Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/8 bl. 12-13
  • “Geen deel van die wêreld”—Wat beteken dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Geen deel van die wêreld”—Wat beteken dit?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christene is nie antisosiaal nie
  • ‘Spreek van niemand kwaad nie’
  • ‘Doen goed aan almal’
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Wanneer geliefdes nie soos jy glo nie
    Ontwaak!—2003
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gehaat weens hulle geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/8 bl. 12-13

Die Bybelse beskouing

“Geen deel van die wêreld”—Wat beteken dit?

IN DIE vierde eeu G.J. het duisende verklaarde Christene hulle besittings, familie en lewenswyse agtergelaat om in afsondering in die woestyne van Egipte te lewe. Hulle het bekend geword as anachorete, van die Griekse woord a·na·kho·reʹo, wat “ek onttrek my” beteken. Een geskiedkundige sê dat hulle hulle op ’n afstand gehou het van hulle tydgenote. Die anachorete het gedink dat hulle die Christelike voorskrif gehoorsaam om “geen deel van die wêreld” te wees nie deur hulle van die samelewing te onttrek.—Johannes 15:19.

Die Bybel vermaan Christene wel om hulle “sonder vlek van die wêreld” te bewaar (Jakobus 1:27). Die waarskuwing in die Skrif is duidelik: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Maar beteken dit dat daar van Christene verwag word om anachorete te word deur hulle letterlik van ander te onttrek? Moet hulle hulle op ’n afstand hou van diegene wat nie hulle godsdiensopvattings deel nie?

Christene is nie antisosiaal nie

Die gedagte om geen deel van die wêreld te wees nie, word in talle Bybelverslae bespreek wat beklemtoon hoe belangrik dit vir Christene is om hulle af te skei van die mensemassa wat van God vervreemd is. (Vergelyk 2 Korintiërs 6:14-17; Efesiërs 4:18; 2 Petrus 2:20.) Dit is dus verstandig van ware Christene om gesindhede, spraak en gedrag te vermy wat in stryd is met Jehovah se regverdige weë, soos die wêreld se gretige najaging van rykdom, vernaamheid en hulle genotsug (1 Johannes 2:15-17). Hulle hou hulle ook afgeskeie van die wêreld deur neutraal te bly wat oorlog en politiek betref.

Jesus Christus het gesê dat sy dissipels “geen deel van die wêreld” sou wees nie. Maar hy het ook tot God gebid: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose” (Johannes 17:14-16). Dit is duidelik dat Jesus nie wou hê dat sy dissipels antisosiaal moes word deur alle kontak met nie-Christene te vermy nie. Eintlik sou afsondering ’n Christen verhinder om die opdrag uit te voer om “in die openbaar en van huis tot huis” te preek en mense te leer.—Handelinge 20:20; Matteus 5:16; 1 Korintiërs 5:9, 10.

Die feit dat Christene aangesê word om hulle sonder vlek van die wêreld te bewaar, gee hulle geen rede om te dink dat hulle beter as ander is nie. Diegene wat Jehovah vrees, haat “hoogmoed” (Spreuke 8:13). Galasiërs 6:3 sê: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand.” Diegene wat meen dat hulle beter as ander is, bedrieg hulleself, want “almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”.—Romeine 3:23.

‘Spreek van niemand kwaad nie’

In Jesus se dag was daar mense wat almal verag het wat nie aan hulle eksklusiewe godsdiensgroepe behoort het nie. Onder hulle was die Fariseërs. Hulle het die Mosaïese Wet sowel as die fynste besonderhede van die Joodse tradisies goed geken (Matteus 15:1, 2; 23:2). Hulle was trots op die feit dat hulle baie godsdiensrituele nougeset gevolg het. Die Fariseërs het hulle gedra asof hulle beter as ander was bloot as gevolg van hulle intellektuele prestasies en godsdiensstatus. Hulle het hulle vroom en veragtende gesindheid getoon deur te sê: “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense.”—Johannes 7:49.

Die Fariseërs het selfs ’n neerhalende woord vir diegene gehad wat nie Fariseërs was nie. Die Hebreeuse woord ʽam ha·ʼaʹrets is oorspronklik in ’n positiewe sin gebruik om gewone lede van die gemeenskap te identifiseer. Maar mettertyd het die verwaande godsdiensleiers van Juda die betekenis van ʽam ha·ʼaʹrets verander sodat dit op veragting gedui het. Ander groepe, verklaarde Christene inkluis, het woorde soos “heiden” en “ongelowige” op ’n neerhalende manier gebruik met verwysing na mense met godsdiensopvattings wat van hulle s’n verskil.

Maar hoe het die eerste-eeuse Christene diegene beskou wat nie die Christelike godsdiens aangeneem het nie? Jesus se dissipels is vermaan om ongelowiges “met sagmoedigheid” en “diep respek” te behandel (2 Timoteus 2:25; 1 Petrus 3:15). Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel. Hy was genaakbaar, nie verwaand nie. Hy het hom nie bo ander verhef nie, maar was eerder nederig en opbouend (1 Korintiërs 9:22, 23). In sy geïnspireerde brief aan Titus maan Paulus “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:2.

In die Bybel word die woord “ongelowige” soms met verwysing na nie-Christene gebruik. Daar is egter geen bewys dat die woord “ongelowige” as ’n amptelike benaming gebruik is nie. Dit is beslis nie gebruik om nie-Christene te verkleineer of af te kraak nie, aangesien dit in stryd met Bybelbeginsels sou wees (Spreuke 24:9). Vandag vermy Jehovah se Getuies dit om onvriendelik of arrogant teenoor ongelowiges te wees. Hulle beskou dit as ongemanierd om met neerhalende woorde na familielede of bure te verwys wat nie Getuies is nie. Hulle volg Bybelraad, wat sê: “’n Slaaf van die Here . . . moet teer wees teenoor almal.”—2 Timoteus 2:24.

‘Doen goed aan almal’

Dit is uiters belangrik om te besef watter gevare vriendskap met die wêreld inhou, veral met diegene wat ernstige minagting vir goddelike standaarde toon. (Vergelyk 1 Korintiërs 15:33.) Maar wanneer die Bybel ons vermaan om “aan almal goed [te] doen”, sluit die woord “almal” diegene in wat nie ons Christelike opvattings deel nie (Galasiërs 6:10). Onder sekere omstandighede het eerste-eeuse Christene klaarblyklik maaltye saam met ongelowiges genuttig (1 Korintiërs 10:27). Gevolglik behandel Christene ongelowiges vandag op ’n gebalanseerde wyse en beskou hulle hulle as hulle medemens.—Matteus 22:39.

Dit sou verkeerd wees om aan te neem dat iemand sleg of onsedelik is bloot omdat hy nie met Bybelwaarhede vertroud is nie. Omstandighede en mense verskil. Elke Christen moet dus besluit tot watter mate hy sy kontak met ongelowiges sal beperk. Maar dit sou onnodig en onskriftuurlik vir ’n Christen wees om soos die anchorete hom fisies af te sonder of om soos die Fariseërs te voel dat hy beter as ander is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel