Fassinerende Etiopië
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ETIOPIË
JARE lank het Etiopië as die versteekte ryk bekend gestaan. En hoewel sy eeue van afsondering geëindig het, is min mense vandag bewus van sy fassinerende geskiedenis, uiteenlopende volke en kulture en ongewone geografiese kenmerke. Met meer as 50 miljoen inwoners—amper soveel soos in Frankryk—is dit beslis nie ’n land wat geïgnoreer moet word nie.
Dit was blykbaar die antieke Grieke wat die woord “Etiopië”, wat “Streek van die gebrande gesigte” beteken, uitgedink het. Sy vroeë politieke geskiedenis is egter in raaisels en legendes gehul. Volgens tradisie was Etiopië deel van antieke Skeba in die Bybel en sy koningin die ryk hooggeplaaste wat koning Salomo besoek het. ’n Aantal van Etiopië se vorige heersers het dus beweer dat hulle afstammelinge was van ’n man genaamd Menelik, wat kwansuis uit ’n romanse tussen Salomo en hierdie koningin gebore is.
Maar Skeba was heel waarskynlik eintlik in Suidwes-Arabië geleë.a Die Bybel noem Etiopië in sy Hebreeuse deel (“Ou Testament”) sowel as in sy Griekse deel (“Nuwe Testament”). Handelinge hoofstuk 8 vertel byvoorbeeld van ’n Etiopiese “eunug”, of staatsamptenaar, wat ’n Christen geword het. Maar volgens hedendaagse grense het die Bybelse Etiopië hoofsaaklik die gebied ingesluit wat nou as Soedan bekend staan.
Teen die derde eeu van ons Gewone Jaartelling was die Aksoemitiese Ryk reeds in Etiopië gevestig. Dit het in die vierde eeu sy hoogtepunt onder koning Aeizanas bereik. Aeizanas was self ’n bekeerde en het sy hele ryk tot die “Christelike godsdiens” bekeer. Etiopië het ’n ruk lank met die Westerse wêreld in voeling gebly, maar hierdie bande is teen die sewende eeu verbreek. The Encyclopedia Americana verduidelik: “Daarná was Etiopië amper 1 000 jaar lank van die res van die Christelike wêreld afgesny in sy pogings om hom teen die indringende Moslems vanuit die noorde en ooste te beskerm, asook van heidense invallers vanuit die suide.” Etiopië is veral deur die Moslems se verowering van Egipte en Nubië van die res van die Christendom afgesny.
Met die uitsondering van ’n kortstondige Italiaanse teenwoordigheid aan die begin van hierdie eeu en van 1935 tot 1941, het Etiopië, anders as ander Afrikalande, nooit ’n lang tydperk van Europese kolonisasie deurgemaak nie. In 1974 het ’n militêre staatsgreep ’n gewelddadige einde aan die ou ryk gebring. Sedert 1991 het ’n nuwe regering hervormings aangebring om van hierdie land ’n toegankliker gemeenskap te maak. As gevolg daarvan is dit nou moontlik om hierdie eens versteekte land van nader te beskou.
Die mense en hulle kultuur
Dit is moeilik om veralgemenings oor die Etiopiërs te maak omdat daar so ’n groot verskeidenheid onder hulle bestaan. Daar is die Afar-nomade wat in die snikhete Danakilwoestyn rondtrek. In die weste is daar die donker Nilotiese volke. In die suide woon veral die Oromo-volk. Die Amhara-volk woon in die sentrale hoogland, waar hulle die winderige bergtoppe bewerk. Dit is dus nie verbasend dat Etiopië amper 300 tale het nie. Etniese groepe het hulle eie haarstyle, kleredrag en boustyle. Die boustyle wissel van die ronde bamboes-toekoels wat algemeen is in die suide tot die kleimuurhuise met grasdakke in Sentraal-Etiopië en steengeboue met verdiepings in die noorde.
Daar is ook ’n fassinerende verskeidenheid persoonsname. Hulle is meer as net etikette, en die betekenis van hierdie eksotiese name is plaaslik byna altyd welbekend. Meisies word miskien Fikre (My geliefde), Desta (Vreugde), Senait (Goedheid), Emnet (Geloof), Ababa (Blom) of Trunesj (Jy is goed) genoem. Party voorbeelde van mansname is Berhanu (Lig), Wolde Mariam (Seun van Maria), Gebre Jesus (Dienaar van Jesus), Haile Sellassie (Mag van die Drie-eenheid) of Tekle Haimanot (Plant van godsdiens).
Baie van hierdie name lewer duidelike bewys van die invloed van die Ortodokse kerk. Godsdiens oorheers in werklikheid feitlik die hele Etiopiese kultuur! Die kalender van 13 maande is vol godsdiensfeeste. Die vernaamste hiervan is Meskel, die “Fees van die kruis”, en Timkat, met sy kleurryke optogte om die doop van Christus te vier. Dit is dus nie verbasend dat die meeste van Etiopië se tradisionele kuns godsdienstig van aard is nie.
Geografiese kenmerke
Jou eerste kykie na Etiopië moet ook sy indrukwekkende geografie insluit. Een uitstaande kenmerk is die Groot Skeurvallei, wat die land op sy pad na Kenia in twee deel. Al langs die kante is daar baie warm bronne en grotte. Sewe pragtige mere kan langs sy roete gevind word. Hooglande van meer as 2000 meter rys aan weerskante op en bereik ’n hoogtepunt in die noorde in die Simjen-gebergte. Dit word die Dak van Afrika genoem met ’n piekhoogte van meer as 4600 meter! Die toringhoë klipmure en asemrowende klowe van hierdie gebied is waarlik skouspelagtig. Nie ver daarvandaan nie is die Tana-meer en die oorsprong van die Blou Nyl. Dit het sy eie indrukwekkende kloof wat weswaarts in die rigting van Soedan kronkel. Naby die Tana-meer voorsien die Blou Nyl ook ’n pragtige skouspel—die Tisissat-waterval, wat soos ’n kleiner weergawe van die beroemde Victoria-waterval oor die kranse stort. In die noordooste versier kleurryke soutpanne die Danakil, ’n woestyn wat die laagste plek in Afrika is. Dit is onder seevlak.
Etiopië produseer ’n verbasende verskeidenheid gewasse, wat wissel van koring, gars, piesangs, mielies en katoen tot druiwe, lemoene en ’n verskeidenheid speserye. Etiopië beweer ook dat dit die oorspronklike tuiste van die koffieplant is, en tot vandag toe is dit ’n groot produsent van koffiebone. Dan is daar die ongewone graan wat tef genoem word. Dit lyk soos gras en die klein saadjies word gemaal om indjera, Etiopië se vernaamste stapelvoedsel en nasionale gereg, te voorsien. Indjera word in ’n spesiale oond gemaak en word dikwels in ’n groot ronde mandjie aangebied, die pragtige mesob. Waar dit in baie Etiopiese huise op die vloer staan, is die mesob nuttig én ’n onontbeerlike deel van die dekor!
Die natuurlewe
Wat kan Etiopië bied ten opsigte van natuurlewe? Nogal baie. Trouens, Etiopië het ’n aantal afgeleë wildparke met ’n verskeidenheid wildsbokke en leeus. Daar word gesê dat daar meer as 830 voëlsoorte in hierdie land is, waarvan sommige net in Etiopië aangetref word.
Onder die meer ongewone diere is die statige Abessynse ibeks, ’n pragtige steenbok wat nog net in die hoogtes van die Simjen-gebergte voorkom. ’n Skrale paar honderd woon nog in die onbereikbaarste kranse. Hulle kan sonder moeite oor ’n skynbaar bodemlose afgrond spring. Daar is ook die pragtige gelada. As gevolg van sy lang hare en die treffende rooi kol op sy bors, is hy ook al die leeuaap en die bloeiende-hart-bobbejaan genoem. Jy hoef nie eens ver te reis om diere te sien nie. Die paaie in Etiopië wemel dikwels van kamele, muile, beeste en donkies!
Die land is weliswaar allesbehalwe sonder probleme. Die hoofstad, Addis Ababa, is ’n moderne stad met meer as ’n miljoen mense. Maar dit gaan gebuk onder behuisingstekorte en werkloosheid. Droogte en burgeroorlog het haweloosheid, kreupeles en ’n groot aantal weduwees en weeskinders tot gevolg gehad. Jehovah se Getuies in hierdie land werk hard om die Etiopiërs te laat sien dat God se Koninkryk deur Christus Jesus die enigste oplossing vir hulle probleme is.—Matteus 6:9, 10.
In die tussentyd is Etiopië ’n land wat die moeite werd is om te leer ken. Ons hoop dat hierdie vlugtige kykie jou belangstelling geprikkel het sodat jy nog ’n keer, miskien eendag eerstehands, na hierdie fassinerende land sal kyk.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Sheba” in Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting.
[Prente op bladsy 18]
Die “mesob” word gebruik om “indjera”, Etiopië se nasionale gereg, op te dien