Jongmense vra . . .
Te jonk getroud—Kan ons ’n sukses daarvan maak?
“Ek was 16 toe ons begin uitgaan het. Toe ek 18 was, het ons getrou. Dit sou wonderlik wees—vir ewig! Maar ná ongeveer vier maande het die druk my tot raserny gedryf.”—Tonya.a
DIE huwelik kan ontnugterend wees, ongeag hoe oud jy is. Die Bybel sê: “Diegene wat trou, sal pyn en verdriet hê” (1 Korintiërs 7:28, The New English Bible). Maar vir baie wat in “die bloei van die jeug” trou, lyk dit dikwels asof die pyn en verdriet in ondraaglike dosisse kom.—1 Korintiërs 7:36.
Dit is hoofsaaklik omdat tieners nog grootword; hulle is selde daarvoor toegerus om die rol van ’n getroude man of vrou te vervul. Dr. Jane K. Burgess sê: “Jongmense is uiters idealisties oor die huwelik. Hulle dink nie aan die alledaagse soort werk en inspanning wat ’n suksesvolle huwelik gaan verg nie.” Die werklikhede van die huwelik kan ’n egpaar dus met al die hartlikheid en bekoorlikheid van ’n klap in die gesig tref.
“Jy verwag dat alles so wonderlik gaan wees, soos ’n sprokie”, sê jong Kim. “Maar dit is gou nie meer ’n nuwigheid nie, en dan is dit kosmaak, skottelgoed, inkopies, wasgoed—terwyl jou man op die rusbank sit. Dit was nooit vir hom nodig om sulke huiswerk te doen nie omdat sy ma dit alles vir hom gedoen het. Moegheid en geïrriteerdheid is nooit ’n kwessie wanneer julle uitgaan nie. En wanneer jy swanger raak, raak alles tien maal erger!”
Tieners trou ook dikwels met onbesonne haas. “Ek het met ’n man getrou wat ek gedink het ’n ware Christen is”, sê Helen. “As gevolg van my eie gebrek aan ondervinding het ek hom nie goed genoeg leer ken nie. Ná ons tien maande getroud was, kon ek sy onchristelike gedrag nie meer verdra nie.” Helen se mislukte huwelik is geensins uniek nie. In die Verenigde State verbrokkel die meeste tienerhuwelike binne vyf jaar.
Ondanks hierdie ontstellende statistiek het miljoene tieners halsoorkop in die huwelik getree. Miskien is jy een van hulle. Indien dit die geval is, voel jy miskien reeds oorweldig deur die druk van die huwelik.
Is daar enige uitkoms?
Hoewel dit nie verstandig is om jonk te trou nie, is dit nie noodwendig ’n sonde nie. Die huwelik is eerbaar in God se oë (Hebreërs 13:4). Party uiterste omstandighede kan weliswaar ’n skeiding of ’n egskeiding regverdig (Matteus 19:9; 1 Korintiërs 7:12-15). God vereis egter oor die algemeen dat egpare bymekaar bly (Matteus 19:6). Hoewel dit moontlik na ’n streng vereiste lyk, beteken dit ook dat God wil hê dat jy ’n sukses daarvan moet maak.
Een tiener-eggenoot sê: “Dis te laat vir: ‘Was ek te jonk? Pas ons werklik by mekaar?’ en al die ander vrae. Jy’s getroud!” Pleks dat julle dus julle lot betreur, kan julle gerus ’n manier probeer vind om ’n sukses van julle huwelik te maak.
Wie moet die leiding neem?
Die Bybel sê aan egpare: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here . . . ’n man is die hoof van sy vrou” (Efesiërs 5:22, 23). Wanneer ’n jong man egter sy hele lewe onder die beskermende sorg van sy ma en pa deurgebring het, kan dit ’n ontsagwekkende verantwoordelikheid wees om ’n gesinshoof te word.
Een jong vrou sê omtrent haar man: “Tom wou nie hê dat ek enigsins op my eie moes uitgaan nie. Ek het vasgevang, ingehok, gevoel. Elke keer wanneer ek hom oor iets probeer uitvra het, het hy gedink dat ek teen sy gesag in opstand kom.” Daarenteen vind party vrouens dit moeilik om hulle jong eggenoot as hulle hoof te beskou. Ander raak dalk wrewelrig as dit enigsins lyk dat die man ’n besluit gaan neem en weier dan om hulle samewerking te gee as hulle nie met die besluit saamstem nie.
Dit kan uiters onrusbarend wees as jy maar onlangs ’n gesinshoof geword het. Maar daar is werklik geen rede om ontsteld te raak bloot omdat jou bruid haar nie haas om al jou opdragte te gehoorsaam nie. Dit sal jou vrou tyd neem om veilig onder jou hoofskap te voel. Intussen moet jy daaraan werk om haar respek te verdien, nie deur haar te probeer oorheers nie, maar deur die leiding te neem en gebalanseerde besluite te probeer neem.—Vergelyk 1 Korintiërs 16:13.
Die Bybel maan verder: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Ja, eer jou vrou deur haar belange bo jou eie te stel (Filippense 2:4). Gee haar vryheid deur haar as ’n gerespekteerde metgesel te behandel, en nie as ’n slaaf nie. (Sien Maleagi 2:14.) Wanneer dit ook al moontlik is, moet jy haar raadpleeg wanneer belangrike besluite geneem moet word (Spreuke 13:10, NW). Dit sal dit vir haar makliker maak om haar aan jou hoofskap te onderwerp.
Maar gestel jy is ’n jong getroude vrou. Dit kan jou geduld beproef om jou aan jou jong man te onderwerp wanneer sy gebrek aan volwassenheid soms pynlik ooglopend is of wanneer hy nie baie goeie oordeel aan die dag lê nie. Dit sal jou lot egter nie baie verbeter as jy hom berispe of teen hom in opstand kom nie. “Hoe meer sy teen my uitgevaar het, hoe stiller het ek geraak”, het een jong gesinshoof erken. Probeer aan hom eer betoon deur sy gebrek aan ondervinding in aanmerking te neem. Hy sal dalk net hierop reageer deur groter respek vir jou standpunt te toon. As hy ’n besluit neem wat jou irriteer—maar wat nie in stryd is met enige sedewette nie—kan jy hom maar gerus jou samewerking gee. “Die wysheid van bo is . . . bereid om te gehoorsaam” (Jakobus 3:17). Deur sy hoofskap te ondersteun, kan jy hom help om meer bevoeg te word.
Geldelike probleme
Party sê dat geld die vernaamste probleem vir jong egpare is. Egpare is dikwels geskok om uit te vind wat dit kos om ’n bestaan te voer. Ray en Lora het byvoorbeeld ná hulle troue “geen kos of geld gehad nie”. “Ons het op die vloer geslaap”, erken hulle. Brad en Tonya het soortgelyke ekonomiese druk ervaar toe Brad sy werk verloor het—en Tonya die rekeninge moes betaal.
Hoewel dit weliswaar vir jongmense dikwels moeilik is om goed besoldigde werk te vind, is geldelike probleme soms die gevolg van die swak hantering van geldsake. Dink aan die jong vrou wat sê: “Ek bestee eenvoudig die geld totdat dit alles op is, en dan het ek niks vir die laaste week van die maand nie.” Ander egpare ly omdat hulle nie met mekaar kommunikeer nie. “Ek het ’n motor gaan koop sonder dat ek dit met haar bespreek het”, erken ’n jong man genaamd Jake. “Wat ons werklik nodig gehad het, was meubels”, kla sy vrou.
Klink dit bekend? Dan het jy moontlik nog nie “die eienskappe van ’n klein kindjie” afgelê wat die hantering van geldsake betref nie (1 Korintiërs 13:11). Koop jy op die ingewing van die oomblik? Leer dan om ’n inkooplys te maak, en bly daarby. Bespreek groot aankope (Spreuke 15:22). Hou boek van jou uitgawes en stel ’n redelike begroting op.b Deur dit te doen, kan julle julleself baie finansiële spanning spaar.
Kan ons praat?
Hiermee kom ons by wat party die tweede grootste probleem onder jong egpare noem: kommunikasie. Party egpare sonder hulle af in gespanne stilte. Ander skreeu en skel op mekaar. “Die hewigste argumente wat [ons] gehad het, was oor die onbenulligste dinge”, sê Sylvia, ’n geskeide vrou. “Omdat hy byvoorbeeld sy skoene oral in die huis laat rondlê, of omdat ek uit sy bord peusel.”
Daar gaan misverstande en meningsverskille wees. Maar “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal” ondermyn eenvoudig die huwelik (Efesiërs 4:31). Maak ’n gewoonte daarvan om dinge te bespreek terwyl ’n irritasie nog klein is. Wanneer julle dit doen, moet julle werk maak van die probleem—moenie die persoon aanval nie. As dinge buite beheer begin raak, moet jy weier om ’n argument aan te blaas. “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood”, sê Spreuke 26:20. Later, wanneer julle albei bedaar het, kan julle weer probeer om dinge te bespreek.
Goeie kommunikasie is ook die sleutel tot die oplossing van nog ’n algemene probleem: seksuele ontevredenheid. Soms is ’n jong egpaar vanweë hulle nuwe roetine eenvoudig te moeg om geslagsgemeenskap te geniet. Die boek Building a Successful Marriage sê: “Mans en vrouens tree in die huwelik met baie verkeerde inligting oor die rol en funksie van geslagsomgang.” Baie egpare wat om die bos gelei is deur die wêreld se propaganda het uiters onrealistiese verwagtinge in hierdie verband. Selfsug en ’n gebrek aan selfbeheersing speel ook ’n rol. Openhartige kommunikasie, asook tyd en geduld, is onontbeerlik. Wanneer elkeen ‘die voordeel van die ander persoon soek’, is geslagsomgang selde ’n ernstige probleem.—1 Korintiërs 10:24.
Dit is dus duidelik dat die huwelik nie vir kinders bedoel is nie. As jy reeds getroud is, is jy nie tot mislukking gedoem nie. “My eerste jaar van getroude lewe was werklik moeilik”, sê een getroude vrou. “Maar omdat ons Bybelbeginsels toepas, geniet ons nou ’n bevredigende, gelukkige huwelikslewe.” Jy kan ook.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Die artikel “Budget Your Money—The Easy Way!” wat in die Awake! van 22 April 1985 verskyn het, bevat nuttige wenke.
[Prent op bladsy 26]
Dit kan die beste in ’n jong man te voorskyn bring as hy in sy rol as eggenoot ondersteun word