Bloedlose chirurgie—Die voordele daarvan verkry erkenning
ENGELAND se Koninklike Kollege vir Chirurge het in 1996 ’n boekie met die titel Code of Practice for the Surgical Management of Jehovah’s Witnesses gepubliseer. In daardie boekie sê die chirurge: “Die gevare verbonde aan ’n bloedoortapping maak dit verkieslik om sover moontlik alternatiewe behandeling te oorweeg.”
AHA NEWS, wat deur die Amerikaanse Hospitaalvereniging uitgegee word, het ook berig gelewer oor die redes waarom die voordele van bloedlose chirurgie erkenning verkry. “Dit wat as ’n godsdiensoortuiging begin het, ontwikkel nou in ’n mediese voorkeur en ’n gevorderde tegnologie”, het die weeklikse tydskrif gesê. “Bloedlose geneeskunde en chirurgie wat gedeeltelik deur die leerstellings van die Jehovah se Getuies gemotiveer is, is besig om ver van die behoeftes van ’n geestelike gemeenskap af weg te beweeg na operasiesale oor die hele land.”
Die redes waarom baie dokters nou bloedlose chirurgie voorstaan, was ’n onderwerp wat bespreek is in ’n bylae van ’n nommer van die tydskrif Time gedurende die vierde kwartaal van 1997. “Vrees vir vigs is maar net een rede”, het die artikel gesê. Die artikel het spesifiek berig gelewer oor die werk wat gedoen word by New Jersey se Instituut vir die Bevordering van Bloedlose Geneeskunde en Chirurgie by die Englewood-hospitaal, in Englewood, New Jersey.
Time het gesê: “Die instituut is die voorste van die meer as 50 in die Verenigde State wat nou bloedlose chirurgie doen. Sonder om enigsins skenkerbloed te gebruik, bied hulle ’n groot verskeidenheid chirurgiese prosedures wat gewoonlik oortappings sou insluit, sowel as tegnieke wat bloedverlies aansienlik verminder of feitlik uitskakel.”
Doeltreffend en veilig
Die inleiding van die Time-artikel het die ondervinding van Henry Jackson vertel, wat so hewig inwendig gebloei het dat hy 90 persent van sy bloed verloor het en sy hemoglobienvlak tot ’n lewensgevaarlike 1,7 gram per desiliter gedaal het. Jackson is na die Englewood-hospitaal geneem van ’n ander hospitaal in New Jersey af wat hom nie sonder bloedoortappings wou behandel nie.
By die Englewood-fasiliteit het Jackson onder die sorg van dr. Aryeh Shander “baie sterk ysteraanvullings en vitamiene gekry sowel as ‘kragtige dosisse’ van ’n bloedvormende middel, sintetiese eritropoiëtien, wat die beenmurg stimuleer om rooi bloedselle te vervaardig. Laastens is binneaarse vloeistowwe toegedien om die geringe sirkulasie wat hy nog gehad het te stimuleer.”
Time het berig dat “die eerste hospitaal [’n paar dae later] gebel het om te vra of Jackson dood is. Met onverbloemde tevredenheid het Shander vir hulle gesê: ‘Hy lewe nie net nie, maar dit gaan goed met hom, en hy is gereed vir ontslag en sal binnekort met sy normale bedrywighede kan voortgaan.’”
In ’n televisie-onderhoud op 28 November 1997 het dr. Edwin Deitch, mediese direkteur vir die bloedlose program by die Universiteitshospitaal, Newark, New Jersey, verduidelik hoe navorsing in bloedlose chirurgie ontwikkel het: “Jehovah se Getuies . . . het baie moeite gedoen om mense te probeer kry wat bereid was om sonder bloed te opereer. Sommige van die uitslae van daardie studies het bevind dat hulle beter gevaar het as wat verwag is, beter [as] mense wat bloed ontvang het.”
Dr. Deitch het bygevoeg: “Bloed kan die immuunstelsel verswak en probleme met infeksie ná die operasie veroorsaak; dit kan die risiko vergroot dat ’n mens terugkerende kanker kry. Hoewel bloed dus in sekere omstandighede goed was, het dit ook ’n negatiewe sy.” Dr. Deitch het tot die volgende gevolgtrekking oor bloedlose chirurgie gekom: “Dit verbeter ongetwyfeld die uitslag vir die pasiënt en het minder komplikasies tot gevolg, en [dit] kos minder. En daarom is dit werklik in alle omstandighede die beste.”
Daarom, soos Time gesê het, “dring al hoe meer pasiënte aan op veiliger en doeltreffender opsies as oortappings”. Die tydskrif het ook berig: “Volgens sommige skattings is 25% van die oortappings in Amerika onnodig. Daar is ook aanduidings dat pasiënte nie sulke hoë hemoglobienvlakke kan verdra soos wat vroeër gemeen is nie en dat veral jongmense van nature reserwebloed het. . . . [Shander] is daarvan oortuig dat dit ’n lewensvatbare en verkiesliker keuse is om bloed van die meeste pasiënte te weerhou.”
Hoewel dit ’n groot gevaar is om siektes deur middel van bloedoortappings op te doen, is daar ook ander gevare. “Nadat bloed in die bloedbank afgekoel en gestoor is, het dit nie dieselfde vermoë as vars bloed om suurstof te dra nie”, het dr. Shander verduidelik. “Ons begin nou maar net verstaan wat gebeur wanneer ons ’n oortapping gee.”
“Die goudstandaard”
“Laastens”, het Time gesê, “is daar die koste: teen ongeveer $500 [R2485] vir elke oortapping, plus administratiewe koste, kom die totale bedrag jaarliks op tussen $1 miljard [R4,97 miljard] en $2 miljard [R9,9 miljard] te staan, meer as genoeg aanmoediging om alternatiewe te oorweeg.” Die ongelooflike koste van bloedoortappings is nou blykbaar ’n vername rede waarom bloedlose chirurgie so gewild geraak het.
Sharon Vernon, direkteur van die Sentrum vir Bloedlose Geneeskunde en Chirurgie by die St. Vincent Charity-hospitaal, Cleveland, Ohio, het die volgende gesê oor die behandeling van pasiënte sonder om bloed te gebruik: “Dit neem toe omdat dokters begin besef dat bloedlose geneeskunde die goudstandaard is in ’n omgewing waar koste besnoei moet word. Dit was ons ondervinding dat selfs versekeringsmaatskappye wat gewoonlik nie met ons saamwerk nie, mense na ons toe stuur omdat dit hulle geld spaar.”
Bloedlose chirurgie is ongetwyfeld vinnig besig om erkenning in die mediese gemeenskap te verkry, en wel om verskeie redes.
[Venster op bladsy 11]
Onlangse Hofbeslissings
Twee hofbeslissings wat in November en Desember 1997 in die staat Illinois, VSA, gelewer is, was betekenisvol. In die eerste een is daar aan Mary Jones, een van Jehovah se Getuies, $150 000 (R745 500) toegestaan vir skadevergoeding omdat sy in 1993 twee eenhede bloed ontvang het ten spyte van haar uitdruklike beswaar teen hierdie vorm van behandeling. Dit is die grootste bedrag wat ’n Getuie tot nog toe ontvang het vir emosionele letsels wat as gevolg van ’n ongewenste bloedoortapping gely is.
Die tweede saak was dié van ’n Getuie, Darlene Brown, wat destyds swanger was en aan wie ’n bloedoortapping afgedwing is ter wille van haar fetus van 34 weke. Op 31 Desember 1997 het die Appèlhof van Illinois hulle beslissing verduidelik deur te sê dat “’n bloedoortapping ’n indringende mediese prosedure is wat inbreuk maak op ’n bevoegde volwassene se liggaamlike integriteit”. Die Appèlhof het hulle beslissing opgesom deur te sê dat hulle “volgens die wet van hierdie Staat, . . . nie ’n geregtelike verpligting op ’n swanger vrou kan plaas om tot ’n indringende mediese prosedure toe te stem nie”.
Op 9 Februarie 1998 het die Hooggeregshof van Tokio die beslissing van ’n laer hof ter syde gestel, wat beslis het dat ’n dokter die reg gehad het om in 1992 tydens ’n operasie vir Misae Takeda ’n bloedoortapping te gee. Die Hooggeregshof het verklaar dat “die pasiënt se reg om behandeling te kies, gerespekteer moet word. Dit was onwettig om ’n bloedoortapping toe te dien.” Misae Takeda het 550 000 jen (R21 000) vir skadevergoeding ontvang.