Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/8 bl. 20-23
  • Espresso—Koffie op sy beste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Espresso—Koffie op sy beste
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat maak dit espresso?
  • Toerusting vir tuisgemaakte espresso
  • Die koffie wat jy koop
  • Die kuns om espresso te maak
  • Wat van kafeïen?
  • Die kuns om espresso te maak
    Ontwaak!—2009
  • Laat koffie jou cholesterolvlak styg?
    Ontwaak!—2000
  • Die koffiedilemma
    Ontwaak!—1991
  • Koffie van gehalte—van die plant na jou koppie
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/8 bl. 20-23

Espresso—Koffie op sy beste

‘As koffie tog maar net so lekker gesmaak het as wat dit ruik!’ Het jy al ooit so iets gesê? Dan sal jy dalk “caffè espresso” op die proef wil stel. Fynproewers het dit al die “heel beste koffie” en “die toppunt van koffiedrinkgenot” genoem.

HET jy miskien al espresso geproe? Die lywigheid en ryk geur het jou dalk gefassineer. Aan die ander kant het jy dalk besluit: ‘Dít is beslis nie wat ek goeie koffie noem nie. Geen wonder dit word in die heel kleinste koppies bedien nie—wie sou nou meer as net ’n paar slukkies van so ’n onaangename en bitter drankie kon verdra? Buitendien bevat dit stellig ’n ongesonde hoeveelheid kafeïen!’

Maar is goed bereide espresso bitter? En bevat ’n klein koppie espresso meer kafeïen as ’n gewone koppie koffie? Die antwoorde sal jou dalk verbaas.

Wat maak dit espresso?

Hoewel verskeie lande en kulture hulle eie maniere ontwikkel het om dit te berei, het espresso sy oorsprong in Italië gehad. Hoe smaak dit? Liefhebbers van espresso beskryf dit as geurig, ryk, stroperig, sag, bittersoet, karamelsoet en welriekend. ’n Koppie espresso wat net reg gemaak is, het ’n bolaag wat crema genoem word—’n goudbruin skuim wat gewoonlik met groot moeite verkry word en tot die sagtheid en geurigheid van die drankie bydra.

’n Enkel-espresso bevat maar net 30 tot 40 milliliter vloeistof. Dit word gewoonlik met suiker in ’n klein koffiekoppie bedien onmiddellik nadat dit gemaak is—absoluut vars!

Hoe word dit berei? Die maak van espresso begin met ’n spesiaal geformuleerde bonemengsel wat gebrand word tot dit ’n baie donkerbruin kleur het (maar nie swart nie) en word fyner gemaal as dié wat vir gewone koffie gebruik word. Maar dit is nie soseer die manier waarop die bone gebrand of gemaal word wat espresso lewer nie—dit is die unieke bereidingsproses wat druk in plaas van swaartekrag gebruik. Die hoeveelheid koffie wat vir ’n enkel-espresso gebruik word, is ongeveer twee derdes van die hoeveelheid wat vir filterkoffie gebruik word, maar met baie minder water. Hierdie bereidingsproses bring die beste eienskappe van die koffiebone na vore.

Jy kan in baie restaurante en koffiehuise ’n enkel- of dubbel-espresso bestel. ’n Waarskuwing is egter gepas: Espresso wat nie met sorg berei is nie, is bitter. Ondersoek dus die espresso wat in ’n restaurant of kafee aan jou voorgesit word. As jou koppie te vol is of die koffie nie met crema bedek is nie, is daar waarskynlik ’n bitter en te dun aftreksel vir jou gebring.

Daar is ook heelwat drankies wat espresso as hoofbestanddeel het. As jy vind dat espresso te sterk is vir jou, waarom probeer jy nie ’n heerlike cappuccino of romerige caffe latte nie?

Toerusting vir tuisgemaakte espresso

Sal jy daarvan hou om espressodrankies by die huis te maak? Dit is noodsaaklik dat jy op elke klein besonderheid let om te verseker dat die drankie ryk en soet sal wees.

Watter soort espressomaker moet jy koop? Geen filtermetode sal regte espresso lewer nie, ongeag die manier waarop die bone wat jy gebruik, gebrand of gemaal is. Jy sal spesiaal ontwerpte toerusting nodig hê.

Stooftoestelletjies is dikwels die goedkoopste. Baie mense is tevrede om espresso tuis op die stoof te maak, selfs al is die koffie dun en waarskynlik sonder crema. Jy kan goeie espresso verkry deur seker te maak dat jy nie te veel water in die waterhouer gooi nie of deur die deksel oop te los en die pot omtrent halfpad deur die proses van die stoof af te haal.

Elektriese stoommasjiene gebruik stoom om die water deur die koffie te dwing. Hoe kan jy die beste resultate behaal? Deur die vloei van koffie ná die eerste 30 tot 60 milliliter te onderbreek om te keer dat die aftreksel te bitter en dun word en om genoeg stoom vir skuimende melk oor te hou. Soek dus na ’n masjien wat ’n skakelaar het of wat op ’n ander manier die vloei van die koffie kan onderbreek. Stoommasjiene maak goeie cappuccino’s en latte, maar hulle kan, soos stooftoestelletjies, nie die beste suiwer espresso lewer nie.

Suiermasjiene is gewoonlik die duurste en kan uitstekende espresso maak. ’n Suiermasjien word beheer deurdat jy ’n handvatsel afdruk wat ’n geveerde suier saampers en dan só die nodige druk voorsien om die warm water deur die koffie te dwing. Party mense verkies suiermasjiene omdat hulle met die hand beheer kan word en aantreklik lyk. Ander vind dat dit moeilik is om mee te werk en die water te stadig verhit.

Pompmasjiene bou ook genoeg druk op om uitstekende espresso te maak. Hulle kan makliker en vinniger hanteer word as suiermasjiene. Mense wat die beste espresso wil hê, kies dus gewoonlik ’n pompmasjien. Pompmasjiene is nie almal dieselfde nie en party van hulle is heelwat duursamer as ander. Kyk dus eers goed rond voordat jy koop. Winkels wat hulle masjiene demonstreer, plaas jou in die beste posisie om ’n goeie keuse te maak.

Die koffie wat jy koop

Kies vars gebrande espressobone. Koffie wat in supermarkte verkoop word, is selde vars; gaan dus liewer na ’n spesialiteitskoffiewinkel—en des te beter as die bone in die winkel gebrand word. Gemaalde koffie verslaan binne ’n paar dae, terwyl die heel bone ’n paar weke lank redelik vars sal bly. Koop dus, indien moontlik, heel bone en maal dit soos benodig by die huis. Die bone moet fyngemaal wees, maar nie te poeierig nie. As jy wel gemaalde koffie wil koop, moet jy ’n klein hoeveelheid koop en dit gou gebruik.

Bêre jou koffie in ’n lugdigte blik wat goed toemaak om dit vars te hou. Hou die blik met koffie in ’n koel, donker plek as jy dit binne ’n paar weke gaan gebruik. Andersins moet dit in die vrieskas gebêre word.

Die kuns om espresso te maak

Selfs al het jy die heel beste toerusting en koffie, moet jy die kuns om espresso te maak, aanleer. Die stappe van bereiding sal verskil na gelang van die masjien wat jy gebruik; volg dus die aanwysings van jóú masjien. Gebruik genoeg koffiemoer. Die regte hoeveelheid sal die filterinsetsel amper vol maak, terwyl dit ruimte sal laat vir die moer om uit te sit. ’n Bietjie ervaring is nodig om die koffie behoorlik in die filter te pak, of vas te stamp, sodat die water stadig en egalig deur die laag koffiemoer kan vloei om die beste moontlike geur te verseker.

Watter fout moet vermy word? Om te veel koffie van die moer te maak. As jy 60 of 90 milliliter koffie probeer maak van die hoeveelheid moer wat vir ’n enkel-espresso bedoel is, sal die mengsel dun en bitter wees. Op die ou end sal jy dan, in plaas van espresso, ’n drankie hê wat soortgelyk aan sterk filterkoffie is—nie waarna jy uitgesien het nie.

’n Belangrike faktor is dus om te weet wanneer om die trekproses te staak. Fynproewers stel voor dat ’n enkel-espresso uit 30 tot 40 milliliter vloeistof moet bestaan wat binne ongeveer 20 tot 25 sekondes verkry is. Teen hierdie tyd is die moer al genoegsaam benut en moet dit weggegooi word.

Selfs wanneer ’n dubbel-espresso gemaak word, sal dit ’n geval wees van “hoe minder, hoe beter”. Hoe minder koffie jy maak, hoe soeter sal die drankie wees. Daar bestaan verskillende definisies van wat ’n dubbel-espresso is, maar dit is min of meer twee espresso’s in een koppie waarvoor dubbel die hoeveelheid koffiemoer gebruik is.

Wat van kafeïen?

’n Enkel-espresso kan minder kafeïen as ’n koppie gewone koffie bevat. Verbaas dit jou? Hoe is dit moontlik, veral in die lig van die sterk konsentrasie van espresso?

Die donkerheid van die bone is een faktor. Donkerder gebrande bone bevat minder kafeïen. Baie spesialiteitskoffiewinkels gebruik ook arabica-koffiebone, wat aansienlik minder kafeïen bevat as die robusta-bone wat in baie van die geblikte supermarkkoffies gebruik word.

Maar die grootste faktor is volume. Hoewel espresso meer kafeïen per milliliter as gewone koffie bevat, is daar eenvoudig minder vloeistof per koppie. Party studies toon dus dat ’n 180-milliliter-koppie gewone koffie dalk 100 of meer milligram kafeïen kan bevat, terwyl dit effens minder in ’n enkel-espresso kan wees.

Die uitslae van studies verskil nietemin, en die hoeveelheid kafeïen sal afhang van die bone wat gebruik is sowel as van elke stap in die bereidingsproses. ’n Dubbel-espresso sal natuurlik meer kafeïen as ’n enkel-espresso bevat. Die beste rigsnoer om die kafeïenvlak vas te stel, is waarskynlik hoe jy voel nadat jy die espresso gedrink het. As jy graag jou kafeïeninname wil verminder en steeds espresso wil geniet, kan jy kafeïenvrye espressobone gebruik of dit met gewone espressobone meng volgens die kafeïeninhoud wat jy verkies.

Is jy gereed om espresso in jou eie kombuis te maak? Goeie resultate word deur volharding behaal; wees dus jou eie proefkonyn—beproef dit eers self voordat jy dit aan jou vriende bedien. Jy sal ervaring nodig hê om crema en skuimende melk te maak. Jou volharding sal egter beloon word wanneer jy jou vriende bederf met espressodrankies wat met dié in die plaaslike koffiehuis kan meeding. Jy sal dalk dan selfs saamstem dat espresso werklik koffie op sy beste is.

[Venster op bladsy 22]

Aanwysings vir skuimende melk

Jy sal ’n staalbeker, koue melk en ’n melkstomer nodig hê om melk vir cappuccino’s en latte te laat skuim en/of te stoom. As jou espressomaker nie ’n lang, dun stafie het om melk te stoom nie, kan jy ’n aparte een vir dié doel koop.

1. Maak ’n staalbeker halfvol met koue melk.

2. Plaas die stoomstafie net onder die oppervlak van die melk en maak die stoomklep oop.

3. Hou die stafie se punt net-net onder die oppervlak, terwyl jy die beker laat sak om meer lug by te voeg namate dit skuim.

4. Wanneer die beker te warm is om aan te raak, is die ideale temperatuur gewoonlik bereik.

5. Maak die stoomklep toe en haal die beker onder dit uit. Maak dan weer die stoomklep oop om dit te ledig van enige melk wat daarin agtergebly het en vee dit met ’n klam doek af.

[Prente op bladsy 23]

Koffiebone bly langer vars as gemaalde koffie

’n Stoom-espressomaker op foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel