INSIG IN DIE NUUS
Menseregte en die pous
• Toe pous Johannes Paulus II onlangs verskeie lande in Asië besoek het, was menseregte ’n belangrike onderwerp van sy toesprake. “’n Mens kan nooit enige skending van menswaardigheid of van die basiese regte wat hierdie waardigheid beskerm, regverdig nie”, het hy in Manila, die Filippyne, gesê. Hieruit kon ’n mens dalk aflei dat die Kerk nog altyd ’n toonbeeld van die handhawing van menseregte was. Maar in Londen se “Sunday Telegraph” het rubriekskrywer Gordon Brook-Shepherd geskryf:
“Deur die eeue heen het die groot gelowe van die wêreld, die Katolieke Kerk inkluis, self ’n hele paar lesse in onmenslikheid gegee. Dit was een van Johannes Paulus se voorgangers, pous Innocentius IV, wat in 1252 die gebruik van foltering gemagtig het om erkennings uit beskuldigde ketters te kry en om hulle te oorreed om die name van ander ketters te onthul . . . Die Spaanse Inkwisisie (wat in 1478 deur ’n ander pous, Sixtus IV, gemagtig is) was die lang en verskriklike hoogtepunt van ‘die skending van menswaardigheid’ deur die Katolieke Kerk.”
Die Rooms-Katolieke Kerk sê natuurlik dat sy skendings van menseregte tot die verlede behoort. Maar kan die Kerk, in party lande waar Katolisisme die oorheersende geloof is, in alle eerlikheid sê dat sy politieke invloed nie eens in onlangse tye gebruik is om die vryheid van sekere godsdienstige minderheidsgroepe te beperk nie?
‘Weer Sodom en Gomorra’
• As ’n blyk van sogenaamde verdraagsaamheid en maatskaplike geregtigheid het die stad San Francisco, Kalifornië, erkende homoseksuele in regeringsposte en die staatsdiens aanvaar. Sowat 60 lede van die polisiemag is byvoorbeeld glo homoseksuele of lesbiërs. In ’n verslag aan die “Star” van Toronto, Kanada, het godsdiensredakteur Tom Harpur gesê dat “baie van die verdraagsaamheid verbasend genoeg betoon word deur georganiseerde godsdiens—deur die vernaamste Protestantse, Anglikaanse, Rooms-Katolieke en Joodse kerke en sinagoges.”
Harpur prys San Francisco voorts as ’n stad “waar die klem val op vryheid om self te kies, op verdraagsaamheid, op onbevooroordeeldheid teenoor ander en die algemene soeke na maatskaplike geregtigheid”. Hy voeg by: “As moraliteit andersyds ’n saak van streng reëls is wat deur die minderheid aan die meerderheid opgelê word, as dit gebaseer is op ’n beoordeling van ander of op ’n tradisionele, benoude vrees vir diegene wat anders is, is dit van voor af Sodom en Gomorra.”
Namate sedelike verdorwenheid dwarsoor die wêreld al hoe meer aanvaar word, kan ons daarvan seker wees dat die Skepper binnekort gaan optree, net soos hy in die geval van Sodom en Gomorra opgetree het, om persone soos “die regverdige Lot . . . wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense” te red.—2 Pet. 2:6-8.
Verwronge beskouing van geslagsedelikheid
• ‘Hoerery of owerspel sonder voorbehoedmiddels is nie so ’n groot sonde soos wanneer ’n man en sy vrou voorbehoedmiddels tydens omgang gebruik nie’, Verwronge het Katolieke filosoof Elizabeth Anscomb van die Universiteit van Cambridge in Engeland gesê. Sy het bygevoeg: “Omgang met voorbehoedmiddels is ’n daad van growwe onkuisheid. . . . Die huwelik maak dit nie fatsoenlik nie. As jy so iets wil doen, is dit beter om dit met ’n hoer te doen, nie met jou vrou nie.” Sy het gesê dat die Katolieke Kerk ‘nog altyd die gebruik van voorbehoedmiddels as onkuisheid beskou het’.
Priester Richard Roach van Marquette-Universiteit in die Verenigde State het saamgestem en gesê dat ‘die gebruik van voorbehoedmiddels in ’n huwelik die status van ’n eggenote van die van ’n eerbare vrou na die van ’n eerlose vrou verander’.
Maar God se Woord, die Bybel, stel geboortebeperking nêrens gelyk met hoerery of owerspel nie. Hoewel dit laasgenoemde veroordeel, sê dit niks oor eersgenoemde nie, sodat dit ’n saak is waaroor ’n mens self moet besluit (1 Kor. 6:9, 10). Dit is ook interessant om daarop te let dat baie meningspeilings onder Katolieke toon dat die meerderheid nie met die verklarings van sulke Katolieke onderrigters saamstem nie aangesien hulle geboortebeperking toepas deur byvoorbeeld voorbehoedmiddels te gebruik.