrye tyd betref.”
Toenemende bewustheid hiervan het daartoe gelei dat nasies wette aanneem wat die regte van vroue beskerm. Maar wette kan nie harte verander, wat die oorsprong van onregverdigheid en vooroordeel is nie. Beskou byvoorbeeld die benarde situasie van kinderprostitute. Newsweek het die volgende van hierdie internasionale skande gesê: “Wetgewing wat daarop gemik is om die seksuele uitbuiting van kinders stop te sit, is goed bedoel, maar dikwels kragteloos.” Net so voorkom wette op sigself nie geweld nie. “Getuienis dui aan dat geweld teen vroue ’n algemene, wêreldwye probleem is”, sê die Human Development Report 1995. “Die meeste wette is ontoereikend om sulke geweld te beëindig—tensy huidige kulturele en maatskaplike waardes verander.”—Ons kursiveer.
“Kulturele en maatskaplike waardes” is gewoonlik op diepgewortelde tradisies gegrond—’n harde neut om te kraak. “Tradisie laat mans glo dat hulle vroue eerder moet gebruik as liefhê, eerder moet uitbuit as versorg”, sê ’n vrou van die Midde-Ooste. “Gevolglik het ’n vrou geen seggenskap, geen regte en omtrent geen kans om haar situasie te verbeter nie.”
Onderrigting wat mans en vaders laat verander
Die Program van Aksie wat in 1995 in Beijing, China, op ’n wêreldkonferensie oor vroue voorgestel is, het verklaar dat slegs “onmiddellike en gesamentlike optrede” ’n “vreedsame, regverdige en menslike wêreld” tot stand kan bring waarin vroue gerespekteer sal word.
Enige optrede om vroue se lewe ‘vreedsamer, regverdiger en mensliker’ te maak, moet tuis by mans en vaders begin. Wat dit betref, is Jehovah se Getuies daarvan oortuig dat Bybelonderrig die sleutel tot sukses is. Hulle het gesien dat wanneer mans leer dat God van hulle verwag om hulle vrou en dogters met respek en op ’n bedagsame wyse te behandel, hulle dit ter harte neem en toepas.
Pedro, ’n getroude man van Sentraal-Afrika wat vier kinders het, neem nou die behoeftes van sy vrou in ag. Hy help haar om die kinders te versorg, en hy bedien selfs die ete wanneer gaste by die gesin eet. So ’n bedagsame gesindheid is baie ongewoon in sy land. Wat laat hom sy vrou waardeer en met haar saamwerk?
“Toe ek die Bybel begin bestudeer het, het ek twee belangrike beginsels met betrekking tot die rol van die man geleer”, verduidelik Pedro. “Dit het ’n groot invloed gehad op hoe ek my vrou beskou. Die eerste beginsel, in 1 Petrus 3:7, verduidelik dat ’n man aan sy vrou eer moet bewys as die “swakker vat, die vroulike”. Die tweede, in Efesiërs 5:28, 29, sê dat ’n man sy vrou ‘soos sy eie liggaam’ moet behandel. Sedert ek daardie raad toepas, is ons baie nader aan mekaar. As mans moet ons dus groter waarde heg aan God se raad as aan plaaslike gebruike.”
Michael, van Wes-Afrika, erken dat hy nie sy vrou goed behandel het voordat hy die Bybel saam met die Getuies begin studeer het nie. “Ek het haar selfs geslaan wanneer ek kwaad geword het”, erken hy. “Maar die Bybel het my geleer dat ek my gedrag moet verander. Ek probeer nou baie hard om my humeur in toom te hou en my vrou soos my eie liggaam lief te hê. En ons is albei baie gelukkiger” (Kolossense 3:9, 10, 19). Sy vrou, Comfort, stem saam: “Michael behandel my nou met meer respek en toegeneentheid as wat die gewoonte is van die meeste mans in ons gemeenskap. Ons kan oor ons probleme praat en as ’n span saamwerk.”
Pedro en Michael het albei geleer om hulle vrou te respekteer en te koester omdat hulle die onderrigting uit God se Woord ter harte geneem het wat duidelik toon dat onregverdigheid teenoor vroue ons Skepper grootliks mishaag.
God se besorgdheid oor vroue
God was nog altyd besorg oor vroue en hulle welsyn. Alhoewel hy aan ons eerste ouers gesê het dat onvolmaaktheid weens hulle opstand daartoe sou lei dat vroue ‘oorheers’ word, was dit nooit God se voorneme nie (Genesis 3:16). Hy het Eva geskep as “’n hulp” en metgesel vir Adam (Genesis 2:18). In die Mosaïese Wet, wat aan eertydse Israel gegee is, het Jehovah die mishandeling van weduwees uitdruklik veroordeel en die Israeliete opdrag gegee om goedhartig teenoor hulle te wees en hulle te help.—Exodus 22:22; Deuteronomium 14:28, 29; 24:17-22.
In navolging van sy hemelse Vader het Jesus nie die algemene tradisie van sy tyd gevolg wat vroue verkleineer het nie. Hy het vriendelik met vroue gepraat—selfs dié met ’n slegte reputasie (Lukas 7:44-50). Daarbenewens het Jesus vroue wat gesondheidsprobleme gehad het met graagte gehelp (Lukas 8:43-48). By een geleentheid, toe hy sien hoe ’n weduwee treur oor haar seun wat kort tevore gesterf het, het hy onmiddellik na die lykstoet gegaan en die jong man opgewek.—Lukas 7:11-15.
Vroue was onder Jesus se vroeë dissipels, en hulle was ook die eerste ooggetuies van sy opstanding. Die Bybel praat met lof van vroue soos Lidia, Dorkas en Prisca as voorbeelde van gasvryheid, deernis en moed (Handelinge 9:36-41; 16:14, 15; Romeine 16:3, 4). En vroeë Christene is geleer om eerbied aan vroue te betoon. Die apostel Paulus het aan sy medesendeling Timoteus gesê om “ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid” te behandel.—1 Timoteus 5:2.
Vroue wat gerespekteer word
As jy ’n Christenman is, sal jy dieselfde eerbied aan vroue betoon. Jy sal nooit tradisie as ’n verskoning gebruik om hulle te mishandel nie. As jy vroue met respek behandel, kan dit boonop ’n sprekende bewys van jou geloof wees (Matteus 5:16). Salima, ’n jong vrou van Afrika, beskryf hoe sy daarby baat gevind het om Christelike beginsels in aksie te sien.
“Ek het in ’n omgewing grootgeword waar vroue en meisies sleg behandel is. My ma het 16 uur per dag gewerk, maar al wat sy in ruil daarvoor gekry het, was klagtes as iets nie gedoen is nie. Nog erger, my pa het haar geslaan wanneer hy te veel gedrink het. Ander vroue in ons omgewing het net so gely. Maar ek het geweet dat sulke behandeling verkeerd is—dat dit ons lewe met frustrasie en hartseer gevul het. Dit het nietemin gelyk asof daar geen manier was om hierdie stand van sake te verander nie.
“As ’n tiener het ek egter die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek was diep beïndruk toe ek die woorde van die apostel Petrus lees wat sê dat vroue met eerbied behandel moet word. Maar ek het gedink: ‘Dis hoogs onwaarskynlik dat mense hierdie raad sal toepas, veral in die lig van ons plaaslike tradisie.’
“Toe ek egter na die Koninkryksaal gegaan het, waar die Getuies hulle vergaderinge hou, het mans sowel as vroue my vriendelik behandel. En wat my selfs meer verbaas het, was die feit dat die mans onder hulle werklik vir hulle vrouens omgegee het. Namate ek die mense daar beter leer ken het, het ek tot die besef gekom dat dit iets is wat van alle Getuies verwag word. Hoewel sommige van die mans uit dieselfde agtergrond as ek gekom het, behandel hulle vroue nou met respek. Ek wou graag aan hierdie groot gesin behoort.”
’n Blywende oplossing
Die respek wat Salima waargeneem het, was nie iets toevalligs nie. Dit was die resultaat van ’n onderrigprogram wat op God se Woord gebaseer is en mense help om mekaar te waardeer soos God ons waardeer. Dit is ’n aanduiding van wat selfs nou gedoen kan word, en van wat oral gedoen gaan word wanneer God se Koninkryk oor die hele aarde heers (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Hierdie hemelse regering gaan alle ongeregtigheid verwyder. Die Bybel verseker ons: “As u [Jehovah se] oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.”—Jesaja 26:9.
Opvoeding in geregtigheid verander selfs nou die denkwyse van miljoene mense. Wanneer alle mense wat leef aan God se Koninkryk onderwerp is, sal hierdie opvoeding aardwyd voortduur, en dit sal ’n einde maak aan mans se onderdrukkende optrede teenoor vroue, wat ’n gevolg is van Adam se sonde. Jesus Christus, God se aangestelde Koning, sal nie toelaat dat ongeregtigheid teenoor vroue aan sy heerskappy afbreuk doen nie. Waar die Bybel daardie heerskappy van Christus beskryf, sê dit: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld.”—Psalm 72:12-14.
Hierdie reeks artikels het aandag gegee aan die probleme van vroue. Ons erken egter dat ook baie mans al sleg behandel is. Deur die geskiedenis heen het magtige en bose mans onbeskryflike gruweldade teen mans sowel as vroue gepleeg. En sommige vroue het dieselfde gedoen. Die Bybel noem byvoorbeeld die vergieting van onskuldige bloed deur goddelose vroue soos Isebel, Atalia en Herodias.—1 Konings 18:4, 13; 2 Kronieke 22:10-12; Matteus 14:1-11.
Die hele mensdom het dus God se nuwe wêreld onder sy Koninkryksheerskappy nodig. Binnekort, wanneer daardie dag aanbreek, sal daar nooit weer diskriminasie teen mans of vroue wees nie, en hulle sal ook nie sleg behandel word nie. In plaas daarvan sal elke dag ’n dag wees waarin elkeen hom kan “verlustig”.—Psalm 37:11.
[Prent op bladsy 13]
Christenmans volg Bybelriglyne en respekteer en eer hulle vrouens