Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/1 bl. 4-7
  • Miljoene wat nou dood is, sal weer lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Miljoene wat nou dood is, sal weer lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Lasarus, kom uit!”
  • Het dit werklik gebeur?
  • ‘God sal ’n verlange hê’
  • ’n Vaste hoop vir die dooies
    Wanneer ’n geliefde sterf
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
  • “Jou broer sal opstaan”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • VRAE VAN LESERS
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/1 bl. 4-7

Miljoene wat nou dood is, sal weer lewe

MILJOENE wat nou dood is, sal weer lewe—wat ’n verblydende vooruitsig! Maar is dit realisties? Wat sal jou daarvan oortuig? Om in ’n belofte te glo, sal jy seker moet wees dat die een wat die belofte doen dit wil en kan vervul. Wie belowe dan dat miljoene wat nou dood is weer sal lewe?

In die lente van 31 G.J. het Jesus Christus onomwonde gesê dat hy krag van Jehovah God ontvang het om die dooies op te wek. Jesus het belowe: “Soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:21, 28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat miljoene wat nou dood is weer op hierdie aarde sal lewe en die vooruitsig sal hê om vir ewig daarop te woon. (Johannes 3:16; 17:3; vergelyk Psalm 37:29 en Mattheüs 5:5.)a Aangesien Jesus die belofte gedoen het, kan ons aanvaar dat hy dit wil vervul. Maar kan hy dit doen?

Volgens die Bybelverslag het Jesus nog niemand opgewek voor hy daardie belofte gedoen het nie. Maar minder as twee jaar daarna het hy op ’n kragtige manier getoon dat hy mense wil en kan opwek.

“Lasarus, kom uit!”

Dit was ’n roerende toneel. Lasarus was ernstig siek. Sy twee susters, Maria en Martha, het ’n boodskap na Jesus gestuur, wat oorkant die Jordaanrivier was: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek” (Johannes 11:3). Ja, Jesus was baie lief vir hierdie gesin. Hy was moontlik dikwels ’n gas in hulle huis in Betanië. (Lukas 10:38-42; vergelyk Lukas 9:58.) Maar nou was Jesus se dierbare vriend baie siek.

Wat het Maria en Martha egter verwag dat Jesus sou doen? Hulle het hom nie gevra om na Betanië te kom nie. Maar hulle het geweet dat Jesus Lasarus liefgehad het. Sou Jesus nie sy siek vriend wou besoek nie? Hulle het ongetwyfeld gehoop dat Jesus hom wonderdadig sou genees. Jesus het immers, teen hierdie tyd in sy bediening, al baie wonderdadige genesings gedoen en afstand het hom nie gekeer nie. (Vergelyk Mattheüs 8:5-13.) Sou hy enigsins minder doen vir so ’n dierbare vriend? Dit is vreemd dat Jesus, pleks van dadelik na Betanië te gaan, nog twee dae gebly het waar hy was.—Johannes 11:5, 6.

Lasarus het die een of ander tyd ná die boodskap gestuur is, moontlik teen die tyd dat Jesus die nuus gehoor het, gesterf. (Vergelyk Johannes 11:3, 6, 17.) Maar geen verdere boodskap was nodig nie. Jesus het geweet wanneer Lasarus gesterf het, en hy was van plan om iets daaromtrent te doen. Toe hy van Lasarus se dood gepraat het, het hy vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak” (Johannes 11:11). Jesus het vroeër twee mense uit die dood opgewek, in elke geval kort nadat die persoon gesterf het.b Maar hierdie keer sou dit anders wees. Teen die tyd dat Jesus eindelik in Betanië aangekom het, was sy dierbare vriend reeds vier dae dood (Johannes 11:17, 39). Kon Jesus iemand opwek wat al so lank dood was en wie se liggaam reeds begin ontbind het?

Toe Martha, ’n vrou van die daad, hoor dat Jesus kom, het sy hom tegemoetgehardloop. (Vergelyk Lukas 10:38-42.) Toe sy by Jesus kom, het haar hart haar beweeg om te sê: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Sy het nogtans haar geloof geopenbaar: “Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.” Jesus was ontroer deur haar droefheid en het haar verseker: “Jou broer sal opstaan.” Toe sy haar geloof in ’n toekomstige opstanding betuig het, het Jesus openlik vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”—Johannes 11:20-25.

Met hulle aankoms by die graf het Jesus gesê dat die klip voor die opening weggeneem moet word. Martha het eers beswaar gemaak: “Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.” Maar Jesus het haar verseker: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” En toe, nadat hy hardop gebid het, het hy uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Lasarus het op Jesus se bevel uitgekom, hoewel hy vier dae dood was!—Johannes 11:38-44.

Het dit werklik gebeur?

Die verslag van die opwekking van Lasarus is in die Evangelie van Johannes as ’n geskiedkundige feit opgeteken. Die besonderhede is te duidelik dat dit ’n blote allegorie kan wees. As ’n mens die historiese waarheid van hierdie gebeurtenis betwyfel, beteken dit dat jy al die wonderwerke van die Bybel, met inbegrip van die opstanding van Jesus Christus, betwyfel.c En as ’n mens die opstanding van Jesus ontken, ontken jy die Christelike geloof in sy geheel.—1 Korinthiërs 15:13-15.

As jy glo dat God bestaan, behoort jy eintlik geen probleem te hê om aan die opstanding te glo nie. Ter toeligting: Iemand kan sy testament op videoband opneem, en na sy dood kan sy familie en vriende sien en hoor hoe hy verduidelik wat met sy boedel moet gebeur. So iets was honderd jaar gelede ondenkbaar. En die “wonderwerk” van video-opnames is vir party mense wat in afgeleë dele van die wêreld woon heeltemal onverstaanbaar. As mense wetenskaplike beginsels wat deur die Skepper vasgestel is, kan gebruik om so ’n sigbare en hoorbare toneel te herskep, behoort die Skepper nie veel meer te kan doen nie? Is dit dan nie redelik dat die Een wat lewe geskep het iemand kan opwek deur sy persoonlikheid in ’n nuwe liggaam te reproduseer nie?

Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het geloof in Jesus en die opstanding versterk (Johannes 11:41, 42; 12:9-11, 17-19). Dit toon ook op ’n treffende manier hoe graag Jehovah en sy Seun mense ’n opstanding wil gee.

‘God sal ’n verlange hê’

Jesus se reaksie op Lasarus se dood openbaar ’n baie teer sy van die Seun van God. Sy diep gevoelens by hierdie geleentheid toon duidelik dat hy ’n intense begeerte het om die dooies op te wek. Ons lees: “Toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword [“gekreun”, NW] in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!”—Johannes 11:32-36.

Jesus se innige meegevoel word hier deur drie woorde getoon: “gekreun”, “ontstel” en “geween”. Die woorde wat die apostel Johannes in die oorspronklike taal gebruik het om hierdie roerende toneel te beskryf, dui aan in watter mate Jesus ontroer was.

Die Griekse woord wat met “gekreun” vertaal word, kom van ’n werkwoord (em·bri·maʹo·mai) wat beteken om pynlik, of diep, ontroer te wees. Bybelkommentator William Barclay sê: “In die gewone klassieke Grieks is die algemene gebruik van [em·bri·maʹo·mai] van ’n perd wat proes. Dit kan hier slegs beteken dat Jesus sulke diep emosie ervaar het dat hy onwillekeurig in Sy hart gekreun het.”

Die uitdrukking wat met “ontstel” vertaal word, kom van ’n Griekse woord (ta·rasʹso) wat verontrusting aantoon. Volgens The New Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament beteken dit “om innerlike verwarring by iemand te veroorsaak, . . . om met groot pyn of droefheid te tref”. Die woord “ween” kom van ’n Griekse werkwoord (da·kruʹo) wat beteken “om trane te stort, om innerlik te huil”. Dit is in kontras met die ‘geween’ van Maria en die Jode saam met haar, waarvan Johannes 11:33 melding maak. Die Griekse woord (uit klaiʹo) wat daar gebruik word, beteken om hardop of hoorbaar te huil.d

Jesus was diep ontroer deur sy dierbare vriend Lasarus se dood en Lasarus se suster se geween. Jesus se gemoed was so vol dat hy begin huil het. Dit is merkwaardig dat Jesus vroeër twee ander mense lewend gemaak het. En hy was by hierdie geleentheid vas van plan om Lasarus ook lewend te maak (Johannes 11:11, 23, 25). Hy het nogtans “geween”. Dit is vir Jesus dus nie bloot ’n werk om mense weer lewend te maak nie. Sy teer en diep gevoelens wat by hierdie geleentheid geblyk het, lewer duidelike bewys van sy vurige begeerte om die verwoesting wat deur die dood aangerig word ongedaan te maak.

Aangesien Jesus ‘die afdruksel van Jehovah God se wese’ is, kan ons tereg niks minder van ons hemelse Vader verwag nie (Hebreërs 1:3). Die getroue man Job het van Jehovah se gewilligheid om mense op te wek gesê: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15). Die woord in die oorspronklike taal wat met “sou U verlang” vertaal word, beteken hunkering en vurige begeerte (Genesis 31:30; Psalm 84:3). Ja, Jehovah sien sekerlik met afwagting uit na die opstanding.

Kan ons werklik die belofte van die opstanding glo? Wel, dit ly geen twyfel dat Jehovah en sy Seun dit wil en kan vervul nie. Wat beteken dit vir jou? Jy het die vooruitsig om hier op aarde onder vreedsame toestande met jou afgestorwe dierbares herenig te word!

Dit is nou die verwagting van Roberta (wat in die vorige artikel gemeld is). ’n Paar jaar na haar moeder se dood het Jehovah se Getuies haar gehelp om ’n noukeurige studie van die Bybel te maak. Sy sê: “Toe ek van die opstandinghoop leer, het ek gehuil. Dit was wonderlik om te weet dat ek my ma weer sal sien.” As jou hart ook daarna smag om ’n dierbare weer te sien, sal jy ongetwyfeld meer oor hierdie wonderlike vooruitsig wil leer. Die sekerheid van hierdie hoop word in fyner besonderhede op bladsye 18-28 van hierdie tydskrif bespreek.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Beoefen geloof wat tot die ewige lewe lei” op bladsye 23-8.

b Gedurende die tyd wat verloop het nadat Jesus die belofte gedoen het wat in Johannes 5:28, 29 opgeteken is en die dood van Lasarus, het Jesus die weduwee van Nain se seun en Jaïrus se dogtertjie opgewek.—Lukas 7:11-17; 8:40-56.

c Sien hoofstuk 6, “Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?” in die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.

d Dit is interessant dat die Griekse woord vir hardop huil (klaiʹo) gebruik word waar Jesus die komende vernietiging van Jerusalem voorspel het. Lukas se verslag sê: “Toe Hy naby kom en die stad [Jerusalem] sien, het Hy daaroor geween.”—Lukas 19:41.

[Prent op bladsy 5]

Die feit dat Jesus Jaïrus se dogtertjie opgewek het, verskaf ’n grondslag vir geloof in ’n toekomstige opstanding van die dooies

[Prent op bladsy 6]

Die dood van Lasarus het Jesus diep ontroer

[Prent op bladsy 7]

Die vreugde van diegene wat die opstanding sien, sal soos die vreugde van die weduwee van Nain wees toe Jesus haar dooie seun opgewek het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel