Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/8 bl. 18-19
  • Regverdig armoede dat ’n mens steel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Regverdig armoede dat ’n mens steel?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat sê God?
  • Wat kan die armes doen?
  • Steel—Waarom nie?
    Ontwaak!—1995
  • Waarom neem diefstal toe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Moet nooit ’n dief word nie!
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Hoe om die morele uitdaging van armoede die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/8 bl. 18-19

Die Bybelse beskouing

Regverdig armoede dat ’n mens steel?

“Armoede is ’n groot vyand van die mens se geluk; dit vernietig beslis vryheid en dit maak sommige deugde onprakties en ander uiters moeilik om aan die dag te lê.”—Samuel Johnson, 18de-eeuse skrywer.

DIE Romeinse staatsman Magnus Aurelius Cassiodorus het gesê: “Armoede is die moeder van misdaad.” Hierdie beskouings gee blykbaar te kenne dat sekere misdade ’n natuurlike gevolg van armoede is. Vandag lyk dit of baie mense daarmee saamstem, veral wanneer die misdaad diefstal is.

Die opvatting dat onderdrukking en armoede diefstal regverdig, is taamlik algemeen. Beskou die bekende 14de-eeuse Engelse ballades oor Robin Hood, wat ’n legendariese voëlvryverklaarde beskryf wat die rykes beroof het en die buit onder die armes uitgedeel het. Hy word al eeue lank as ’n held beskou.

Daar moet erken word dat baie vandag onder uiters moeilike ekonomiese toestande gebuk gaan. Die Wêreldbank het onlangs berig dat daar 1,3 miljard mense is wat met minder as vier rand per dag moet uitkom. In een opname het 70 persent van die Filippyners wat ondervra is, gesê dat hulle hulleself as arm beskou. In Brasilië verdien die rykste 20 persent van die bevolking 32 keer meer as die armste 20 persent van die bevolking. Sulke toestande kan sommige mense so frustreer dat hulle enigiets sal doen, selfs steel, net om in hulle daaglikse lewensbehoeftes te voorsien.

Die Bybel veroordeel diefstal onomwonde. Die agtste van die Tien Gebooie sê: “Jy mag nie steel nie” (Exodus 20:15). Tog is baie mense wat in die Bybel glo geneig om diefstal te regverdig wanneer die dief deur haglike ekonomiese toestande daartoe gedryf word.

Dit laat ernstige vrae ontstaan: Regverdig armoede werklik dat ’n mens steel? Wat staan iemand te doen as hy in uiterste ekonomiese nood verkeer? Sê nou hy het siek of honger kinders om voor te sorg? Laat Jehovah God diefstal in sulke gevalle toe, veral as die gesteelde goedere aan mense behoort wat dit dalk nie eers sal mis nie?

Wat sê God?

Aangesien Jesus sy Vader se persoonlikheid weerspieël het, kan sy voorbeeld ons help om God se beskouing te verstaan (Johannes 12:49). Terwyl Jesus op aarde was, was hy baie medelydend in sy optrede teenoor die behoeftiges. “Toe hy die skare sien”, sê die Bybel, “het hy medelye vir hulle gevoel” (Matteus 9:36). Maar hy het nooit, onder enige omstandighede, diefstal vergoelik nie. Hoewel God besorg is oor die armes, beskou hy armoede eweneens nie as ’n regverdiging vir diefstal nie. In Jesaja 61:8 sê die Bybel vir ons dat God ‘roof met onreg haat’. En die apostel Paulus sê duidelik dat diewe nie God se Koninkryk sal beërf nie. Ons word dus nie in die duister gelaat oor God se beskouing nie.—1 Korintiërs 6:10.

Maar Spreuke 6:30 sê: “’n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het.” Regverdig hierdie verklaring diefstal? Hoegenaamd nie. Die konteks toon dat die dief nog steeds in God se oë strafbaar is. Die volgende vers sê: “En as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.”—Spreuke 6:31.

Hoewel die dief wat steel omdat hy honger is moontlik nie so laakbaar is soos die een wat steel weens hebsug of omdat hy sy slagoffer wil kwaad aandoen nie, moet diegene wat God se goedkeuring wil geniet hulle aan geen vorm van diefstal skuldig maak nie. Selfs in gevalle van uiterste armoede strek diefstal God tot oneer. Spreuke 30:8, 9 (NAV) stel dit so: “Gee my net die kos wat ek nodig het, . . . sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.” Ja, ’n dief doen God se naam oneer aan. Aangesien diefstal ’n liefdelose daad is, is dit ’n sonde, hetsy dit teen rykes of armes gepleeg word. Vir diegene wat God en hulle naaste liefhet, is diefstal nooit geregverdig nie.—Matteus 22:39; Romeine 13:9, 10.

Die argument dat minderbevoorregtes die reg het om te steel, is nie logies nie. Dit is soos om te sê dat ’n tingerige atleet die reg het om verbode middels te gebruik sodat hy kan wen. Selfs as hy sou wen, het hy dit op oneerlike wyse gedoen. Ander sal tereg meen dat hulle verloor het omdat hy onwettige metodes gebruik het. So ook met die dief. Hy neem op oneerlike wyse vir homself wat aan ander behoort. Sy minderbevoorregte posisie heilig nie die middele nie.

Enige dief wat God se goedkeuring wil wegdra, moet berou hê oor sy lewenswandel. Die Bybel maan: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer harde werk doen deur met sy hande werk te doen wat goed is” (Efesiërs 4:28). Voormalige diewe wat opreg berouvol is, kan seker wees dat Jehovah hulle sal vergewe.—Esegiël 33:14-16.

Wat kan die armes doen?

Die Bybel belowe: “Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg” (Spreuke 10:3). God sal nie diegene help wat sy wet moedswillig verbreek om hulle begeertes te bevredig nie. Maar hy het medelye met diegene wat opreg probeer om hom te gehoorsaam, en hy sal hulle pogings seën om te verkry wat nodig is.—Psalm 37:25.

Miljoene mense het al gevind dat hulle situasie in die lewe verbeter wanneer hulle Goddelike beginsels volg. Wanneer hulle byvoorbeeld die Bybel se raad toepas om hardwerkend te wees en verdorwe gebruike, soos dobbelary, dronkenskap, die rookgewoonte en dwelmmisbruik, te vermy, het dit hulle in staat gestel om meer van die dinge te hê wat hulle werklik nodig het (Galasiërs 5:19-21). Dit vereis dat hulle geloof beoefen, en diegene wat dit gedoen het, het uitgevind dat “Jehovah goed is” en dat hy diegene wat op hom vertrou werklik help.—Psalm 34:8, NW.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Robin Hood: General Research Division/The New York Public Library/Astor, Lenox and Tilden Foundations

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel