Jong mense vra . . .
Waarom is ek so vet?
“Ek voel regtig vet, maar wanneer ek na gewigtabelle kyk, is ek volgens hulle nie oorgewig nie.”—Patti.
“As jy vet is, . . . is jou selfbeeld uiters swak. Ek is al van standerd twee af oorgewig . . . Dit was toe dat die kinders my allerhande byname begin gee het.”—Judd.
GEWIG. Dit is feitlik ’n obsessie onder sommige jongmense, veral meisies. Toe ’n groep skoolmeisies ondervra is, het 58 persent gedink hulle is vet.
Volgens ’n Amerikaanse opname het 34 persent van die tienermeisies wat oorgewig is dieetpille gedrink om gewig te verloor. Bykans 1 uit 4 het van hulle kos ontslae geraak deur op te gooi! Waar dit oor ’n ander opname verslag doen, sê The New Teenage Body Book: “Dit is skokkend dat byna die helfte van die negejariges en ongeveer 80 persent van die tien- en elfjariges op ’n dieet was. Ongeveer 70 persent van die meisies tussen twaalf en sestien het gewig probeer verloor—en 90 persent van die sewentienjariges was op ’n dieet.”
Die slankheidsgier
Eeue lank was ’n ietwat mollige figuur vir manne sowel as vroue iets aantrekliks. Maar gedurende die twintigerjare het die Amerikaanse modebedryf ’n soort omwenteling ondergaan. Die skraal figuur het skielik die ideaal geword. Dekades later is skraalheid steeds in die mode. Die TV en tydskrifte het deur hulle stortvloed van glansadvertensies met slanke manlike en vroulike modelle gehelp om hierdie beskouing te bevorder. Dit pla hulle nie dat baie van hierdie lenige modelle hulleself byna verhonger nie! Miljoene jongmense (en volwassenes) is op subtiele wyse geleer om te glo dat aantreklikheid gelykstaande aan maerheid is. Dit is geen wonder dat jongmense wat nie so maer is nie meestal dink dat hulle vet en onaantreklik is.
Die druk wat portuurs uitoefen, help ook nie juis veel nie. Tieners wat oorgewig is, word dikwels die voorwerp van oneindige tergery, bespotting en vooroordeel, wat volgens een skryfster “aansienlike sielkundige pyn” veroorsaak—pyn wat ’n mens selfs as ’n volwassene kan bybly.
Wie sê jy is vet?
Hetsy jy werklik oorgewig is of nie, dit behels gelukkig meer as net hoe jy in ’n baaikostuum lyk—ten minste uit ’n mediese oogpunt beskou. Dokters definieer iemand gewoonlik as swaarlywig as hy 20 persent meer as sy ideale gewig weeg. Standaard lengte- en gewigtabelle is egter op gemiddeldes gegrond en kan slegs ’n idee gee van wat ’n gesonde persoon behoort te weeg. Sommige dokters verkies dus om swaarlywigheid nie net bloot op grond van gewig te bepaal nie, maar ook op grond van ’n oormaat liggaamsvet. Volgens A Parent’s Guide to Eating Disorders and Obesity “moet vet 20 tot 27 persent van die liggaamsweefsel in vroue uitmaak en 15 tot 22 persent van die liggaamsweefsel in mans”.
Party navorsers meen dat betreklik min jongmense werklik oorgewig is. Uit ’n gesondheidsperspektief beskou, is daar dalk glad geen rede waarom jy gewig moet verloor nie. In die opname wat aan die begin gemeld is, het meer as die helfte van die meisies gedink hulle is oorgewig, maar net 15 persent was werklik oorgewig.
Waarom lyk ek so?
Dit is dalk ’n skrale troos wanneer jy na jouself in die spieël kyk; jy het dalk net nie volgens jou mening ’n aantreklike figuur nie. ’n Tienermeisie het gekla: “Ek wil graag gewig verloor, langer en mooier gebou wees.”
Jy moet egter onthou dat jou liggaam as ’n tienderjarige besig is om vinnig te verander. “Seuns sowel as meisies sit normaalweg gedurende puberteit gewig aan”, verduidelik dr. Iris Litt. “Maar terwyl seuns meestal spierweefsel ontwikkel, ontwikkel meisies vetweefsel. Gedurende puberteit neem ’n meisie se liggaamsvet toe van ongeveer agt persent—’n gemiddelde van albei geslagte gedurende hulle kinderjare—tot ongeveer 22 persent. Terselfdertyd beklemtoon beenstruktuurveranderinge die gewig wat meisies aansit. Seuns kry breër skouers terwyl meisies breër heupe kry.” Hierdie veranderinge duur ’n hele ruk. Maar ’n mollige 11- of 12-jarige meisie kan ná puberteit in ’n mooi geboude tienderjarige ontluik. Aan die ander kant gebeur dit dalk nie.
As dit met jou die geval is, kan dit deels toegeskryf word aan die genetiese bloudruk wat jy van jou ouers oorgeërf het. Sommige dokters meen dat jou basiese liggaamsbou, tesame met jou velkleur, haartekstuur en lengte, ook met bevrugting in die genetiese boek “opgeskrywe” word, soos die psalmis geskryf het (Psalm 139:16). In sy boek The Weighting Game voer dr. Lawrence Lamb dieselfde punt aan waaroor die psalmis geïnspireer was om te skryf en sê: “Jy is gebore met ’n lewensmanuskrip wat bepaal hoeveel jy moet weeg en hoeveel vet jy in verskillende stadiums van jou lewe moet hê.”
Studies het bevestig dat ’n mens se gene ’n invloed op jou liggaamsbou het. Aangenome kinders is geneig om dieselfde soort liggaamsbou as hulle biologiese ouers te hê, ongeag die liggaamsbou van die ouers wat hulle aangeneem het. En aangesien ’n tweeling ’n identiese genetiese bloudruk het, is dit nie verbasend dat ’n tweeling geneig is om dieselfde te weeg nie.
Wat beteken dit vir jou? Gestel byvoorbeeld albei jou ouers is swaarlywig. Dan is jou kanse om ook swaarlywig te wees 80 persent. Die waarskynlikheid is die helfte minder as net een ouer swaarlywig is. Oefening en ’n dieet kan in ’n mate help. Maar in die meeste gevalle kan ons nie veel aan ons basiese liggaamsbou verander nie. As jy ’n ektomorf is, is jy van nature maer en benerig. Maar as jou gene bepaal het dat jy ’n endomorf is—iemand met ’n voller figuur en met meer liggaamsvet—is jy eenvoudig nie bedoel om maer te wees nie. Selfs al is jy jou ideale gewig vanuit ’n mediese oogpunt beskou, sal jy swaarder lyk as wat jy dalk graag wil wees.
Leer om jou liggaamsbou te aanvaar
Is dit ontmoedigend? Miskien. Maar die goeie nuus is dat Jehovah God die eerste mensepaar, Adam en Eva, met fisies volmaakte figure geskep het. Selfs al het hulle onvolmaak geword en onvolmaaktheid aan hulle nakomelinge oorgedra, sal God toesien dat enige oorgeërfde, fisiese tekortkominge in sy regverdige nuwe wêreld reggestel word.—Job 14:4; Romeine 5:12; 2 Petrus 3:13.
Hou gerus in gedagte dat standaarde van skoonheid die resultaat kan wees van persoonlike voorkeur en van waardes wat deur die samelewing gestel word. Daarom is daar regoor die wêreld verskillende menings oor wat mooi is en kan dit met verloop van tyd verander. Waarom dus “toelaat dat die wêreld rondom julle julle in sy vorm druk”? (Romeine 12:2, Phillips). Waarom toegee aan sy dikwels verwronge standaarde en sienswyses?
Jy het hoegenaamd geen rede om jouself te kleineer en terneergedruk te word net omdat jy nie maer is nie. God oordeel ons nie volgens ons fisiese lengte of liggaamsbou nie. Die Bybel sê: “Die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Ja, dit is “die verborge mens van die hart” wat by God tel—nie die grootte van jou heupe of jou middel nie (1 Petrus 3:4). En as jy opgewek, saggeaard, vrygewig en besorg oor ander is, sal mense gewoonlik tot jou aangetrokke voel.
Dit beteken nie dat daar niks is wat jy kan doen om jou voorkoms te verbeter nie. Maar as jy nie heeltemal gelukkig met jou liggaamsbou is nie, is dit onnodig om jou liggaam met die een of ander gewilde dieet te straf. Miskien moet jy bloot versigtiger wees met die style en kleure wat jy dra en klere sowel as kleure kies wat jou oënskynlike tekortkominge sal verbloem en jou bates sal beklemtoon.
Nogtans meen jy dalk dat dit goed sal wees as jy net ’n bietjie gewig verloor. Of jy het miskien werklik ’n probleem met swaarlywigheid en móét gewig verloor sodat jy nie net beter sal lyk nie, maar ook gesonder sal wees. Ons volgende artikel sal bespreek hoe jy dit op ’n veilige manier kan doen.
[Venster op bladsy 19]
“Ek’s te maer”
Nie alle jongmense stem saam dat dit aantreklik is om maer te wees nie. Jong Mark kla: “Ek is ’n 15-jarige seun wat baie maer is en gedurig geterg word.” Maerheid is dikwels niks anders as ’n nadraai van puberteit nie. ’n Groeiende liggaam verbruik ’n ontsaglike aantal kilojoules. ’n Jongmens sit dalk nie gewig aan tot ná die vinnige groeiproses verby is nie. Genetika speel ook ’n rol. Siekte of ’n hormoonwanbalans kan natuurlik ook veroorsaak dat ’n mens te maer is, en in sulke gevalle is dit noodsaaklik om ’n dokter te raadpleeg. Professionele hulp is eweneens ook nodig vir jongmense wat nie wil eet nie omdat hulle neerslagtig is of aan ’n ernstige eetversteuring, soos anorexia nervosa, ly.
Wat ook al die geval is, vra ’n dokter se mening as jy dink dat jy werklik té maer is. Dit kan wees dat jy net moet leer om jou voorkoms te aanvaar—en miskien selfs leer om daarvan te hou.
[Prent op bladsy 18]
Baie dink dat hulle oorgewig is omdat hulle nie ’n figuur het soos dié van modelle in modetydskrifte nie