Is jy ’n eensame, weemoedige voël?
HY SAL nie ’n skoonheidskompetisie vir voëls wen nie—nie op grond van kleure of sierlike vorm nie. Ek het al gesien hoe die bruines in Florida, VSA, soos Duitse Stukas uit die Tweede Wêreldoorlog duik om hulle visse te vang.a In Chili was hulle wit, met swart vlerke en liggame. (Sien foto.) Hulle het met ’n weemoedige houding op die rotse in die Stille Oseaan by Valparaíso gerus—waarskynlik besig om hulle kos te verteer.
Hy kan tot 14 kilogram weeg, meer as 1,5 meter lank wees en ’n vlerkspan van drie meter hê. Hy is een van die grootste voëls.
Op land is hy lomp en komieklik; in die lug is dit ’n vreugde om hom te aanskou, terwyl hy blykbaar met die minste inspanning vlieg. Wanneer die voël eet, kan hy meer as 10 liter water saam met die visse opskep! Watter voël is dit? Dit is die pelikaan.
Die pelikaan word in baie wêrelddele op mere en riviere en langs die kus aangetref. Die lang snawel en groot keelsak is by uitstek vir hulle gespesialiseerde vorm van visvang ontwerp. Die pelikaan duik in die water en vul sy keelsak met water en vis. Dan raak hy gou van die water ontslae en, sluk, weg is die nuutste happie.
Pelikane word verskeie kere in die Bybel gemeld. Vanweë die voël se liefde vir eensame, verlate plekke word hy in die Bybel as ’n simbool van volslae verlatenheid gebruik (Jesaja 34:11; Sefanja 2:13, 14). Die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures sê: “Wanneer die pelikaan hom dik gevreet het, vlieg hy dikwels weg na ’n eensame plek, waar hy ’n weemoedige houding inneem met sy kop wat tussen sy skouers ingetrek is . . . Die voël bly ure lank só sit, en dit pas dus by die beskrywing van weemoedige onbedrywigheid waarna die psalmis verwys wanneer hy die pynlikheid van sy smart illustreer deur te skryf: ‘Ek is soos ’n pelikaan van die woestyn’ (Psalm 102:6).” As jy dus ooit eensaam en weemoedig is, moet jy onthou dat jy dalk ook soos ’n pelikaan lyk!—Bygedra.
[Voetnoot]
a Die Junkers Ju 87-duikbomwerper met ’n W-vormige vlerk.
[Prent op bladsy 15]
Pelikane in Chili.
Inlasfoto: Bruin pelikaan van Florida