Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 5/8 bl. 4-8
  • Aanneming—Waarom en hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanneming—Waarom en hoe?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Om ’n kind aan te neem of nie?
  • As jy besluit om aan te neem . . .
  • Van ’n ander ras?
  • Uit die buiteland?
  • Aanneming—Is dit vir jou?
    Ontwaak!—1996
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Aanneming—Hoe pas ek in?
    Ontwaak!—1996
  • Die nuwe geboorte—Wat bring dit teweeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 5/8 bl. 4-8

Aanneming—Waarom en hoe?

WAAROM het die aantal kinders wat gedurende die afgelope 20 jaar in Brittanje aangeneem is drasties verminder? Twee redes word daarvoor gegee—die feit dat wettige aborsies verkry kan word en dat dit meer aanvaarbaar word vir ’n vrou om haar kind sonder ’n man groot te maak. Om ’n enkelouergesin te wees, word nou beskou as ’n uitdaging wat in die hedendaagse samelewing met welslae die hoof gebied kan word.

Net meer as 100 jaar gelede was dinge egter anders. Toe Polly, die moeder van Edgar Wallace, die Engelse skrywer van misdaadverhale, by die seun van haar werkgewer swanger geraak het, het sy weggegaan en in die geheim geboorte gegee. Edgar was nege dae oud toe die vroedvrou gereël het dat die vrou van George Freeman, ’n draer by Londen se Billingsgate-vismark, vir hom sorg. Die Freemans het self reeds tien kinders gehad, en Edgar het as Dick Freeman grootgeword. Polly het gereelde betalings gedoen om haar kind te help onderhou, en die vader het nooit van sy kind se bestaan te wete gekom nie.

Wanneer babas vandag ongewens is, neem staatsdepartemente dikwels die verantwoordelikheid vir die babas op hulle. Talle kinders word onder hulle sorg geneem omdat hulle teen mishandeling beskerm moet word of omdat hulle fisiese of verstandelike gebreke het. Diegene wat deur die gruwels van oorlog wees gelaat word en babas wat vanweë verkragting gebore word, laat die aantal kinders toeneem wat hunker na ouerlike liefde en beskerming—in een woord, aanneming.

Om ’n kind aan te neem of nie?

Dit is nooit maklik om ’n kind aan te neem nie, en dit is nooit verstandig om ’n onbedagte besluit te neem wanneer ’n mens dit oorweeg nie. As jy ’n baba verloor het, is dit dalk beter om te wag totdat jy oor die skok of droefheid kom voordat jy ’n finale besluit neem oor aanneming. Dieselfde geld vir ’n egpaar wat uitvind dat hulle onvrugbaar is.

Elke kind erf unieke genetiese eienskappe. Ouers is dikwels verbaas oor die talente van hulle eie kinders, maar dit is moeilik om ’n baba se verstandelike en emosionele potensiaal vas te stel as sy afkoms onbekend is.

Heg jy groot waarde aan akademiese prestasie? Indien wel, hoe sal jy voel as jou aangenome kind nie aan jou verwagtinge voldoen nie? Sal ’n kind wat verstandelik vertraag of fisies gestrem is vir jou ’n uitdaging wees wat jy die hoof kan bied?

Opgeleide personeellede by aannemingsagentskappe of maatskaplike werkers van die regering sal jou aan hierdie soort vrae onderwerp voordat jy jou tot aanneming verbind. Die veiligheid en geluk van die kind moet vir hulle van die allergrootste belang wees.

As jy besluit om aan te neem . . .

Elke land het sy eie aannemingswette en -bepalings wat in ag geneem moet word. In Brittanje is daar honderde aannemingsverenigings, en hulle werk gewoonlik saam met die plaaslike staatsdepartemente. Alle verenigings het hulle eie reëls.

In Brittanje is aannemingsgesellighede veral algemeen, waar ’n aantal voornemende ouers met die kinders wat vir aanneming beskikbaar is, kan meng sonder die emosionele spanning wat met ’n persoonlike ontmoeting gepaard kan gaan. Die ontspanne atmosfeer maak dit vir voornemende ouers makliker om nee te sê, en maak die kanse kleiner dat die kinders teleurgesteld sal wees aangesien al die aandag nie op ’n individuele kind toegespits is nie.

Ouderdomsperke word gewoonlik gestel vir diegene wat kinders aanneem, gewoonlik so 35 of 40 jaar—hoewel dit dikwels van toepassing is op die aanneming van babas, nie noodwendig van ouer kinders nie. Aannemingsverenigings sê dat ouderdomsperke die verwagte lewensduur van voornemende ouers in ag neem. Maar hulle is daarvan bewus dat waardevolle ondervinding met die ouderdom kom.

Jare gelede kon net getroude egpare kinders aanneem. Vandag kan ongetroude mense met welslae aansoek doen om sekere kinders aan te neem. Ook is werkloosheid en ongeskiktheid nie noodwendig redes waarom voornemende ouers afgekeur kan word nie. Die fundamentele vraag is: Wat kan die reëling die kind bied?

Selfs wanneer ’n aanneming uiteindelik gefinaliseer is, kan die ouers steeds gereeld waargeneem word om te verseker dat dinge vlot verloop.

Van ’n ander ras?

Dertig jaar gelede was dit moeilik om swart gesinne in Brittanje te vind wat swart kinders kon aanneem, en gevolglik het baie na wit ouers toe gegaan. Sedert 1989 is dit die landsbeleid in Brittanje om kinders by aanneemouers te plaas wat dieselfde etniese agtergrond het. Daar word gemeen dat ’n kind hom of haar sodoende makliker met sy of haar ras of kultuur sal vereenselwig. Dit het egter tot ’n paar paradoksale situasies gelei.

The Sunday Times het onlangs verslag gedoen van party wit ouers wat “as ‘swart’ herklassifiseer” is sodat hulle ’n swart kind kon aanneem. Dit is nie ongewoon vir wit ouers om tydelik na ’n swart kind om te sien nie. Maar as hulle later die reg ontsê word om daardie kind aan te neem, het dit emosionele trauma vir die kind sowel as die ouers tot gevolg.

’n Skotse egpaar, wat ses jaar lank na twee Indiese kinders omgesien het, het onlangs ’n tipiese probleem ondervind wat by die aanneming van ’n ander ras voorkom. Die hof het die aanneming toegestaan op voorwaarde dat die ouers “hulle uiterste bes doen om te verseker dat die kinders van hulle [etniese] identiteit bewus gemaak sal word en met ’n begrip van hulle etniese oorsprong en tradisies grootgemaak sal word”, berig The Times. In hierdie geval was die aanneemouers reeds besig om dit te doen. Die kinders was besig om die Pandjabi-taal te leer en is partykeer in hulle inheemse kleredrag geklee.

Baie sal saamstem met die waarnemings van ’n woordvoerster van die Britse gemeenskapsdiens wat gesê het dat aanneming van ’n ander ras meer vryelik toegelaat moet word. “Ons lewe in ’n gemeenskap met baie kulture”, het sy gesê, “en die versorging en aanneming van kinders moet dit weerspieël.”

Uit die buiteland?

Die aanneming van kinders uit die buiteland is, volgens die koerant The Independent, ‘’n florerende bedryf’. Hoewel verslae toon dat van die handel moontlik nie wettig is nie, is Oos-Europa ’n groot verskaffingsbron vir Brittanje.

Party babas wat byvoorbeeld as gevolg van verkragting gedurende die verbrokkeling van die voormalige Joego-Slawië gebore is, is êrens alleen gelaat. Ander sou na bewering deur aborsie gesterf het as dit nie vir die ingryping van ’n “babamakelaar” was nie, wat aanneming belowe het as die kind vir die volle termyn gedra is. Regerings van Westerse lande is egter besorg oor betalings wat gemaak word om party van hierdie aannemings te bewerkstellig.

