Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 11/8 bl. 17-18
  • ’n Jong man se soeke na antwoorde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Jong man se soeke na antwoorde
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goue tafels en ’n profeet
  • Die kerk oorleef sy profeet
  • Die Mormoonse Kerk—’n Herstelling van alle dinge?
    Ontwaak!—1995
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Van ons Lesers
    Ontwaak!—1996
  • INSIG IN DIE NUUS
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 11/8 bl. 17-18

’n Jong man se soeke na antwoorde

DIE oggendson het helder geskyn, en die strale het deur die bome op ’n knielende seun geval wat vurig gebid het. Die 14-jarige Joseph is deur die godsdiensberoeringe van sy dag verwar. Tradisionele kerke is deur verdeeldhede geteister. Daar was oral nuwe sektes. By watter groep moes hy aansluit? Hy het op sy knieë gevra: “Watter een van al hierdie groepe is reg; of is hulle almal verkeerd? As enigeen van hulle reg is, watter een is dit, en hoe sal ek dit weet?”

So het Joseph Smith sy vroeë geestelike krisis beskryf. Dit is geen wonder dat hy verward was nie. Dít was die platteland van noordoostelike Amerika vroeg in die 19de eeu, ’n gebied waar die vuur van godsdiensywer hoog gebrand het.a Hoop was dringend nodig. Vir baie boere was die lewe net so hard soos die klipperige grond wat hulle moes omploeg. Omdat hulle na iets beters gesmag het, is hulle aangelok deur stories van Indiaanse skatte wat êrens begrawe lê. Gevolglik het hulle die heuwels gefynkam, toegerus met towerklippies van sieners, towerspreuke en wiggelroedes. Plaaslike legendes het vertel van ’n groot Indiaanse beskawing wat tydens ’n verskriklike veldslag iewers in die staat New York uitgewis is.

Gewilde godsdiensleraars van daardie tyd het die gissings aangeblaas deur te sê dat die Indiane afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel was. In 1823 het Ethan Smith byvoorbeeld die boek View of the Hebrews; or the Tribes of Israel in America geskryf.

Goue tafels en ’n profeet

Die jong Joseph Smith het in hierdie vrugbare klimaat van volksoorlewering en godsdiensywer grootgeword. Sy gesin is ook deur die opwinding meegevoer. Joseph se ma het geskryf van genesings, wonderwerke en visioene wat hulle ervaar het. Maar toe sy en ’n paar van die kinders by ’n kerk aangesluit het, het Joseph geweier om hulle voorbeeld te volg. Hy het later in sy lewensverhaal geskryf van sy gebed om hulp en die antwoord wat hy ontvang het.

Joseph het melding gemaak van ’n visioen waarin God hom verbied het om by enige van die sektes aan te sluit omdat hulle almal verkeerd was. Toe, op ’n herfsdag in 1823, het die 17-jarige Smith sy ouers vertel dat ’n engel met die naam Moroni hom ’n stel antieke goue tafels gewys het. Vier jaar later het hy beweer dat die goue tafels aan hom gegee is, asook die uitsluitlike goddelike mag om hulle te vertaal, waarvoor ’n spesiale klippie nodig was wat “’n sienerklippie” genoem is, asook ’n towerbril van silwer—twee gladde, driehoekige diamante wat in glas geset was. Dit sou vir ander oombliklike dood beteken om die tafels op daardie tydstip te sien, het Smith gewaarsku.

Smith, wat kon lees, maar nie goed kon skryf nie, het die “vertaling” van die tafels aan verskeie kopiïste gedikteer. Terwyl hy agter ’n gordyn gesit het, het hy ’n verhaal vertel wat glo deur ’n Hebreeuse man met die naam Mormon saamgestel is. Smith het verduidelik dat die tafels in “hervormde Egiptiese” skrif gegraveer is, wat bondiger as Hebreeus was. Mormon en sy seun Moroni is beskryf as van die laaste oorlewendes van ’n volk wat die Nefiete genoem word, die ligkleurige nakomelinge van Hebreërs wat glo omstreeks 600 v.G.J. na Amerika geïmmigreer het om Jerusalem se vernietiging vry te spring.

Die verslag sê dat Jesus ná sy dood en opstanding aan hierdie nasie in Amerika verskyn het en 12 Nefiet-apostels gekies het. Die Lamaniete, ’n volk wat ook van Hebreeuse afkoms was, was opstandig en oorlogsugtig en is daarom deur God vervloek en met ’n donker vel gestraf. Mormon se verslag het hoofsaaklik die voortdurende gevegte tussen hierdie twee nasies geboekstaaf. Die Nefiete het goddeloos geword en is uiteindelik deur die Lamaniete uitgewis, wat voorvaders van die Indiane was.

Volgens Smith het Mormon se seun, nou die gees Moroni, die verslag op goue tafels aan hom gegee, asook die sending wat tot die herstelling van Christus se kerk sou lei. Smith het weldra volgelinge gehad. ’n Welvarende gelowige het die publisering van Smith se manuskrip gefinansier wat Die Boek van Mormon genoem is. Dit het in die lente van 1830 in druk verskyn. Twee weke later het Joseph Smith sy amptelike titel bekend gemaak: “Siener, ’n vertaler, ’n profeet, ’n apostel van Jesus Christus.” Op 6 April 1830 is die Mormoonse Kerk, of die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, gestig.b

Smith was ’n imponerende figuur, en dit het hom die toegewydheid van baie bekeerlinge gewen. Maar sy onkonvensionele godsdiens het ook vyande gemaak. Die nuutgevormde kerk is vervolg; sy lede het uit New York na Ohio en toe na Missouri gevlug op soek na sy Nuwe Jerusalem. As profeet het Smith openbaring na openbaring geuiter en God se wil uitgespreek oor sake wat gewissel het van finansiële bydraes tot ’n goddelike magtiging dat meer as een vrou geneem mag word. Veral hierdie laasgenoemde openbaring het groot vervolging laat ontstaan. Omdat die Mormone oral voor agterdog en vyandigheid te staan gekom het, het hulle die wapen opgeneem om hulle te verdedig.

Die intrige en beroering wat die vroeë jare van Joseph Smith se lewe gekenmerk het, het nooit afgeneem nie. Grensdorpe, wat deur Smith se volgelinge oorstroom is, het kragtig weerstand gebied. Hulle het geensins belanggestel in nog ’n heilige boek of in ’n selfbenoemde profeet nie. Toe, in 1839, het die Mormone, tot die ontsteltenis van die plaaslike bevolking, ’n welvarende nedersetting gestig in Nauvoo, Illinois, met sy eie meule, fabriek, universiteit en burgermag. Toe vyandelikhede uitgebreek het, is Smith gearresteer en in Carthage, Illinois, in die tronk gesit. Op 27 Junie 1844 het ’n oproerige skare die tronk daar binnegeval en hom doodgeskiet.

Die kerk oorleef sy profeet

Die verhaal eindig geensins met Joseph Smith se dood nie. Brigham Young, president van die Raad van die Twaalf Apostels, het sonder versuim die bevel oorgeneem en baie gelowiges op ’n gevaarlike reis na die Groot Soutmeer-vallei in Utah gelei, waar die hoofkwartier van die Mormone tot vandag toe is.c

Die kerk wat deur Joseph Smith gestig is, trek nog steeds bekeerlinge en het volgens LDS-bronne wêreldwyd ongeveer negemiljoen lidmate. Dit het al baie ver van sy bakermat in die staat New York na uiteenlopende plekke soos Italië, die Filippyne, Uruguay en Zaïre versprei. Ten spyte van volgehoue antagonisme het die ongewone Mormoonse Kerk gefloreer. Is dit werklik die herstelling van die ware Christelike godsdiens waarvoor geloofsmanne gewag het?

[Voetnote]

a Geskiedkundiges het hierdie gebied in die weste van die staat New York later die verbrande streek genoem as gevolg van die vlae van kortstondige godsdiensherlewings wat gedurende die vroeë 1800’s deur hierdie gebied versprei het.

b Aanvanklik is dit die Kerk van Christus genoem, maar op 26 April 1838 het dit verander na die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, of LDS. Alhoewel die lede die benaming LDS verkies, word die naam Mormon (afgelei van Die Boek van Mormon) ook in hierdie reeks artikels gebruik, aangesien baie lesers meer vertroud met dié term is.

c Verskillende groepe wat van die LDS weggebreek het, noem hulleself ook Mormone. Die vernaamste onder hulle is die Gereorganiseerde Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, met hulle hoofkwartier in Independence, Missouri.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Foto: Courtesy Church of Jesus Christ of Latter-Day Saints/Dictionary of American Portraits/Dover

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel