Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/22 bl. 19-24
  • ’n Padda se kind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Padda se kind
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My werk as ’n geisja
  • Wie is my ma?
  • ’n Seun te midde van die oorlog
  • Familieverpligtinge
  • Ek sorg vir my dogter
  • Godsdiens word ’n geskil
  • Veranderinge in my lewe
  • Ek leef my toewyding uit
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1996
  • Hoe om tieners se probleme op te los
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Aanneming—Hoe pas ek in?
    Ontwaak!—1996
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/22 bl. 19-24

’n Padda se kind

“’n Padda se kind is ’n padda.”

Hierdie Japannese gesegde beteken dat ’n kind net soos sy ouer is wanneer hy grootgeword het. My ma was ’n geisja.

EK HET in ’n geisja-huis grootgeword wat deur my ma bestuur is. Ek is dus van kleins af omring deur pragtige vroue wat die duurste kimono’s gedra het. Ek het geweet dat ek deel van hulle wêreld sou word wanneer ek ouer was. My opleiding het in 1928 begin op die sesde dag van die sesde maand toe ek ses jaar oud was. Die syfer 666 het glo sukses gewaarborg.

Ek het Japan se tradisionele kunste bestudeer—dans, sang, die speel van musiekinstrumente, die teeseremonie, ensovoorts. Ek het elke dag ná skool huis toe gehardloop, ander klere aangetrek en na my lesse gegaan. Daar was ek weer saam met my skoolvriende, want ons was almal kinders van geisjas. Dit was ’n besige tyd en ek het dit geniet.

In daardie dae voor die Tweede Wêreldoorlog was skool verpligtend tot op 12-jarige ouderdom, en ek het dus toe begin werk. As ’n leerling-geisja het ek pragtige kimono’s gedra met moue wat amper tot by my voete gehang het. Ek was in die wolke toe ek op my eerste toewysing gegaan het.

My werk as ’n geisja

My werk het basies behels dat ek mense vermaak en as ’n gasvrou optree. Wanneer ryk mans dinees by eksklusiewe eetplekke gereël het, het hulle ’n geisja-huis genader en die dienste van ’n paar geisjas aangevra. Van die geisjas is verwag om die aand op te vrolik en te verseker dat elke gas tevrede huis toe gaan en voel dat hy dit geniet het.

Om dit te kon doen, moes ons wakker wees vir elke gas se behoeftes en daarin voorsien—selfs voordat die gas besef het dat hy iets nodig het. Ek dink die moeilikste deel was dat ons byna onmiddellik moes kon aanpas. As die gaste skielik na ’n dans wou kyk, dan het ons gedans. As hulle musiek wou hê, het ons ons instrumente uitgehaal en die musiek gespeel wat hulle wou hê of die soort lied gesing wat aangevra is.

’n Algemene misvatting is dat alle geisjas deftige, duur prostitute is. Dit is nie die geval nie. Hoewel daar geisjas is wat hulleself verkoop, is dit nie nodig vir ’n geisja om tot daardie vlak te daal nie. Ek weet, want ek het dit nooit gedoen nie. ’n Geisja is ’n vermaker, en as sy goed is, bring haar vaardighede vir haar werk, duur geskenke en vrygewige fooitjies van klante.

Dit is weliswaar net ’n paar wat goed genoeg is om bo uit te kom. Die meeste geisjas spesialiseer net in een van Japan se tradisionele kunste. Maar ek het diplomas in sewe van hierdie kunste gehad, onder meer Japannese danse, blommerangskikking, die teeseremonie, die Japannese trom bekend as die taiko en drie musiekstyle wat op die driesnarige sjamisen gespeel word. Sonder hierdie kwalifikasies sou ek dit miskien nodig gevind het om te doen wat my klante ook al gevra het om ’n bestaan te maak.

Toe Japan ekonomies onstabiel was, het meisies partykeer besluit om geisjas te word sodat hulle hulle gesinne kon onderhou. Hulle het geld geleen om vir hulle opleiding en kimono’s te betaal. Ander is deur hulle gesinne aan geisja-huise verkoop. Hulle eienaars, wat groot somme geld betaal het, het verwag dat die meisies hulle terugbetaal. Geisjas wat in hierdie omstandighede was, het ’n groot agterstand gehad, aangesien hulle opleiding laat begin het en hulle van die begin af ’n baie groot skuldlas gehad het. Baie van hierdie geisjas het hulle tot onsedelikheid gewend of is gedwing om hulle daaraan skuldig te maak sodat hulle hulle finansiële verantwoordelikhede kon nakom.

My dienste het onder bekende mense in die sport-, vermaaklikheids-, sake- en politieke wêreld in aanvraag geraak. Kabinets- en eerste ministers was van my klante. Hierdie mans het my met respek behandel en my vir my werk bedank. Hoewel ek nie aan gesprekke deelgeneem het tensy ek gevra is nie, is ek partykeer gevra wat ek dink. Ek het dus elke dag koerant gelees en na die radio geluister om op die hoogte te bly van die nuus. Partytjies wat ek bedien het, is dikwels vir die doel van onderhandelinge gehou; ek moes dus oordeelkundig wees en nie dinge herhaal wat ek gehoor het nie.

Wie is my ma?

Een dag in 1941, toe ek 19 was, is ek na ’n eetplek ontbied en het twee vroue gevind wat vir my wag. Een van hulle het gesê dat sy my biologiese ma is en dat sy gekom het om my huis toe te neem. Die ander vrou het geisjas in diens geneem en vir my werk aangebied. Sy het gevoel dat ek moes werk om my biologiese ma eerder as my pleegma te onderhou. Dit het nooit eers in my gedagtes opgekom dat die vrou wat my grootgemaak het nie my regte ma is nie.

Ek was verward en het huis toe gehardloop en my pleegma vertel wat gebeur het. Sy was nog altyd in beheer van haar emosies, maar nou het sy gehuil. Sy het gesê dat sy die een wou wees wat my vertel het dat ek op eenjarige ouderdom aan ’n geisja-huis oorhandig is. Toe ek die waarheid gehoor het, het ek alle vertroue in mense verloor en het teruggetrokke en stil geraak.

Ek het geweier om my biologiese ma te aanvaar. Dit was duidelik uit ons kort ontmoeting dat sy van my sukses geweet het en wou hê dat ek moes werk om haar te onderhou. As gevolg van waar haar vriendin se onderneming geleë was, het ek geweet dat werk daar onsedelikheid behels. Ek wou my kunstalente verkoop, nie my liggaam nie. Ek het dus destyds gedink, en ek dink steeds, dat ek die regte besluit geneem het.

Hoewel ek kwaad was vir my pleegma, moes ek erken dat sy my opgelei het sodat ek altyd vir myself kon sorg. Hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het ek besef hoeveel ek aan haar verskuldig is. Sy het my werk altyd versigtig gekies en my beskerm teen mans wat die dienste van ’n geisja net vir onsedelike redes wou hê. Daarvoor is ek tot vandag toe dankbaar teenoor haar.

Sy het my beginsels geleer. Een beginsel wat sy beklemtoon het, was dat my ja, ja moes beteken en my nee, nee. Sy het my ook geleer om verantwoordelikheid te aanvaar en om streng met myself te wees. Omdat ek die beginsels gevolg het wat sy my geleer het, was ek suksesvol in my werk. Ek twyfel of ek dieselfde hulp van my biologiese ma sou ontvang het. My aanneming het my waarskynlik van ’n baie onaangename lewe gered, en ek het besluit dat ek baie bly was dat dit gebeur het.

’n Seun te midde van die oorlog

In 1943 het ek geboorte gegee aan ’n seun. In ooreenstemming met die tradisionele Japannese kultuur, wat nie “sonde” erken nie, het ek nie gedink dat ek iets verkeerds of skandeliks gedoen het nie. Ek was in my noppies oor my seun. Hy was die kosbaarste ding wat ek gehad het—iemand om voor te lewe en te werk.

In 1945 was die bombardering baie erg in Tokio, en ek moes met my seun uit die stad vlug. Daar was min kos, en hy was baie siek. Mense het in ’n groot deurmekaarspul by die stasie saamgedrom, maar ons het op die een of ander manier daarin geslaag om op ’n trein te klim wat noord na Foekoesjima gegaan het. Ons het die nag daar in ’n herberg deurgebring, maar voordat ek my seuntjie by ’n hospitaal kon kry, het hy van ondervoeding en ontwatering gesterf. Hy was net twee jaar oud. Ek was verpletter. Die keteloppasser by die herberg het my seun se liggaam veras in die vuur wat hy gebruik het om die badwater warm te maak.

Die oorlog het kort daarna geëindig, en ek het na Tokio teruggekeer. Die stad was heeltemal verwoes deur die bombardering. My huis en alles wat ek besit het, was weg. Ek het na ’n vriendin se huis toe gegaan. Sy het vir my haar kimono’s geleen, en ek het weer begin werk. My pleegma, wat na ’n plek buite Tokio gevlug het, het geëis dat ek vir haar geld stuur en vir haar ’n huis in Tokio laat bou. Sulke eise het my eensamer as ooit laat voel. Ek het nog oor my seun getreur en het vertroosting gesoek, maar sy het nooit eers van my kind gepraat nie. Sy was net oor haarself bekommerd.

Familieverpligtinge

Tradisie het geleer dat ons alles wat ons het aan ons ouers en voorouers verskuldig is en dat dit kinders se plig is om hulle ouers terug te betaal deur hulle sonder teenspraak te gehoorsaam en vir hulle te sorg totdat hulle sterf. Ek het dus my plig gedoen, maar my pleegma se eise was buitensporig. Sy het ook van my verwag om vir haar broer se twee kinders wat sy aangeneem het te sorg. Totdat ek 19 was, het ek hulle as my broer en suster beskou.

Baie geisjas het nooit getrou nie en hulle het doelbewus nie kinders van hulle eie gehad nie. Hulle het dikwels babadogtertjies uit arm gesinne aangeneem en hulle as geisjas opgelei met die uitsluitlike doel om finansiële sorg en ’n gemaklike lewe op hulle oudag te hê. Ek was ongelukkig omdat ek begin besef het waarom ek al hierdie sorg en opleiding ontvang het. Dit was eenvoudig finansiële sekuriteit vir die toekoms.

Ek het dit alles aanvaar, maar ek het gewonder waarom ek, buiten vir my pleegma, ook vir my “broer” en “suster” moes sorg, wat albei gesond was en in staat was om te werk. Ek het nietemin vir hulle drie gesorg en alles gedoen wat hulle gevra het. Uiteindelik, die dag voordat sy in 1954 gesterf het, het my ma op haar bed gekniel, gebuig en my formeel bedank. Sy het gesê dat ek genoeg gedoen het. Hierdie een erkenning en dankbetuiging het vergoed vir my jare van werk. Die bevrediging om te weet dat ek my verantwoordelikhede nagekom het, laat my nou nog huil.

Ek sorg vir my dogter

In 1947 het ek die ma van ’n dogtertjie geword, en ek het besluit om hard te werk om vir haar rykdom bymekaar te maak. Ek het elke aand gaan werk. Ek het ook begin om op die verhoog op te tree in Japan se groot teaters, soos die Kaboekiza in Ginza. Dit het ook goed betaal.

Ek het altyd die hoofrol gekry, of ek nou gedans of die sjamisen gespeel het. Maar ten spyte van die feit dat ek sukses behaal het waarvan ander geisjas net kon droom, was ek nie gelukkig nie. Miskien sou ek nie so eensaam gewees het as ek getrou het nie, maar die lewe van ’n geisja en die huwelik gaan nie goed saam nie. My enigste troos was Aiko, my dogtertjie, en ek het my lewe om haar gebou.

Gewoonlik lei geisjas hulle dogters, hetsy natuurlik of aangenome, op om dieselfde werk te doen. Ek het by daardie gewoonte gebly, maar het later begin dink oor die soort lewe waarvoor ek besig was om haar voor te berei. As ek daarmee voortgegaan het, sou dit beteken dat geslag na geslag nooit sou weet hoe dit voel om ’n regte gesin te hê nie. Ek wou daardie ketting verbreek. Ek wou hê dat Aiko, en haar kinders ná haar, die huwelik en ’n normale gesinslewe moes geniet. Ek wou nie hê dat hierdie padda se kind ’n padda moes word nie!

Vroeg in Aiko se tienerjare het sy onbeheerbaar geraak. Sedert die dood van my pleegma ’n paar jaar vroeër, was Aiko se enigste maats die bediendes wat vir my gewerk het. Sy het my tyd en aandag dringend nodig gehad. Al was ek in my middel-dertigerjare en op die kruin van my loopbaan, het ek besluit om die wêreld van die geisja agter te laat en slegs werk as danser en sjamisen-speler te aanvaar. Ek het om Aiko se onthalwe opgehou. Ons het begin om ons aandetes saam te geniet, en sy het feitlik onmiddellik rustiger geraak. Dit het wondere verrig om van my tyd aan haar te gee.

Mettertyd het ons na ’n stil woongebied verhuis, waar ek ’n koffiehuis begin het. Aiko het grootgeword, en ek was verlig toe sy met Kimihiro getroud is, ’n saggeaarde man wat begrip getoon het vir die lewe wat ek gelei het.

Godsdiens word ’n geskil

In 1968 het Aiko geboorte gegee aan my eerste kleinkind. Kort daarna het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Dit het my verbaas, want ons het reeds ’n godsdiens gehad. Ná die dood van my ma—my pleegma—het ek ’n groot Boeddhistiese altaar in ons huis opgerig, en ek het gereeld daarvoor gekniel om haar te aanbid. Ek het ook elke maand die familiegraf besoek om haar te vertel van alles wat gebeur het.

Vooroueraanbidding was vir my bevredigend. Ek het gevoel dat ek my plig doen deur vir my voorouers te sorg en dankbaarheid teenoor hulle te betoon, en ek het Aiko grootgemaak om dieselfde te doen. Ek was dus geskok toe sy vir my sê dat sy nie meer aan vooroueraanbidding sou deelneem nie en dat sy my ook nie sou aanbid wanneer ek sterf nie. ‘Hoe kon ek so ’n kind voortgebring het’, het ek myself afgevra, ‘en hoe kon sy by ’n godsdiens aansluit wat mense leer om so ondankbaar teenoor hulle voorvaders te wees?’ Die volgende drie jaar was dit asof daar ’n swart wolk oor my gehang het.

’n Keerpunt het gekom toe Aiko as een van Jehovah se Getuies gedoop is. ’n Getuievriendin van Aiko, wat verbaas was dat ek nie teenwoordig was toe my dogter gedoop is nie, het vir Aiko gesê dat sy my sou besoek. Ek was woedend, maar toe sy gekom het, het ek haar verwelkom om die eenvoudige rede dat goeie maniere by my ingeprent was. Om dieselfde rede kon ek nie weier toe sy sê dat sy die volgende week sou terugkeer nie. Hierdie besoeke het weke lank aangehou en my so kwaad gemaak dat ek aan die begin niks geleer het uit wat sy gesê het nie. Maar geleidelik het die besprekings my laat dink.

Ek het dinge begin onthou wat my ma altyd gesê het. Hoewel sy ná haar dood aanbid wou word, was sy nie oortuig van die hiernamaals nie. Wat ouers die meeste wou hê, het sy gesê, is dat kinders vir hulle goed moet wees en hartlik met hulle moet gesels terwyl hulle nog lewe. Toe ek tekste soos Prediker 9:5, 10 en Efesiërs 6:1, 2 gelees het en gesien het dat die Bybel dieselfde gedagte aanmoedig, het ek gevoel asof daar skille van my oë afval. Ander dinge wat my ma my geleer het, was ook in die Bybel, soos dat my ja, ja moes beteken en my nee, nee (Matteus 5:37). Omdat ek gewonder het wat die Bybel nog leer, het ek ingestem tot ’n gereelde Bybelstudie.

Die hartseer en frustrasie wat ek die grootste deel van my lewe ervaar het, het weggesmelt namate my Bybelkennis toegeneem het. Toe ek begin het om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, was ek baie beïndruk. Hier was ’n ander wêreld. Mense was opreg, goedhartig en vriendelik, en my hart het daarop gereageer. Ek was veral diep ontroer toe ek van Jehovah se barmhartigheid geleer het. Hy vergewe alle berouvolle sondaars uit liefde. Ja, hy sou al my tekortkominge van die verlede vergewe en hy sou my help om ’n nuwe lewe te geniet!

Veranderinge in my lewe

Hoewel ek Jehovah wou dien, het ek sterk bande met die vermaaklikheidswêreld gehad. Ek was toe in my vyftigerjare, maar het steeds verhoogoptredes gedoen. Ek was ook die leier en een van twee organiseerders van sjamisen-musikante toe Dandjoero Itsjikawa Soekerokoe by die Kaboekiza opgevoer het. Aangesien baie min sjamisen-spelers begeleiding in die katouboesji-styl kan voorsien wat nodig is vir Soekerokoe, sou daar niemand wees om my te vervang as ek sou uittree nie. Ek het dus gevoel of ek vasgevang is.

Maar ’n bejaarde Getuie, wat ook by ’n tradisionele vorm van Japannese vermaak betrokke was, het my gevra waarom ek gedink het dat ek moes uittree. “Mense moet werk om hulleself te onderhou”, het hy verduidelik. Hy het my gehelp om te sien dat ek niks onskriftuurliks doen nie en dat ek Jehovah kon dien en met my optredes kon voortgaan.

Ek het ’n rukkie aangebly by die Kaboekiza, Japan se vernaamste teater. Toe het die vertonings op dieselfde aande as die vergaderinge begin val, en daarom het ek gevra dat ek op daardie aande vervang word. Ons vergaderingtye het egter kort daarna verander, en ek kon my werk en die vergaderinge inpas. Maar om betyds by die vergaderinge te kom, moes ek dikwels onmiddellik ná die vertoning in ’n wagtende taxi spring in plaas van saam met die ander kunstenaars te ontspan soos die gewoonte was. Op die ou end het ek besluit om uit te tree.

Op daardie tydstip was ons reeds druk besig met repetisies vir ’n ses maande lange reeks opvoerings in Japan se grootste stede. Om te sê dat ek gaan uittree, sou baie probleme veroorsaak het. Daarom het ek, sonder om te sê wat my bedoelinge was, iemand begin oplei wat my kon opvolg. Toe die toer verby was, het ek aan al die betrokkenes verduidelik dat ek my verantwoordelikhede nagekom het en dat ek gaan uittree. Party het kwaad geword. Ander het my daarvan beskuldig dat ek hoogmoedig is en doelbewus vir hulle probleme skep. Dit was nie ’n maklike tyd vir my nie, maar ek het by my besluit gebly en ná 40 jaar van optredes uitgetree. Sedertdien gee ek sjamisen-lesse, en dit voorsien ’n klein inkomste.

Ek leef my toewyding uit

’n Paar jaar vroeër het ek my lewe aan Jehovah God toegewy. Ek is op 16 Augustus 1980 gedoop. Die gevoel wat my nou oorweldig, is ’n diepe dankbaarheid teenoor Jehovah. Ek dink ek was ietwat soos die Samaritaanse vrou wat in die Bybel in Johannes 4:7-42 genoem word. Jesus het vriendelik met haar gepraat, en sy het berou getoon. Op soortgelyke wyse het Jehovah, wat ‘die hart aansien’, my vriendelik die weg gewys, en as gevolg van sy barmhartigheid kon ek ’n nuwe lewe begin.—1 Samuel 16:7.

In Maart 1990, toe ek amper 68 jaar oud was, het ek ’n pionier geword, soos die voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Aiko is ook ’n pionier, en so ook haar drie kinders. Toe hulle grootgeword het, was hulle net soos hulle ma, in ooreenstemming met die Japannese gesegde: “’n Padda se kind is ’n padda.” Aiko se man is ’n Christen- ouer man in die gemeente. Hoe geseënd is ek tog om omring te wees van my familie wat almal in die waarheid wandel en om liefdevolle geestelike broers en susters in die gemeente te hê!

So dankbaar as wat ek teenoor my voorouers is, gaan my grootste dank aan Jehovah, wat meer vir my gedoen het as wat enige mens kon. Dit is veral dankbaarheid vir sy oorvloedige barmhartigheid en vertroosting wat my beweeg om hom tot in alle ewigheid te wil loof.—Soos vertel deur Sawako Takahasji.

[Prent op bladsy 19]

Besig om te oefen, toe ek agt was

[Prent op bladsy 20]

Saam met my pleegma

[Prent op bladsy 21]

My dogter was die trots van my lewe

[Prent op bladsy 23]

Ek het my ma voor hierdie familiealtaar aanbid

[Prent op bladsy 24]

Saam met my dogter, haar man en my kleinkinders

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel