Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/22 bl. 19-23
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die soeke begin
  • Gesinsvervolging begin
  • My gesin se teenstand misluk
  • My pa breek sy belofte en pas ’n teks verkeerd toe
  • Baie ontberinge, baie seëninge
  • Ek kry ’n nuwe liefdevolle familie
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
  • In die ore van ’n klein kindjie
    Ontwaak!—1997
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/22 bl. 19-23

My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind

Ek was altyd bang dat ek hel toe sou gaan, want ek het geweet dat ek nie goed genoeg was om hemel toe te gaan nie. Ek het gedink dat ek gelukkig sou wees as ek die vaevuur haal, en daarom het ek vuriglik gebid en kerse opgesteek sodat ek nie in die hel sou beland nie.

TERWYL my motor se bande op die verysde paaie van ’n bergpas in Oregon, VSA, gegly het, het ek gewonder waarin ek my begewe het. Dit was die eerste keer dat ek in sneeu bestuur het, en hier was ek in die middel van ’n sneeustorm op onbekende paaie, met diep afgronde aan weerskante, skaars in staat om verder as die enjinkap te sien. Ek het gedink dit is klaarpraat met ons en het dus tot God gebid om my en my passasier se lewe te spaar en belowe dat ek hom daarvoor sou vergoed deur terug te gaan kerk toe.

Wel, ons hét dit oorleef, en ek het my belofte om terug te gaan kerk toe nagekom. Ek het ’n plaaslike kerk in Seattle gevind deur in die geelbladsye te kyk en het die volgende Sondag gegaan. Dit het my dieselfde leë gevoel gegee as wat ek voorheen ondervind het. Die kerk het dieselfde ding as my vorige kerk beklemtoon: geld. Die kollektebord is drie keer omgestuur! Ek kan onthou dat ek vir God gesê het dat ek ’n ander manier sou moes vind om Hom te aanbid.

As kind het ek streng Katoliek grootgeword in ’n militêre milieu. Ek was in ’n Katolieke skool. Ek kan onthou dat ek in die katkisasieklas was en vir die non gevra het: “Waarom gebruik ons nooit die Bybel nie?” Sy het vir my gesê dat my geloof swak was, en my ouers is meer as een keer van my swakheid in kennis gestel.

Ek het met ’n immerteenwoordige vrees vir God grootgeword. Ek het ’n onduidelike begrip van hom gehad. Hy was ’n God wat verdien het om aanbid te word, maar wat jou gepynig het as jy hom nie reg aanbid het nie. Toe ek 17 geword het, het ek vir my ouers gesê dat ek nie meer kerk toe sou gaan nie. Ek het op enige ander plek nader aan God gevoel as in die kerk. Ek het gewoonlik op die strand gaan stap, en as iets my gepla het, het ek met God daaroor gepraat. Ek het hom om verskoning gevra dat ek nie deur middel van ’n priester met hom gepraat het nie en het gesê dat ek hom net moes vertel wat ek op die hart het. Alles wat ek in die wêreld sien gebeur het, het my ook baie ontnugter. Dit was die hippie-era, en my vriende het hulle alles veroorloof wat seks en dwelmmiddels betref. Ek het die hartseer gevolge van ongewenste swangerskappe, aborsies en oordosisse dwelms gesien—ek wou geen deel daaraan hê nie!

Die soeke begin

Ek en Becky, ’n goeie vriendin, het besluit om die universiteit te verlaat op soek na iets beters. Daar moes net iets beters wees! Ons het besluit om by haar ma in die staat Washington te gaan kuier. Ek het vir my ouers gesê dat ek moes wegkom om die probleme wat my gekwel het uit my gedagtes te probeer kry. Dit is toe dat ons deur die sneeustorm in Oregon gery het. Nadat ek die kerk daardie Sondag in Seattle ontevrede verlaat het, het ek huis toe gegaan en met Becky se ma, Edna, oor my gevoelens gepraat. Sy het vir my gesê dat sy iemand ken wat my vrae sou kon beantwoord. Sy het Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal geskakel.

Ek onthou dat ek vir hulle gewag het om te kom. Dit het drie dae geneem. Maar toe hulle gekom het, het ek gedink dat hulle meer na Christene lyk as enigiemand wat ek al in my lewe gesien het. Dit was Clarence en Edith Meunier. Clarence was ’n gegradueerde van die Wagtoring-Bybelskool Gilead en dit was duidelik dat hy ’n goeie kennis van die Skrif gehad het. Ek was onmiddellik beïndruk toe hulle verduidelik het dat God ’n naam het—Jehovah. Dit het gevoel asof ’n lig in my kop aangeskakel is. Die eerste studie het drie uur geduur, en hulle het twee dae later teruggekom vir nog ’n studie.

Ek was so opgewonde. Kort voor lank het ek my ouers geskakel en vir hulle gesê dat ek die waarheid gevind het. Ek het vir hulle gesê dat God ’n naam het, Jehovah, en dat Jehovah se Getuies die waarheid van die Bybel leer. Ek was seker dat hulle nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor het nie en net so opgewonde sou wees om te leer wat ek geleer het. Maar hulle het al van Jehovah se Getuies gehoor en was baie omgekrap. Hulle het my kom haal en my na Kalifornië teruggeneem.

Terug by die huis het ek geweet dat ek dadelik met die gemeente in aanraking moes kom. Ek het vasgestel waar die Koninkryksaal was en het na die volgende vergadering toe gegaan en gaan sit. ’n Suster het na my gekyk en geglimlag, en daarom het ek haar gevra of sy met my sal studeer. Sy het byna van haar stoel afgeval en gou ja gesê. Ek was so bly om weer by die gemeente te wees, want ek het begin voel asof ek afgesny was. Ek het assosiasie nodig gehad.—Hebreërs 10:24, 25.

Gesinsvervolging begin

My ouers was nog steeds baie gekant teen my nuwe geloof en het my na ’n psigiater toe gestuur. Toe my ouers om ’n verslag gevra het, het hy vir hulle gesê dat ek rebels is. Ek het vir hulle gesê dat ek nie rebels is nie. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek iets gevind het wat vir my antwoorde gegee het, wat my ’n rede gegee het om te lewe.

Hierna was my ouers baie kwaad wanneer ek Koninkryksaal toe gegaan het. Hulle het vir my gesê dat ek na enige universiteit waarheen ek wou, kon gaan, dat ek enige kursus wat ek wou, kon volg en dat hulle daarvoor sou betaal, maar ek moes niks met Jehovah se Getuies te doen hê nie. Wat dit veral baie moeilik gemaak het om te verduur, was die liefde wat ek vir my gesin gehad het. Een besonder onaangename dag het my ma vir my gesê dat sy eerder sou sien dat ek ’n prostituut word as een van Jehovah se Getuies. Ek kon enigiets wees, maar net nie een van Jehovah se Getuies nie. My ouers het vir my gesê dat ek die huis moet verlaat. Psalm 27:10 het by my opgekom: “My vader en my moeder het my verlaat‚ maar die HERE sal my aanneem.” ’n Suster in die gemeente het ’n huis gehad wat leeg gestaan het, en sy het my daar laat bly.

Ek het ’n suster by die Koninkryksaal ontmoet wat, soos ek, baie nuut in die waarheid was. Haar naam was Chris Kemp, en ons het baie goeie vriendinne geword en sy het ook by my in die huis ingetrek. Ons is op 18 Julie 1969 by Dodger-stadion in Los Angeles gedoop.

By die gemeentelike vergaderinge het ons ’n voltydse pioniersuster, Dana Wolff, dopgehou. Sy was baie geestelik. Ons het uitgevind dat sy blyplek nodig gehad het en het dus ’n wonderlike maat bygekry wat die huis met ons gedeel het.

Ek onthou my eerste deel op die vergadering. Ek het ’n demonstrasie gehad en het dit oor en oor geoefen. Dit was ’n demonstrasie oor hoe om ’n boek aan te bied, en ek het dit uit die kop geken. Maar op die laaste oomblik het ek dit neergeskryf en in my sak gesteek. Ek het op die verhoog gaan staan en kon niks onthou nie. Ek het gesê: “Hallo . . . Hallo . . . Hallo.” Ek het seker vyf keer hallo gesê. Ek kon niks onthou nie. Ek het toe na die gehoor gekyk en gesê: “Ek doen dit nie gewoonlik by die deure nie.” Toe haal ek my verfrommelde stukkie papier uit en lees woord vir woord wat ek veronderstel was om te sê. Toe ek klaar was, het ek op my plek gaan sit en gehuil.

Die broer wat my gevra het om die deel te doen, het die gehoor gevra: “Wat het ons uit hierdie aanbieding geleer?” Die saal was stil. Ek het toe opgestaan, na die gehoor gedraai en gesê: “Hoe kon hulle enigiets leer? Dit was verskriklik! Natuurlik het hulle niks geleer nie!” en toe weer gaan sit en verder gehuil. Ek weet dat my dele op die program nou effens beter is—hulle kan nie slegter wees nie.

Nie lank daarna nie het Dana daaroor begin praat dat sy iemand wou kry wat sou verhuis na waar daar hulp nodig is en saam met haar as ’n pionier sou dien. Daardie aand het ek en Chris na ons kamer gegaan en daaroor gepraat. Die volgende dag het ons teruggekom en vir Dana gevra: “Wat van ons?” Dana was baie verbaas. Ons was nuut in die waarheid; ons was nog nie lank genoeg gedoop om gewone pioniers te wees nie! Ons was glad nie wat sy as pioniermaats in gedagte gehad het nie. Maar sy het in elk geval aan die Wagtoringgenootskap geskryf, en ons al drie het ’n toewysing na Middlesborough, Kentucky, ontvang.

My gesin se teenstand misluk

Ons was besig om vir ons vertrek in te pak toe my ouers skakel om vir my te sê dat ek nie my motor uit die staat Kalifornië kon neem nie. Hulle was medeondertekenaars van die lening op my motor en het gesê dat hulle die polisie sou skakel as ek die motor uit die staat sou probeer neem. Ons het toe besluit om met die bus te gaan. By ’n afskeidspartytjie wat vir ons gehou is, het ’n broer wat ek voorheen ontmoet het na my toe gekom en gesê: “Ek hoor jy skuld $3 000 [R11 000] op jou motor.” Ek het ja gesê. Hy het gesê dat hy dit wou betaal. Ek het gesê dat ek hom nie kon toelaat om dit te doen nie. Hy het gereël dat ek met die broers in ons gemeente byeenkom. Hulle het gesê: “Laat hom dit doen as hy wil. Moenie teen Jehovah se gees stry nie.” Die motor is dus afbetaal. My ouers was baie kwaad maar ook verbaas dat iemand so iets sou doen. Ons het die volgende dag na Kentucky vertrek.

In Middlesborough is ons ’n woonstel aan die agterkant van ’n ou Koninkryksaal gegee om in te bly. Daar was geen isolasie nie. In die winter het dit baie koud geword. Dit was selfs in die somer koud, maar ons was bly om dit te hê, want ons kon nie huur bekostig nie. Ons het net een verwarmertjie gehad. In die winter het ons lae klere aangetrek, selfs wanneer ons gaan slaap het. Soggens was daar soms ’n laag ys oor die hele vloer, en ons sokkies het daaraan vasgesit. Ons het altyd ’n hammer in die badkamer gehad om die ys op die toilet se water te breek, want dit het gedurende die nag toegevries.

Ek en Chris was nog maar net vyf maande in die voltydse diens, maar ons het reeds ’n hele paar goeie Bybelstudies gehou, en dit was opwindend om daar te wees. Ons was so gelukkig dat ons al drie gedurende daardie eerste paar maande van pionierdiens gemiddeld meer as 150 uur per maand gewerk het. Dana wou gedurende die somer ’n tydelike spesiale pionier wees en het dus besluit om na die Getuies se hoofkwartier in New York te gaan. Ons was nog nooit daar nie en het besluit om saam te gaan. Terwyl ons daar was, het Dana na die Diensafdeling toe gegaan, en ons het saam met haar gegaan. Tot ons verbasing het hulle ons al drie as spesiale voltydse pioniers aangestel.

My pa breek sy belofte en pas ’n teks verkeerd toe

Dieselfde maand wat ek met spesiale pionierdiens begin het, het Satan sy pogings verskerp om my te laat verswak. Ek het ’n gedetailleerde rekening van die bank af ontvang wat gesê het dat ek $32,80 (R119) per maand vir my universiteitsopleiding moes begin betaal. Dit het onverwags gekom, want my ouers het nog altyd vir my gesê dat hulle vir my universiteitsopleiding sou betaal as ek ’n A-gemiddelde handhaaf, wat ek wel gedoen het. Ek het vir my pa geskryf en hom gevra om my nie in hierdie saak as een van Jehovah se Getuies te beskou nie, maar as sy dogter. Ek het hom op ’n liefdevolle manier herinner aan die ooreenkoms wat ons in verband met my studies aangegaan het, dat hy altyd vir my studies sou betaal as ek die punte behaal het wat hy verwag het. Ek het gevra dat hy asseblief nie hierdie las op my moet lê nie, want dit sou vir my baie moeilik wees om hierdie betalings by te hou, aangesien ek slegs $50 (R180) per maand verdien het en dit was waarvan ek gelewe het. As ek $32,80 (R119) per maand moes betaal, sou ek net $17,20 (R61) oorhê om van te lewe.

My pa het met ’n teks in ’n brief geantwoord. Hy het geskryf: “Aangesien jy altyd die Bybel gebruik, wat van hierdie teks: ‘As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.’ Jy gebruik nie jou geleerdheid vir iets nuttigs nie, en daarom moet jy hierdie betalings aan die bank maak.”—2 Tessalonisense 3:10.

Toe ek die kort, bitsige boodskap ontvang het, het dit my baie seergemaak. Ek het in my motor geklim, iewers heen gegaan waar ek alleen kon wees en gehuil omdat ek nie geweet het wat om te doen nie. Toe het ek opgehou huil en kwaad geword. Ek het besef dat dit nie my ouers is nie, maar Satan wat teen my is. Ek het vir Satan geskreeu om van my af weg te gaan, dat hy nie sou wen nie, dat hy nie daarin sou slaag om my die pionierdiens te laat opgee nie.

Baie ontberinge, baie seëninge

Ek het ’n deeltydse werk gekry waar ek 20 uur per week gewerk het—11 uur die een dag en 9 uur die volgende dag—en ek het met die spesiale pionierdiens voortgegaan. Ek het gou geleer hoe om tweedehandse winkels te benut. My winterklerekas het uit vier rompe vir ’n dollar (R3,50) bestaan. My winterjas het $1,50 (R5,45) gekos. Ek het gewerk deur vloere te skrop om ’n paar stewels van $20 (R72,50) te kon koop. Ons almal moes maar sukkel. Ek het ’n spaarrekening geopen om geld te probeer spaar. Partykeer het ek 25 sent (R1) gedeponeer en dit dan weer vir brandstof onttrek. Ek dink die banktellers het dit gehaat om my te sien inkom. Hulle het uiteindelik my rekening gesluit—daar was altyd so min geld in. Ek het by ’n vulstasie stilgehou en 25 sent (R1) se brandstof laat ingooi. Ek dink die petroljoggies het na ’n ruk gesug wanneer hulle my gesien het. Daar was tye dat ons glad nie geld vir brandstof gehad het nie. Ons het dikwels in die motor geklim en geweet dat daar min brandstof in is, maar ook dat ons ’n Bybelstudie moet gaan hou. Partykeer wanneer ons poskantoor toe gegaan het, het ons in een van ons briewe ’n dollar (R3,50) van iemand gekry—net genoeg om ons te laat uitkom. Te midde van al die probleme kon ons Jehovah se hand in ons lewe sien. Dit was so roerend.

Ek kan onthou dat ek leë bottels bymekaargemaak het net om seëls op my briewe te kon plak. Ek het drie maande gespaar vir ’n paar skoene van $8 (R29). Toe het iets baie persoonliks met my gebeur. Ek het letterlik net twee stelle onderklere oorgehad. Ek het tot Jehovah gebid en vir hom gesê dat ek nie dink dat dit werklik gepas is om hierom te bid nie, maar dat ek nie geweet het wat ek gaan doen nie. Twee weke later het ek ’n pakkie met 17 broekies, ’n onderrok, ’n bloes en ander items ontvang! Dit alles van iemand van wie ek ’n jaar lank niks gehoor het nie.

Een van die groot probleme in die buurt was dranksmokkelary. As gevolg van hulle onwettige praktyke was mense in sekere gebiede baie kliekerig en agterdogtig teenoor vreemdelinge. Ek het nietemin baie studies gehad en het op die ou end ongeveer 25 uur per week alleen velddiens gedoen. Ek het gedurende daardie tyd die heel naaste aan Jehovah gevoel, want ek moes ten volle op hom vertrou. Jy leer dat dit nie jou besittings is wat tel nie, maar jou verhouding met Jehovah. Jy leer dat materiële dinge jou nie gelukkig maak nie; dit is Jehovah wat jou gelukkig maak.—Lukas 12:15.

Ek kry ’n nuwe liefdevolle familie

Dieselfde maand wat ek die rekening vir my universiteitsopleiding klaar betaal het, het ek my toekomstige eggenoot en beste vriend, Jeff Malone, ontmoet. Hy was by Bethel, en ’n jaar later is ons getroud. Toe ek met Jeff getroud is, het ek nie net met hom getrou nie, maar ek het ook ’n ma, suster en oom bygekry, vir wie ek baie lief is. Die liefde vir Jehovah wat ons gemeen het, bind ons hegter saam as enige ander band. Ek en Jeff het ’n toewysing as spesiale pioniers in Union City, Tennessee, ontvang. Ons was net vier maande daar toe ons vir Betheldiens aansoek gedoen het en aanvaar is.

Ons het Bethel in 1980 verlaat en ons dogter, Megan, is later daardie jaar gebore. Ons seun, J. T., is in 1983 gebore. Ek en Jeff dien op die oomblik albei as gewone pioniers saam met die Forest Hill-gemeente in Fort Worth, Texas.

Ons het besluit dat ons alles moontlik sou doen om ons kinders groot te maak om Jehovah lief te hê. Selfs al dien Jeff as ’n ouer man, het hy nog altyd ons gesin se geestelike belange eerste gestel. Ons het die Genootskap se wenke oor gereelde vergaderingbywoning, voorlesing vir die kinders, deelname aan die velddiens, die bespreking van die dagteks en besoeke aan Koninkryksaal-bouprojekte gevolg. Ons albei het dikwels meer as ’n uur daaraan bestee om die kinders in die bed te sit—om vir hulle liedjies te sing, Bybelverhale te lees en afsonderlik saam met elkeen te bid. Ons doelwit as ’n gesin is om almal saam in die voltydse diens te wees. Oor een ding het ons deur die jare heen nog altyd baie sterk gevoel—om as ’n gesin bymekaar te staan en dinge as ’n gesin te doen, in werk sowel as in plesier.

Wanneer ek terugkyk, kan ek bevestig dat Dawid reg was toe hy gesê het: “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?” (Psalm 116:12). Daar is niks wat Satan kon doen wat Jehovah nie ongedaan kon maak nie. Ek het ’n hegte, liefdevolle gesin met Jeff en Megan en J. T., wat almal Jehovah in eenheid dien; en boonop het ek ’n wonderlike wêreldwye gesin bygekry omdat ek aan Jehovah se organisasie behoort. Dit is iets waarvoor ek vir ewig dankbaar sal wees.—Soos vertel deur Karen Malone.

[Prent op bladsy 23]

Karen saam met haar man en twee kinders

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel