Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/22 bl. 3-4
  • Die ontsyfering van menslike genetika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ontsyfering van menslike genetika
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Reusetaak
  • Waarom jy “jy” is
    Ontwaak!—1995
  • Ondersoek die bewyse
    Ontwaak!—2011
  • Wat is die redelikste beskouing?
    Ontwaak!—2011
  • Waar het die instruksies vandaan gekom?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 3/22 bl. 3-4

Die ontsyfering van menslike genetika

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

“BIOLOGIE se eerste ‘groot wetenskapsprojek’”, die sesde van “die sewe wonders van die moderne wêreld”—dit is albei beskrywings van die Menslike Genoomprojek, ’n internasionale poging om jou te ontsyfer! Wat is ’n genoom? Dit is jou hele genetiese samestelling, waarvan die een deel van jou vader en die ander deel van jou moeder geërf is, maar wat nou jou eie is.

Die genetikusse sir Walter Bodmer en Robin McKie noem die genoomprojek “die Boek van die mens”. Maar dit is geensins maklik om dit te lees nie. “Die mens sal nooit ’n belangriker stel instruksieboeke as dít vind nie”, sê James Watson, een van die wetenskaplikes aan wie die ontdekking van die struktuur van die tans bekende DNS-molekule toegeskryf word. “Wanneer dit uiteindelik geïnterpreteer is”, sê hy, “sal die genetiese boodskappe wat binne-in ons DNS-molekules gekodeer is die finale antwoorde ten opsigte van die chemiese grondslag van die menslike bestaan voorsien.”

Soos met enige groot en duur wetenskapsprojek het die Menslike Genoomprojek aanhangers en ander wat skepties daaroor is. “Die Genoomprojek kan die grootste skending van privaatheid wees”, waarsku die wetenskapskrywer Joel Davis, “of dit kan ’n uitsonderlike deur tot hernieude lewe, tot gesondheid en tot genesing wees.” Maar wat dit ook al bereik, hy glo dat “dit die veld van genetika in alle opsigte sal verander” en dat “dit die aard van Homo sapiens heeltemal kan wysig”. In 1989 was George Cahill, ’n vise-president by die Howard Hughes- Mediese Instituut, positief daaroor. “Dit gaan ons alles vertel”, het hy gesê. “Evolusie, siekte, alles sal gegrond wees op daardie wonderlike band wat DNS genoem word.”

’n Reusetaak

In 1988 het ’n internasionale groep wetenskaplikes HUGO (die Menslike Genoomorganisasie) gestig om die werk van genoomnavorsers in deelnemende lande te koördineer. Met ’n begroting van ongeveer R12,7 miljard bring HUGO hulle resultate in ’n rekenaardatabasis byeen. Hoewel rekenaars nou elke dag duisende van die genoom se komponente lees, is dit só kompleks dat wetenskaplikes nie verwag om die dekodering daarvan voor die een of ander tyd in die 21ste eeu te voltooi nie. As die genoom in boekvorm uitgegee moes word, skat die tydskrif Scientific American, sou dit “’n derde van ’n leeftyd” neem om dit deur te lees.

Ná baie beraadslaging het wetenskaplikes op die volgende strategie besluit. Hulle wil eerstens die genoom karteer om die posisie van die 100 000 gene te bepaal. Daarna, deur ’n proses wat bekend staan as volgordebepaling van die genoom, hoop hulle om die volgorde van die boustene waaruit elkeen van hierdie gene bestaan te wete te kom. Hulle finale doelwit is om die volgorde van die ander 95 tot 98 persent van ons genetiese materiaal te bepaal.

Sal die verwesenliking van al hierdie dinge alles bekend maak wat daar omtrent menslike lewe te wete is? Bevat die genoom ‘die belangrikste stel instruksieboeke’ wat die mens tot nog toe gevind het? Sal die Menslike Genoomprojek die genesing van alle menslike siektes beteken? Die volgende artikels bespreek hierdie vrae.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel