Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIE meeste mense koester werklik bewondering vir die suksesse wat die wetenskap behaal op die gebied van die geneeskunde, ingenieurswese, kommunikasiewese en ander vakgebiede. Wetenskaplike ontdekkings het vandag ’n uitwerking op die lewe van byna alle mense op aarde. Baie wetenskaplikes het hulle hele lewe aan die wetenskap gewy, en opregte wetenskaplike pogings wat daarop gemik is om die lewensgehalte te verbeter, moet geprys word. Trouens, die skrywer Tony Morton sê selfs dat “die wetenskap ongetwyfeld een van die steunpilare van die moderne beskawing is”.
Maar op alle gebiede van die lewe is balans nodig om die werklike waarde van iets te bepaal, en die wetenskap is geen uitsondering nie. Om ons te help om so ’n gebalanseerde beskouing te handhaaf, kan ons nadink oor die woorde van ’n ander skrywer, een wat nie so vleiend is oor die rol wat die wetenskap in ons lewe speel nie. Lewis Wolpert skryf in sy boek The Unnatural Nature of Science: “Opnames bevestig dat daar groot belangstelling in en bewondering vir die wetenskap is, tesame met ’n onrealistiese oortuiging dat dit alle probleme kan oplos; maar daar is ook diegene met ’n diepgewortelde vrees en vyandigheid. . . Wetenskaplikes word as kil, naamlose en ongevoelige tegnici beskou.”
Die bloei van die wetenskap
Wanneer wetenskaplike eksperimente baanbrekerswerk behels, is daar altyd ’n risiko aan verbonde. Maar namate nuwe ontdekkings bewys dat die risiko die moeite werd was, stel die publiek groter vertroue in die wetenskap. Terwyl die wetenskap hom in die glorie van sy vorige suksesse verlustig het, het dit in sekere mate al hoe meer gewaag, en baie mense wat met ontsag en geesdrif daarvoor vervul is, het die wetenskap as die wonderkuur vir die probleme van die mensdom begin beskou. Gevolglik vereenselwig baie mense die woorde “wetenskap” en “wetenskaplik” met absolute waarheid.
Die publikasie American Studies sê: “Van die twintigerjare af, en in toenemende mate in die dertigerjare, het die wetenskaplike in sy wit laboratoriumjas verbruikers onbevooroordeeld daarvan verseker dat een produk ‘wetenskaplik’ bo sy mededingers verhewe was. In 1928 het ’n hoofartikel in die Nation dit betreur dat ‘’n sin wat begin met “Die wetenskap sê” oor die algemeen enige meningsverskil by ’n geselligheid kan oplos of enige artikel van tandepasta tot yskaste van die hand kan sit’.”
Maar is die wetenskap noodwendig altyd sinoniem met absolute waarheid? Deur die geskiedenis heen het wetenskaplike ontdekkings hulle vurige teenstanders gehad. Party van die besware wat geopper is, was ongegrond; ander het blykbaar goeie gronde gehad. Galileo se ontdekkings het byvoorbeeld die woede van die Katolieke Kerk ontketen. En wetenskaplike teorieë in verband met die oorsprong van die mens het vyandige reaksies ontlok wat wetenskaplike sowel as Bybelse gronde het. Dit is dus glad nie verbasend dat elke nuwe wetenskaplike ontdekking ondersteuners én teenstanders het nie.
’n Ou Latynse spreekwoord lui: “Die wetenskap [of kennis] het geen vyand behalwe die onkundige nie.” Dít is egter nie meer die geval nie, want die wetenskap word vandag meer as ooit tevore aangeval—en nie deur die onkundige nie. Hoewel die wetenskap vroeër deur baie as onaantasbaar beskou is, wil dit nou voorkom of sommige eertydse ondersteuners daarvan dit aanval. Daar kan gesê word dat ’n toenemende aantal aanhangers van die wetenskap nou die regter, jurie en laksman daarvan geword het. Die vername sentrums van wetenskaplike onderrig is deesdae dikwels arenas van konflik. Een rede vir hierdie probleme is dat eertydse bedrog en korrupsie deur party wetenskaplike akademici nou aan die lig gekom het.
Die vraag wat dus meer dikwels as ooit tevore gevra word, is: Kan alles in die wetenskap werklik vertrou word? Die volgende artikel sit ’n paar redes uiteen waarom al hoe meer mense hierdie vraag stel.
[Lokteks op bladsy 4]
Is die wetenskap altyd sinoniem met absolute waarheid?