Matera—stad van unieke grotwonings
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
ONGEVEER 50 jaar gelede het sommige mense gedink dat die snaakse wonings ’n soort Dante se “inferno” geword het, met die gevolg dat die regering beveel het dat hulle ontruim word. Hulle word weer gedeeltelik bewoon en is nou selfs ingesluit by die Kultuur- en Natuurerfenis van die Wêreld, wat deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) beskerm word.
Waarvan praat ons? En waarom het hulle met verloop van tyd soveel verskillende reaksies uitgelok? Die antwoord op die eerste vraag is eenvoudig: die Sassi (letterlik “rotse” in Italiaans) van Matera, in die suide van Italië, net bokant die hak van Italië se “stewel”. Maar om die tweede vraag te beantwoord, moet ons verstaan wat hulle is en moet ons iets van hulle geskiedenis weet. Waarom kom jy nie saam met ons terwyl ons die Sassi besoek nie en dan kan jy self iets oor hulle leer?
“Onder die Italiaanse landskappe wat die meeste verwondering uitlok”, volgens die skrywer Guido Piovene, vorm die Sassi in werklikheid ’n stad wat die “aantrekkingskrag van die ongelooflike” het. Om ’n panoramiese uitsig te kry, gaan ons na ’n natuurlike uitkykpunt wat oor ’n diep kloof uitkyk. Aan die oorkant van hierdie kloof, voor ons, is die stad Matera. In die skitterende somerlig sien ons huise wat aan die rotse klou; dit lyk asof hulle bo-op mekaar gegroei het. Die nou paaie tussen hulle loop af na die onderkant van die kloof toe en vorm ’n inmekaargevlegte knoop wat hulle amper soos die trappe van ’n reusagtige amfiteater laat lyk. Die talle gate wat ons in die rotswand sien, is, of was, wonings. Kortom, dít is die Sassi—grotwonings wat uit rots gegrawe is!
’n Vreemde atmosfeer
Om die Sassi—die antieke middestad van Matera—te bereik, moet ons deur die moderne stad met sy verkeer en sy geraas gaan. Wanneer ons die ou stad binnegaan, is dit soos om deur ’n tydmasjien te gaan; ons betree ’n vreemde atmosfeer waarin die chaos van die hede geleidelik plek maak vir beelde uit vergange se dae.
Moenie verwag om enige grotbewoners te sien nie. Vandag kan jy skaars meer die oorspronklike antieke grotte sien, want vooraansigte van kalksteen, of selfs hele geboue, is voor hulle opgerig in die style van verskillende periodes: Middeleeus, Barok en modern. Terwyl ons verder gaan, lyk dit of die toneel die hele tyd voor ons oë bly verander.
Volgens argeoloë het groepe nomade, waarskynlik herders, hulle ’n paar duisend jaar gelede in hierdie gebied gevestig. Die talle natuurlike holtes wat oral in die gebied voorgekom het, het skuiling teen die elemente en teen roofdiere gebied. Kort voor lank was baie van die grotte bewoon. Volgens argeologiese ontdekkings lyk dit of die gebied sedertdien nog altyd bewoon was.
Die Sassi self het egter geleidelik bewoon geraak. In Grieks-Romeinse tye was daar ’n klein nedersetting op die hoogste punt van ’n rotsagtige uitloper, die hedendaagse ou middestad. In daardie antieke tye, skryf Raffaele Giura Longo, was die Sassi “twee onherbergsame valleie, twee dale wat van die kante van die heuwel waarop die ou stad geleë was, uitgesprei het en oor ’n loodregte krans in die kloof in uitgekyk het; hulle was nie bewoon nie, maar . . . was met digte plantegroei bedek”. Sedert die vroeë Middeleeue het die Sassi hulle kenmerkende voorkoms begin kry as gevolg van die stelselmatige uitgrawing van sagte kalksteen en die bou van paaie, pleine en huise met die rots wat van die uitgrawings verkry is.
Daar was ’n behoefte aan huise en plekke om diere aan te hou en om die werk te doen wat met veeboerdery verband hou, soos die maak van kaas. Die vernaamste bedryf was egter landbou. Groentetuine is aangelê op die wye terrasse wat uitgegrawe is op die hang van die diep kloof waaroor die Sassi uitkyk. Tekens van die terrasse kan nog gesien word. Die woonbuurte, binnehowe wat deur verskeie wonings omring is, was die hart van die sosiale lewe.
’n Indrukwekkende stelsel om water op te vang
Daar kan ook gesê word dat die geskiedenis van die Sassi bestaan uit die mens se gelyktydige stryd teen, en saamlewing met, rots en water. Hoewel daar nie baie water was nie, het reënwater in die reënseisoen die landbougrond op die terrasse—wat met soveel moeite uitgegrawe is—weggespoel wanneer dit teen die hange van die kloof afgeloop het. Die inwoners van die Sassi het dus besef dat hulle die reënwater moet kanaliseer en moet opvang.
Maar hoe en waar kon dit opgevang word? Opgaarplekke is op die terrasse uitgegrawe en waterdig gemaak. ’n Stelsel van kanale en geute het al die beskikbare water na hierdie opgaarplekke vervoer, wat oorspronklik meer vir landbou as enigiets anders gebruik is. Volgens die argitek Pietro Laureano is die aantal opgaarplekke, “wat baie meer was as die bewoonde grotte of wat nodig was vir drinkwater”, ’n bewys dat “die opgaarplekke van die Sassi oorspronklik ’n indrukwekkende stelsel was om water op te vang vir besproeiing”.
Die stelsel het ook genoeg drinkwater voorsien, en met die bevolkingsaanwas het hierdie aspek al hoe belangriker geword. Om hierdie rede is ’n vindingryke reëling in werking gestel. Opgaarplekke is met mekaar verbind, op dieselfde vlak en ook op terrasse op verskillende vlakke. “Soos ’n stelsel enorme distilleerketels het hulle die vloeistof stelselmatig gesuiwer terwyl dit van een opgaarplek na ’n ander gevloei het.” Die water is dan uit een van die talle putte in die Sassi geskep. Die openinge van sommige van hierdie putte kan vandag nog gesien word. So baie water in ’n andersins dor streek was buitengewoon.
’n Huis in die rots
Terwyl ons met die trappe afgaan en die doolhof van strate volg, besef ons dat hierdie antieke buurte op dalende vlakke uitgelê is, sodat ons dikwels bo-op die dakke loop van die huise wat op die onderste terrasse uitloop. Op sekere plekke is daar tien vlakke wonings, die een bo die ander. Hier woon die mens in noue kontak met die rots. Reeds in die 13de eeu het amptelike dokumente hierdie buurte “Sassi” genoem.
Ons stop buite ’n woning. Ons moet ons nie deur die oordadige en relatief moderne vooraansig laat flous nie, want hier is ’n onlangser ingang van kalksteen by die oorspronklike gevoeg. Hierdie is ’n tipiese Sassi-woning. Nadat ons ingegaan het, gaan ons met ’n stel trappe af tot in ’n groot kamer waar die meeste van die huishoudelike bedrywighede van die gesin vroeër plaasgevind het. Ons gaan met nog trappe af in ’n tweede kamer in, waarna daar nog ’n kamer is. Van die kamers was ou opgaarplekke wat bewoonbaar gemaak is—die opening aan die bokant, waar die water ingekom het, is toegestop en die ingang is gemaak deur in die kant van die terras in te grawe. Die heel binneste kamers is vroeër net gebruik om pakdiere te huisves, terwyl die gesin in die kamers naaste aan die ingang gewoon het. Lig en lug is voorsien deur ’n groot opening bokant die deur. ’n Mens hoef seker nie te sê dat inwoners van die Sassi nie meer pakdiere in hulle huise aanhou nie!
Baie van die wonings is laer as die straat. Waarom? Want die ingang en sommige van die grotwonings self is teen ’n effense helling uitgegrawe om die strale van die son te benut. In die winter, wanneer die son sy laagste punt op die horison bereik, kon die strale inskyn en die huis verlig en warm maak; in die somer het die sonstrale niks verder as die ingang gekom nie, en die binnekant het koel en klam gebly. Teen die agterste muur van die grot wat ons besoek, sien ons ’n uitgekerfde nis met verskeie “rakke”. Dit is ’n sonwyser, wat ontwerp is om regdeur die jaar die beweging van die son aan te dui. Wanneer ons weer buite kom, ervaar ons ’n vreemde sensasie. Die koelheid van die grot het ons alte gou van die somerhitte buite laat vergeet!
Verval en herstel
Buiten die vreemde atmosfeer het die Sassi verskeie veranderinge ondergaan. Hoewel hulle eeue lank ’n verenigde en relatief doeltreffende stadskern gebly het, het iets gedurende die 18de eeu verander. Nuwe geboue en strate het die doeltreffende waterbeheerstelsel belemmer en probleme met gereelde vullisverwydering veroorsaak. Siektes het gevolglik toegeneem. Verder het veranderinge in die ekonomie van die gebied toenemende armoede tot gevolg gehad onder die landbougemeenskap van die Sassi, wat al hoe meer oorbevolk geraak het.
Die toenemende verval van hierdie eens pragtige gebied het onvermydelik gelyk. Met die idee om die probleem eens en vir altyd op te los, is daar dus in die vroeë vyftigerjare amptelik besluit om die Sassi te ontruim. Vir die meer as 15 000 inwoners van Matera wat daar gewoon het, was dit ’n baie groot ontwrigting, veral uit ’n sosiale oogpunt, aangesien hulle afskeid moes neem van hegte vriende wat hulle in die buurte gemaak het.
Daar is egter baie mense wat glo dat hierdie ongelooflike stadsgesig nie verlore moet gaan nie. Danksy doeltreffende herstelwerk word die Sassi dus stadigaan herwin en herbewoon. Vandag hou baie toeriste daarvan om die atmosfeer te ervaar wat in die antieke pleine en kronkelende strate van die Sassi heers. Indien jy ooit na hierdie deel van die wêreld toe kom, waarom kom lê jy nie besoek af by hierdie eeue-oue stad wat uit die rots uit gegroei het nie?
[Prente op bladsy 16, 17]
1. Panoramiese uitsig van die Sassi van Matera; 2. “die woonbuurte”, met ’n put links op die voorgrond; 3. die binnekant van ’n tipiese woning; 4. nis wat as ’n sonwyser gebruik is; 5. ’n kanaal wat eens gebruik is om water na opgaarplekke te vervoer