Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 7/15 bl. 24-25
  • Kappadosië—Waar die wonings deur wind en water uitgekerf is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kappadosië—Waar die wonings deur wind en water uitgekerf is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur wind en water uitgekerf
  • By ’n kruispunt van beskawings
  • Die Christelike godsdiens bereik Klein-Asië
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die kerkvaders—Voorstanders van Bybelwaarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Met heilige gees gevul”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Bybelboek nommer 60—1 Petrus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 7/15 bl. 24-25

Kappadosië—Waar die wonings deur wind en water uitgekerf is

DIE apostel Petrus het van Kappadosië gepraat. Hy het sy eerste geïnspireerde brief onder andere gerig aan ‘die tydelike inwoners wat in Kappadosië verstrooi is’ (1 Petrus 1:1). Watter soort land was Kappadosië? Waarom het die mense in huise gewoon wat uit klip gekap is? Hoe het hulle met die Christelike geloof in aanraking gekom?

“Skielik het ons ons bevind tussen ’n magdom rotskeëls en -pilare”, het die Britse reisiger W. F. Ainsworth gesê, wat Kappadosië in die 1840’s besoek het. Hedendaagse besoekers aan hierdie deel van Turkye word steeds met verwondering vervul wanneer hulle dié unieke landskap sien. Vreemde “klipbeelde” staan naby mekaar soos stom wagte in die Kappadosiese valleie. Party lyk soos reusagtige skoorstene wat 30 meter of hoër is. Ander lyk soos reusagtige roomyshorings, suile of paddastoele.

Met watter pragtige kleure verf die son hierdie klipbeelde tog deur die loop van die dag! Met sonsopkoms is hulle ligpienk. Teen die middag verander hulle na ’n ligte ivoor, en met sonsondergang het hulle ’n goue okerkleur. Hoe het hierdie “magdom rotskeëls en -pilare” ontstaan? En waarom het die mense van die gebied dit in huise omskep?

Deur wind en water uitgekerf

Kappadosië is geleë in die hartjie van die Anatoliese Skiereiland, wat Asië met Europa verbind. Sonder sy twee vulkane sou hierdie gebied ’n plato gewees het. Duisende jare gelede het kragtige vulkaniese uitbarstings die gebied met twee soorte gesteentes bedek—harde basalt en sagte tufsteen, ’n wit gesteente wat uit verharde vulkaniese as ontstaan het.

Namate riviere, reën en wind die sagte tufsteen verweer het, het canyons begin ontstaan. Mettertyd het party van die kranse langs hierdie canyons geleidelik verbrokkel tot ’n menigte rotskeëls, sodat die gebied rotsformasies het wat ’n mens nêrens anders op die aarde vind nie. Sommige rotskeëls lyk soos regte heuningkoeke. Die plaaslike inwoners het vertrekke in die sagte klip uitgekap en meer vertrekke bygevoeg namate die gesin gegroei het. Hulle het ook gevind dat hierdie wonings koel in die somer en warm in die winter is.

By ’n kruispunt van beskawings

Die rotsbewoners van Kappadosië sou waarskynlik grotendeels afgesonder gewees het as hulle nie by ’n belangrike kruispunt van beskawings gewoon het nie. Die welbekende Chinese Syroete, die 6 500 kilometer lange handelsroete wat die Romeinse Ryk met China verbind, loop deur Kappadosië. Benewens handelaars het Persiese, Griekse en Romeinse leërs hierdie roete gebruik. Hierdie reisigers het nuwe godsdiensidees gebring.

Teen die tweede eeu v.G.J. was daar Joodse nedersettings in Kappadosië. En Jode uit hierdie gebied was in die jaar 33 G.J. in Jerusalem teenwoordig. Hulle was daar om die Pinksterfees te vier. Die apostel Petrus het dus ná die uitstorting van die heilige gees vir Kappadosiese Jode gepreek (Handelinge 2:1-9). Party het klaarblyklik gunstig gereageer op sy boodskap en hulle nuutgevonde geloof saam met hulle teruggeneem. Daarom het Petrus sy eerste brief onder andere aan Christene in Kappadosië gerig.

Met die verloop van jare is Christene in Kappadosië egter deur heidense filosofieë beïnvloed. Drie vername Kappadosiese kerkleiers van die vierde eeu het selfs die onskriftuurlike leerstelling van die Drie-eenheid kragtig verdedig. Hulle was Gregorius van Nazianze, Basilius die Grote en sy broer Gregorius van Nyssa.

Basilius die Grote het ook ’n monnikelewe aangemoedig. Die nederige Kappadosiese wonings wat uit klip gekerf was, het goed ingepas by die eenvoudige lewenswyse wat hy aanbeveel het. Namate die monnikegemeenskap gegroei het, is volledige kerke in party van die groter keëls gebou. Teen die 13de eeu is sowat driehonderd kerke uit die rotse uitgekap. Baie hiervan bestaan vandag nog.

Hoewel die kerke en kloosters nie meer in gebruik is nie, het die lewenstyl van die plaaslike mense deur die eeue heen maar min verander. Baie van die rotskeëls dien nog steeds as wonings. Mense wat Kappadosië besoek, kan nie anders nie as om hulle te verwonder oor die vindingrykheid van die inwoners wat natuurlike formasies in praktiese huise omskep het.

[Kaart op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KAPPADOSIË

CHINA (Cathay)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel