‘Dankie dat Ma my huis toe gebring het’
EK WAS altyd senuweeagtig wanneer Glen, my man, gaan vlieg het, en ek kon nie wag dat hy moes huis toe kom nie. Hy het gewoonlik vir die plesier gevlieg. Hierdie keer is hy gehuur om ’n paar lugfoto’s te neem. Ons jonger seun, Todd, het saam met hom gegaan. Glen was altyd ’n veilige vlieënier en het nooit onnodige kanse gewaag nie.
Toe die telefoon daardie Sondagmiddag, 25 April 1982, gelui het, het ek dit met ’n aaklige voorgevoel geantwoord. Dit was my swaer. “Glen en Todd was in ’n vliegtuigongeluk”, het hy gesê. “Ons sal jou by die hospitaal kry.”
Ek en my 13-jarige seun, Scott, het ’n gebed gedoen en ons na die hospitaal gehaas. Toe ons daar aankom, het ons uitgevind dat Glen se vliegtuig sowat 100 kilometer noord van New York-stad neergestort het. (Die presiese oorsaak van die ongeluk is nooit vasgestel nie.) Glen en Todd het nog geleef, maar hulle toestand was kritiek.
Ek het die wetlike vorms geteken wat die hospitaal toestemming verleen het om die nodige behandeling te gee. Maar as een van Jehovah se Getuies het ek nie tot die gebruik van ’n bloedoortapping ingestem nie. As ek dit gedoen het, sou ek die Bybel se opdrag om ons ‘voortdurend van bloed te onthou’, oortree het (Handelinge 15:28, 29). Glen het ’n mediese dokument by hom gehad wat duidelik getoon het wat sy oortuiging hieroor was. Ons het die dokters egter toestemming gegee om bloedlose volume-uitdyers te gebruik.a
Glen het ernstige kop- en borsbeserings gehad. Hy het binne ’n paar uur gesterf. Die moeilikste ding wat ek nog ooit in my lewe moes doen, was om in die wagkamer in te loop en my seun Scott te vertel dat sy vader gesterf het. Hy het net aan my geklou en gesê: “Wat gaan ek nou doen? Ek het so pas my beste vriend verloor!” Ja, Glen was albei sy seuns se beste vriend en het tyd saam met hulle in ontspanning en aanbidding deurgebring. Hy was ook my beste vriend en my man. Sy dood was ’n verskriklike verlies.
Ons bly by ons oortuiging
Todd het ’n gebreekte been en vinger, vergruisde wangbene en ernstige breinbeserings gehad. Hy het in ’n koma gegaan. Hoe moeilik was dit tog om na my negejarige seuntjie te kyk, wat net ure tevore vol lewe was! Todd was altyd ’n aangename, aktiewe klein seuntjie. Hy was spraaksaam en het daarvan gehou om te sing en te speel. Nou was hy nie eers bewus van ons teenwoordigheid nie.
Aangesien die dokters bang was dat Todd ’n operasie nodig sou hê, het hulle daarop aangedring dat ek tot ’n bloedoortapping inwillig. Ek het geweier. In reaksie hierop het hulle ’n hofbevel verkry wat hulle toestemming gegee het om bloed te gebruik. Dit was egter nie nodig dat hulle opereer nie, en Todd het geen interne bloeding gehad nie. ’n Paar dae later het die dokters egter vir my gesê dat hulle hom in elk geval bloed gaan gee. Ons was verstom! “Ons moet dit net doen!” was die enigste verduideliking wat sy dokter ons gegee het. Hulle het ons godsdiensoortuiging verontagsaam en Todd drie eenhede bloed gegee. Ek het heeltemal hulpeloos gevoel.
Ons was ná die ongeluk etlike dae lank voorbladnuus. Die plaaslike koerant het lesers onder die indruk gebring dat Glen weens sy weiering van bloed gesterf het en het selfs ’n plaaslike geneesheer aangehaal wat dit gesê het! Dit was nie die waarheid nie. Die lykskouer het later bevestig dat Glen eenvoudig nie sy ernstige kop- en borsbeserings sou oorleef het nie. Gelukkig is ’n paar Getuiebedienaars deur die plaaslike radiostasie genooi om ons Bybelse standpunt te verduidelik. Dit het goeie publisiteit tot gevolg gehad, en Jehovah se Getuies se standpunt oor bloed het ’n algemene onderwerp vir bespreking in ons huis-tot-huis-bediening geword.
Pogings om Todd by te bring
Todd was steeds in ’n koma. Toe, op 13 Mei, het ’n verpleegster hom omgerol en uiteindelik het hy sy oë oopgemaak! Ek het hom omhels en met hom probeer praat, maar daar was geen reaksie nie. Hy kon nie eers sy oë knip of my hand druk nie. Maar van toe af het hy geleidelik vordering gemaak. Wanneer ons in die kamer ingestap het, het sy kop na die deur toe gedraai. Wanneer ons met hom gepraat het, het hy na ons gekyk. Het Todd werklik geweet dat ons daar was? Ons het nie geweet nie. Ons het hom dus verstandelik en fisies begin stimuleer. Ons het van die eerste dag af met hom gepraat, vir hom gelees en musiek- en Bybelse kassette vir hom gespeel. Ek het selfs my ghitaar vir hom gespeel; dit was terapie vir ons albei.
Ons het baie hulp van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies ontvang. My ouer seun, Scott, het onlangs gesê: “Twee gesinne het my so te sê as hulle eie seun in hulle huis aanvaar en het my saam met hulle op vakansies geneem.” Daarbenewens het party ons gras gesny, ons wasgoed gewas en vir ons etes voorberei. Vriende en familielede het ook beurte gemaak om deur die nag by Todd in die hospitaal te bly.
Todd kon egter weke lank nie op sulke aandag reageer nie—nie eers met ’n glimlag nie. Toe doen hy longontsteking op. Die dokter het my toestemming gevra om Todd weer op ’n respirator te plaas. Die risiko was dat hy permanent daarvan afhanklik sou word. Stel jou net voor: Hierdie saak van lewe of dood is aan my oorgelaat! Maar in verband met ’n bloedoortapping het hulle my wense heeltemal geïgnoreer! Hoe dit ook al sy, ons het op die respirator besluit en gehoop dat alles goed sou uitwerk.
Daardie middag het ek huis toe gegaan om my op te knap. Op die grasperk voor ons huis het ’n regeringsamptenaar gewag. Hy het ons in kennis gestel dat ons ons huis moet verkoop om vir paduitbreiding plek te maak. Nou het ons met nog ’n groot krisis te kampe gehad. Ek het altyd vir ander gesê dat Jehovah ons nooit meer sou laat verduur as wat ons kan hanteer nie. Ek het dan die woorde in 1 Petrus 5:6, 7 aangehaal: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy is besorg oor julle.” Nou, soos nog nooit vantevore nie, is my geloof en vertroue in God op die proef gestel.
Die weke het gekom en gegaan, en Todd het die een infeksie na die ander opgedoen. Die dae was gevul met bloedtoetse, ruggraatprikke, been- en breinaftastings, longprikke asook eindelose x-strale. Teen Augustus was Todd se temperatuur uiteindelik weer normaal. In Augustus is Todd se voedings- en trageale buise verwyder! Nou het ons voor die grootste uitdaging te staan gekom.
Tuiskoms
Dokters het vir ons gesê dat dit in Todd se belang sou wees om hom na ’n inrigting te stuur. Een dokter het ons daaraan herinner dat ek en Scott ons eie lewe het om te lei. Selfs welmenende vriende het soortgelyke gevoelens uitgespreek. Wat hulle egter nie besef het nie, was dat Todd juis deel van ons lewe was! En as ons by die huis vir hom kon sorg, sou hy omring wees deur diegene wat hom liefhet en dieselfde geloof as hy beoefen.
Ons het ’n rolstoel en ’n hospitaalbed gekoop. Met behulp van ’n paar vriende het ons my slaapkamermuur uitgebreek, glasskuifdeure ingesit en ’n buitemuurse platform en oprit gebou sodat Todd direk na sy slaapkamer gestoot kon word.
Op die oggend van 19 Augustus het die tyd aangebreek om my seun wat nog halfbewusteloos was huis toe te bring. Todd kon sy oë oopmaak en sy regterbeen en -arm effens beweeg, maar sy dokter het voorspel dat hy nie verder sou verbeter nie. ’n Paar weke later het ons Todd na ’n hoogaangeskrewe neuroloog geneem, en maar net ’n herhaling van daardie woorde gehoor. Dit was nietemin ’n wonderlike gevoel om hom huis toe te bring! My ma en ’n paar goeie vriende het daar vir ons gewag. Ons het daardie aand selfs saam na die Koninkryksaal gegaan. Dit was ’n voorsmaak van die groot inspanning wat dit sou verg om Todd te versorg.
Hoe ons Todd tuis versorg het
Dit was uiters tydrowend om ’n gestremde persoon te versorg. Dit het Todd meer as ’n uur geneem om ’n maaltyd te nuttig. Dit neem my steeds byna ’n uur om hom ’n sponsbad te gee, hom aan te trek en sy hare te was. ’n Kolkbad kan hom goed twee uur neem. Om met Todd te reis, is ’n groot taak wat aansienlike fisiese inspanning verg. Hoewel hy onlangs baie verbeter het, is dit vir Todd baie moeilik om regop te sit, selfs met behulp van ’n verstelbare rolstoel; hy moes gewoonlik op die vloer lê. Ek het jare lank saam met hom op die vloer agter in die Koninkryksaal gesit. Ons het nietemin nie toegelaat dat dit ons daarvan weerhou om Christelike vergaderinge by te woon nie, en ons was gewoonlik betyds.
Ons geduldige pogings is beloon. Die dokters het ’n tyd lank gedink dat die ongeluk Todd doof en blind gemaak het. Ek het my seuns egter voor die ongeluk gebaretaal begin leer. Gedurende Todd se eerste week tuis het hy ja of nee in gebaretaal begin antwoord op vrae wat ons hom gevra het. Hy het later die vermoë ontwikkel om met sy vinger na dinge te wys. Ons het hom foto’s van vriende gewys en hom gevra om sekeres te identifiseer deur met sy vinger na hulle te wys, en hy het dit met welslae gedoen. Hy kon ook syfers en letters korrek identifiseer. Ons het later na woorde oorgegaan. Sy kognitiewe vaardighede was onaangetas! In November, net sewe maande ná die ongeluk, het iets gebeur waarvoor ons lank gewag het.
Todd het geglimlag. Teen Januarie het hy ook gelag.
Soos julle sal onthou, is ons genoodsaak om ons huis te verkoop. Maar dit was ’n bedekte seën, aangesien ons dubbelverdiepinghuis klein was en Todd se beweeglikheid baie beperk het. Aangesien ons min geld gehad het, sou dit moeilik wees om ’n huis te vind wat in ons behoeftes voorsien het. ’n Goedhartige eiendomsagent het egter een gevind. Die huis het aan ’n wewenaar behoort wie se vrou aan ’n rolstoel gekluister was; dit was ontwerp met haar behoeftes in gedagte. Net reg vir Todd!
Die huis moes natuurlik skoongemaak en geverf word. Maar toe ons gereed was om te verf, het meer as 25 vriende van ons gemeente met rollers en verfkwaste daar opgedaag.
Hoe ons daaglikse probleme die hoof gebied het
Glen het altyd na die gesin se geldelike sake, die rekeninge ensovoorts, omgesien. Ek het hierdie verantwoordelikheid sonder veel moeite oorgeneem. Maar Glen het nie gedink dat dit belangrik is om ’n testament of behoorlike versekering te hê nie. Dit sou ons baie finansiele probleme gespaar het—probleme wat vandag nog bestaan—as hy die tyd geneem het om na hierdie sake om te sien. Ná ons ondervinding het baie van ons vriende hulle sake in orde begin bring.
Nog ’n uitdaging was om in ons emosionele en geestelike behoeftes te voorsien. Nadat Todd van die hospitaal af huis toe gekom het, het party gemaak asof die krisis verby was. Scott het egter nog steeds hulp en aanmoediging nodig gehad. Die kaartjies, briewe en telefoonoproepe wat ons ontvang het, sal altyd kosbare herinneringe wees. Ek onthou ’n brief van iemand wat ons finansieel gehelp het. Die brief het gesê: “Ek gaan nie hierdie brief onderteken nie, omdat ek nie wil hê dat julle my moet bedank nie, maar dat julle Jehovah moet bedank, aangesien hy die een is wat ons beweeg om liefde teenoor mekaar te betoon.”
Maar ons het geleer om nie heeltemal van ander afhanklik te wees vir aanmoediging nie, maar om positiewe stappe ten behoewe van onsself te doen. Wanneer ek terneergedruk voel, probeer ek dikwels aan ander dink. Ek hou daarvan om te bak en te kook, en van tyd tot tyd sal ek vriende onthaal of sommer iets bak en dit weggee. Wanneer ek werklik afgerem is of ’n blaaskansie nodig het, kom daar altyd ’n uitnodiging na aandete of middagete of om ’n naweek saam met vriende weg te gaan. Soms sal iemand selfs aanbied om ’n rukkie by Todd te bly sodat ek takies of inkopies kan doen.
My ouer seun, Scott, was ook ’n wonderlike seën. Wanneer Scott ook al kon, het hy Todd saam met hom na gesellighede toe geneem. Hy was altyd daar om op die een of ander manier met Todd se versorging te help, en hy het nooit gekla dat hy te veel verantwoordelikhede het nie. Scott het eenkeer gesê: “As ek soms gewens het dat ek ’n ‘normaler’ lewe kon lei, het ek onmiddellik gedink aan hoe my ondervinding my nader aan God gebring het.” Ek dank Jehovah daagliks vir so ’n liefdevolle, geestelikgesinde seun. Hy dien as ’n bedieningskneg in hulle gemeente en geniet dit om saam met sy vrou as ’n voltydse evangeliedienaar te dien.
En wat van Todd? Hy het goeie vordering bly maak. Binne ’n paar jaar het hy weer begin praat. Dit was eers klein woordjies, toe sinne. Nou kan hy selfs tydens Christelike vergaderinge kommentaar lewer. Hy werk hard daaraan om vlotter te praat, en spraakterapie het hom gehelp. Hy hou steeds daarvan om te sing—veral by die Koninkryksaal. Hy is ook altyd optimisties. Hy kan nou met behulp van ’n loopraam staan. ’n Ruk gelede het ons die geleentheid gehad om dele van ons ondervinding by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies te vertel. Toe Todd gevra is wat hy graag aan al die broers en susters teenwoordig wou sê, het hy gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Ek sal beter word.”
Ons is alle dank aan Jehovah verskuldig omdat hy ons deur dit alles onderskraag het. Ons het inderdaad geleer om soos nog nooit vantevore nie op hom te vertrou. Al daardie slaaplose nagte, al die harde werk wat daarby betrokke was om in Todd se persoonlike behoeftes om te sien en om hom gemaklik te hou, al die opofferings wat ons gemaak het, was die moeite werd. ’n Ruk gelede toe ons besig was om ontbyt te eet, het ek opgekyk en gesien dat Todd met ’n groot glimlag op sy gesig na my kyk. Hy het gesê: “Ma, ek is lief vir jou. Dankie dat Ma my van die hospitaal af huis toe gebring het.”—Soos vertel deur Rose Marie Boddy.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure “Hoe kan bloed jou lewe red?” wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word vir inligting oor die Bybelse standpunt in verband met bloedoortappings en die gebruik van bloedlose produkte.
[Lokteks op bladsy 13]
Die moeilikste ding was om my seun Scott te vertel dat sy vader gesterf het
[Prent op bladsy 15]
Saam met my seuns