Die kombuis kan pret wees
“BLY weg uit die kombuis!” Menige honger kind is al so berispe toe hy aan die kos vir aandete wou proe. Maar ouers het goeie rede om eerder hulle kinders in die kombuis toe te laat as om hulle daaruit weg te hou. Hoe so? Omdat die kombuis in werklikheid ’n fassinerende klaskamer is.
Die kombuis is ’n plek waar kinders kan leer om skeppend te wees en probleme op te los, ’n plek waar hulle kan leer om ander te dien en as deel van ’n span te werk, ’n plek waar betekenisvolle gesprekke wat die hart bereik spontaan kan begin, ’n plek waar uiters belangrike waardes stilweg ingeskerp kan word. Ja, in die vol kaste en laaie en op die rakke van elke kombuis lê en wag daar talle waardevolle lesse wat met die voorbereiding van die volgende maaltyd geleer en toegepas kan word.
Waarom moet ’n mens in hierdie eeu van tegnologie en inligting die kombuis gebruik as ’n plek om kinders op te lei? Die antwoord is tyd. Baie ouers besef dat die tyd wat hulle saam met hulle kinders deurbring net nie met iets anders vervang kan word nie—en hulle het baie daarvan nodig!a Die vraag is waar om dit te vind. Sommige kenners spoor ouers aan om die roetinewerk wat hulle tuis doen as ’n geleentheid te beskou om dinge saam met hulle kinders te doen en hulle op te voed. Dit stem ooreen met ’n gebod wat God aan ouers in die eertydse nasie Israel gegee het: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.
Aangesien ons in elk geval gereeld tyd in die kombuis moet deurbring, lyk dit na ’n goeie plek om dinge as ’n gesin saam te doen. En anders as spesiale uitstappies, wat dikwels uitgestel word totdat ons die tyd, energie of geld het om dit in te pas, is ’n gesonde eetlus iets wat nie tot later kan wag nie. Daarbenewens het die kombuis ’n natuurlike aantrekkingskrag vir kinders. Waar anders kan hulle per slot van rekening geleer word om messe versigtig te gebruik en ander gereedskap te hanteer? Kinders wat pret het, sal dalk selfs nou en dan verbrou! Maar watter lesse kan hulle in die kombuis leer?
Wat in die kombuis-“klaskamer” geleer kan word
Louise Smith—wat by haar vierjarige leerlinge as die Gemmerbroodtannie bekend is—het hierdie opmerking gemaak wat gegrond is op 17 jaar se ondervinding wat sy opgedoen het deur jong kinders te leer kook: “Kos is ’n uitstekende leermiddel omdat dit iets is waarmee alle kinders hulle kan vereenselwig. Hulle reuk-, smaak- en tassin is so skerp wanneer hulle jonk is dat hulle heeltemal daarby betrokke raak. En jy kan voedsel gebruik om hulle verskillende klanke en wiskunde te leer asook hoe om probleme op te los.” Wanneer kinders iets skink, fynmaal, skil, sif, roer en uitrol, help dit hulle om hulle handvaardigheid en oog-hand-koördinasie te ontwikkel. Sortering (deur rosyntjies en neute in verskillende hopies te sit) en rangskikking (deur maatbekers volgens grootte inmekaar te pak) is begrippe wat as boustene dien om wiskunde te leer. Wanneer hulle ’n resep volg, word hulle gehelp om getalle, mates, tydsbepaling, logika en taal te gebruik. En ’n mens kan nie die ingewikkelde en gevaarvolle wêreld van die kombuis betree sonder om iets van veiligheid, verantwoordelikheid, persoonlike organisasie en spanwerk te leer nie.
Die nut daarvan om te leer kook, moet ook nie oor die hoof gesien word nie. Dit is glad nie ongewoon dat kinders wat van jongs af in die kombuis help volledige maaltye kan voorberei teen die tyd dat hulle hulle tienerjare bereik nie. Watter besige ouer sal dít nie van tyd tot tyd verwelkom nie? As jongmense kan kook, help dit hulle om selfvertroue te ontwikkel en selfversorgend te wees—wat tot hulle voordeel kan wees wanneer hulle later verantwoordelikheid as volwassenes aanvaar, hetsy hulle trou of ongetroud bly.—Vergelyk 1 Timoteus 6:6.
Lee, wat tot sy vroeë dertigerjare ongetroud gebly het, sê: “My ma het my die basiese takies in die kombuis begin leer toe ek ongeveer ses jaar oud was. In die begin het ek hoofsaaklik daarin belanggestel om koekies, koek en ander lekkergoed te maak. Maar teen die tyd dat ek nege was, kon ek ’n hele maaltyd vir ons gesin beplan en voorberei, en ek het dit gereeld gedoen. Later, as ’n ongetroude volwassene, het dit my lewe makliker gemaak omdat ek geweet het hoe om verskillende huishoudelike take te verrig, asook hoe om te kook. En ek sal beslis sê dat dit daartoe bygedra het dat ek nou ’n suksesvolle huwelik geniet.”
Dit is pret om te kook!
Hoe kan ’n ouer die tyd inruim om kinders in die kombuis op te lei? Een moeder doen aan die hand dat ’n mens ’n tydjie opsy sit wanneer daar so min afleidings moontlik is. As jy ’n paar kinders het, kan jy met een kind op ’n slag probeer werk wanneer hulle begin leer. Om dit te doen, moet jy ’n tyd kies wanneer die ander kinders slaap of by die skool is. Beplan om meer tyd te bestee as wanneer jy alleen kook. En wees daarop voorbereid om pret in die kombuis te hê!
Vir julle eerste sessie kan jy jou kind iets laat kies wat hy of sy geniet om te eet.b Soek ’n eenvoudige resep wat vinnige resultate oplewer. Maak seker dat dit takies insluit wat hy met welslae kan uitvoer. Om te voorkom dat jou kind rusteloos en verveeld raak, laat hom vooraf van die nodige bestanddele en kombuisgereedskap bymekaarkry. Jy kan selfs van die bestanddele voor die tyd gedeeltelik voorberei sodat die sessie nie te lank duur en vermoeiend word nie.
Lees saam met jou kind deur die resep, en wys hom hoe om elke takie uit te voer. Gee jou kind sy eie bêreplekkie in die kombuis—miskien ’n laai met ’n paar bakkies en ’n paar stukke kombuisgereedskap in—en gee hom ’n voorskoot. Kry eerder vir ’n seun ’n voorskoot wat vir ’n manlike kok gemaak is as wat jy hom ’n vrou s’n laat dra. Van die staanspoor af moet jy die belangrikheid van veiligheid beklemtoon en oordeelkundige reëls vir die kombuis maak.—Sien die venster met die titel “Die eerste les—veiligheid”, bladsy 18.
Probeer bowenal om dit pret te maak. Moenie dat jou kind jou net dophou nie; laat hom sy hande was en besig bly met die werklike voorbereiding van die kos. Gee hom die geleentheid om ondersoek in te stel, te eksperimenteer en vrae te vra. En wanneer ’n gereg nie volmaak uitkom nie, moet jy jou nie daaroor bekommer nie. As jou kind dit gemaak het, sal hy dit heel moontlik self eet!
Samesyn as ’n gesin
Die grootste voordele wat die kombuis meebring, behels ongetwyfeld die eenheid en waardes van die gesin. Jy het miskien al opgemerk dat die lede van party huisgesinne vandag so besig is met hulle onderskeie bedrywighede dat hulle nie werklik saam verkeer nie. Onder sulke omstandighede word die huis dalk weinig meer as ’n stilhouplek, ’n vulstasie. Daarteenoor sal ’n gesin wat saam kook gewoonlik saam eet en saam opruim. Hierdie bedrywighede gee hulle gereeld die geleentheid om te kommunikeer, ’n invloed op mekaar te hê en in voeling met mekaar te bly. “Van die beste gesprekke wat ek met my seuns gehad het, was voor die opwasbak”, sê een moeder. En Hermann, ’n Christenvader, voeg by: “Ons het doelbewus ’n paar jaar lank sonder ’n skottelgoedwasser klaargekom sodat die skottelgoed met die hand gewas en afgedroog moes word. Ons seuns het om die beurt afgedroog. Dit was die beste tyd vir informele kommunikasie.”
Ja, die tyd wat jy in die kombuis met jou kinders deurbring—week na week, jaar na jaar—voorsien ’n grondslag waarop geestelike waardes en godvrugtige eienskappe kan ontwikkel. Dit is tydens sulke spontane oomblikke van samesyn dat openhartige gesprekke tussen ouer en kind van nature kan ontstaan en dat die invloed van ’n ouer se voorbeeld die kind se hart stilweg kan raak. Hierdie opleiding kan ’n kind die res van sy lewe tot voordeel strek, want Spreuke 22:6 sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”
Indien jy as ’n ouer dus na maniere soek om meer tyd saam met jou kinders deur te bring, kan jy hulle gerus vra om jou te help om ’n koek te bak of ’n hele maaltyd voor te berei. Wanneer julle saam in die kombuis werk, sal jy moontlik vind dat dit nie net ’n manier is om jou gesin voedsel te gee nie, maar ook om hulle op te voed.
[Voetnote]
a Sien die artikel “‘Kwaliteitstyd’ wat in beperkte hoeveelhede uitgedeel word” in die Ontwaak! van 22 Mei 1993, bladsye 16-17, vir ’n bespreking van hierdie onderwerp.
b Ter wille van bondigheid sal ons hierná na die kind verwys as “hy”. Maar die inligting is net soveel op meisies van toepassing.
[Venster op bladsy 18]
Die eerste les—veiligheid
Wees veiligheidsbewus
• Verduidelik die gevare verbonde aan kombuiswerk op ’n ernstige wyse maar sonder om hulle af te skrik, byna soos jy die gevare van verkeer in ’n besige straat sal verduidelik. Jy moet self ’n goeie voorbeeld stel.
• Sorg altyd dat daar volwasse toesig is wanneer kinders in die kombuis werk. Moenie toelaat dat ’n kind enige gereedskap of toestel gebruik, veral as dit elektries is, voordat hy dit met veiligheid kan gebruik nie.
• Hou jou kombuis netjies. Maak onmiddellik skoon waar jy iets mors en gooi rommel dadelik weg. Troeteldiere en ander dinge wat ’n mens se aandag aflei, moet uit die kombuis gehou word terwyl jy kook.
Beskerm vingers
• Elektriese mengers, versappers en voedselverwerkers moet alleenlik gebruik word terwyl ’n volwassene toesig hou. Maak seker dat die toestel afgeskakel en die prop uitgetrek is voordat jou kind ’n spaan in die bak sit.
• Hou messe skerp, aangesien meer druk op ’n stomp mes uitgeoefen moet word en dit derhalwe makliker kan gly.
• Wanneer jou kind leer om ’n mes te gebruik, moet jy hom hierdie stappe laat volg: (1) tel die mes aan die handvatsel op, (2) plaas die mes op die voedsel, (3) plaas die ander hand op die agterste deel van die mes en (4) oefen druk uit om die voedsel te sny.
• Gebruik ’n kerfplank. Om te voorkom dat groente rondrol terwyl jou kind dit probeer sny, moet jy dit eers in die helfte sny en die plat kant op die kerfplank sit.
Voorkom brandwonde
• Skakel altyd die stoofplate en oond af wanneer dit nie gebruik word nie. Hou vadoeke, resepteboeke en vatlappe weg van die plate af.
• Laat potte se handvatsels na die middel van die stoof toe wys, sodat hulle nie maklik afgestamp kan word nie.
• As jy jou kind by die stoof laat werk, moet jy seker maak dat hy op iets staan wat sterk en stewig is.
• Moenie ’n warm voorwerp optel tensy jy reeds weet waar jy dit gaan neersit nie. Maak seker dat ander in die kombuis weet dat jy ’n warm voorwerp dra, veral as jy agter hulle gaan loop.