“Die vernietiging van die natuur”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND
GIERIGHEID bedreig ons tuiste. Dit ondermyn die aarde se vermoë om die voedsel en onderdak te voorsien wat ons almal nodig het om te lewe. Jy is ongetwyfeld reeds bewus van hoe gierigheid die aarde beskadig, maar hier volg ’n paar herinneringe.
Vergiftiging van die planeet
In 1962 het Rachel Carson in haar boek Silent Spring gewaarsku oor die vergiftiging van die planeet deur middel van plaagdoders en giftige afvalstowwe. The Naked Savage sê: “Die mens het sy eie omgewing vergiftig en sy eie tuiste besoedel, wat die teken van die uitsterwing van die spesie is.” Mense is steeds besig om die planeet op gierige wyse te vergiftig. “Grootboere wat die grootste wins in die kortste tyd wil maak”, sê World Hunger: Twelve Myths, “is bereid om die grond, water en toegevoegde chemiese middels te misbruik sonder om te dink aan gronderosie, die uitputting van grondwater en die vergiftiging van die omgewing.”
In plaas van die wêreld se kosbare reënwoude—wat uiters belangrik vir die voortbestaan van die aarde is—te beskerm, vernietig die mens hulle vinniger as ooit. “As die huidige tempo van oorbenutting onveranderd voortduur”, sê die skrywers van Far From Paradise—The Story of Man’s Impact on the Environment (1986), “sal lewende tropiese woude binne vyftig jaar feitlik nie meer bestaan nie.”
Beginsellose vissers gebruik dinamiet en chemiese gifstowwe om vis te vang op koraalriwwe—wat al beskryf is as “die mariene ekwivalent van tropiese reënwoude” weens die oorvloed lewensvorme wat daarin skuiling vind. Hierdie wrede visvangmetodes tesame met onverskillige chemiese besoedeling het talle lewende korale “ernstig beskadig”.—The Toronto Star.
“Ons is ons eie plaag”
Sir Shridath Ramphal, wat van 1991 tot 1993 die president van die IUCN-Die Wêreldbewaringsvereniging was, beskryf hierdie soort wanbestuur van die aarde se hulpbronne as “die vernietiging van die natuur”. Maar hoe erg is dit? Ramphal haal ’n voorbeeld aan en skryf: “Die meeste van Indië se riviere is niks meer as oop riole wat onbehandelde rioolvuil van stedelike en plattelandse gebiede na die see vervoer nie.” Tot watter gevolgtrekking kom hy? “Ons is ons eie plaag.”
Gierigheid oorheers al eeue lank die mens se geskiedenis, maar vandag het die bedreiging van die aarde se voortbestaan groter geword. Waarom? Omdat die mens se vermoë om te vernietig nou soveel groter is. “Dit is slegs in die laaste vyftig jaar”, sê Far From Paradise, “dat ons die chemiese en meganiese middele gehad het om ander lewensvorme op ons planeet met welslae te vernietig. . . . Homo sapiens [Latyns, wyse man], soos die mens homself onbeskaamd noem, het byna absolute mag en het opgehou om selfbeheersing toe te pas.” Greenpeace, ’n organisasie wat met omgewingsake gemoeid is, het onlangs ’n ernstige beskuldiging gemaak en gesê: “Die moderne mens het ’n vullishoop van die Paradys [die aarde] gemaak . . . en staan nou soos ’n onkundige baba . . . op die rand . . . van die doeltreffende vernietiging van hierdie oase van lewe.”
Maar gierigheid bedreig nie net die langtermynvooruitsigte van die planeet nie. Dit bedreig die onmiddellike geluk en veiligheid van jou en jou gesin. Hoe so? Beskou die volgende artikel.