Hoe is ons wêreld vandag?
HET jy, wat oud genoeg is om 1945 te onthou, enige verandering in standaarde en sedes gesien? Miljoene het die “nuwe moraliteit” aangeneem, wat glo groter vryheid bied. Maar teen watter prys?
’n Sewentigjarige man wat gedurende die tweede wêreldoorlog in die Amerikaanse Vloot gedien het, het gesê: “Gedurende die veertigerjare het mense mekaar baie meer vertrou, en bure het mekaar gehelp. Waar ons in Kalifornië gewoon het, was dit nie eers nodig om ons deure te sluit nie. Daar was geen straatmisdaad nie, en daar was beslis geen gewapende geweld by skole nie. Sedertdien het vertroue so te sê verdwyn.” Wat is vandag die situasie in jou deel van die wêreld? Daar word berig dat die helfte van die tieners bo 14 in die stad New York wapens dra. Metaalverklikkers word in party skole gebruik om te probeer keer dat messe en vuurwapens ingedra word. Elke jaar raak ongeveer eenmiljoen tieners in die Verenigde State swanger, en 1 uit 3 ondergaan ’n aborsie. Jong tieners is reeds moeders—kinders met babas.
Die invloedryke homoseksuele en lesbiese drukgroepe het hulle lewenstyl op so ’n doeltreffende wyse bevorder dat al hoe meer mense dit vergoeilik en aangeneem het. Maar saam met ander word hulle ook deur siekte en die dood getref as gevolg van seksueel oordraagbare siektes soos vigs. Die vigs-epidemie het onder heteroseksuele en dwelmslawe versprei. Dit het groot verwoesting in Afrika, Europa en Noord-Amerika aangerig. En daar is geen einde in sig nie.
A History of Private Life sê: “Geweld, alkoholisme, dwelms: dit is die vernaamste vorme van afwykende gedrag in die Sweedse samelewing.” Daardie stelling geld vir die meeste lande in die Westerse wêreld. Met die ineenstorting van godsdienswaardes was daar ’n vloed van sedelike verdorwenheid, selfs onder baie van die geestelikes.
Dwelmmisbruik—toe en nou
In die veertigerjare was dwelmmisbruik byna onbekend onder die algemene bevolking van die Westerse wêreld. Ja, mense het wel van morfien, opium en kokaïen gehoor, maar net ’n betreklik klein groepie het hierdie dwelms misbruik. Daar was geen dwelmbase of -smokkelaars soos ons hulle vandag ken nie. Daar was geen verslaafdes op straathoeke nie. Wat is nou in 1995 die situasie? Baie van ons lesers ken die antwoord uit dit wat hulle in hulle eie buurt ondervind. Dwelmverwante moorde is besig om in baie van die wêreld se vernaamste stede iets alledaags te word. Politici en regters word deur magtige dwelmbase beheer wat kan beveel dat enige ontoegemoetkomende invloedryke persoon uit die weg geruim word. Die onlangse geskiedenis van Colombia en sy verbintenis met dwelms is bewys hiervan.
Die dwelmplaag veroorsaak elke jaar die dood van ongeveer 40 000 mense in die Verenigde State alleen. Daardie probleem het beslis nie in 1945 bestaan nie. Nadat regerings al dekades lank probeer om dwelmmisbruik uit te roei, verbaas dit ons nie dat Patrick Murphy, ’n voormalige polisiekommissaris van die stad New York, ’n artikel vir die Washington Post geskryf het met die opskrif: “Die stryd teen dwelms is verby—Dwelms het gewen”! Hy sê dat “die dwelmhandel . . . nou van die suksesvolste ondernemings in die [Verenigde State] is, met winste wat vanjaar tot $150 miljard [R545 miljard] kan beloop”. Die probleem is ontsaglik en lyk nie asof dit opgelos sal kan word nie. Dwelmmisbruik het ’n toenemende aantal klante en soos met enige ander vorm van verdorwenheid is die klante verslaafdes. Dit is ’n bedryf wat die ekonomie van etlike nasies stut.
John K. Galbraith, ’n professor van ekonomie, het in sy boek The Culture of Contentment geskryf: “Dwelmhandel, willekeurige skietery, ander misdaad en gesinsontwrigting en -verbrokkeling is nou alles deel van die alledaagse bestaan.” Hy sê dat minderheidsgemeenskappe in talle groot Amerikaanse stede “nou plekke van vrees en wanhoop is”. Hy skryf dat “meer ontevredenheid en maatskaplike onrus verwag kan word”. Waarom? Omdat die rykes, volgens hom, ryker word en die armes, “die laer klas”, wie se getalle toeneem, armer word.
Die tentakels van internasionale misdaad
Bewyse dat kriminele groepe hulle invloed oor die wêreld versprei, is besig om toe te neem. Georganiseerde misdaad, met sy “misdaadfamilies”, het al jare lank bande tussen Italië en die Verenigde State. Maar nou het die sekretaris-generaal van die VN Boutros Boutros-Ghali gewaarsku dat “georganiseerde misdaad op ’n transnasionale skaal . . . oor grense gaan en ’n universele mag word”. Hy het gesê: “In Europa, in Asië, in Afrika en in Amerika is die magte van die duisternis aan die werk en geen gemeenskap word gespaar nie.” Hy het ook gesê dat “transnasionale misdaad . . . die fondamente van die internasionale demokratiese orde ondermyn. [Dit] vergiftig die sakeklimaat, maak politieke leiers korrup en ondermyn menseregte.”
Die kaart het verander
Vaclav Havel, president van die Tsjeggiese Republiek, het in ’n toespraak in Philadelphia, VSA, gesê dat die twee belangrikste politieke gebeurtenisse in die tweede helfte van die 20ste eeu die ineenstorting van kolonialisme en die val van Kommunisme in Oos-Europa was. As ’n kaart van 1945 met een van 1995 vergelyk word, toon dit gou watter omwentelinge op die wêreldtoneel plaasgevind het, veral in Afrika, Asië en Europa.
Vergelyk die politieke situasie van die twee jaartalle met mekaar. Gedurende die 50 jaar wat tussen die twee jaartalle verloop het, het Kommunisme sy hoogtepunt bereik om op die ou end maar net in die meeste voormalige Kommunistiese lande van sy posisie onthef te word. In daardie nasies het totalitêre regerings vir die een of ander vorm van “demokrasie” plek gemaak. Maar baie mense ly as gevolg van die feit dat hulle samelewing na ’n markekonomie verander het. Werkloosheid vier hoogty, en dikwels is geld niks werd nie. In 1989 was die Russiese roebel R5,84 werd. Toe hierdie artikel geskryf is, was 1 180 roebel gelykstaande aan een rand!
Die tydskrif Modern Maturity het berig dat 40 miljoen Russe vandag onder die armoedegrens lewe. Een Rus het gesê: “Ons kan nie eers bekostig om dood te gaan nie. Ons kan nie die begrafnis bekostig nie.” Selfs ’n goedkoop begrafnis kos ongeveer 400 000 roebel. Liggame wat nie begrawe is nie, hoop by lykshuise op. Terselfdertyd moet daarop gelet word dat meer as 36 miljoen Amerikaners in die Verenigde State onder die armoedegrens lewe!
Die Guardian Weekly se finansiële beriggewer Will Hutton het oor Oos-Europa se probleme geskryf. Onder die opskrif “Betree die era van onrus” het hy gesê: “Die ineenstorting van Kommunisme en die terugtrekking van Rusland tot sy kleinste grootte sedert die 18de eeu is gebeure waarvan die implikasies nog beswaarlik verstaan word.” Ongeveer 25 nuwe state het die eertydse Sowjetryk vervang. Hy sê dat “die gejuig waarmee die ineenstorting van Kommunisme begroet is nou in toenemende kommer oor die toekoms verander het. . . . Verval in ekonomiese en politieke anargie is al hoe waarskynliker—en Wes-Europa kan nie verwag om immuun te bly nie.”
Met so ’n pessimistiese uitkyk is dit geen wonder nie dat Hutton sy artikel afsluit deur te sê: “Die wêreld het ’n beter kompas nodig as blote beroepe om demokrasie en markte—maar daar is nie een nie.” Waarheen kan die nasies hulle dus vir ’n oplossing wend? Die volgende artikel sal dit beantwoord.
[Venster op bladsy 10]
Die VN sedert 1945
Waarom was die VN, wat in 1945 tot stand gebring is, nie daartoe in staat om soveel oorloë te voorkom nie? Die sekretaris-generaal Boutros Boutros-Ghali het in sy toespraak “’n Agenda vir vrede” gesê: “Die Verenigde Nasies het magteloos voor baie van hierdie krisisse gestaan vanweë die veto’s—279 daarvan—wat in die Veiligheidsraad uitgespreek is en wat ’n duidelike blyk was van die verdeeldhede van daardie tydperk [van die Koue Oorlog tussen die kapitalistiese en die Kommunistiese regerings].”
Het die VN nie die vrede tussen die nasies probeer bewaar nie? Hulle het probeer, maar teen ’n hoë prys. “Dertien vredesoperasies is tussen die jare 1945 en 1987 in werking gestel; 13 ander sedertdien. Ongeveer 528 000 soldate, polisiemanne en burgerlike personeel was tot in Januarie 1992 in diens van die Verenigde Nasies. Meer as 800 uit 43 lande het in diens van die Organisasie gesterf. Die koste van hierdie operasies het tot in 1992 ongeveer $8,3 miljard [R30,1 miljard] beloop.”
[Erkenning]
Tenk en missiel: U.S. Army photo
[Venster op bladsy 11]
Televisie
Opvoeder of verderwer?
Betreklik min huise het in 1945 ’n televisie gehad. Dit was nog in ’n eenvoudige beginstadium van swart en wit beelde. Deesdae is TV ’n goedgekeurde dief en indringer in byna elke huis van die ontwikkelde wêreld en in elke dorp in die ontwikkelende wêreld. Alhoewel min van die programme opvoedkundig en opbouend is, bederf die meeste programme mense se sedelike waardes en gee dit toe aan die publiek se laagste smaak. As ’n mens die gewildheid van rolprente op video in ag neem, is die beskikbaarheid van rolprente van ’n pornografiese aard nog ’n spyker in die doodskis van goeie smaak en gesonde sedes.
[Prent op bladsy 9]
Oorloë, soos die een in Viëtnam, het sedert 1945 meer as 20 miljoen lewens geëis
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Patrick Frilet/Sipa Press
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Luc Delahaye/Sipa Press