Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/22 bl. 15-18
  • Die raaisels van migrasie word ondersoek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaisels van migrasie word ondersoek
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Swaeltjie, waarom verlaat jy jou nes?”
  • Party van die antwoorde
  • Die raaisel van die “voël se kaart”
  • Die verstand agter die raaisel
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
  • Instink—aangebore wysheid
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • ‘Hou die voëls noukeurig dop’
    Ontwaak!—2014
  • Lesse wat ons leer by die voëls van die hemel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/22 bl. 15-18

Die raaisels van migrasie word ondersoek

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

DAAR is ’n ou liedjie oor die swaeltjies se terugkeer na die ou San Juan Capistrano-sendingstasie in San Juan Capistrano, Kalifornië, VSA. Daar word gesê dat hulle vir seker elke jaar op die 19de Maart na hulle neste daar terugkeer.

Europese swaeltjies volg ’n soortgelyke tydrooster. ’n Spaanse gesegde voorspel dat die sang van die swaeltjie teen die 15de Maart weer eens gehoor sal word.

In die Noordelike Halfrond het mense op die platteland die terugkeer van die swaeltjie, tradisioneel ’n voorloper van die lente, nog altyd verwelkom. Maar party nuuskieriges het ook gewonder waar hulle gedurende hulle winterafwesigheid was. Party het gedink dat hulle gehiberneer het. Ander het beweer dat hulle maan toe is—iemand het uitgewerk dat hulle binne twee maande daarheen kon vlieg. ’n Sestiende-eeuse Sweedse aartsbiskop het beweer dat swaeltjies die winter onderwater deurgebring het, in groepe op die bodem van mere en moerasse. Sy verhandeling het selfs ’n prentjie bevat waarin vissers ’n net vol swaeltjies uittrek. Hoewel hierdie idees nou vreemd klink, was die waarheid op die ou end byna net so eienaardig soos fiksie.

Gedurende hierdie eeu het voëlkundiges duisende swaeltjies gering. ’n Klein maar beduidende persentasie van hierdie geringde voëls is in hulle winterblyplekke opgespoor. Hoewel dit ongelooflik lyk, het swaeltjies uit Brittanje en Rusland duisende kilometers ver van hulle tuiste af saam oorwinter—in die heel suidoostelike punt van Afrika. Party van hulle Noord-Amerikaanse eweknieë vlieg suid tot in Argentinië of Chili. En swaeltjies is nie die enigste voëls wat sulke epiese reise onderneem nie. Honderdmiljoene voëls uit die Noordelike Halfrond oorwinter in die Suidelike Halfrond.

Voëlkundiges was verbaas om uit te vind dat ’n voëltjie so klein soos ’n swaeltjie ’n retoervlug van 22 500 kilometer onderneem het voordat hy die volgende lente na dieselfde nes teruggekeer het. Toe hulle uitvind waarheen die swaeltjies gegaan het, het dit net ingewikkelder vrae laat ontstaan.

“Swaeltjie, waarom verlaat jy jou nes?”

Wat laat ’n voël na die ander kant van die aarde vlieg? Of soos ’n Spaanse gesegde dit stel: “Swaeltjie, waarom verlaat jy jou nes?” Weens die koue of om kos te soek? Hulle behoefte aan ’n betroubare kosvoorraad is ongetwyfeld die antwoord en nie die begin van winter nie, want talle klein voëltjies wat die koue winters moeilik oorleef, migreer nie. Maar voëlmigrasie is nie net ’n swerftog opsoek na kos nie. Anders as menseswerwers wag voëls nie vir moeilike tye voordat hulle verder trek nie.

Wetenskaplikes het vasgestel dat dit die korter dag is wat tot die trekdrang aanleiding gee. In die herfs raak voëls in gevangenskap onrustig wanneer die dagligure verminder. Dit is selfs die geval wanneer hierdie toestand nagemaak word en wanneer die voëls deur navorsers grootgemaak is. Die voël in ’n hok kyk selfs in die rigting waarheen hy instinktief weet hy tydens migrasie moet vlieg. Klaarblyklik is dit ’n ingebore drang om op ’n spesifieke tyd van die jaar en in ’n vasgestelde rigting te migreer.

Hoe kan voëls oor groot afstande koers hou? Baie migreer oor oseane en woestyne wat geen bepaalde bakens het nie, en hulle doen dit bedags en snags. In party spesies trek die jong voëls op hulle eie sonder die hulp van ervare volwasse voëls. Op die een of ander manier hou hulle ondanks storms of sywinde by hulle roete.

Navigasie—veral oor eindelose oseane of woestyne—is beslis nie maklik nie. Dit het die mens duisende jare geneem om dit te bemeester. Christophorus Columbus sou dit ongetwyfeld nooit so ver oor die oseaan gewaag het sonder navigasieinstrumente soos die astrolabium en die magnetiese kompas nie.a Nogtans was dit, teen die einde van sy eerste seereis, die voëls wat hom gewys het hoe om in die Bahamas uit te kom. Hy het die gewoonte van antieke seevaarders gevolg en in ’n suidwestelike rigting begin vaar toe hy migrerende landvoëls in daardie rigting sien vlieg het.

As ’n mens met welslae wil navigeer, het jy ’n stelsel nodig om koers te hou, asook ’n manier waarop jy jou ligging kan bepaal. Eenvoudig gestel: jy moet weet waar jy in verhouding tot jou bestemming is en in watter rigting jy moet gaan om daar uit te kom. Mense is nie toegerus om so ’n taak sonder instrumente aan te pak nie—maar voëls kan dit klaarblyklik doen. Wetenskaplikes het geduldig data versamel wat lig werp op hoe voëls die regte rigting bepaal waarin hulle moet vlieg.

Party van die antwoorde

Posduiwe is die beste “proefkonyne” vir wetenskaplikes wat vasbeslote is om die raaisels van voëlnavigasie te ontrafel. “Matglasbrille” is vir geduldige duiwe aangesit sodat hulle nie spesifieke bakens kon sien nie. Ander is met magnetiese rugsakke toegerus om te keer dat hulle die aarde se magnetiese veld gebruik om hulle te lei. Party is selfs dwelmmiddels ingegee terwyl hulle na die plek geneem is waar hulle vrygelaat sou word om seker te maak dat daar geen manier is waarop hulle kon weet watter roete geneem is nie. Die vindingryke duiwe het elke probleem afsonderlik oorkom, hoewel ’n kombinasie van sekere struikelblokke verhinder het dat hulle terugkeer. Dit is duidelik dat voëls nie net op een navigasiestelsel staatmaak nie. Watter metodes gebruik hulle?

Eksperimente waarin kunsmatige sonne of naghemele gebruik is, toon dat voëls met behulp van die son gedurende die dag en die sterre gedurende die nag koers kan hou. Gestel die lug is bewolk. Voëls kan ook ’n roete vasstel deur die aarde se magnetiese veld te gebruik, asof hulle ’n ingeboude kompas het. Om na dieselfde nes of duiwehok toe terug te keer, moet hulle ook bekende bakens kan herken. Daarbenewens het navorsers ook gevind dat voëls baie gevoeliger vir klanke en reuke is as mense—hoewel hulle nie weet in watter mate hierdie vermoë vir navigasie gebruik word nie.

Die raaisel van die “voël se kaart”

Hoewel al hierdie navorsing baie daartoe bygedra het om vas te stel hoe voëls in ’n vasgestelde rigting kan vlieg, bestaan daar steeds ’n raaiselagtige probleem. Dit is een ding om ’n betroubare kompas te hê, maar om by die huis te kom, het jy ook ’n kaart nodig—eerstens om te bepaal waar jy is en dan om die beste roete te kies.

Watter “kaarte” gebruik voëls? Hoe weet hulle waar hulle is nadat hulle na ’n onbekende plek honderde kilometers van die huis af geneem is? Hoe bepaal hulle wat die beste roete is, wanneer hulle skynbaar geen kaarte of padwysers het om hulle te lei nie?

Die bioloog James L. Gould sê ’n voël se “kaartsin sal waarskynlik die onbegryplikste en boeiendste raaisel in dieregedrag bly”.

Die verstand agter die raaisel

Wat baie duidelik is, is dat migrasie instinktiewe gedrag is. Baie voëlspesies is geneties geprogrammeer om op sekere tye van die jaar te migreer, en hulle word gebore met die vermoë om goed koers te hou. Waar het daardie instinktiewe vermoë vandaan gekom?

Hierdie instinktiewe wysheid kon redelikerwys net van ’n wyse Skepper af kom, wat die voëls se genetiese kode kon “programmeer”. God het die aartsvader Job pertinent gevra: “Leer ’n valk by jou hoe om te vlieg wanneer hy sy vlerke na die suide toe uitsprei?”—Job 39:26, Today’s English Version.

Ná honderd jaar van intense navorsing oor voëlmigrasie het wetenskaplikes respek gekry vir die voëls se klein breintjie. Nadat wetenskaplikes die hooftrekroetes op kaarte getrek het, kon hulle net verstom staan oor die ongelooflike afstande wat party voëls aflê. Geslag na geslag, in die lente en herfs, trek miljoene migrerende voëls oor die aarde rond. Hulle hou koers met behulp van die son in die dag of die sterre in die nag. In bewolkte weer gebruik hulle die aarde se magnetiese veld, en hulle leer gou om bekende landskappe te herken. Hulle bepaal dalk selfs hulle rigting deur van reuk of infrasoniese golwe gebruik te maak.

Hoe hulle hulle roete bepaal, bly steeds ’n raaisel. Ons weet waarheen al die swaeltjies gaan; ons weet nie hoe hulle daar kom nie. Maar as ons in die herfs die swaeltjies sien saamdrom, kan ons maar net verstom staan oor die wysheid van God wat hierdie migrasie moontlik gemaak het.

[Voetnoot]

a Die astrolabium is gebruik om die breedteligging te bereken.

[Venster op bladsy 18]

Wêreldkampioentrekvoëls

Afstand. In die noordelike somer van 1966 is ’n arktiese sterretjie in Noord-Wallis, Groot Brittanje, gering. In Desember van daardie selfde jaar het hy—heel gepas—in Nieu-Suid-Wallis, Australië, opgedaag. Hy het binne ses maande meer as 18 000 kilometer gevlieg. So ’n prestasie is vir arktiese sterretjies moontlik niks ongewoons nie. In die loop van ’n jaar vlieg party van hierdie voëls gereeld reg om die aarde.

Spoed. Goue strandkiewiete is moontlik die vinnigste trekvoëls. Party van hierdie voëls het die 3 200 kilometer oor die oseaan tussen Hawaii en die Aleutian-eilande, Alaska, binne net 35 uur oorgesteek—teen ’n gemiddelde spoed van 91 kilometer per uur!

Uithouvermoë. Nieu-Engelandse sangvoëls van Noord-Amerika, wat net 20 gram weeg, is die beste langafstandvlieërs. Op hulle reis na Suid-Amerika vlieg hulle binne net drie en ’n half dae 3 700 kilometer aaneen oor die Atlantiese Oseaan. Hierdie buitengewone uithoutoets is al vergelyk met ’n man wat die myl 1 200 keer aaneen onder vier minute hardloop. Die vlug is ook ’n diëter se droom—die sangvoël verbrand byna die helfte van sy liggaamsgewig.

Stiptheid. Buiten die swaeltjie is die ooievaar (in die prentjie hierbo) ook bekend vir stiptheid. Die profeet Jeremia het die ooievaar beskryf as ’n voël wat ‘sy bestemde tyd goed ken’ asook sy tyd ‘om in te kom’ (Jeremia 8:7, NW). Byna ’n halfmiljoen ooievaars vlieg nog elke lente oor Israel.

Navigasievermoëns. Vir swartbekpylstormvoëls is dit oos wes, tuis bes. ’n Wyfie wat uit haar nes in Groot Brittanje geneem is, is ongeveer 5 000 kilometer daarvandaan in Boston, VSA, vrygelaat. Sy het die Atlantiese Oseaan binne 12 1/2 dae oorgesteek en tuis gekom voor die lugposbrief wat besonderhede oor haar vrylating bevat het. Die prestasie was selfs verstommender omdat hierdie voëls nooit oor die Noord-Atlantiese Oseaan migreer nie.

[Prent op bladsy 16]

Die ooievaar keer elke jaar stiptelik na sy nes terug

[Prent op bladsy 17]

Migrerende kraanvoëls in ’n tipiese V-formasie

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Foto: Caja Salamanca y Soria

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel