Costa Rica—klein landjie, groot verskeidenheid
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA
DIT word gou duidelik dat Costa Rica ’n klein landjie is wanneer jy by die San José-lughawe, ’n paar kilometer buite die hoofstad, aankom. Een oomblik is jy bo die Karibiese See, en minute later vlieg jy oor die Stille Oseaan en maak jy jou gereed om te land. Costa Rica, ’n land met ongeveer driemiljoen inwoners, is ’n smal strook bergagtige en vulkaniese terrein wat Nicaragua van Panama skei. Dit is een van die sewe lande waaruit Sentraal-Amerika bestaan, wat die Ismus van Panama insluit, die landengte tussen Mexiko in Noord-Amerika en Colombia in Suid-Amerika.—Sien kaart op bladsy 17.
Wanneer jy jou eers tuis gemaak het, word jy deur die welige, groen prag van die platteland getref. Dit lyk asof daar oral palmbome, piesangplante en suikerriet- sowel as koffieplantasies en baie soorte eksotiese plante, struike en blomme is. Costa Rica is ’n botanis se paradys. Maar voordat ons deur hierdie fassinerende land weggevoer raak, kom ons delf so ’n bietjie in sy geskiedenis.
Nog ’n ontdekking deur Columbus
Op sy vierde seereis in 1502 is Christophorus Columbus met sy vloot langs die kus van wat vandag as Honduras bekend staan deur ’n storm oorval. Terwyl hy skuiling gesoek het, het hy al langs die deel van Nicaragua gevaar wat vandag die Muskietkus genoem word en by ’n klein inboorlingdorpie aan land gegaan wat as Cariari bekend staan. Hy was deur die hartlikheid van die mense en die welige plantegroei beïndruk. Hy was selfs meer beïndruk deur die goue ornamente wat party van die inboorlinge gedra het. Vanweë sy groot begeerte na goud het Columbus aangeneem dat hierdie kus ryk aan kosbare minerale moet wees. Sy verwagtinge is egter verydel, maar nie voor die Spaanse ontdekkers die land Costa Rica, of Ryk Kus, genoem het nie.
Met verloop van tyd het Costa Rica weggebreek van Spanje en onafhanklik geword. In 1949, ná ’n kort burgeroorlog, het die land uniek geword in hedendaagse geskiedenis—die waarnemende president, José Figueres, het ’n grondwet opgestel wat die weermag tot niet gemaak het! Hierdie radikale stap het party Amerikaanse Kwakers Costa Rica toe laat trek, waar hulle in Santa Elena ’n kaasfabriek opgerig het. Teen die agtergrond van die moeilikhede wat party Sentraal-Amerikaanse lande ondervind, is Costa Rica werklik ’n oase van vrede.
’n Land met groot verskeidenheid
Terwyl ons deur ’n klein deel van die land gereis het om die Poás- en Arenalvulkaan te besoek, was ons beïndruk deur die welige verskeidenheid van plante en bome, die tropiese blomme, die bewerkte blomkwekerye wat deur swart gaas beskerm word en die intensiewe aarbeiboerdery. Ons het klein gevoel langs die groot blare van die plant wat sombrilla del pobre (armmansambreel) genoem word. Die heuwels was bedek met donkergroen koffiestruike wat vol rooierige bessies was.
Skoenlappers kom oral in Costa Rica voor. Daar is ’n paar skoenlapperplase naby San José waar ’n mens skoenlappers in ’n natuurlike omgewing kan sien en fotografeer. Een reisgids sê dat “daar meer skoenlappers in hierdie klein landjie is as in die hele Verenigde State”. Dit sê ook dat “wetenskaplikes nou weet dat Costa Rica een van die gebiede met die grootste biologiese diversiteit ter wêreld is”. Dit is geen wonder nie dat botaniste en bioloë na die kleine Costa Rica stroom om die verskeidenheid van lewe daar te bestudeer.—Sien meegaande venster.
Costa Rica se voëllewe is nog ’n voorbeeld van verskeidenheid in die natuur. Jy moet wakker wees om sommige van die voëls te sien en selfs vinniger om hulle te fotografeer! Swerms groen parkiete kom en gaan altyd met ’n groot geraas. Bo ons het die zopilotes, of swartaasvoëls, gesweef terwyl hulle met hulle skerp oë na hulle volgende maaltyd gesoek het. Jy sal die lomp toekans, met hulle groot snawels, dalk vlugtig in die wouddak sien. Ons het die geeldyfink en die geelbors-kiskadeevlieëvanger tussen die bome deur sien vlieg. Ons het ook ’n kolibrie vlugtig gesien terwyl hy oor nabygeleë blomme gefladder het op soek na ’n bietjie nektar. By die ZooAve (Voëldieretuin) het ons ons verkyk aan allerhande soorte voëls wat in Costa Rica voorkom. Daar was die veelkleurige, lawaaierige arapapegaaie wat hulle teenwoordigheid bekend gemaak het. Maar ongelukkig moes te veel ander voëls in hokke gehou word, onder andere ’n gesin van vier uile wat langs mekaar gesit en tog so wys gelyk het.
Costa Rica is bekend vir sy groot verskeidenheid nasionale en privaat parke, Indianereservate asook wildreservate. Trouens, byna 27 persent van die land is vir bewaring opsygesit, die grootste verhouding van enige land ter wêreld. As jy dus bereid is om te reis, het jy ’n wye keuse van terrein en ekologiese omgewing wat jy kan besoek.
As jy wel Costa Rica besoek, is daar ten minste een klein waarskuwing waarvan jy kan kennis neem. As jy ’n voertuig daar bestuur, sal jy nie blameer word as jy dink dat baie van die bestuurders voor jou dronk is nie. Waarom? Omdat hulle dikwels sonder waarskuwing in en uit sal swenk. Wat doen hulle? Hulle vermy die groot slaggate wat oral op die land se paaie voorkom. Gevolglik het een toeristebrosjure aangaande die bekende Monteverde Cloud-bosreservaat gesê: “[Dit] kan slegs bereik word deur verskriklike padtoestande etlike ure lank te verduur; ’n besoek van etlike dae word aanbeveel eerder as ’n kort besoek aan die reservaat.” As jy natuurlik in ’n voertuig met ’n goeie veerstelsel en taai bande reis, sal jy moontlik minder deur hierdie slaggate gehinder word.
Daar is waarlik soveel dinge om in Costa Rica te sien en te ervaar dat ’n vakansie van twee weke jou skaars in staat sal stel om die prag en verskeidenheid van hierdie fassinerende land te begin sien. Een hotel het ’n paar diere in ’n miniatuurdieretuin gehad. Die wag het ons goedgunstiglik in die hokke toegelaat om ’n toekan en ’n lenige oselot te fotografeer. Verskeidenheid is ook ’n kenmerk van Costa Rica se gasvrye mense.
’n Unieke byeenkoms van ticos
Wat is ticos? Dit is die naam wat algemeen aan die mense van Costa Rica gegee word. Dit is afkomstig van die gebruiklike verkleiningsuitgang -ico in die Spaanse taal. Byvoorbeeld, chiquitico vir klein, bonitico vir oulik of mooi en jovencitico vir jonk. In die dorp Sarchí is die tico-ambagsmanne bekend vir hulle oorspronklike carretas, of oskarre, wat met die hand geverf is. Elke oskar is ’n unieke kunswerk. Toeriste koop honderde van die klein replikas.
Aan die einde van 1994 het die ticos die geleentheid gehad om iets baie spesiaals in hulle Katolieke land te sien. Van 30 Desember tot 1 Januarie 1995 is ’n godsdiensbyeenkoms van Jehovah se Getuies in die nasionale sokkerstadion in Sabana-park, San José, gehou. Die Bybelse tema vir die byeenkoms was Temor Piadoso (Godvrugtige Vrees), en Getuies het van oor die hele land gekom, terwyl klein afvaardigings van ander Sentraal- en Suid-Amerikaanse lande daar opgedaag het. Costa Rica het meer as 15 000 bedrywige Getuies. Wat sou die bywoningsyfer tydens hierdie spesiale geleentheid wees? Vrydag was daar 21 726 mense—jonk, oud, ouers, kinders, en almal was netjies en beskeie aangetrek. Saterdag het die opkomssyfer tot 25 539 gestyg, en 681 is in drie groot swembaddens gedoop wat aan die een kant van die veld opgerig is. Sondag het die bywoningsyfer tot 27 149 gestyg! Hoe opwindend was dit tog vir die sendelinge, die pioniers (voltydse bedienaars) en die nederige mans, vrouens en kinders wat so hard werk om Costa Rica se gebied van huis tot huis te dek. En hoe bemoedigend was dit tog om soveel gesinne in die opelugstadion te sien onder hulle veelkleurige sambrele wat hulle teen die son beskerm!
Ná afloop van die program het duisende hulle sakdoeke uitgehaal en vir mekaar totsiens gewaai. Dit was ’n roerende oomblik.
Costa Rica het God se nuwe wêreld nodig
Hoewel daar baie dinge in hierdie land is wat ’n mens aan ’n paradys laat dink—sy verskeidenheid flora en fauna en sy aangename klimaat—het die ticos, net soos die mense van enige ander land, die ‘nuwe hemele en die nuwe aarde’ nodig wat Jehovah deur middel van Christus Jesus belowe het (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4). Net soos daar wêreldwyd gesien kan word, is daar tekens van armoede, met gesinne wie se behuising ontoereikend is. Dan is daar ook siekte en die dood, wat die hele mensdom teister. Daarom verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryksheerskappy ywerig, die Koninkryk waarvoor alle opregte Christene in die bekende Onse Vader, of die Gebed van die Here, bid. Onder daardie beloofde regverdige heerskappy sal Costa Rica se groot verskeidenheid nog opvallender wees, tot God se ewige lof.
[Venster op bladsy 19]
Costa Rica se ryk diversiteit
Die boek Costa Rica—A Natural Destination sê: “Costa Rica is ryk aan spesies. Hierdie klein landjie wat minder as drie tienduisendstes [0,03%] van die aarde se oppervlak beslaan, is die tuiste van 5 persent van al die plant- en dierspesies wat bekend is.” Daar is byvoorbeeld:
’n Minimum van 830 voëlspesies, met inbegrip van toekans en kwetsals
’n Minimum van 35 000 insektespesies
’n Minimum van 9 000 vaatplantspesies
’n Minimum van 208 soogdierspesies, met inbegrip van oselotte
’n Minimum van 220 reptielspesies, met inbegrip van groot iguanas
’n Minimum van 160 amfibiespesies, met inbegrip van pylgifpaddas
’n Minimum van 130 varswatervisspesies
Party wetenskaplikes reken dat daar eenmiljoen spesies in Costa Rica kan wees.
[Venster op bladsy 19]
Vulkane
Dit is bekend dat daar 112 kraters is wat van uitgedoof tot aktief wissel. Die indrukwekkende Arenalvulkaan, wat meer as 1 500 meter hoog is, is een van die aktiefste vulkane ter wêreld. As jy dit wil sien, sal dit goed wees as jy die weervoorspelling nagaan voordat jy die veeleisende reis op die paaie vol slaggate onderneem. Die Arenalvulkaan is dikwels met wolke bedek.
Irazúvulkaan is meer as 3 400 meter hoog. Dit was van 1963 tot 1965 aktief.
Poásvulkaan, wat meer as 2 700 meter hoog is, is ’n berg met twee oë—een wit oog in die kokende, aktiewe krater en die ander, ’n blou meer wat deur welige woude omring word.
[Kaart op bladsy 17]
NICARAGUA
COSTA RICA
Arenal
Monteverde
Poás
Sarchi
San José
Cartago
Limón
PANAMA
[Prente op bladsy 16, 17]
Bladsy 16:
Toekan- en Arenalvulkaan
Bladsy 17:
1. Krater van die Poásvulkaan
2. Arapapegaai
3. Volksdanse
4. Bromelia
5. Sambreelplant
6. Iguana
7. Oselot
[Prente op bladsy 18]
“Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms in San José; 681 is gedoop, onder andere Digna (heel regs)