Geluk—’n uitgemaakte saak!
“GELUKKIG is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus Christus gesê (Mattheüs 5:3, NW). In teenstelling met die heersende mening het Jesus die aandag op die vervulling van ’n mens se geestelike behoefte gevestig en nie op die bevrediging van materiële begeertes as die een noodsaaklike bestanddeel vir sukses in die strewe na geluk nie. Indien daardie woorde van Jesus ter harte geneem word, is geluk ’n uitgemaakte saak.
Maar om van ’n mens se geestelike behoefte bewus te wees, behels meer as die blote wete dat dit bestaan. Gewoonlik is ’n behoefte wat nie vervul word nie eerder ’n bron van kommer en ergernis as van geluk. Die Bybelspreuk stel dit so: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Geluk neem dus toe namate ’n mens stappe doen om jou geestelike behoefte te identifiseer en dan te bevredig. Hoe kan dit gedoen word?
Dit is waar die Bybel goed te pas kom. Waarom? Omdat net die Bybel antwoorde kan voorsien op vrae waaroor baie al lank wonder en waarop hulle nie bevredigende antwoorde kry nie. Het jy byvoorbeeld al ooit gewonder: ‘Wat is die doel van die lewe? Waarom is die mens op die aarde? Wat hou die toekoms in?’ Behalwe dat die Bybel bevredigende antwoorde op hierdie en baie ander vrae voorsien, verskaf dit ook riglyne vir die lewe wat miljoene al gehelp het om die ingewikkelde probleme die hoof te bied waarvoor ons almal vandag te staan kom en wat dikwels ons soeke na geluk belemmer. “[God se] woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad”, sê die psalmis (Psalm 119:105). Ja, die Bybel is ’n betroubare gids wat jou kan help om in die strewe na geluk sukses te behaal. Beskou hierdie twee ware ondervindinge.
Van bitterheid tot huweliksgeluk
Die huwelik kan ’n bron van geluk of van ellende wees. Vir baie is dit ongelukkig die laasgenoemde. Maar die Bybel se raad het baie wat dit toegepas het al gehelp om geluk te vind in ’n huwelik wat eers ongelukkig was.
Joengk’oen en Meihsioe het so ’n ondervinding gehad. “Die eerste sewe jaar van ons huwelik was nie gelukkige jare nie”, sê Joengk’oen. “Ek het baie min tyd saam met my vrou en twee dogters deurgebring. Trouens, ek het dikwels by die werk geslaap.” Hoewel hulle alles gehad het wat hulle op materiële gebied nodig gehad het, was hulle nie gelukkig nie. Sy vrou voeg by: “Behalwe dat my man op materiële gebied vir ons gesorg het, het hy al die gesinsake aan my oorgelaat. Dit het my werklik bitter gemaak.” Hulle het dit selfs oorweeg om uitmekaar te gaan.
Joengk’oen het ook ander familieprobleme gehad. Weens vroeëre familietwiste het hy sewe jaar lank nie met sy suster gepraat nie. Dit ondanks die feit dat hulle minder as honderd meter van mekaar af gewoon het. Maar nou het hy ’n gelukkige huwelik en ’n goeie verhouding met sy suster. Waarom het hierdie groot verandering plaasgevind?
“Ek en my vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en hulle weeklikse Bybelvergaderinge begin bywoon”, verduidelik Joengk’oen. Sy suster het dieselfde gedoen. Hulle het die dinge wat hulle geleer het, begin toepas en was verbaas oor die resultate. Joengk’oen het ’n werk gekry waardeur hy nie net in sy gesin se materiële behoeftes nie, maar ook in hulle geestelike en emosionele behoeftes kon voorsien. Nou geniet hulle ’n gelukkige, verenigde gesinslewe.
Sy het ’n doel in die lewe gevind
Diegene wat die menslike natuur bestudeer, sê dat ons ’n bestaansrede, ’n doel in die lewe, nodig het om gelukkig te kan wees. ’n Lewe wat om die selfsugtige najaging van materiële dinge draai, bevredig nie hierdie behoefte nie. Die 26-jarige Lini het gevind dat dit die geval is.
“Ek het altyd 12 uur per dag, sewe dae per week, gewerk”, sê sy. “My doel was om ’n groot skoonheidsalon te open.” Hoewel sy na aan die verwesenliking van haar droom was, het sy gevoel dat daar iets in haar lewe ontbreek. “Ek het altyd oor die doel van die lewe gewonder. Was dit net om te werk en geld te maak?”
Toe het iemand eendag in haar winkel ingekom en haar die einste vraag gevra waaroor sy gewonder het. Daar is vir haar gesê dat die Bybel daardie vraag kan beantwoord. Hoewel sy nooit vantevore die Bybel gelees het nie, het sy ingestem om ’n uur per week opsy te sit om dit te ondersoek.
Lini het uit haar weeklikse studie geleer dat die Bybel baie van die dinge voorspel het wat sy elke dag sien. Sy was verbaas oor hoe akkuraat die Bybel vooruit die gesindhede oral om haar beskryf het, waar dit voorspel dat ‘die mense liefhebbers van hulleself sal wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’. Sy het ander profesieë bestudeer wat die aandag vestig op die ongeëwenaarde lyding vanweë oorloë, hongersnode en natuurrampe wat oor die hele wêreld gesien word.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:7, 12.
Lini het toe iets uitgevind wat haar baie gelukkig gemaak het—hierdie wêreldtoestande wat mense dikwels van hulle geluk beroof, is ’n teken dat ’n nuwe tydperk in die mensegeskiedenis naby is (Mattheüs 24:3-14). Sy het ook in die Bybel gelees dat die mens se Skepper van voorneme is om ’n nuwe wêreld hier op die aarde tot stand te bring, waar daar wêreldwyd materiële welvaart sal heers in ’n mate wat vir die onvolmaakte mensdom ongekend is (Psalm 72:16; Jesaja 65:17, 18, 21, 22). Hierdie toekomstige, welvarende gemeenskap sal nie deur die bestaan van hebsug, selfsug en materialisme, met al hulle bose gevolge, bederf word nie (Psalm 37:9-11, 29; 1 Korinthiërs 6: 9, 10). Sy was verheug toe sy hierdie woorde in die Bybel gelees het: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:13.
Geluk wag op jou
Pleks van al haar tyd aan die najaging van materiële doelwitte te bestee, gebruik Lini nou baie van haar tyd om ander te vertel van die dinge wat sy geleer het. Wil jy graag meer omtrent hierdie wonderlike beloftes weet? Wil jy graag uitvind hoe die Bybel jou kan help om die geluk te vind wat Lini, Joengk’oen, Meihsioe en miljoene ander gevind het? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.
[Prent op bladsy 8 and 9]
Ons Skepper is van voorneme om ’n aardse paradys tot stand te bring