Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/8 bl. 9-11
  • ’n Volk wat geleer word om lief te hê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Volk wat geleer word om lief te hê
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Beklee julle met liefde’
  • Haat word met liefde vervang
  • Binnekort geen haat meer nie
  • Die enigste manier om haat uit te wis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • “’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/8 bl. 9-11

’n Volk wat geleer word om lief te hê

LIEFDE is toegeneentheid wat op bewondering, welwillendheid of gemeenskaplike belange gegrond is. Liefde is innige gehegtheid. Dit is onselfsugtig, is lojaal en betoon welwillende besorgdheid ten behoewe van ander se voorspoed. Liefde is presies die teenoorgestelde van haat. Iemand wat deur haat gemotiveer word, is behep met sy eie begeertes; iemand wat deur liefde gemotiveer word, neem ander in ag.

Liefde of haat—watter een oorheers jou lewe? Dit is meer as net ’n akademiese vraag, aangesien jou ewige toekoms afhang van die antwoord. Daar is miljoene mense wat leer om lief te hê, hoewel hulle in ’n wêreld lewe wat geleer word om te haat. Hulle doen dit deur hulle met ’n nuwe persoonlikheid te beklee. Hulle praat nie net oor liefde nie; hulle probeer hard om dit te beoefen.

As jy al ooit ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon het, was jy moontlik beïndruk deur wat jy gesien het. Jehovah se Getuies is verenig in aanbidding, ongeag hulle nasionaliteit. Hulle maak ’n ware internasionale broederskap uit. Dit kan gesien word in hulle plaaslike gemeentes en by hulle byeenkomste, maar miskien die heel beste in wat hulle Bethel-gesinne noem. Dít is groepe vrywilligers wat, as ’n gesin, saamwoon en saamwerk om Bybellektuur te vervaardig en te versprei. In elke land hou van hulle toesig oor die werk wat Jehovah se Getuies daar doen. Dit is glad nie ’n geringe taak nie, aangesien dit—van 1997 af—meer as 82 000 gemeentes in 233 lande insluit. Om in hierdie behoefte te voorsien, dien daar meer as 16 000 mense in Bethel-gesinne regoor die wêreld, waaronder die wêreldhoofkwartier en die verskillende kleiner takfasiliteite in 103 lande.

Die meeste Bethel-gesinne bestaan hoofsaaklik uit burgers van die land waarin die betrokke takkantoor geleë is. Maar nie uitsluitlik nie. Party Bethel-gesinne bestaan uit Getuies van verskillende nasionaliteite, etniese agtergronde en rasse en wat ook voorheen aan verskillende godsdienste behoort het. In die Bethel-gesin van byna 1200 mense in Selters, Duitsland, is daar byvoorbeeld ongeveer 30 nasionaliteite. Wat stel hulle in staat om in vrede en eenheid te leef, te werk en te aanbid, in ’n atmosfeer wat vry is van haat? Hulle volg die Bybel se raad in Kolossense 3:14, wat sê:

‘Beklee julle met liefde’

Niemand is by geboorte ten volle geklee nie, en niemand raak geklee deur bloot daaroor te praat nie. As jy jou wil aantrek, moet jy definitiewe besluite neem en jou dan inspan om daardie besluite uit te voer. Net so is niemand by geboorte met liefde beklee nie. Dit is nie genoeg om net daaroor te praat nie. Inspanning word vereis.

Klere dien meer as een doel. Dit beskerm die liggaam, verberg onooglike liggaamsdele of onvolmaakthede en sê in ’n sekere mate iets oor ’n mens se persoonlikheid. Liefde is soortgelyk. Dit dien as ’n beskerming, omdat liefde vir regverdige beginsels en vir goeie omgang ’n mens beweeg om omgang of plekke te vermy wat gevaarlik kan wees. Dit beskerm persoonlike verhoudings, wat vir ons kosbaar behoort te wees. Hy wat liefhet se kanse is groter om liefde te ontvang, en hy wat hom daarvan weerhou om ander seer te maak se kanse is groter om self nie seer te kry nie.

Liefde verberg ook die onoogliker dele van ons persoonlikheid, wat dalk ons medemens kan ontstel. Is ons nie méér geneig om klein tekortkominge oor te sien in mense wat liefdevol is as in individue wat trots, arrogant, egosentries en liefdeloos is nie?

Mense wat hulle met liefde beklee, openbaar die prag van ’n Christelike persoonlikheid. Terwyl fisiese skoonheid maar oppervlakkig is, dring geestelike skoonheid deur tot die hele persoon. Jy ken waarskynlik mense wat volgens jou mooi is, nie as gevolg van hulle fisiese voorkoms nie, maar as gevolg van ’n werklik hartlike persoonlikheid. Aan die ander kant het die meeste van ons al pragtige vrouens of aantreklike mans teëgekom wat elke greintjie sjarme in ons oë verloor het die oomblik toe hulle ware persoonlikheid na vore gekom het. Hoe aangenaam is dit tog om tussen mense te wees wat hulle met liefde beklee het!

Haat word met liefde vervang

Dat haat met liefde vervang kan word, word toegelig deur ’n opname wat in 1994 onder 145 958 Getuies van Jehovah in Duitsland gedoen is.

Oormatige drankgebruik, dwelmmisbruik, misdaad, dobbelary en antisosiale of gewelddadige gedrag is alles, op die een of ander manier, blyke van selfsug, wat maklik haat kan aanwakker. Maar 38,7 persent van diegene met wie onderhoude gevoer is, het gesê dat hulle een of meer van hierdie probleme te bowe moes kom ten einde te voldoen aan die hoë Bybelstandaarde wat die Getuies voorstaan. Liefde vir God en vir sy regverdige gedragstandaarde het hulle beweeg om dit te doen. Jehovah se Getuies het liefdevolle bystand verleen, dikwels op ’n persoonlike grondslag. Gedurende die afgelope vyf jaar (1992-1996) is 1616 894 mense in 233 lande gehelp om veranderinge te maak, en sodoende het hulle haat oorwin deur liefde wat oor alles seëvier.

Deur onselfsugtige liefde in hulle huwelik toe te pas, bou Jehovah se Getuies bestendige verhoudings op. In sommige lande eindig een uit elke twee of drie huwelike in ’n egskeiding. Maar die bogenoemde opname het getoon dat slegs 4,9 persent van die Getuies tans geskei is of hulle maat verlaat het. Wat ’n mens egter nie moet vergeet nie, is dat ’n hele paar van hulle geskei is voordat hulle Jehovah se Getuies geword het.

Aangesien die God van liefde ’n Grootse Onderrigter is wat sy weë leer aan diegene wat hom liefhet, rig Jehovah se Getuies hulle liefde eerstens tot hom. Anders as ander mense, wat dalk “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” is, stel Jehovah se Getuies God eerste (2 Timoteus 3:4). In teenstelling met die weë van hierdie beginsellose wêreld, bestee die gemiddelde Getuie 17,5 uur elke week aan godsdiensbedrywighede. Dit is duidelik dat die Getuies geestelikgesind is. Dit is wat hulle gelukkig maak. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.”—Matteus 5:3.

Volgens die skrywer van Psalm 118 hoef die ware dienskneg van God nie mense te vrees nie. “Die HERE is vir my; ek sal nie vrees nie: wat kan ’n mens my doen?” (Vers 6). Volkome vertroue op God verwyder een van die oorsake van haat teenoor en vrees vir ander mense.

Omdat ’n Christen weet dat God “lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” is, sal hy woede uit sy lewe probeer ban, aangesien dit ’n bykomende oorsaak van haat kan wees. As hy die vrugte van God se gees aankweek, waaronder sagmoedigheid en selfbeheersing, sal dit hom help om dit te doen.—Psalm 86:15; Galasiërs 5:22, 23.

’n Ware Christen is nederig en dink nie meer van homself as wat hy moet nie (Romeine 12:3). Hy bevorder liefde in sy handelinge met ander. In teenstelling met haat “raak [liefde] nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie.”—1 Korintiërs 13:5.

Ja, vrees, woede of ’n gevoel van veronregting kan maak dat mense ander haat. Maar liefde seëvier oor haat deur dit sy grondslag te ontneem. Trouens, liefde is die sterkste krag in die heelal, want “God is liefde”.—1 Johannes 4:8.

Binnekort geen haat meer nie

Aangesien selfsug en haat nie ’n deel van Jehovah God se persoonlikheid is nie, kan dit nie vir ewig bestaan nie. Dit moet uiteraard verwyder word en vervang word deur liefde, wat vir ewig sal bestaan. As jy smag na ’n wêreld wat sonder haat en vol liefde is, kan Jehovah se Getuies vir jou uit die Bybel verduidelik wat die vereistes is om dit te kan beleef.

Ja, dit sal goed wees as elkeen van ons ons afvra: ‘Watter eienskap oorheers my lewe, liefde of haat?’ Dit is nie net ’n akademiese vraag nie. Die persoon wat lewe vir God se teenstander, ’n god van haat, sal nie lank lewe nie. Die persoon wat lewe vir Jehovah, die God van liefde, sal vir ewig lewe!—1 Johannes 2:15-17.

[Prent op bladsy 10]

Selfs in ons dag kan mense hulle met liefde beklee

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel