Jy kan vreugde vind in ’n wêreld vol depressie!
MARIE het ’n sonnige, opgewekte geaardheid. Dit is moeilik om te glo dat hierdie 32-jarige vrou haarself net ’n paar jaar gelede beskryf het as iemand wat van binne dood is. Marie was ’n slagoffer van ernstige depressie. “Dit was soos ’n groot donker wolk wat geleidelik gelig het”, verduidelik sy. Ja, sy het gelukkig herstel en haar vreugde herwin.
Elke jaar word honderdmiljoen mense wêreldwyd deur ernstige depressie geteister! Hierdie siekte is nie net ’n kortstondige neerslagtige bui wat die meeste van ons van tyd tot tyd ondervind nie. Ernstige depressie behels ’n meedoënlose somberheid. Die depressiewe persoon verloor belangstelling in die lewe, geniet niks meer nie en voel oor die algemeen wanhopig en nutteloos. In 1983 het die Wêreldgesondheidsorganisasie gesê: “Daar is tans min twyfel dat depressiewe siektes in alle wêrelddele voorkom.”
Hierdie berig verbaas ernstige Bybelstudente nie. Die Bybel identifiseer ons tyd as “die laaste dae” wat gekenmerk word deur “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1-5). Daar was ’n agteruitgang in maatskaplike strukture wat in die verlede ondersteuning gebied het tydens emosionele krisisse. In die artikel “Die eeu van swaarmoedigheid?” skryf dr. Gerald Klerman die huidige toename in depressie aan hierdie verandering toe. Hy verduidelik: “Die drie algemeenste maatskaplike ondersteuningstelsels was die gesin, die kerk en die onmiddellike omgewing. . . . Dit is ’n kenmerk van die huidige tyd dat al drie daardie maatskaplike ondersteuningstelsels in verskillende grade ontwrig is.”
Dit was die ontwrigting van Marie se gesin wat tot haar wanhoop aanleiding gegee het. “Toe my stiefma sonder ’n woord padgegee het, het ek gevoel dat ek verraai en verstoot is. Ek was 12 jaar oud en my wêreld was ewe skielik onderstebo”, vertel Marie. Kort daarna moes sy die huis verlaat omdat haar pa onsedelike toenadering gesoek het, en sy erken: “Ek het abnormaal gevoel en ek het alle vertroue in myself verloor.” Dít was die begin van haar ernstige depressie.
Eendag toe Marie uiters depressief was, het twee van Jehovah se Getuies haar besoek. Sy het dadelik baie belangstelling in hulle blymoedige Bybelboodskap getoon. “Voorheen het ek net die totale nutteloosheid van die lewe en al die lelike dinge raakgesien, maar nou is ek oortuig dat ek in ’n nuwe wêreld kan lewe waar God al daardie ongeregtighede sal verwyder. Met God se hulp kan ek vir so ’n seëning in aanmerking kom; gevolglik het my lewe ware betekenis gekry.” Namate sy die Getuies se vergaderinge bygewoon het, het sy ware liefde en emosionele ondersteuning gevind (Johannes 13:34, 35). Die goeie raad van die gemeentelike ouere manne het haar ook gehelp om haar negatiewe denke te begin verander (Jakobus 5:14). Haar depressie het begin afneem. Baie ander mense wat, soos Marie, terneergedruk geraak het weens die wêreldtoestande het ‘die blydskap van die HERE’ gevind deur juiste kennis van Bybelwaarhede op te doen.—Nehemia 8:11; 1 Timotheüs 2:4.
Het Marie se depressie egter onmiddellik verdwyn? Moet ons aanneem dat Christene immuun is teen depressie? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons meer as net ’n oppervlakkige kykie na hierdie siekte en sy ingewikkelde oorsake neem. As jy weet wat die ware oorsake van depressie is, kan jy dit self met groter welslae die hoof bied of iemand anders help wat daarmee worstel.
Die oorsake van ernstige depressie
In sommige gevalle het depressie fisiologiese oorsake, soos siekte, voedingstekorte en hormoonprobleme. Dit kan ook ’n reaksie op sommige gifstowwe, besoedelstowwe, medikasie en allergene wees.a Die Bybel toon egter dat ’n mens se “verontrustende gedagtes” ook ’n oorsaak kan wees.—Psalm 94:19, NW.
Die meeste mense wat depressief raak, soos Marie, het ’n aantal pynlik onaangename ondervindinge of spanningsvolle situasies deurgemaak. Baie voel soos die psalmis: “My siel is sat van teëspoede . . . saam omsingel hulle my. U [Jehovah] het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis” (Psalm 88:4, 18, 19). Soos die psalmis voel hulle oorweldig deur probleme of verliese en beskou hulle hul lewe in die algemeen as hopeloos. Hulle voel moontlik asof hulle alleen in ’n donker plek is en dat selfs God hulle verstoot het.
Waarom kom hulle tot so ’n ontmoedigende gevolgtrekking wat in werklikheid tot ’n neerslagtige gees aanleiding gee? Dit is nie net aan hulle eksterne probleme te wyte nie; dit is ook weens pynlike gevoelens of twyfelgedagtes in verband met hulleself. Hulle voel onbekwaam om die probleem of verlies te verwerk. Weens die “verdriet van die hart is die gees neerslagtig”, verduidelik Spreuke 15:13. Sulke verdriet van die hart behels byvoorbeeld dat ’n mens meen dat jy ’n mislukking is of dat ander so dink. Selfs die eerste-eeuse Christen Epafroditus het, nadat hy van ’n ernstige siekte herstel het tydens ’n sending wat deur sy tuisgemeente gereël is, “neerslagtig geword omdat [die gemeente] gehoor het dat hy siek geword het”.—Filippense 2:25-30, NW.
Aangesien ‘’n verslae gees die gebeente uitdroog’, of jou hele wese ondergrawe, is ’n swak selfbeeld dikwels ’n grondoorsaak van ernstige depressie (Spreuke 17:22). Verdriet van die hart kan ook veroorsaak word deur te veel bekommernis oor wat ander van ons dink, perfeksionisme, onverwerkte woede, gekrenktheid, onbeslegte geskille met ander of skuldgevoelens (werklik of oordrewe).
Daar is dus baie oorsake van ernstige depressie. Tog het Marie ware vreugde gevind nadat sy ’n Christen geword het. “Ek het toe hoop gehad”, het sy gesê. Maar sy moes nogtans ’n tyd lank depressie verduur. Hoe kan sulke persone dit uiteindelik te bowe kom?
[Voetnoot]
a Sien “Depressie: Is dit alles pure verbeelding?” in Ontwaak! se nommer van 22 Oktober 1987.