Toenemende getalle vlugtelinge
DIE grootste deel van die mensegeskiedenis is deur oorloë, hongersnode en verdrukking gekenmerk. As gevolg daarvan was daar nog altyd mense wat asiel nodig gehad het. In die verlede het nasies en volke asiel verleen aan diegene wat dit nodig gehad het.
Die antieke Asteke, Assiriërs, Grieke, Hebreërs, Moslems en ander het wette nagekom wat voorsiening gemaak het vir asiel. Plato, die Griekse filosoof, het meer as 23 eeue gelede geskryf: “Die vreemdeling, wat van sy medelandgenote en sy familie afgesonder is, moet groter liefde van mense en van die gode ontvang. Alle voorsorg moet dus getref word sodat geen onreg teenoor vreemdelinge gepleeg word nie.”
Gedurende die 20ste eeu het die aantal vlugtelinge die hoogte ingeskiet. In ’n poging om na die 1,5 miljoen vlugtelinge om te sien wat ná die Tweede Wêreldoorlog oorgebly het, is die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) in 1951 gestig. Dit het ’n verwagte lewensduur van drie jaar gehad, wat gebaseer was op die mening dat die bestaande vlugtelinge gou ingeburger sou raak in die gemeenskappe waarin hulle asiel gevind het. Daarna, het hulle gedink, kon die organisasie ontbind word.
Maar deur die dekades heen het die aantal vlugtelinge sonder ophou toegeneem. Teen 1975 was hulle 2,4 miljoen. In 1985 was die syfer 10,5 miljoen. Teen 1995 het die aantal mense wat beskerming en hulp van die UNHCR ontvang tot 27,4 miljoen gestyg!
Baie mense het gehoop dat die era ná die Koue Oorlog die weg sou baan om die wêreldwye vlugtelingprobleem op te los; dit het nie. In plaas daarvan het nasies as gevolg van geskiedkundige of etniese geskille versplinter, wat tot konflik gelei het. Terwyl oorloë gewoed het, het mense gevlug, aangesien hulle geweet het dat hulle regerings hulle nie kon of wou beskerm nie. In 1991 het byna tweemiljoen Irakiërs byvoorbeeld in naburige lande ingestroom. Sedertdien het ’n geraamde 735000 vlugtelinge uit die voormalige Joego-Slawië gevlug. Toe, in 1994, het burgeroorlog in Rwanda meer as die helfte van die land se 7,3 miljoen mense gedwing om uit hulle huise te vlug. Ongeveer 2,1 miljoen Rwandese het in naburige Afrikalande ’n toevlug gesoek.
Waarom word die probleem erger?
Daar is verskeie faktore wat tot die toenemende getal vlugtelinge bydra. In sommige plekke, soos Afganistan en Somalië, het landsregerings ineengestort. Dit het sake in die hande van gewapende burgermagte gelaat wat die platteland onbeheers plunder en veroorsaak dat mense paniekerig raak en vlug.
In ander plekke is konflik op ingewikkelde etniese of godsdiensverskille gebaseer, waarin die hoofdoel van die vegtende partye die uitdrywing van die burgerbevolkings is. ’n VN-verteenwoordiger het in die middel van 1995 aangaande die oorlog in die voormalige Joego-Slawië gesê: “Vir baie mense is dit nogal moeilik om die oorsake van hierdie oorlog te verstaan: wie veg, die redes vir die gevegte. Daar’s ’n massauittog vanuit die een kant, en dan drie weke later is daar ’n massauittog vanuit die ander kant. Dit is baie moeilik om te verstaan, selfs vir mense wat dit moet verstaan.”
Uiters vernietigende moderne wapens—meervoudigelanseer-vuurpyle, missiele, artillerie, en so meer—dra tot die slagting by en vergroot die omvang van die konflik. Die resultaat: al hoe meer vlugtelinge. In onlangse tye het ongeveer 80 persent van die wêreld se vlugtelinge uit ontwikkelende lande gevlug na naburige lande wat self ook ontwikkel en nie toegerus is om na asielsoekers om te sien nie.
In baie konflikte dra ’n gebrek aan voedsel tot die probleem by. Wanneer mense honger ly, miskien omdat noodlenigingskonvooie voorgekeer word, word hulle gedwing om te trek. The New York Times sê: “In plekke soos die Horing van Afrika het die kombinasie van droogte en oorlog die land so verwoes dat dit nie meer opbrengste kan lewer nie. Of die honderdduisende wat wegtrek weens hongersnood of oorlog vlug, is nie ter sprake nie.”
Miljoene wat niemand wil hê nie
Hoewel die idee van asiel in beginsel gerespekteer word, maak die groot aantal vlugtelinge die nasies radeloos. Daar was ’n soortgelyke situasie in eertydse Egipte. Toe Jakob en sy familie ’n toevlug in Egipte gesoek het om die verwoesting van sewe jaar van droogte te ontvlug, is hulle daar verwelkom. Farao het hulle “die beste deel van die land” gegee om in te woon.—Genesis 47:1-6.
Maar met verloop van tyd het die Israeliete baie geword “sodat die land vol was van hulle”. Toe het die Egiptenaars hardvogtig opgetree, “maar hoe meer [die Egiptenaars] hulle verdruk [het], hoe meer het [die Israeliete] vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel”.—Exodus 1:7, 12.
Op soortgelyke wyse word die nasies vandag “bang” omdat die aantal vlugtelinge steeds toeneem. ’n Groot rede vir hulle kommer is ekonomies van aard. Dit kos baie geld om miljoene vlugtelinge te voed, te klee, te huisves en te beskerm. Tussen 1984 en 1993 het die jaarlikse besteding van die UNHCR van R1,7 tot R5 miljard gestyg. Die meeste van die geld word geskenk deur ryker lande, waarvan sommige met hulle eie ekonomiese probleme sukkel. Skenkerlande kla soms: ‘Ons sukkel om die haweloses in ons eie strate te help. Hoe kan ons verantwoordelik wees vir die haweloses van die hele wêreld, veral wanneer die probleem eerder groter as kleiner gaan word?’
Waardeur word sake bemoeilik?
Die vlugtelinge wat wel ’n ryk land bereik, vind dikwels dat hulle situasie bemoeilik word deur die derduisende mense wat om ekonomiese redes na dieselfde land verhuis het. Hierdie mense wat om ekonomiese redes verhuis, is nie vlugtelinge wat weens oorlog of verdrukking of hongersnood vlug nie. Hulle het eerder gekom om ’n beter lewe te soek—’n lewe vry van armoede. Omdat hulle hulle dikwels as vlugtelinge voordoen en die asielstelsels met vals bewerings oorlaai, maak hulle dit moeiliker vir werklike vlugtelinge om ’n regverdige kans te kry.a
Die instroming van vlugtelinge en immigrante is al vergelyk met twee strome wat jare lank langs mekaar in ryk lande ingevloei het. Immigrasiewette wat al hoe strenger word, het egter die stroom ekonomiese immigrante gekeer. Hulle het dus ’n deel van die stroom vlugtelinge geword, en hierdie stroom het oorgeloop en ’n vloed veroorsaak.
Omdat hulle weet dat dit jare kan neem om hulle asielaansoek na te gaan, redeneer mense wat om ekonomiese redes migreer dat hulle in ’n wen-wen-situasie is. As hulle aansoek om asiel aanvaar word, wen hulle, aangesien hulle in ’n gesonder ekonomiese omgewing kan bly. As hulle aansoek afgekeur word, wen hulle ook, aangesien hulle ’n bietjie geld verdien het en vaardighede geleer het om saam met hulle huis toe te neem.
Terwyl al hoe meer vlugtelinge, asook bedrieërs, na baie lande stroom, word die deur in hulle gesig toegeklap. Party lande het hulle grense vir vlugtelinge gesluit. Ander lande het wette en prosedures ingestel wat net so doeltreffend is om die vlugtelinge toegang te weier. Ander lande weer het vlugtelinge met geweld teruggestuur na die lande waarvandaan hulle gevlug het. Een publikasie van die UNHCR sê: “Die steeds toenemende getalle—van werklike vlugtelinge asook van diegene wat om ekonomiese redes migreer—het groot druk op die 3500 jaar oue tradisie van asiel geplaas en dit byna tot niet gemaak.”
Haat en vrees
Die vlugtelinge se probleme word vererger deur xenofobie—vrees en haat vir vreemdelinge. In baie lande glo mense dat uitlanders hulle nasionale identiteit, kultuur en werksgeleenthede bedreig. Sulke vrese gaan somtyds oor in geweld. Die tydskrif Refugees sê: “Op die Europese vasteland is daar elke drie minute een rassistiese aanval—en sentrums vir asielsoekers is alte dikwels die teiken.”
’n Plakkaat in Sentraal-Europa toon watter groot vyandskap daar bestaan, ’n vyandskap wat al hoe meer in baie lande van die wêreld gevind word. Die giftige boodskap daarop is op die buitelander gerig: “Hulle is ’n walglike en pynlike sweer op die liggaam van ons volk. ’n Etniese groep sonder enige kulturele, sedelike of godsdiensideale, ’n nomadiese gepeupel wat net roof en steel. Vuil en vol luise bly hulle in die strate en spoorwegstasies. Laat hulle hulle vuil flenters pak en vir ewig weggaan!”
Die meeste vlugtelinge sal natuurlik met die grootste graagte ‘vir ewig wil weggaan’. Hulle wil graag huis toe gaan. Hulle wil bitter graag ’n rustige, normale lewe saam met familie en vriende lei. Maar hulle het nie ’n huis om na toe te gaan nie.
[Voetnoot]
a In 1993 het regerings in Wes-Europa alleen R44,8 miljard spandeer om asielsoekers se sake af te handel en hulle te ontvang.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Vlugtelinge se verknorsing
“Het jy geweet dat honderdduisende vlugtelingkinders elke aand honger gaan slaap? Of dat net een vlugtelingkind uit agt ooit in die skool was? Die meeste van hierdie kinders was nog nooit by die bioskoop of die park nie, wat nog te sê by ’n museum. Baie word groot agter doringdraad of in afgesonderde kampe. Hulle het nog nooit ’n koei of ’n hond gesien nie. Te veel vlugtelingkinders dink dat groen gras iets is om te eet, nie iets om op te baljaar en te hardloop nie. Vlugtelingkinders is die hartseerste deel van my werk.”—Sadako Ogata, Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge.
[Erkenning]
U.S. Navy photo
[Venster/Prent op bladsy 8]
Jesus was ’n vlugteling
Josef en Maria het in Betlehem gewoon met hulle seun, Jesus. Sterrewiggelaars van die Ooste het gekom met geskenke van goud, wierook en mirre. Ná hulle vertrek het ’n engel aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die jong kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek vir jou sê; want Herodes staan op die punt om die jong kindjie te soek om hom te vernietig.”—Matteus 2:13.
Die drie van hulle het vinnig asiel gesoek in ’n vreemde land—hulle het vlugtelinge geword. Herodes was woedend omdat die sterrewiggelaars nie vir hom kom vertel het waar die Een is wat volgens voorspelling die koning van die Jode sou word nie. In ’n vergeefse poging om Jesus dood te maak, het hy sy manne beveel om al die jong seuntjies in en om Betlehem dood te maak.
Josef en sy gesin het in Egipte gebly totdat God se engel weer in ’n droom aan Josef verskyn het. Die engel het gesê: “Staan op, neem die jong kindjie en sy moeder en gaan na die land van Israel, want diegene wat die siel van die jong kindjie gesoek het, is dood.”—Matteus 2:20.
Josef was blykbaar van plan om hulle in Judea te vestig, waar hulle gewoon het voordat hulle na Egipte gevlug het. Maar hy is in ’n droom gewaarsku dat dit gevaarlik sou wees om dit te doen. Die bedreiging van geweld het dus weer eens hulle lewe beïnvloed. Josef, Maria en Jesus het noord gereis na Galilea en hulle in die dorp Nasaret gevestig.
[Prente op bladsy 7]
In die laaste jare het miljoene vlugtelinge na ander lande gevlug vir hulle lewe
[Erkennings]
Links bo: Albert Facelly/Sipa Press
Regs bo: Charlie Brown/Sipa Press
Onder: Farnood/Sipa Press
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Seuntjie aan linkerkant: UN PHOTO 159243/J. Isaac