Jehovah se Getuies dra by tot vooruitgang in hartchirurgie
DIE New Yorkse Daily News van 27 Augustus 1995 het die berig “Die bloedlose operasie” bevat. Dit het gesê dat die New York-hospitaal se Cornell- Mediese Sentrum “’n revolusionêre manier [sou] onthul om hartomleidingschirurgie uit te voer—dieselfde chirurgie wat die voormalige burgemeester David Dinkins onlangs moes ondergaan—sonder om ’n enkele druppel bloed te verloor”.
“Die wonder van die nuwe prosedure”, het die koerant gesê, “wat deur die besorgdheid van Jehovah se Getuies geïnspireer is . . . , sal weerspieël word in die besparing van honderdduisende dollars vir hospitale en in ’n aansienlike vermindering van die risiko van besmette bloed vir pasiënte.” Dr. Todd Rosengart, die direkteur van die hospitaal se program vir bloedlose chirurgie, het gesê: “Ons is nou in staat om die hoeveelheid bloed wat tydens hierdie chirurgie oorgetap moet word van die gebruiklike twee tot vier eenhede per pasiënt tot nul te verminder.”
Dr. Karl Krieger, ’n hartchirurg by die hospitaal, wat gehelp het om die prosedure te ontwikkel, het gesê: “Deur die nodigheid van skenkerbloed en bloedprodukte uit te skakel, verminder ons ook die risiko van sekere koorse en infeksies wat ná ’n operasie voorkom en gewoonlik met oortappings verband hou.”
Ander deskundiges sê dat “die bloedlose omleiding die tyd verkort wat die pasiënt ná die operasie in die waakeenheid deurbring—van 24 uur of meer tot net ses uur. Pasiënte wat aan kliniese proewe deelgeneem het, kon tot 48 uur gouer opstaan en die hospitaal verlaat.” Dit beteken groot besparings vir hospitale, die regering en versekeringsmaatskappye. Dr. Rosengart het geraam dat “hierdie chirurgie ten minste $1600 [R5800] per pasiënt kan bespaar”.
Die Daily News se berig het voorts gesê:
“Dit is ironies dat die nuwe chirurgie nie deur ekonomiese of selfs mediese noodsaaklikheid teweeggebring is nie, maar deur godsdiensywer. Jehovah se Getuies—wie se oortuiging die gebruik van bloed verbied—het hulp vir ouer lede gesoek wat aan hartkwale ly. . . .
“Op aandrang van Jehovah se Getuies het die dokters hulle bloedherwinningstegnieke met die nuwe geneesmiddels gekombineer. Hulle het ook ’n nuwe manier gevind om die tradisionele hart-long-masjien te benut wat gebruik word om pasiënte tydens hartchirurgie aan die lewe te hou.
“Benewens die 40 Jehovah se Getuie-pasiënte wat die aanvanklike kliniese studie uitgemaak het, het New York se Cornell-span die operasie ses maande gelede aan pasiënte oor die algemeen bekend gestel. ‘Sedertdien het hulle 100 opeenvolgende bloedlose omleidingsoperasies sonder enige sterftes voltooi’, het Krieger gesê. Die sterftesyfer vir die normale omleidingsoperasie is ongeveer 2,3%.”
Wêreldwyd het 102 hospitale programme vir bloedlose chirurgie by hulle fasiliteite ingesluit, wat hierdie veiliger chirurgiese prosedure regoor die aarde vir pasiënte oor die algemeen beskikbaar stel.