“Ek het nooit belanggestel om die Ontwaak! te lees nie”
Dit is die woorde van ’n student aan die San Jose-staatsuniversiteit, in Kalifornië, wat ’n kursus in Omgewingstudie volg. Sy sê voorts: “Ek was onder die indruk dat die tydskrif vir my gaan preek—‘Gaan kerk toe’ of ‘Word een van Jehovah se Getuies’. Maar toe ek hierdie nommer lees (8 Januarie 1996, ‘Ons bedreigde planeet—Kan dit gered word?’), was dit tot my verbasing baie feitelik! Die artikels sluit ’n nuttige diagram in van ‘Sommige van die wêreld se vernaamste omgewingsprobleme’, wat plekke aandui waar ontbossing, giftige afvalstowwe, lugbesoedeling, waterskaarste, bedreigde spesies en grondverarming ’n probleem is.
“Ek het nog nie kinders nie; tog wonder ek of daar vir hulle skoon lug sal wees om in te asem, parke sal wees om in te speel of water sal wees om van te lewe. . . . Ek wens u geluk met hierdie artikels.”
Die Ontwaak! het nou ’n oplaag van 18,3 miljoen eksemplare vir elke nommer in 80 tale, waarvan 56 tegelykertyd uitgegee word. As jy graag hierdie tydskrif gereeld wil lees, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom, per telefoon of by die plaaslike Koninkryksaal, of skryf na die naaste adres op bladsy 5.