’n Boek waarvan daar baie gehou word
Books We Love Best, wat ongeveer vyf jaar gelede in Kalifornië, VSA, uitgegee is, is ’n versameling van kommentare deur jongmense oor die boeke waarvan hulle die meeste hou. Een jeugdige het Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gekies as die boek waarvan sy die meeste hou. Die jong skryfster het verduidelik waarom:
‘Hierdie wonderlike boek handel oor vrae en antwoorde wat jongmense hulle vandag afvra, soos: “Waarom verstaan my ouers my nie?” “Moet ek dwelms of alkohol op die proef stel?” “Hoe weet ek of dit ware liefde is?” “Wat hou die toekoms vir my in?” “Wat van voorhuwelikse seks?” Dit is ’n paar van die hoofstukke in hierdie boek. Ek het van hierdie boek gehou omdat dit nie net persoonlike vrae bevat nie, maar ook maklike antwoorde daarvoor gee wat ’n mens bevredig. Kinders sal daarvan hou.’
Alkohol en dwelms is gebruik as voorbeelde van die versoekings waarvoor jongmense vandag te staan kom. ‘Tydskrifte en TV-programme vertoon drank en alkohol wat by ’n mens die begeerte wek om dit te gebruik’, het die jeugdige verduidelik. ‘Ander jongmense en tieners bring jou in die versoeking om dit te gebruik. Dit is dus geen wonder dat kinders nie seker is wat hulle moet doen nie. Dié boek beantwoord hierdie soort vrae. Nou weet julle waarom ek van hierdie boek hou. Ek en my ma studeer dit altyd saam op Donderdae. Ons is nou amper halfpad deur die boek.’
Jy sal ongetwyfeld ook grootliks baat vind by hierdie pragtig geïllustreerde boek met 320 bladsye. As jy graag meer inligting wil hê oor hoe jy ’n eksemplaar kan ontvang of as jy graag ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika of na die gepaste adres op bladsy 5.