Chili—’n Unieke land met ’n unieke streekbyeenkoms
HULLE het by die duisende en tienduisende na Santiago, Chili se hoofstad, gekom. Selfs met ’n bevolking van meer as viermiljoen was hierdie instroming duidelik merkbaar—hierdie besoekers het almal blou lapelkaartjies gedra wat die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vir 1993 aangekondig het.
Meer as 400 het van die afgeleë Japan gekom; meer as 700 van die Verenigde State. Meer as duisend het per vliegtuig en met motors en busse van die naburige Argentinië af ingestroom. Ná die byeenkoms het die dagkoerant La Tercera gesê: “Wit, bruin, ‘geel’ en swart gesigte was ’n aanduiding van die verskillende rasse en nasies wat in die Nasionale Stadium verteenwoordig was. Daarbenewens het mans en vroue uit Mexiko, Brasilië, Peru, Bolivia, Venezuela, Spanje en Japan in hulle kenmerkende kleredrag uitgestaan.” Afgevaardigdes het uit Australië, België, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Holland, Kanada, Paraguay, Switserland en die meeste van die ander Suid-Amerikaanse lande gekom. Meer as 4500 buitelandse besoekers het gedurende die week van 15 November 1993 in Santiago ingestroom. Dan, om die kroon te span, was daar die 30 000 Chileense Getuies wat groot afstande afgelê het om na Santiago te kom. Hoe so?
Chili—’n unieke land
Sien, Chili is in ’n geografiese opsig ’n baie spesiale land. Wat maak dit eiesoortig en uniek? Kyk na die kaart en jy sal ’n land sien wat meer as 4310 kilometer lank en tog op die meeste minder as 440 kilometer breed is. Trouens, dit is gemiddeld net meer as 180 kilometer breed. Die hoofstad, Santiago, is ongeveer in die middel van die land geleë. Hierdie faktore beteken dat baie Chileense Getuies met hulle gesinne honderde kilometer ver moes reis om die internasionale byeenkoms by te woon—en in baie gevalle is dít met beperkte ekonomiese middele gedoen. Hulle het nietemin by die duisende daar aangekom, hulle gesigte die ene glimlag.
Chili is ’n land met ’n ryk verskeidenheid, van die droë Atacama-woestyn in die noorde tot die welige wingerde rondom Santiago en dan verder na die suide waar die woudbedekte Andes in die Stille Oseaan neerdaal. Ten laaste is daar die gletsers en fjords wat by die Antarktika-streek eindig.
Buitelandse besoekers is gefassineer deur die stad Santiago. Een afgevaardigde het dit so gestel: “’n Mens het die indruk gekry van voortdurende gewoel, en tog was die mense goedhartig en vriendelik. Ek het nog nooit in my lewe soveel busse op straat gesien nie. Tientalle busmaatskappye kompeteer met mekaar om passasiers. Klein taxi’s het haastig heen en weer gery. Die enigste negatiewe faktor was die besoedeling. Om dit te verlig, het Santiago reëls wat bepaal dat motors om die beurt een dag per week van die strate af bly, en dit word ooreenkomstig hulle motor se nommerplaat afgewissel.” Hy het bygevoeg: “Nog iets interessants was die skoolkinders wat sonder uitsondering netjies in hulle skooldrag geklee was. Daar was beslis geen mededinging en portuurdwang onder hulle om die jongste ontwerpersklere en seilskoene te hê nie! En nie een het slordig gelyk nie.”
Buitelandse besoekers word hartlik verwelkom
Die “Goddelike Onderrigting”-program het Donderdag, 18 November, begin. Daar het ’n verrassing op die buitelandse afgevaardigdes gewag toe hulle by die Estadio Nacional-sokkerstadion aangekom het. Hulle moes die 270 meter van hulle busse af tot by die stadion hulle weg baan deur ’n laning saamgedromde Chileense Getuies—mans, vroue en kinders—wat almal die besoekende broers wou verwelkom en hulle hand wou skud. Baie het selfs eenvoudige uitdrukkings in Engels geleer om te kon sê: “Welkom in Chili!” Hoewel taal ’n probleem was, is baie vriendskappe oor die volgende vier dae gesluit. Kameras en video-opnemers het oortyd gewerk. Aandenkings, name en adresse is by die duisende uitgeruil.
Oorweldigende getalle
Daar is gemeen dat die grootte van die gehoor vir hierdie streekbyeenkoms hoogstens in die omgewing van 60 000 sou wees—die 44 000 Chileense Getuies, die 4500 besoekers en dan die belangstellendes. Stel jou die verbasing voor toe die bywoningsyfer vir Donderdag en Vrydag reeds ver oor die 50 000 was. Die Saterdag het die skare toegeneem van 67 865 die oggend tot 70 418 die middag. Die Sondagoggend, toe die program ’n drama ingesluit het wat oor die probleme gehandel het waarmee Getuies deesdae te kampe het, was die bywoningshoogtepunt 80 981! Die stadion was stampvol en honderde meer het buite na luidsprekers geluister. Dit was een van die faktore wat dié streekbyeenkoms uniek gemaak het—dit het die grootste bywoning van al die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste gehad wat wêreldwyd gehou is. Vir die Chileense Getuies was dit ’n verrassing en ’n aanduiding van die potensiaal vir hulle gemeentes om in die nabye toekoms te groei en toe te neem.
Die elektroniese telbord is gebruik om elke toespraak in Spaans en Engels aan te kondig. Dit het selfs aangedui wanneer die gehoor hande geklap het! Aan die einde het dit afskeidsgroete in verskeie tale, waaronder Duits, Frans, Japannees en Nederlands, vertoon.
Die doopplegtigheid lok die media
So ’n skouspelagtige gebeurtenis kon nie deur die Chileense media geïgnoreer word nie. Die pers, die radio en die televisie het elke dag uitstekende dekking gebied. Dit was veral die geval met die massadoop wat die Saterdag gehou is. Twaalf klein doopbaddens is aan die een kant van die sokkerveld opgerig. Gedurende die dooptoespraak het honderde kandidate opgestaan ter aanduiding van hulle besluit om Christus se voorbeeld te volg deur Jehovah God te dien. Ná die toespraak, die gebed en die lied het 24 bedienaars in wit kortbroeke en T-hemde hulle plek ingeneem, twee by elke doopbad. Daar was ook vroulike helpers om hulle by te staan. Toe het die eerste kandidate uit die kleedkamers gekom en op die veld uitgestap, mans aan die een kant, vroue aan die ander kant. Dit het soos twee eindelose rye gelyk wat na die doopbaddens beweeg het. Alles was ordelik terwyl persfotograwe ook hulle plekke ingeneem het. Die doop is binne ’n uur afgehandel—1282 nuwe Getuies, Christenbedienaars, is in water ondergedompel in navolging van die voorbeeld wat Jesus gestel het.
’n Kleurryke afskeid
Die weer was die hele week uitstekend. Dit was per slot van rekening die Chileense lente wanneer daar geen reën verwag word nie. Die Sondag het die temperatuur tot in die hoë 20’s gestyg. Bykans elke gesin het sambrele as beskerming teen die gloeiende son gebring. Die duisende kleurryke sambrele het ’n mens laat dink aan ’n menigte skoenlappers wat op blomme rus. Die laaste toespraak het omtrent vyfuur geëindig. Ná die lied en gebed het byna niemand beweeg nie. Niemand wou hê dat die byeenkoms moes eindig nie. Groepe het spontaan Koninkryksliedere begin sing; mense het van die een kant van die stadion na die ander kant om die beurt hande geklap; sakdoeke is gewaai en sambrele is gelyktydig rondgedraai. Dit was ’n hartroerende toneel—hierdie stadion met die Andesgebergte in die agtergrond—vol gelukkige, liefdevolle Christene wat dankbaar is vir die “Goddelike Onderrigting” wat hulle lewe verander het.
Gedurende die Sondagprogram het twee groot Chileense voëls, queltehues, of suidelike kiewiete, oor die veld gestap en af en toe ’n insek of saad opgepik. Van tyd tot tyd het hulle die program met hulle skor roepe in die rede geval. Tydens die slottoespraak het hulle, asof hulle aangevoel het dat die program geëindig het, stadig opgevlieg, in die rondte gesirkel om hoogte te kry en weggevlieg. Hulle sal ongetwyfeld terugkeer, net soos Jehovah se Getuies bly sal wees om in ’n volgende jaar na daardie stadion toe terug te keer om in mekaar se vreugde en geloof te deel—in Chili, un país singular, ’n unieke land.
[Prente op bladsy 17]
Meer as 80 000 het die streekbyeenkoms in Santiago bygewoon
[Volbladillustrasie op bladsy 18]