“Die opspraakwekkendste wetenskapsbedrog”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
Die Piltdown-mens, wat in 1912 ontdek is, was “die opspraakwekkendste wetenskapsbedrog van die eeu”, sê The Times van Londen. Dit is in 1953 as ’n bedrogspul oopgevlek nadat wetenskaplike toetse bewys het dat dit glad nie ’n ontbrekende skakel in die een of ander veronderstelde evolusionêre ketting van menslike opgang was nie, maar dat die skedel dié van ’n moderne mens en die onderkaak dié van ’n orangoetang was. Wie was vir hierdie slim set verantwoordelik?
Jare lank is daar vermoed dat Charles Dawson, die regsgeleerde en amateurgeoloog wat die oorblyfsels gevind het, die skuldige was. Ander wat vermoedelik betrokke was, was sir Arthur Keith, ’n ywerige evolusionis en eertydse president van die Royal College of Surgeons, die Britse skrywer sir Arthur Conan Doyle en die Franse priester Pierre Teilhard de Chardin. Daar was egter nie afdoende bewys nie, en uiteindelik is Dawson as die skuldige beskou.
Nou is die ware skuldige bekend gemaak. Hy is Martin A. C. Hinton, ’n eertydse kurator van soölogie by die Londense Museum vir Natuurhistorie, wat in 1961 oorlede is. Nege jaar gelede is ’n seiltrommel wat aan Hinton behoort het in die museum gevind. Binne-in was daar olifanttande, stukke van ’n seekoeifossiel en ander bene, wat noukeurig ontleed is. Dieselfde verhouding yster en mangaan is gebruik om hulle te kleur as in die geval van die Piltdown-bene. Maar die deurslaggewende faktor was die ontdekking van chroom in die tande, wat ook in die kleurproses gebruik is.
Professor Brian Gardiner, van King’s College, Londen, het die feite voorgelê en gesê: “Hinton was bekend as ’n poetsbakker. . . . [Sy] beweegrede blyk uit ’n aantal briewe.” Gardiner het ten slotte gesê: “Ek is 100 persent seker dat dit hy was.” Die getuienis dui daarop dat Hinton wraak wou neem op Arthur Smith Woodward, sy hoof, wat hom nie die erkenning of die geld gegee het wat hy gemeen het hy verdien nie. Woodward is met welslae bedrieg en was tot en met sy dood, vyf jaar voor die onthulling van die vervalsing, steeds oortuig dat die Piltdown-mens eg is. Die enigste vraag wat onbeantwoord bly, is: Waarom het Hinton nie met die waarheid vorendag gekom toe Woodward die bedrog openlik ondersteun het nie? Dit wil voorkom asof Hinton gevoel het dat hy geen keuse gehad het as om met sy leuen saam te lewe nie omdat die Piltdown-mens so vinnig deur die wetenskapswêreld aanvaar is.
Aangesien sulke vooraanstaande manne die Piltdown-skedel aanvaar het, is die publiek ook bedrieg. Museums het wêreldwyd reproduksies en foto’s van die skedel uitgestal, terwyl boeke en tydskrifte die nuus vinnig versprei het. Die skadelike gevolge van Hinton se poets is onberekenbaar. Hoe gepas is die Bybel se kommentaar tog nie: “Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar.”—Spreuke 26:18, 19.
[Diagram op bladsy 31]
Donker dele is fragmente van ’n mens se skedel
Die hele ligte deel is uit gips gemaak
Donker dele is fragmente van ’n orangoetang se kakebeen en tande