’n Rede tot groter kommer hou verband met beweerde vervalsing van dokumentasie deur dokters ten tye van geboorte. Die koerant The European het verslag gedoen van bewerings dat daar vir party moeders in die Oekraïne gesê is dat hulle babas doodgebore is. Daar is ook beweer dat hierdie babas daarna verkoop is. Ander moeders is moontlik meegedeel dat hulle kinders verstandelik gestremd is. Onder sulke druk word verwese moeders makliker oorreed om skriftelik toestemming te gee dat hulle kinders aangeneem kan word. Nog ander kinders het dalk nooit die weeshuise bereik waarheen hulle gestuur is nie, maar het dalk in die buiteland beland.

Gegriefdheid ontstaan in ontwikkelende lande. Hulle hou vol dat die welvarende Weste eerder meer moet doen om inheemse gesinne te help om na hulle kinders in hulle tuisomgewing om te sien as om hulle daarvandaan weg te neem om in ’n vreemde kultuur aangeneem te word.

Die Weste moet ook die eeue-oue tradisie van uitgebreide families verstaan wat in baie kulture die ruggraat van die gemeenskap is. ’n Kind sal gewoonlik nie sonder sorg gelaat word wanneer hy in ’n stamgroep woon nie, selfs al sterf die ouers. Buiten die naaste familielede, soos grootouers, sal die uitgebreide familie van ooms en tantes die kind as hulle eie beskou, en enige aanbod van aanneming deur buitestanders kan misverstaan word en as ’n onaanvaarbare inmenging beskou word.a

Dit is nie maklik om ’n aanneming te reël nie, en selfs wanneer dit gefinaliseer is, vereis dit harde werk om sukses te behaal. Maar soos ons sal sien, is daar ook groot vreugde daaraan verbonde.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 September 1988, bladsye 28-30, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n deeglike bespreking van die gebruik om kinders aan ander familielede uit te leen.

[Venster op bladsy 5]

Sal my seun na my soek?

MY OUERS is van mekaar geskei toe ek 11 jaar oud was. Ek het wanhopig liefde gesoek. Toe ek op universiteit was, het ek in ’n romantiese verhouding betrokke geraak; dit was my manier om liefde te kry. Toe het ek tot my ontsteltenis ontdek dat ek swanger is. Dit was so belaglik. Ek en my medestudent was so onvolwasse. Ek het nog nooit dwelms, alkohol of tabak gebruik nie, maar my vriend is ernstig aangetas omdat hy vroeër LSD gebruik het.

is aangeraai om ’n aborsie te hê, maar my pa het my van gedagte laat verander. Ek wou nie swanger wees nie, maar ek wou ook nie ’n lewe vernietig nie. Toe my seun in 1978 gebore is, het ek besluit om nie sy vader se naam op sy geboortesertifikaat te sit nie om te verseker dat die vader nie toegang tot hom sou hê nie. Trouens, ek het ingestem om die baba vanaf geboorte te laat aanneem; hy is dus onmiddellik van my af weggeneem en in tydelike sorg geplaas. Ek het hom nie eers gesien nie. Maar toe het ek van plan verander. Ek het my baba uit die tydelike sorg geneem en wanhopig probeer om hom self groot te maak. Maar ek kon nie, en ek het byna ’n senuwee-ineenstorting gehad.

My seun was omtrent ses maande oud toe die aannemingsbevel van krag geword het en ek van hom moes afstand doen. Ek onthou dat ek gevoel het asof iemand pas ’n mes deur my gesteek het. Ek het emosioneel doodgegaan. Eers vandat ek die afgelope twee jaar professionele raadgewing ontvang, kan ek weer betekenisvolle verhoudings opbou. Ek kon nie treur nie—my seun was nie dood nie. Maar ek kon ook nie aan hom dink nie—ek het geweier om myself toe te laat om dit te doen. Dit was verskriklik.

Wat die meeste seermaak, is om mense te hoor sê: “As jy jou kind laat aanneem, het jy jou kind nie lief nie.” Maar dit was in my geval nie waar nie! Dit was omdat ek my seun liefgehad het dat ek hom laat aanneem het! Tot op die laaste minuut het ek my bly afvra: ‘Wat op dees aarde moet ek doen? Wat kan ek doen?’ Ek kon nie anders nie. Ek het geweet dat ek net nie die mas sou opkom nie en dat my baba sou ly as ek hom probeer hou het.

In Engeland aanvaar die gemeenskap nou enkelouergesinne—maar nie toe ek geboorte gegee het nie. Ek wens ek kon behoorlik na my seun omgesien het. Ek veronderstel dat die raadgewing wat ek onlangs ontvang het, sou gehelp het, maar dit is nou te laat. Lewe my seun nog? Watter soort seun het hy geword? Op 18-jarige ouderdom het aangenome kinders wetlik die reg om na hulle ouers te soek. Ek wonder of my seun na my sal soek.—Bygedra.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Dit was in ons geval geslaagd

MET twee tienerseuns van ons eie was ons ’n tevrede, verenigde Engelse gesin. Die gedagte om ’n dogter te hê—en een van ’n ander ras—het nooit eers by ons opgekom nie. Toe het Cathy in ons lewe gekom. Cathy is in Londen, Engeland, gebore. Sy is as ’n Rooms-Katoliek grootgemaak, maar sy het as ’n jong kind saam met haar moeder ’n paar vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies bygewoon. Op 10-jarige ouderdom is sy egter in ’n kinderhuis geplaas.

Hoewel dit daar vir haar moeiliker was, het sy dit nog op haar eie reggekry om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon, waar ons haar ontmoet het. Cathy was ’n verstandige dogtertjie. Toe ek en my vrou haar by die kinderhuis besoek het, het ons opgemerk dat die muur langs haar bed vol diereprente en landskapstonele was, en nie plakkate van popsterre soos die ander meisies teen die muur geplak het nie.

’n Ruk later moes Cathy voor ’n keuringskomitee verskyn, wat haar gevra het of sy die kinderhuis wou verlaat en eerder saam met ’n gesin wou bly. “Net saam met ’n gesin wat Jehovah se Getuies is!” het sy geantwoord. Toe Cathy ons hiervan vertel het asook wat sy gesê het, het dit ons stof tot nadenke gegee. Ons het ’n vrykamer gehad. Kon ons hierdie soort verantwoordelikheid op ons neem? Ons het as ’n gesin daaroor gepraat en gebid. Ons het eers heelwat later ontdek dat hierdie benadering—om ’n kind se mening te vra—’n nuwe metode was wat deur die gemeenskapsdiens op die proef gestel is, ’n eksperiment wat toe gedokumenteer is.

Die gemeenskapsdiens het by die polisie en ons dokter omtrent ons agtergrond navraag gedoen en persoonlike verwysings verkry. Weldra is ’n ooreenkoms aangegaan. Daar is vir ons gesê dat ons Cathy vir ’n proeftyd kon kry en dat ons haar kon terugstuur as ons nie van haar gehou het nie! Dit het ons geskok, en ons het met beslistheid gesê dat ons dit nooit sou doen nie. Cathy was 13 jaar oud toe ons haar amptelik in ons huis ingeneem het.

Die unieke band van liefde tussen ons almal word steeds sterker. Cathy dien nou as ’n pionier (’n voltydse evangeliedienaar) in ’n Franse gemeente van Jehovah se Getuies in Noord-Londen. Die jaar wat sy die huis verlaat het om die pionierdiens te betree, het sy ’n hartroerende briefie aan ons geskryf: “Daar is ’n gesegde dat ‘jy nie jou familie kan kies nie’. Maar ek wil julle opreg bedank dat julle my gekies het.”

Ons is so dankbaar dat Cathy by ons uitgekom het! Dit het ons lewens verryk om haar ’n deel van ons gesin te maak. Dit was in ons geval geslaagd!—Bygedra.

[Prent]

Cathy saam met haar aanneemouers en broers

[Prent op bladsy 7]

Baie kinders hunker na ouerlike liefde en beskerming

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel