Te veel gode, totdat ek die ware een gevind het
EK IS in 1921 in Croydon, Engeland, gebore en was die oudste dogter van drie dogters en twee seuns. Toe ek drie jaar oud was, het sommige van ons witseerkeel gekry. Ek is in die hospitaal opgeneem. My broer Johnnie het gesterf, en omdat hy nie gedoop was nie, wou die Anglikaanse Kerk nie ’n begrafnisdiens toelaat nie. My pa was ontsteld hieroor en het een van die geestelikes gevra of hy ’n gebed sou doen wanneer Johnnie se kis in die grond afgesak word. Hy het geweier.
My ma het gesê dat dit my pa vir goed teen godsdiens laat draai het. Sy was so bang dat iets met my of my susters sou gebeur dat sy ons sonder my pa se medewete kerk toe geneem en laat doop het. My pa het ’n aktiewe lid van die Kommunisteparty geword en ons aangemoedig om lektuur oor dialektiese materialisme te lees, onder andere boeke deur Huxley, Lenin en Marx. Ons het nooit in ons huis oor God gepraat nie, behalwe wanneer my pa gesê het dat daar nie ’n God is nie.
In 1931, toe ek ongeveer tien was, het ek soms met die straat afgestap om by my pa se ouers te gaan kuier. Die mense het my oupa dikwels gekritiseer, maar hy het ’n vonkeling in sy mooi blou oë gehad en hy was altyd gelukkig. Hy het gewoonlik vir my lekkergoed gegee en iets om te lees terwyl ek huis toe gestap het. Ek het die lekkergoed geëet en die leesstof weggegooi. Destyds het ek nie verstaan waarom ander negatiewe dinge oor hom gesê het nie.
Toe ek in my tienerjare was, het ek by die Jong Kommunistebond aangesluit en later die sekretaresse geword. Ek het toesprake in die stadsaal gehou en straatwerk gedoen met die koerant Challenge, wat ek aangebied het vir enigeen wat bereid was om te luister. Op daardie tydstip was ’n Fascistiese groep wat die Swarthemde genoem is, bedrywig en hewig gekant teen Kommunisme. Ek onthou hoe lede van die Swarthemde met my kom praat het terwyl ek op die sypaadjie gestaan en die Challenge aangebied het; hulle het my Sunshine genoem, ’n bynaam wat hulle vir my gehad het. Die ouer lede van die Kommunisteparty waaraan ek verbonde was, het uitgevind dat die Fasciste beplan het om my met vuisysters aan te rand en het gevolglik iemand saam met my begin uitstuur.
By een geleentheid het ons uitgevind dat die Fasciste ’n optog gaan hou deur Londen se East End (wat destyds hoofsaaklik deur Jode bewoon is). Ons is aangesê om hulle te konfronteer en sakke albasters saam te neem, wat ons onder die hoewe van die polisiemanne se perde moes gooi wanneer hulle storm om die twee vyandiggesinde groepe op te breek. Baie is daardie dag in hegtenis geneem, maar gelukkig was ek nie onder hulle nie, aangesien ek besluit het om nie te gaan nie.
Dinge begin my gewete kwel
By ’n ander geleentheid is ek aangesê om iets by ’n openbare vergadering te sê wat ek geweet het nie waar was nie. Ek het geweier en is gevra: “Wat maak dit saak, solank ons ons punt oordra?” Dit was op hierdie stadium van my lewe dat my gewete my begin kwel het, en ek het oor ’n hele paar dinge begin wonder.
Eenkeer gedurende my vroeë tienerjare het my ma my aangemoedig om ’n kerkdiens by te woon, net om te sien wat daar gebeur. Ek onthou dat hulle vir my gesê het om na die altaar toe te gaan en my sondes te bely. Terwyl ek daar was, het ek opgemerk dat daar drie ineengeskakelde ringe op die altaarkleed geborduur was. Ek het gevra wat dit beteken, en hulle het vir my gesê dat dit die “Heilige Drie-eenheid—God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees”—afbeeld. Ek het gedink: ‘Dis vreemd. Hulle glo in drie gode, maar my pa sê dat daar nie eens een is nie!’ Toe ek nog vrae gevra het, het hulle vir my verduidelik dat ’n eier drie dele het, maar dat dit in werklikheid net een eier is. Dit het my ook nie tevrede gestel nie. Toe het hulle vir my gesê dat ek te veel vrae vra. Ek het huis toe gegaan en vir my ma gesê dat ek nie weer kerk toe wil gaan nie, en ek het ook nie!
Teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, was ek nie meer betrokke by die Jong Kommunistebond nie. Ek het met ’n Kanadees getrou wat in die weermag was, en ons het ’n seun gehad. Ons eerste huis in Londen is gebombardeer. ’n V1-missiel het voor ons huis geval terwyl ek en my seun tuis was. Ons het al ons materiële besittings verloor. Ons is onder die puin begrawe, maar was gelukkig om lewend daarvan af te kom. My man was gedurende hierdie tyd in Normandië, Frankryk.
Ek onthou dat ek om en by hierdie tyd met twee jong vroue gepraat het en vir hulle gevra het: “As daar ’n God is, waarom laat hy al hierdie lyding toe?” Hulle het iets gesê oor Satan wat die god van hierdie wêreld is. “O”, het ek gedink, “nog ’n god waarvan ek niks weet nie!” Toe het ’n jong man gekom. Ek het hom met vrae bestook, en hy het gesê dat hy op soek is na skape, nie bokke nie. Omdat ek nie vertroud was met Jesus se illustrasie nie, het ek hom gevra of hy ’n predikant of ’n boer is. Nog ’n paar jaar het verbygegaan, en die Tweede Wêreldoorlog het ten einde geloop. My man het huis toe gekom nadat hy gesien het hoe 95 persent van die Saskatoon Ligte Infanterie waarin hy gedien het in die oorlog uitgewis is. Ons het ons in ’n ander huis in Croydon gevestig.
Die Getuies lê besoek af
Een Sondag het twee van Jehovah se Getuies ons deurklokkie gelui. My man het die deur gaan oopmaak en ’n baie lang bespreking met hulle gehad. Die huigelary wat hy gedurende die oorlog gesien het, het hom verbitterd gemaak teenoor alle godsdienste. Die feit dat die Getuies ’n neutrale standpunt ingeneem het, het hom beïndruk. Hy het vir my gesê dat hy hulle genooi het om weer met hom oor die Bybel te kom praat. Dit het my baie bekommer, en ek het my pa gevra wat ek moes doen. Hy het gesê dat ek nie betrokke moes raak nie en dat ek liewer ’n egskeiding moes kry as my man met daardie mal godsdiens wou voortgaan.
Ek het besluit om tydens een van die besprekings by te sit om te sien waaroor dit gaan. Ons het almal om die tafel gesit, en die Getuie het gesê: “Een van die dae sal jy jou arms om ’n leeu kan sit net soos jy jou arms om ’n hond kan sit.” ‘O, hulle is mal’, het ek gedink. Ek kon daardie aand op niks konsentreer wat verder gesê is nie. Agterna het ek vir my man gesê dat ek nie wil hê hulle moet weer terugkom nie. Baie trane is gestort, en ons het ’n egskeiding oorweeg.
Kort daarna het ’n ander Getuie ons besoek. Ons het later uitgevind dat hy ’n kringopsiener was wat die plaaslike gemeente besoek het en van ons gehoor het. Ek kan hom baie goed onthou. Hy het blou oë en ’n baie goedhartige, geduldige geaardheid gehad. Hy het my aan my oupa herinner. Ek het ’n lys uitgehaal met 32 vrae wat ek neergeskryf het. “Ons sal hulle een vir een bespreek”, het hy gesê, en ons het dit gedoen. Hy het my help verstaan dat ek die Bybel moes lees en bestudeer as ek ten volle wou verstaan wat dit sê. Hy het voorgestel dat iemand ons gereeld besoek om die Bybel met ons te studeer. Ek het ingestem.
Namate ek meer oor ons Skepper, Jehovah God, verstaan het, het dit my tot trane beweeg. Ek onthou dat ek in die slaapkamer ingegaan en tot Jehovah gebid het om my asseblief te vergewe en my te help om die Bybel en sy voornemens te verstaan. Ek, my man en my seun is in 1951 gedoop. My pa was baie ontsteld om dit te hoor en het gesê dat hy my eerder dood sou sien as dat ek een van Jehovah se Getuies word.
Ons dien waar daar hulp nodig is
My man het besluit om na Kanada terug te keer, en in 1952 het ons na Vancouver, Brits-Columbië, verhuis. My pa het geweier om ons te kom groet, en ek het hom nooit weer gesien of van hom gehoor nie. Nadat ons ’n hele paar jaar in Vancouver gewoon het, is ’n oproep gedoen om te gaan dien waar daar hulp nodig was, veral na gebiede soos Quebec, waar premier Duplessis se gesindheid teenoor Jehovah se Getuies soortgelyk aan dié van Hitler was.
In 1958 het ons al ons aardse besittings in ons motor gelaai en na die internasionale byeenkoms in New York gery. Daarvandaan het ons na Montreal, Quebec, gery, waar ons na ’n Franse gemeente in Ville de Jacques-Cartier gestuur is. Ons het talle interessante ondervindinge gehad terwyl ons Jehovah in Quebec gedien het. Ons motor is eenkeer omgegooi, ons is met klippe bestook en ’n vrou het ’n tuinslang oopgedraai en ons natgespuit. Dit het in ’n plek met die naam Magog gebeur.
By ’n ander geleentheid het ek en my metgesel verby ’n kerk geloop net toe die mense uitkom. Iemand het ons herken en geskreeu: “Témoins de Jéhovah!” (“Jehovah se Getuies!”) Hulle het ons agternagesit, met die priester aan die voorpunt, maar ons het vir die skare weggehardloop. Ons is verskeie kere in hegtenis geneem. Maar ek het die vreugde gesmaak om ’n hele paar mense van Jehovah te leer, waarvan baie Jehovah nog steeds aktief dien.
In die vroeë sestigerjare het my man se werkgewer hom na Los Angeles verplaas, en ons het meer as 30 jaar daar in ’n gemeente gedien. Wat ’n plesier was dit tog vir ons om oor die waarheid te praat met mense wat uit alle dele van die aarde na Los Angeles verhuis het! Ek het die voorreg gehad om met mense te studeer van Libanon, Egipte, China, Japan, Frankryk en Italië, om maar net ’n paar te noem. Ek onthou dat ek ’n jong vrou ontmoet het wat glad nie Engels kon praat nie—gelukkig kon haar man. Ek en my man het dus met hulle twee saam gestudeer. Ek het uiteindelik ’n aparte studie met haar gehou. Ek het die boek Laat God waaragtig wees in Engels gebruik, en sy het die tekste in haar Chinese Bybel nageslaan en die vrae in Chinees geantwoord. Dan het ek die antwoord in Engels gesê, en sy het dit in Engels herhaal. Uiteindelik kon sy Engels vlot praat, hoewel sy ’n Britse aksent het. Ek is verheug om te kan sê dat sy en haar man nou albei toegewyde knegte van Jehovah is.
Ons het onlangs na Tucson, Arizona, verhuis, en ons het die verdere voorreg om te sien hoe al die lede van ons gesin Jehovah getrou dien, onder andere ons agterkleinkinders, wat van ons Grootse Skepper, Jehovah, geleer word.
Terloops, ek was so opgewonde om by die broers in Croydon te hoor dat my oupa met die vonkelende blou oë een van Jehovah se Getuies was.—Soos vertel deur Cassie Bright.